Volgers

26/10/2018

Gebed

Gedagtes oor hoe om ons Vader, Jesus en die Heilige Gees beter leer ken

Mens kan baie van God leer deur kennis en oplees en die feite versamel oor die waarhede oor God. Tog is daar dikwels geweet oor God, maar eintlik ken hulle Hom glad nie. 'n Mens kan dikwels baie van iemand weet, maar glad nie in 'n verhouding met die ander persoon staan nie. Jy ken die persoon eintlik nog nie.

Strukture begin by verhoudings en behoort by verhoudings te bly

Ek het 'n vermoede dat alles in die lewe begin by verhoudings. 
1 Johannes 5:12  Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.
Ek glo dat die lewe in die vers alles insluit. Besigheid, politiek, kuns, opvoeding, waardes, ontspanning, plesier, vakansie, gesin, familie, kerk, ewigheid na dood, dood, siekte, geld, tyd en nog baie meer.
Johannes 1:3  Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
Ek glo ek kan sê dat die wat die Seun het, ook beteken dat jy in 'n verhouding met die Seun staan. Die Lewe kom deur Jesus en 'n intieme verhouding met die Seun.
Hammie van Zyl het eenmaal die voorbeeld gegee van Michael Jackson. Hy het miljoene aanhangers gehad, maar het alleen gesterf, want hy het nie 'n verhouding met een van die aanhangers gehad nie. Mense het gekom vir die optredes, en het dit geniet. Hy was selfs 'n soort van 'n hero, maar daar was nie interaksie tussen hulle nie. Michael het nooit persoonlik die aanhanger in die oë gekyk en opinies uitgedeel nie. 
Ons verhouding met Jesus is nie om 'n aanhanger te wees nie, maar 'n intieme interaksie met Hom te leef. 
In Mosambiek vra ek vir mense soms. "Wie praat met God?" Somtyds kry ek die antwoord dat niemand met God praat nie. As ek dan vra of mense bid, dan bid almal en begin hulle te twyfel in hulle antwoord en kan daar 'n gesprek oor die gesprek met God plaasvind.
Die verdere vraag is of God met jou praat. Hier is die antwoord baie meer dat so iets nie gebeur nie en die gesindheid wat ek optel: Veral nie met my nie. Ek is te onbelangrik om raak gesien te word. Hy praat nie eers altyd met die goeie en belangrike mense nie, wat nog te sê met my. Hier en daar is 'n persoon wat al beleef het hoe die Here met hom of haar gepraat het.
Die verhouding met God en met mekaar gee natuurlik gewys aanleiding tot strukture. Dit is goed en onvermydelik. Die probleem met meeste denominasies vandag is dat die strukture op die ou end so sterk word dat dit die verhoudings totaal oorheers en verineweer. God deur Sy goeie hart bring mense weer in interaksie en belewing van 'n verhouding met Hom wat in ons verhouding met mekaar in uiting kom. Dan word verhoudings weer passievol en so sterk dat dit hulle bedoelde plek inneem bo strukture en die strukture verineweer en aanpas om God se bedoelinge wat met 'n verhouding begin met passie uit te leef. Stukture het nie die vermoeë om so 'n passie te skep of te hanteer nie. Dit is net nuttig in die uitleef van ons verhouding met God, mekaar en die natuur.
Waar verhoudings oorheers is daar 'n staat van amper chaos en dit is baie dinamies. Dit verander gedurig. 
Daar is baie beginsels wat belangrik is in die werk van die Here in mense se lewens, en ek glo dat intieme verhoudinge een van die basis beginsels is. Sonder dit "kastreer" ons die "kerk". 'n Goeie gevoel en paar mooi gesprekke tussen 'n groep van sê 400 mense in 'n erediens, is nie die verhoudings waarvan ek hier praat nie. Selfs nie eers in 'n groep van 20 mense nie. 'n Verhouding kan baie diep, betekenisvol en intiem wees. Ook omgee groepe leef heel dikwels nie hulle potensiaal van betekenisvolle verhoudings uit nie.

