Volgers

24/11/2015

Laaste paar dae in Mosambiek

Kantore van Espanhor Milange
Daar is hantering van kommunikasie tussen sinode en vennote oor bouprojek in Mocuba en Magodane, dominees wat van gemeentes verander en besluite wat gemaak moet word, sinode se sending inisiatiewe, rentmeesterskap uitdagings, en nog. Ons besoek ook Espanhor soos op die foto hier bo.


Tydens sinodale kommissie vergadering
Die twee en halwe dag van gesprekke tydens die sinode, verteenwoordig ek ook die RSA vennote in heelwat van die bedieninge. 
Die sinode probeer baie hard om vanuit eie gemeentes bydraes te kry vir die werk van die sinode. Vervoer is 'n groot uitgawe, want dit is 'n prioriteit om die werk in die geisoleerde plekke te besoek. Sommige leiers wil met reels en posisie om gemeentes te dwing om by te dra. Ander verdedig die gemeentes wat sukkel met groot uitdagings. Besoekers sien baie mense, maar gemeentes het maar min werklike lidmate. Christenskap is vir baie lidmate en selfs leiers 'n baie nuwe aanpassing en mense worstel met transformasie. Dit was vir die leiers 'n groot selfinsig om te sien dat daar taakgerigte en mens gerigte mense in die vergadering is en dat ons moet aanpas by mekaar, want beide is belangrik.
Kobus Eksteen neem afskeid van sinode. Groot dankbaarheid vir sy bydrae.
Die terugrit:
Sondag betaal ek R30 om met die fietse grens toe te ry en daar kry ek die voorste sitplek in die taxi na Limbe. In Limbe klim ek oor in 'n ander taxi tot in Blantyre. Ek stap tot by Doogles backpackers waar ek bly tot die volgende oggend. Ek stap tot by bus en teen 10h00 vertrek ons na RSA.

Foto in bus teen 35 grade celsius met lugreling wat nie eintlik 'n verskil maak nie
Arriveer volgende dag teen 18h00 in Johannesburg na ure op Beitbrug. Slaap oor in Pretoria by vriende en die volgende middag 14h00 op tweede bus Kaap toe.

Hexrivier vallei uit busvenster
Ek arriveer die volgende dag 0m 8h00, beter bus as die een na Blantyre alhoewel dieselfde maatskappy.




03/11/2015

Handevat storie 12 Okt - 1 Nov Mosambiek


My nuwe profiel foto op "facebook"

Okotober 12
Hierdie is Danie en ds Nunes wat by Malema en Entrelagos saam gewerk het. Hier is motorfietse gelaai vir die pad.


Ek groet die boland en mense wat vir my baie kosbaar is. Ek bid dat die Here Sy wil sal bereik en ek goed sal luister, en met oortuiging kan doen en praat. Dat ek daar sal wees waar Hy my wil hê. Ek rus en vertrou op Hom.



Oktober 13
In die bus op pad na Zimbabwe en tweede nag van regop slaap.


Oktober 14
Is nou in Blantyre. Vertel later van goeie gesprekke op bus ook met Moslem leier. Hier ry ons oor die nuwe brug by Tete. Zambesie rivier. Die man het homself en die Moslem geloof verdedig en die Christelike kerk aangeval. Ek het die foute van die kerk gedurig erken en hom duidelik gewys dat Moslems ook soms foute maak. Hy het dit ontken, maar kon later nie meer nie. Hy het nie verwag dat ek ons gebrokenheid sou erken nie en dit het hom heel van sy storie af gehad.


Oktober 15
Vandag in Milange na taxi en fiets trip. Lekker warm. Vergaderings begin more. Bid vir fyn luister en wysheid.

Oktober 16
Die gesprekke vandag was goed (ek het vir 'n paar uur lank met moderator en algemene sekretaris van die sinode in Mosambiek gesels), en daar was mooi verstaan. Aan die ander kant ook amper verslaentheid as mens sien hoe diep gewortelde maniere van dink en doen soveel probleme veroorsaak. Aan die ander kant dat ons so lief is vir mense dat ons nie kan ophou om weer en weer die waarheid te praat en verder te soek na oplossings. Dit het ons nog nader gebring aan mekaar en so ook aan ons Goeie Vader.


