Volgers

17/03/2023

Stiltetyd Matt 15 Tradisie genade en potensiaal

 Matt 15

Vers 1-9 gaan oor die tradisie teenoor ‘n verhouding of hart. Vereer die Here met lippe terwyl die hart ver van Hom is. Dan is hulle verering tevergeefs.

Dit is dus baie gevaarlik om die Here te vereer sonder dat jou hart naby Hom is. 

Hier kan jy dus die tradisie oortree en steeds ‘n hart vir God hê. 

Jesus wys daarop dat verering twv tradisie wel op die ou end afdwaal van die verhoudings soos God dit bepaal. 

So kan mens dus goeie goed soos die 10 gebooie onderhou met steeds ‘n hart wat ver van God is en dit is dan baie gevaarlik. 

Baie vinnig word ‘n godsdiens met ‘n hart wat ver van God is omgedraai in menslike leerstellinge want die regte basis is nie daar nie. Beskuldigings kom dus nou baie vinnig na vore soos die fariseers wat Jesus en die dissipels aanpraat. Jou manier van doen word jou fondasie vir jou hart, as jou hart nie naby God is nie. 

Die goeie gewoonte om hande te was, word nou die handvatsel vir godsdienstige lewe en dus handvatsel vir Godsdiens en dus Godsdiens self. Al kan mens siek word daarvan, maak dit nie jou onrein voor God as jy reeds rein is in Christus. 

Wat is die fondasie van my hart? Is dit dit wat ek doen of is dit die nabyheid van God deur Christus. Die genade wat ek ontvang het om naby Hom te wees ten spyte van vuil hande. 

Noudat ek naby God is en dit my fondasie is, kan ek wel my hande was voor ek gaan eet en ander ook so leer. Dit is eers genade en dan doen. 

My hart (vir die nuwe testament was jou hart die simbool van jou denke) is sonder God se nabyheid in Christus vol bose eie belang. 

Jy kan nie self jou gedagtes verander nie. “Gee vir my ‘n rein hart o God” ook dat God die hart van klip moet uithaal en ‘n hart van vlees gee. Of as Romeine sê: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

Dit gebeur as jou hart naby God is en dit gebeur deur Jesus wat na ons gekom het en die Gees wat later in die Handelinge uitgestort is en in ons kom woon het. Dit verander ons gedagtes. Genade gaan na gedagtes en gedagtes gaan na doen. 

Doen sonder gedagtes en genade bring ons by mooi menslike tradisies wat mooi lyk maar baie vinnig oorgaan in oordeel en dit is misleiding en so mis jy God self. 

Here ek aanvaar weer opnuut die verhouding wat U deur genade in Christus gee. Vergewe my waar ek op dade bou sonder die diep wete in die hart dat U teenwoordigheid deur Christus en die Gees die enigste basis is. Vergewe my oordele oor ander se dade. Vergewe dat ek vashou aan die mooi dinge wat ek doen in my eie lewe.

Die deel wat my aangespreek het was nou juis die volgende stuk oor die kananietiese vrou. Die nie Jood vrou wat om genade smeek. Jesus ignoreer haar en die dissipels wil dat Jesus haar weg stuur. Sy is nie ‘n Jood nie. Jesus verduidelik self dat Hy net gestuur is vir die huis van Israel. 

Sy het aanhou smeek: “Here help my!”

Jesus vergelyk haar met ‘n hondjie en dat die huismense se kos nie vir hondjies gegooi word nie. (onthou dat ‘n hond ‘n onrein dier is). 

Teen ALLE moontlikhede in pleit sy net vir die krummels wat van die tafel afval. 

Nou prys Jesus haar geloof en verhoor haar smeking. 

Die vrou het aanvaar sy is die hondjie en dat sy nie verdien om die kos te kry nie. Sy pleit vir die krummels ter wille van haar dogter. Dit is die realiteit vir haar. Sy is nie ‘n Jood nie en verdien niks.

Dit was die realiteit in die tyd van Jesus voor die kruis! Ek dink nie ons kan dit ontken nie. Onthou Jesus het toe hy die dissipels uitgestuur het hulle ook net gestuur na die Israeliete of Jode. 

Vanuit die oogpunt dink ek ons as nie Jode vandag moet weet dat die genade op ons nog groter was as oor die Jode. Ons verdien nog minder, nie dat enige iemand iets kan verdien nie. Maar ons verdien nog minder as die Jode. Mense… verstaan ons genade?! Dat die kruis ons kinders van Abraham maak! Dat die Heilige Gees op heidene gekom het, waarvan ek een was! Dat iemand soos Paulus deur Jesus self aangestel is na die kruis na die heidene! Na my en jou as nie Jode!



Ek gaan nou nie in op hoe die verkiesing van die Jode deel is van God se plan nie. Ek verstaan dit ook nie alles nie, maar hierdie boodskap het my geraak. Sluit aan by bg. gebed.

Nou word vertel van genesing van baie siekes. Ons verstaan nou dat dit gedoen was aan Jode en baie min aan ander. Die koninkryk kom hierdeur. Verlamdes loop ens. 

Toe ook die tweede vermeerdering van die voedsel na drie dae se honger. Ook hier het Jesus die mense “innig jammer gekry”. 

Die boodskap is ook: Wat het julle? God se wiskunde werk so: Die bietjie wat ek het en deel plus Jesus = Genoeg + 7 mandjies vol wat oorbly. Ons moet dus nie net sit met ‘n gevoel van onvermoë en onkundigheid nie. Die grootste bydraes is dikwels nie materieël nie.

 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...