Hoe het die verhouding met God begin

Met die laaste besoek het die Here my gelei om te begin by die skepping en die sondeval. Hoe die mense vermoeë het om te besluit en verkeerd besluit het. Hoe daar skeiding gekom het tussen God en mens. Die vraag is dan as God aan daardie kant van die vertrek staan en jy as mens die kant en geen kontak met Hom het nie, nie met Hom kan praat nie. Jy is so gebore. Hoe het dit gekom dat jy nou met Hom kan praat. Hoe het jy by God uitgekom. Hier is gewoonlik baie antwoorde soos om Hom te vra, maar dan is die probleem, jy kan nie eers met Hom praat nie. Dan probeer iemand liefde, maar die probleem is dat die mens nie in staat is tot liefde nie, dit is by God. Reg lewe, ook hier is ons nie in staat nie. Stadig aan begin daar 'n bewustheid wakker word van die onvermoeë om 'n verhouding met God te begin. Jy kan dit nie skep of met slim planne bewerk nie. 
Dan begin en wys hoe God offers ingestel het om kontak te maak van Sy kant af. Later deur profete gepraat het en selfs later hier op die aarde na die mense te kom en in die Tabernakel by hulle te kom bly. Ook dit was beperk en selfs die hoë priester kon net een maal in die aller heiligste ingaan met 'n tou om sy voet om hom uit te trek as hy dalk dood neerslaan. 
Toe kom Jesus uit die Hemel en kom woon hier op die aarde met Sondaars. Hy word die liggaam aan wie die wat naby Hom was God kan aanraak. Hoe Hy volkome God en mens was. God bly uitreik na die wêreld, want Sy hart pyn vir 'n gebroke mensdom en natuur. Hoe Hy die mens wat niks werd is nie, waardig ag om hulle pyn op Homself te neem. Hy maak 'n niemand 'n iemand. 
Hy sterf aan die kruis en die Sonde wat skeidsmuur was, word afgebreek en skielik skeur die Tempel (Tabernakel) se gordyn en het God weer van Sy kant af na die mens gekom. Die mens was nie in staat om na Hom te gaan nie. 
Toe kom hemelvaart en dit lyk vir almal of die wonderlike tyd van God by ons (soos met sy geboorte gesing is) verby is. Tog is daar 'n belofte van die Gees. Op die ou end word met die uitstorting van die Heilige Gees ontdek dat Hy in liggaam weg gegaan het om nader aan ons te kom. Met sy liggaam was net die wat naby Hom was in staat om aan Hom te raak. Nou woon hy in die gelowige en as ons aan die gelowige raak, is die gelowige Jesus se liggaam. Dit is dan nou oral. Tempeltyd is nou verby! 
Wat moet ons dan nou doen om 'n verhouding met God te kan realiseer. Ons hoef dit nie te maak of enige voorwaarde na te kom nie, ons kan dit maar net aanvaar. Hoe kom 'n gebroke sondige mense in 'n verhouding met God? Deur Sy Gees wat die offer van Christus in jou lewe waar maak. Hy transformeer jou lewe, nie jy nie. Jy kan nie. God het klaar al die voorwaardes van Sy kant af na gekom.
Ek verduidelik dit in Mosambiek deur te vertel van die voëltjie in die hokkie: Jare terug was daar 'n seuntjie wat 'n voëltjie gevang het en in 'n tuisgemaakte hokkie gesit het. Die voëltjie was daar sonder water of kos en 'n seker dood het dit in die gesig gestaar. Dit maak mos nie saak nie, want dit is nie veel werd nie. 
'n Man kom daar verby en sien die situasie van die voëltjie in die hokkie. Sy hart gaan uit vir die voëltjie, want sien hy sien die voëltjie met ander oë en beleef die pyn daarvan. Hy stop die seuntjie en vra waar hy die voëltjie gekry het. Die seuntjie vertel toe met smaak hoe hy dit in 'n wip gevang het en die man kon sommer sy trots sien. Hy vra toe wat hy met die voëltjie gaan maak. Die seuntjie sê toe: "Ag wat, seker daarmee speel". Die man sien toe dat hy nie die trotse seuntjie se waardes of ingesteldheid nou gaan verander nie. Hy sal maar 'n ander plan moet maak. Hy vra toe of hy nie voëltjie aan hom sal verkoop nie. Hy bied toe R10 rand aan. Die seuntjie is baie adamant en sê "Nee dit is myne, ek het dit gevang." Die man bied to R50 aan, met dieselfde antwoord, en later R100, met nog steeds dieselfde antwoord alhoewel daar 'n klein onsekerheid begin insluip. Hy probeer toe R200, maar nog nie. Met selfs R500, wou die seuntjie nie. Eers met R1000, antwoord die seuntjie dat die man mos nou nie lekker in sy kop is nie, maar hy sal dit darem aanvaar. Die man koop toe die voëltjie en maak onmiddelik die deurtjie van die hokkie oop en die voëltjie vlieg weg. Die seuntjie was heeltemal uit die veld geslaan en kon net sy kop skud huis toe loop en sy geld tel. 
Die hartseer is dat ons ook vry gekoop is en die deur van ons tronk en dood sel is oop gemaak, maar ons is so gewoond aan die lewe tot dusver dat ons dikwels daar binne bly. Ons hokke word soms geskud, maar ons klou verbete vas om binne te bly tot die dood, die ewige dood. Tragies hoe sommiges aan die ou lewe vasklou en ook Sondae in kerkgeboue sit?! Dit terwyl die deur oop is. 