Oktober 17
Niehan maak vir die manne burgers terwyl die vrouens ladies night het. Dankie Niehan, dit was lekker na die vergaderings.



'n Stuk van die Mocuba pad, is nog stadig. Het gou gestop vir 'n koffie. Nampula nog 4 ure weg.

Oktober 18

Vandag Nampula se strate deurkruis op soek na 'n motorfiets. Ek praat met Here dat ek wens dit was makliker as om self te soek en navorsing te doen. Na alles bid ek om more goed te doen.


Slaap by YWAM basis (was SIL), Goeie gesprek met administrateur. Ook genooi vir middagete by sendelinge saam met 'n nuwe paartjie van Balama. Ons eerlikheid oor swaarkry, maak dat die Here ons saamwees gebruik vir mekaar.


Dave die loots van MAF, leen my hulle voertuig. Wonderlike voorsiening anders het ek gesukkel. (die Here het die keuse met 'n glimlag gemaak! ). Verder is daar iemand wat die stad ken wat more vir my die beste motorfiets plekke gaan wys. Mens kan dankie sê vir so baie dinge.




Ons erediens op ywam basis. Ek voel so die swaarkry van baie van die mense, wil hulle 'n groot drukkie gee en saam huil. Sulke brawe geloofs mense.

Goeie gesprek met Mosambiekse Bybelskool dosent. Hy vertel van mense in Xai-Xai wat familie in hulle erf begrawe om nader te bly aan hulle. Ook hulle wat uit vrees nooit 'n dier se ribbes of hart eet nie want hulle voorvader clan naam is borskas.

Oktober 19

Bileam II, is toe gekoop. Hero 150 cc vir so R20000. Toe Grant laat weet hulle kom uit die Honda stal, toe besluit ek dit is die een wat ek dink die Here wou hê ek moet koop. Kan nie hele storie vertel, maar dinge gebeur nie soos in RSA!


Blikkie vleis, mash, blatjang en koffie vir middagete. Sias Murray sou dit geniet.

Oktober 21

Grant en twee werkers of dissipels besig om te bid. Baie vrae oor Bybel en praktiese Christenskap. Die een se vrou maak nie die pap wat hy van hou nie. Nou gaan hy eers sy eie foute erken en hoop hy kan dan met haar weer oor die pap praat.

So lekker vol dag gehad, het nie eers 'n foto nie. 5uur uit Nampula weg en kuier lekker by Grant en Riana. Goeie gesprekke met werkers, bure ens. Bietjie help boot bou en laat middag gaan duik.


Ons ry uit met motorfietse met elkeen een agterop to by dominee en sy kerkie. Ons gesels oor kerk wees en ware Christenskap. Grant help met laaste bladsy vertaling van hart van mens. Baie sinvol.



Wat 'n ongelooflike dag. Hard gewerk, baie stories vertel, beplan, Kotie en Rina eet saam, ons eet likkewaan in die bos! Ons duik weer die aand. Ek haal 18 m en Grant Franke skiet 'n vis. Kan baie vertel, maar nou is ek op 'n goeie manier goed moeg.

Oktober 22

Die werker vra vanmore oor uitverkore volk van God. Dit lok diep geprek uit hoekom ons blankes en mense in Afrika deel kan word van Koninkryk en oor waarde van mense. Die werker sê toe dat hy vanmore goed opgestaan het, maar dat die woord hom nou hard geslaan het.




Hier word Farming God's way tuin gemaak. Die pajero wrak is gekoop en Grant met sy werkers het die enjin oorgebou en dit word reeds gebruik. Riana doen skoolwerk met kinders. Gesondheid is nou goed.

Oktober 23



Eet gister by die familie, praat oor radio oor bybelverhale. Kuier tot 12uu by Frankes. Nou pap en koffie ek langs pad na Nampula.

Oktober 24




Ons is veilig by Mutarara, oor klein bruggie, eerste byeenkoms. Hier is baie seerkry, en ons beplan om alles more en oormôre deur te praat en baie meer. Die Here se wil vir die gemeenskap te soek.

Oktober 26

Dag van huisbesoek. Baie hartroerend. 36 grade en meer as 10km se stap. Sal later meer vertel. Moet nou foon battery spaar vir nog 6 dae.

