Wat is die kenmerk van 'n gelowige?
In Matt 25 word dit duidelik
dat optrede teenoor jou naaste, die vrugte is wat 'n gelowige openbaar. Die
skape is hulle wat water gee, kos gee, klere gee, besoeke aflê in tronke.
Hierdie optrede is nie die
voorwaarde daarvan om 'n skaap te wees en nie 'n bok nie, maar dit is wel die
kenmerk van 'n gelowige mens.
Die vraag is, wat veroorsaak
hierdie soort optrede as teken van 'n gelowige se lewe? Ons weet dat dit kom
vanuit 'n ontmoeting met God self waar 'n weerstandige mens in verhouding met
God kom in Jesus Christus en deur die werking van die Heilige Gees. Die mens is
nie in staat om self naasteliefde te leef nie, dit is die gevolg van 'n
wedergeboorte. Daar mag geen ander rede vir naasteliefde wees as Jesus nie.
Indien daar ander motiverings is, dan is dit vals.
In 'n lewe soos die van Martin
Luther, was daar 'n geweldige stryd oor skuld en onvermoë en was daar ‘n
jare lange stryd om vrede te kry by God. God was selfs op ‘n stadium die vyand as
‘n harde ongenaakbare God. Die verandering het gekom toe geloof en genade
ontdek is.
In reaksie hierop begin Martin toe
baie foute in die kerk sien wat nie vanuit hierdie liefde en geloof van God kom
nie. Sy optrede teenoor hierdie foute was nie in beginsel om die foute aan te
val nie, maar omdat daar in Martin se hart ‘n omgee van mense kom woon het. Hy
wou mense help om nie mislei te word nie, maar ook te ontdek wat die hart van
die Christelike geloof is.
Dit is belangrik om nie die fokus
te skuif na die kerk en wêreld wat mislei en dus ons vyande word nie, maar moet
bly by die wat gedien word. Hulle wat mislei word en die waarheid moet verstaan.
Daar gebeur iets in die
liefdelose hart van ‘n mens dat die mens met God se liefde en goedheid
gekonfronteer word en verander word. Dit gebeur vanuit ‘n realiteit van ‘n
geskiedenis van ‘n Jesus en ‘n kruis en opstanding. Ja, ook bloed en lyding.
Die grootste gevolg van hierdie
wedergeboorte is die omgee van mense wat mislei word. Daar is ‘n dringendheid om
God se waarheid en liefde oor te dra aan ons naaste. Dit word dan die teken van
ons Christenskap en redding. Diens aan mense word dus die kern kenmerk van ‘n
gelowige.
Om hierdie genade van God te
verstaan, begin by die ontdekking van ons eie ellende. Sonder God is ons in
ellende en onsekerheid en kan ons nie vind wat ons die nodigste van alles het
nie.
Ons ellende bring ons na ‘n diepe
soeke na God soos Martin ook jare lank gesoek het. Depressie gekry het en swaar
gekry het onder die las wat menslik nie opgelos kan word nie. In die stryd was
hy self die kern van sy stryd. Die hoë standaarde van God was besig om hom te
vernietig, want daar was net nie ‘n manier nie.
Eers toe die antwoord ontdek het,
het die skrikwekkende God verander na die ongelooflike genadige God in Jesus
Christus. Bevryding genesing en so voorts. Aardse pyn depressie en stryd is nie
vergelykbaar met die heerlikheid van God in Jesus Christus nie. Dit is ‘n pad
van oefening en stryd op aarde, maar ons het en gaan God se koninkryk erf. Dit
beteken dit is reeds ons sin, maar gaan volkome deel word van ons.
Die fokus word nou nie meer ek
wat erf nie, maar soveel ander moet geleer en begelei word na hierdie erfporsie.
Dit raak die fokus en grootste kenmerk van ons as gelowiges se lewens.
Ander se nood word ons fokus,
weens wat in ons gebeur het. In hierdie stryd om die nood van ander aan te
spreek, besef ons dat ons uit ons self daar nie ‘n manier is om te help nie.
Dit bring jou as gelowige in ‘n geweldige stryd vir ander en hierdie stryd bring
jou in verhouding met God al meer en meer. Die stryd bring die gelowige en God
bymekaar in ‘n gesamentlike diens en harde werk. Dit was waarmee die gelowiges
hulleself in Matt 25 besig gehou het as gevolg van wat God in hulle gedoen het.
Die betrokkenheid by ons naaste
bou ons verhouding met God. Dit word ons verhouding met God, want wat ons aan
hulle doen, doen ons aan God.