Motivering vir verhouding

Mat 7:13-14
(13)  Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.
(14)  Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.
Die plakate van die twee weë is op die vers gebasseer. Ek sien sommer die prentjies hieroor in my gedagte. Dit gaan nie net oor 'n ewigheid wat op die spel is nie, maar ook oor 'n lewe. Die een is 'n lewe wat lei tot die dood. Daar is denominasies ook op die pad van die wye poort. Daar is soms selfs 'n slaafse volg van religieuse tradisies sonder 'n verhouding met God. In die moderne tyd van die Westerse samelewing begin baie selfs die tradisies los, maar nog steeds op 'n manier probeer om God se guns te wen. Vir ander is God net nie 'n werklikheid nie en lewe hulle in 'n eie geskepte wêreld verwyder van die realiteit van God. 
Die ander pad is 'n nou pad. God is lief vir die wêreld en in Sy hart het Hy al die pyn en smart van die wêreld Sy eie gemaak. Dit is in Sy hart, omdat dit is wie Hy is! Dit is 'n seer hart van opoffering vir die wêreld. Hy beweeg na die wêreld vanaf die sondeval en sal dit doen tot met die wederkoms. Dit is God se pad en storie. Die seer veroorsaak dat God ook iets daaraan doen. Hy het nou reeds die deur oopgemaak vir bevryding en is daagliks besig om mense terug te bring na die realiteit. Hy doen dit deur mense. Die mens wat God se hart met Hom deel, word deel van die storie om iets te doen. Ons word deel van God se seer pad om die wêreld weer met God te versoen. Dit is 'n kind van God se pad op die aarde. Dit is nie 'n gemaklike pad nie, want die hart wat ons van Hom kry is swaar met 'n heilige ongelukkigheid oor 'n gebroke, seer en misleide werklikheid. Die werklikheid wat nie verstaan wat 'n intieme toegewyde verhouding is nie. 
God gee Sy hart vir Sy kinders deur Sy Gees. Waar ons nie in staat is om lief te hê nie, bring die Gees God se liefde in ons lewens in. Dit is ongemaklik! Ons is vreemdelinge in die wêreld en dit is nie ons huis nie. Die normale vir ons is om ons hele lewe in in krisis te wees, want die realiteit rondom ons is soveel anders as dit wat God begeer. Dit bring 'n self opofering mee en 'n vreugde binne lyding, want God maak van ons getuies. Verteenwoordigers van Hom en ons lewens reflekteer Syne. 
 Act 1:8  Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."
Ek gebruik graag Petrus as 'n voorbeeld in die eerste hoofstukke van Handelinge. Hy stap vir lank verby 'n verlamde man in die poort van die tempel. Wat het gemaak dat Hy met die bedelaar te doen kry? Ek glo die Here het deur die Gees met Hom gepraat. Hy het skielik met God se oë gekyk en nie met sy eie nie. Met sy eie oë het hy niks om te doen nie en nie geld om te gee nie. Met God se hart en oë sien Hy anders, en verstaan Hy dat hy nie kan nie, maar dat Hy God self verteenwoordig in sy liggaam. Hy laat die man opstaan en dans in die naam van Jesus. Toe die mense hom as leier wou aanstel is hy ontsteld daaroor dat hulle nie verstaan dat dit nie hy was nie maar die Here self wat dit gedoen het nie. Hy het self as mens niks om oor trots te wees nie. 
Later bring sy boodskap hom in die tronk en daar word verskeie kere geslaan en verneder. Toe hy egter voor die Joodse raad staan, praat hy met vrymoedigheid en wys hulle selfs daarop dat hulle Jesus dood gemaak het. Die klomp was verbaas dat 'n ongeletterde man, 'n eenvoudige visserman so met vrymoedigheid vir 'n saak kan staan. Menslik onmoontlik. Hulle verbied hom om te praat van Jesus en hy vra of hy vir hulle of God meer gehoorsaam moet wees. Hy word geslaan en mishandel en toe hy uit die tronk kom was hy bly dat hy vir die naam van Jesus kon ly! WOW?!
Ek wil die punte gou bymekaar sit met Johannes 15:
Joh 15:1-6  "Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer.  (2)  Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.  (3)  Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.  (4)  Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.  (5)  Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.  (6)  As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
Die in Christus wees en die vrugte wat voortgebring word is gekoppel aan mekaar. Die loot is die kanaal. Ons is dikwels daarop ingestel om betekenisvol te lewe en probeer regtig om lief te wees vir mense, so asof ons in staat is om dit te doen. Ons probeer hard en druk dalk so 'n bekrompte trossie druiwe uit. Dan voel ons nog trots ook daarop. Die gedeelte gee egter 'n heel ander manier van dink en doen. As ek wil vrugte dra is die fokus nie op die punt wat vrugte dra nie. Ons weet nie eers wat die Here wil doen nie. Dit is baie meer effektief om te konsentreer op die punt wat in die wingerdstok gewortel is. Die sap wat daardeur invloei transformeer my bo my vermoeë en dan bring dit vrugte voort. As ek dus gewortel is in Christus en Sy gees die werk doen, kom ek dikwels op 'n plek en alhoewel ek probeer voorberei doen Hy meestal iets anders as wat ek beplan het. Ek beleef dit daagliks hier in Mosambiek. Bo-natuurlike deurbrake op lokale gebiede en dinge gebeur soveel dieper en beter as wat ek dit sou doen. 