Oktober 27
Is nou in Entre Lagos en met nog net uitry na die kerkie.

Mense hier in Nachanje wil weer begin om kerk te plant. Is egter nie so eenvoudig nie. Mense se verstaan van kerk moet eers uitgepraat word. Dit is ook 'n proses om die Here te leer ken en 'n gemeenskap te stig wat iets van sy Koninkryk uitleef vir die wereld.

Ek kan nie hier foto's stuur nie. Sein te swak ver in bos. Die gemeente met 6 gebedshuise het heeltemal plat geval. Ons het twee dae om saam met mense na die Here te luister. Bid saam vir goed luister.

Oktober 28

Die plek waar hulle 'n nuwe kerkie wil begin.


Vandag gepraat oor kerk as plek om mekaar lief te hê en waar ander jou kan help om op die pad te bly. Hoe om ander se belange raak te sien en lief te wees vir jou vrou. Ons besoek huise en leer om mekaar se seer te dra. Dit is nie maklik nie, maar ek geniet sulke goed baie. Lyk tog of hier 'n kerkie gaan begin.

Oktober 30

Ons is in Mecanhelas op pad na Nephipi die laaste plek waar ek 2 dae gaan werk. Is nog baie geseënd gesond en dit is baie ver vullend om te sien hoe die Here mense aanspreek. Sal vorentoe sien of daar sigbare gevolge gaan wees.


Mecanhelas se strate


Is in Nephipi die laaste besoek. Reeds 'n gesprek gehad met ouderlinge oor oppervlakkige of diep ware bekering van binne. Die stryd waarin ons is om in onsself te sterf. Dit gaan goed. Dankie vir gebede vir 'n tyd wat baie van mens vra. Word werklik gedra.

Oktober 31
Ek begin nou dink aan french toast met blatjang! Dit bly hier pap met of vissies of hoender of boontjies. Vandag was weer besonders, Hoe om 'n visie te hê van 'n gemeente bv sonder hoogmoed, en hoe leiers dan beplan om dit te realiseer. Of 'n gemeente met goeie liefdevolle huwelike ens.

Ek lê hier in tentjie binne kerk met ouderlinge wat rondom slaap. Luister na fluister gebed van ouderling voor hy gaan slaap.

November 01

Ek is terug in Milange Mozambique dinge sal nou weer spoed optel. Het twee dae vir aanpassing admin en dalk 'n gesprek of twee. Die krag is net baie af. Nou al 3 dae. Hoop op krag vir rekenaar en foon laai.

02/11/2015

Besoek aan Entre Lagos (naam beteken tussen die mere)

Ek en ds Nunes van Gurue vertrek op ons motorfietsies vanaf Murara, wat op die kaart as ‘n kerkie regs bo naby Malema aangedui is. Dit is alles sleg grondpad, baie stof en dan die laaste stukkie pad baie dik sand is. Ons worstel wydsbeen deur die sand sweet en lag vir mekaar se gesukkel tot by Entrelagos wat op die kaart noord van Mecanhelas is waar die pad langs die meer by die treinspoor aansluit.
Daar aangekom by die hoof ouderling, weet hy dat ons kom, maar weet van geen relings. Sien hy, wil nie dat ons die buiteposte besoek nie, hy wil ons vir homself hou. Ons moet omtrent rond bel voor ons uitvind waar die byeenkoms gereel is. En toe wag dat iemand vir ons kom haal. Met ‘n gesukkel kom ons daar weg en in die proses hoor ons dat die 6 gebedshuise eintlik nou almal dood is. Die plek waarheen ons gaan is ‘n nuwe plek wat die vorige dominee (wat hiervandaan moes vlug) begin het. Die jong man daag op en klim agter op ds Nunes se motorfiets en wys vir ons die plek wat op die kaart aangedui word as ‘n huisie langs die boonste meer. Mens kan die meer daarvandaan sien as jy op ‘n graniet bergie geklim het. Dit is amper 100km van Cuamba af.

