Volgers

12/12/2015

Is daar 'n doel vir my en jou as christen?

Ek lees in die "TIME" tydskrif dat Angela Merkel die persoon van die jaar is. Op die kortlys is die nommer twee Abu Bakr alBaghdadi (die leier van ISIS) en die derde persoon is Donald Trump. 
Mens begin onwillekeurig wonder wat die motivering is om die mense so te vereer as persoon van 2015. Die antwoord wat ek vermoed is dat daar geen keuses vir waardes gemaak word nie. Die persoon se invloed kan dus positief of negatief wees. Daar word nie meer deur "TIME" vir enige waarde gestaan nie. Die enigste waarde lyk my, wat al sterker word, is dat daar nie waarhede of waardes is nie.
In Afrika, lyk dit vir my, is waardes weer 'n baie sterk beweging, maar dikwels is dit ook waardes wat negatiewe gevolge het. Ek het nie gehoor wie die navorsing gedoen het nie, maar ek verstaan vanuit radio gesprekke op RSG, dat navorsing sê dat 1 uit 10 Suid-Afrikaners glo dat omkopery 'n goeie waarde is.
Dit is ook nie 'n mooi prentjie as ek so objektief moontlik kyk na die afdanking van Nene deur Zuma nie. Daar is baie waardes, of gebrek aan, hier op die spel. Waardes oor geld, mag, patriotisme, ens. 
Waardes word natuurlik gevorm en gedra deur geloof en die God van die geloof. 
Die kerk het ook 'n uitdaging om waardes wat geleef word en waardes wat verkondig word bymekaar te bring. Ek praat nou nie van die paar geloofshelde wat daar is nie, want hulle bestaan en is 'n ongelooflike inspirasie. Ek praat in die algemeen van ons gemeenskappe. 
God self is besig om ons as Christene (Sy kerk) te gebruik om die wêreld se waardes te help vorm, sodat regerings beter regeer, besighede beter diens lewer, en God se koninkryk al meer sal kom. In die moderne wêreld moet ons as kerk werklik ons identiteit en werkswyses weer ondersoek, want ons invloed is nie wat dit kan wees nie. Soos ek verstaan, is die potensiaal ongelooflik groot indien elke christen begin om vanuit sy leefwêreld te leef vanuit wie God hom of haar gemaak het. 

Ek sien dit so:
Ons lewe as christene saam met God, is ons realiteit. Hy bestaan, Hy vergewe. Hy aanvaar my. Hy gee waarde ens. Persoonlike intieme verhouding met God deur geloof. ONGELOOFLIK. Dit verander my hopelose niemand wees lewe in 'n hoopvolle, waardevolle lewe al wil die wêreld my iets anders vertel. God het my lief.
Hierdie geloof gee aan my vaste waardes in kontras met die wêreld se weg beweeg van waardes. 
Die geloof en waardes bring my in aksie. Ons glo in harde eerlike werk, opoffering en soveel meer. Dit is 'n oorwinnende, hoopvolle en vervullende pad ten spyte van swaarkry pyn teleurstellings en fisiese dood. Ons kies om die moeiliker pad te loop. Dit is dus nie wetties nie, maar gedryf vanuit prysgewende liefde en omgee. 

Wat is die gevolg van gelowiges wat saamkom as kerk:(hierdie is volgens my ook 'n manier om ons geloofsgemeenskap weer te evalueer).
  • Ek sou sê die intieme saam wees waar ons mekaar aanmoedig om anders as die wêreld te wees. Baie kry swaar en dikwels as gevolg van hulle geloof.  Lewens word gedeel, elkeen het 'n plek en word gehoor en gesien.
In hoe 'n mate moet ons groei om dit waar te maak vir elke lidmaat?
  • Christene bring eenheid waar soveel invloede verdeeldheid bring. 
In hoe 'n mater bring ons diverse gemeenskappe bymekaar? Diversiteit in eenheid.
  • Christene bring waardes na die gemeenskap waar die gemeenskap dikwels die kerk se waardes beïnvloed. Waardes soos opofferende liefde vir naaste, harde werk, eerlikheid en ander. 
In hoe 'n mate is ons besig om die etiek van ons gemeenskap te beïnvloed?
  • Christene bedien die gemeenskap met 'n gewete, want die gewete van die wêreld.... 
In watter mate skep ons 'n gewete en dus 'n rigting vir ons gemeenskap?
  • Mense begin mekaar help en die wat het, begin om te gee vir die wat nie het nie. Christene gee nie net materieel nie, maar ook dinge soos menswaardigheid, want Christene stel so belang in ander dat hulle weet wat hulle nodig het. 
In hoe 'n mate bemagtig ons ons gemeenskap sodat elke persoon meer geleenthede kry om sy of haar gawes uit te leef?
In hoe 'n mate stel ons in ons gemeenskap belang sodat ons werklik weet wat hulle nodig het?
  • Christene word ook natuurlikerwys die sosiale koördineerders van ons gemeenskap. Ons regering het nog kort gelede erken dat die kerk die betroubaarste vennoot is in gemeenskapsdiens. Dit gebeur outomaties.
Gebruik ons genoeg ons geleenthede wat vertroue van die gemeenskap vir ons gee, om leiers te wees? (andersins verloor ons dit).
  • Die kerk se waardes maak dat gemeenskappe en individue in harde werklikhede weer hoop kry.
Kan ons sien hoe ons hoop gee vir ons gemeenskap?

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...