Inhoud van verhouding

Hierdie verhouding is nie iets wat ek kan maak of skep nie. Wat kan ek nou doen om God te beïndruk?!! Hoe kan ek Hom manupileer om my beter raak te sien?!! Daar is nie 'n manier nie. Sy omgee en raaksien en waarde gee is klaar ver meer as wat ek kan droom of dink. Sy heerlikheid en almag liefde ens is reeds ingebou in my. Ek is totaal vergewe, en het alles wat ek nodig het om 'n getuie te wees. Dawid sê selfs dat sy beker oorloop. Ons bekers loop reeds oop, dit is ons eie idee van wat die werklikheid is wat ons beperk. Enige beperking op Sy verhouding met my, is 'n leuen en misleiding. Ek kan dit maar net vat. Hy sal deur Sy gees die boosheid in my verander in heerlikheid vir die doel om vrugte te dra. Hy sal my reg sny. Ek kan natuurlik in die hokkie bly sit as ek wil!
Dikwels sukkel ons om Hom te vertrou, want ons verstaan so min van wat werklike liefde is! Laat my dink aan Hammie se storie oor die Xhosa seuntjie:
Hy en sy vrou neem verwaarlose kinders in hulle huis in. Eendag bring hulle 'n Xhosa seuntjie wat sy hele lewe lank nog net verskree is en wat ook verkrag was, aan wanvoeding bly en net in vrees lewe. Toe Hammie dit sien het sy hart heeltemal buite beheer vermurwe. Hy wou die seuntjie optel en vasdruk, maar toe hy nader kom, begin die kind in vrees te skree en weg hardloop, want dit is ooms wat dit alles aan hom gedoen het en hierdie is ook 'n oom. In die huis begin die kind stadig aan agter kom dat hierdie oom goed is. Hammie vertel dat as hy nou by die huis kom die kind van ver af aangehardloop kom in sy arms spring en lag. Hy vryf sy handjies deur sy gesig en sê: "Daddy, I love you". 
Soms ken ons nie God nie en vertrou ons Hom nie. Daar is soveel straf en idees oor hoe mense is wat in magtige posisies is ens. Ons kan egter 'n "my Daddy" verhouding met God hê, want Hy is goed. So 'n verhouding op 'n pad vol seer van veranderinge en aanpassings in jou eie lewe en 'n liefde wat jou dryf tot offers en seer ter wille van die geboke wêreld. Die pad is dan ook ten spyte van dit alles, vol vreugde, blydskap en vrede. "want My las is lig" Die las is lig want Hy doen dit, deur jou. 'n Gelowige leef nie net voor die aangesig van God nie, maar in Hom en Hy in die gelowige. Ook die geloof kom van Hom af. 
Daar is kommunikasie tussen jou en God. Ek vra 'n gemeente ver op die platteland oor hoekom hulle dink dat hulle as groepie nog nie gegroei het, ten spyte daarvan dat die gemeentetjie reeds 40 jaar oud is nie. Om die waarheid te sê, was hulle meer in die begin as nou wat hulle ongeveer 15 mense is. Dit vra ek nadat ons lank oor kommunikasie met God gepraat het. Ons bid saam en vra God om vir ons te sê hoekom. Hulle kom toe met antwoorde. Ek vra elkeen wat iets sê wie vir hulle die gedagtes gegee het. Huller erken toe dat hulle met God gepraat het en dat hy geantwoord het. Die gedagtes kom van God af. Dit was vir hulle 'n groot openbaring dat hulle met God kan praat en dat God hulle antwoord. Hulle is soos die voëltjie in die hok waardig om God te ken en in interaksie met Hom te wees. Met Hom te kan praat en dat Hy met hulle ook praat oor die bekommernisse wat Hy in hulle harte geplaas het. Mens sien sommer in mense se oë wat se wonderwerk God besig is om in hulle lewens te veroorsaak. 
Ai, mense is so mislei, as hulle maar net beter kon verstaan en hulle verhouding met God kan beleef!! (Deel van die ongemak wat God in my hart vir my skenk!)

