Volgers

17/07/2015

Johan Morkel vertel van Mosambiek saam met Handevat


Ek het in April 2015 ‘n week saam met Danie Murray in gemeentes in die Milange omgewing
deurgebring voordat ons met sy Uno via Mocuba en Quillemane die 4 000km teruggery het tot in
Kuilsrivier.  Op Danie se versoek, vertel ek graag iets van hierdie ervaring.  

Ek sal graag wil begin deur te sê dat so ‘n uitreik saam met Danie na Mosambiek ‘n ervaring is wat jou totaal buite jou gemaksone neem.  Dit is nie, soos sommige mense dink, iets soortgelyks aan die
program “Voetspore” op televisie waar ervarings van mense vertoon word wat as ‘n goed toegeruste
span met viertrek voertuie deur Afrika toer nie!  Op so ‘n uitreik saam met Danie ervaar jy eerstehands besoeke aan gemeentes in die bos(ons was by die gemeentes Thezeze en Candeni).  Tydens hierdie besoeke slaap jy in ‘n tentjie wat ook as muskietnet dien, jy eet die kos wat die mense jou aanbied
waar jy tuisgaan en jy ervaar vir ‘n kort tydjie iets van hul lewenswyse.  Jy is gestroop van alle
geriewe en gemak en luukshede waaraan jy by die huis gewoond is.  En dit doen jou baie goed!  Jy
leer meteens weer dat mens met baie minder kan klaarkom en dat ons nie so op die materiële ingestel moet wees soos ons dikwels is nie.  In die proses leer jy jouself ken en kry jy geleentheid om weer
besluite te neem omtrent jou waardes in die lewe.  

Maar jy leer nie net jouself ken nie.  Jy leer ook opnuut die betekenis van geloof.  Juis omdat jy so
uitgelewer is aan ander, gaan jy elke nuwe dag tegemoed in vertroue op die Here.  En as daar krisisse oor jou pad kom - wat dikwels gebeur – leer jy om ook in die krisis die Here te bly vertrou.  En Danie help jou om gedurigdeur om die wil van
die Here te soek agter wat elke dag ervaar word.  Miskien wil jy my antwoord dat bogenoemde
vanselfsprekend is en jy reeds jou lewe so leef!   Dan is ek baie bly, vir my was die uitreik egter ‘n
kosbare leerervaring wat ek, ten spyte van die ontberinge, vir niks in die wêreld sou verruil nie!  ‘n Laaste opmerking: uiteraard kom mens op so ‘n uitreik daagliks met gelowiges in aanraking wat op die
frontlinie die Koninkryk van God in Afrika dien.  Mense wat op ‘n daaglikse basis onder moeilike
omstandighede hul lewens wy aan die koms van die Koninkryk van God.  Nie alleen was dit vir my ‘n
inspirasie nie, maar dit het my ook motiveer om meer gereeld hierdie medegelowiges aan die Here op te dra in gebed.  As jy enigsins die geleentheid kry om, op watter manier ookal, iets van so ‘n uitreik te ervaar, sal ek graag vir jou wil sê: “go for it”!

Johan Morkel 

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...