Die area is baie geïsoleerd. Binne 20 km is daar bv nie skole nie, mense moet baie ver loop vir water. Dit is stowwerig en droog op die stadium. Daar is geen mediese geriewe nie, soms moet hulle mense agter op ‘n fiets laai in ‘n nood geval vir oor ‘n 20km en mense maak dit dan dikwels nie. Na verlede jaar se vloede, is daar nie genoeg kos nie. Mense eet reeds net een keer per dag. Hier is ‘n foto van die mense soos hulle werk in hulle tuine.

Mens word met 'n magteloosheid gekonfronteer as daar regtig niks is om fisies te doen nie. Ons word gedwing om ernstig met ons Hemelse pa te praat!

Een ou man vertel dat as die nood regtig druk, dan loer daar baie versoekings vir jou. Dan kyk hy maar net op en as hy afkyk het hy 'n skoffelpik in die hand en dan weet hy wat om te doen.


Ons word ontvang by ons gashere op baie oop respekvolle manier en hulle dra ons op die hande vir die drie dae wat ons daar bly. Ons eet pap en vissies, of pap en hoender en in die oggend ryspap.


Dieselfde dag begin ons met gesprekke. Eers behoeftebepaling. Die mense wil baie graag hê ons moet daar 'n kerk begin. Ons begin dus om die basis van kerkwees na die beste van ons vermoeë te beskryf.
  • Begin by God drie-enig. Verskillend en tog eenheid. 'n God van verhoudings.
  • God se koninkryk se kenmerke is dinge soos:
    • Sy glorie
    • Liefde
    • Vergifnis
    • Self opofferend, doodgaan in self
    • Ander se beslange bo jou eie stel. 
    • Almal vrouens inkluis is na Sy beeld geskape en almal wit of swart het gelyke waarde. (baie tyd word hieraan spandeer).
    • Diens
  • Die aardse koninkryk is baie verskillend en werk met magstelsels materialisme en sulke dinge.
  • Om hierdie nuwe koninkryk gestalte te gee moet ons
    • Afhanklik en erkentlik wees.
    • Ons gebrokenheid erken
    • 'n Gesindheid hê waar ons die ander vra om my reg te help as ek foute maak.
    • Erken dat ons mekaar brood nodig het.
    • Ons mag nie sleg praat van mekaar as ons mekaar nie help nie.
    • Ons moet mekaar bou en bevestig met goeie woorde en aanmoeding
    • Ons deel saam mekaar se lyding en deel die lyding dan met Christus van die kruis.
    • Ons maak saam planne onder God se leiding

Hier breek ons tydens die twee dae se gesprekke en sing en dans ons eers bietjie. Van die mans is bereid om buite die kultuur gewoontes sy vrou se hande te vat en vir haar te bid as inoefening. Die huwelik word bevestig as ons skool vir die verhoudinge waaruit die kerk bestaan.  Dit is regtig groot stappe wat met baie lag en gesels gepaard gaan.

Ons doen saam huisbesoek en deel ons medelye, omgee en aanmoediging op 'n praktiese vlak met mekaar.


Die seuntjie sit buite en speel terwyl ons gesels.


Ek maak my oggend koffie.

Met die afskeid gesels ons bietjie oor inisiatiewe. Die kinders moet skool kry, want niemand word dorp toe gestuur nie, daar is te veel mensehandel en nou leer niemand. In die reeds moeilike tyd, moedig ons mense aan om vir elke kind vas te byt en 'n stukkie ekstra landery te plant. Dan eenheid te kry sodat die fondse saam gegooi kan word. Dan kan hulle Milange kontak en 'n christen onderwyser vra, want hulle het kos en geld vir hom.

Ek en Ds Nunes sluit af deur die verantwoordelikheid aan die mense oor te gee. Ons sit simbolies die opleiding en planne voor hulle neer op die grond. Ons gaan weg en hulle kan nie staat maak daarop dat daar van buite af iets gaan gebeur nie. Dit is nou hulle besluit om die opleiding te gebruik en eenheid en vertroue tussen mekaar te bou en kerk en skool te begin. As hulle alles daar op die grond los, gaan niks gebeur. As hulle dit optel gaan dit baie werk kos, maar gaan more 'n beter dag wees as vandag. Dit is moontlik want God se Gees is by hulle. 

Op die manier gaan hulle ook mekaar kan help om gereed te wees as die Here weer kom.




2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...