Verhoudings en status

As mens van die status van God se verteenwoordigers praat, dan is daar 'n werking van die Gees nodig om te keer dat daar 'n menslike trots ontwikkel. Dit is ongelooflik om vertroueling van God te kan wees en al Sy mag te kan beleef op die pad na Sy doel om die wêreld te genees. Mense bewonder jou dikwels vir dit wat God doen. Meestal is dit baie diep goed, maar regtig klein goedjies. Ander kere vreeslik radikaal. Dalk onthou julle die Nickey Cruz storie waar hy voor die bose en harde bendeleier staan en vir hom kom sê dat God hom lief het. Hoe hy hom wou dood maak en hy antwoord dat selfs al sny hy hom op in 1000 stukkie, sal elke stukkie vir hom lief sal wees.
In 'n wêreld wat soos 'n vissie wat uit die water gehaal is gaap vir die suurstof van lewe, gaap na ware standvastige omgee liefde, bewonder hulle ook God se liefde deur jou as mens. 
Tog is die kind van God se gesindheid, 'n groot gebroke en selfs seer nederigheid soos Jesus. Soos Hy loop ons God se seerkry pad van omgee. Dit is die wingerdstok se sap wat ons Sy DNA gee. Nederigheid is deel van die vrugte van die Gees. Mens krimp partykeer ineen as mense jou bewonder, want jy weet hoe gevaarlik dit kan wees en hoeveel keer mens fouteer en val. As mede gelowiges nie jou verantwoordbaar hou nie, begin mens baie vinnig al die mooi wonderlike dinge van die moeilike pad van God te vertel en die ander wegsteek. 
Jy sien, dat in 'n verhouding met God mens leer om Brutaal 100% eerlik te kan wees. Sodra jy dit doen verander dit jou. Jy kan regtig vir Hom alles vertel, Hy gaan dit nie teen jou gebruik nie!! Hy is goed!!  Ek kan Hom vertrou. 
Om met ander mense saam te leef en mekaar op die pad te help, vra dat mens 'n verstaan hê van wie jy is. Ek is niks, God is alles. Ek is 'n sukkelende sondaar mens wat baie foute maak, is die gesindheid wat in mens ontwikkel. Ek is nie in staat tot enige goeie werk nie. Om die waarheid te sê, ek is gedurig besig om dood te gaan in my eie werke en gedagtes. 
Joh 12:24  Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in.
As mens jou kruis opneem, beteken dit dat jy self daaraan gaan hang. Dit is die doel van 'n kruis! 
As daar swak verhoudinge tussen mense is, hou ek daarvan om die groepie te vra om na die een langs jou te draai en vir hom te sê dat jy 'n sondaar is en baie foute maak. In hierdie gesindheid kan verhoudings genees word. Hoeveel keer staan mens nie voor die Here met dieselfde gesindheid nie?! Die Here se bedoeling met ons is nie om gemaklik, ryk en in aansien te wees nie, ons doel is om Sy pad na die wêreld te loop saam en deur Hom. Die pad is nou en ongemaklik, dit is nie dat Hy jou nou gaan beskerm teen finansiële krisisse en probleme nie. Krisisse en probleme is deel van die pad na die wêreld toe. 
Dink maar aan 'n proses waarin mens om vergifnis vra vir 'n fout. 'n Leierskap kursus het dit eenkeer so goed verduidelik in 6 stappe. Kyk hoeveel jy jouself doodmaak in die proses. 
  1. Jy vertel presies aan die persoon wat geraak word, wat gebeur het. - Dit is vernederend
  2. Jy erken: "Ek is skuldig!" (Staan nie op 'n klomp ander redes wat aanleiding gegee het vir die fout nie, dit is steeds jy wat dit nie reg hanteer het nie.) - Hierdie is vernederend
  3. Jy sê: "Ek is jammer vir wat ek jou veroorsaak het." - Net so vernederend.
  4. Jy vra of die persoon op 'n plek is waar hy bereid is om jou te vergewe. Jy kan nie hom vra om jou te vergewe nie, want jy erken dat hy dalk nog met die emosies daarvan lewe. Kan nie altyd nie. - Hier onderwerp jy jouself verder by die persoon.
  5. Jy vra of hy jou sal help om dit nie weer te doen nie. - Erken dus jou swakheid ook vir die toekoms en onderwerp jou verder.
  6. Dan vra jy of daar dalk nog iets is wat jy dalk teen die persoon gedoen het. - Hier stel jy jouself regtig baie bloot. Dink maar as dit jou vrou is, moet jy 'n pen en papier hê!!
Dit is dus 'n gesindheid van blootstelling, verwydering van verdedigings meganismes om jouself te beskerm. Die engelse woord beskryf dit vir my goed. Om "vulnarable" te wees, in 'n wêreld waar mens sterk en in beheer wil wees. 
Hoe kry mens dit reg?? Nee jy kry dit nie reg nie, dit gebeur in jou deur Sy gees. Jy weet dat niks in die wêreld jou kan skei van die liefde van Christus nie. Deur die dood kom die lewe, die koringkorrel moet eers dood gaan en dan produseer dit honderd voudig meer vrugte. 
Ons is in die gevaar dat ons die doodgaan wil vermy en dan maak ons besluit die deur toe vir 'n pad met God. 'n Pad van 'n intieme verhouding en saam met God wandel en betekenisvol die wêreld te genees. Dit is tog wat die harde misdadiger moet doen om te kan omdraai. Ons doen dit baie makliker omdat ons reeds veilig by God en saam met God is. Dit bring lewe!!! Dit is wat die wêreld nodig het. Jy kan, want God doen dit en jy is in veilige hande, jy vertrou jou Pa. 
Dit gebeur in 'n intieme gesprek met jou Vader waar jy die gesindheid openbaar dat jy nie kan nie en dat jy jouself bloot stel om saam met Hom dood te gaan sodat jy saam met Hom kan lewe. Hoe intiem kan so 'n verhouding nie wees nie!!!!! Ons noem so 'n gesprek 'n gebed.
Daarom moet ek hier noem dat om kind van God te wees net nie moontlik is sonder gebed nie. Verhoudings is in beginsel ongemaklik, want dit verander jou. Daar is ook diep vreugde en vrede in dit. Dit maak vry, want as jy uit die pad is, dan word die wêreld deur jou verander en het die wêreld nie meer 'n vatplek aan jou om jou te verander nie. 
In gesprek met God, in gebed, word die verhouding bevestig en word die wêreld se stukkendheid bespreek met 'n potensiaal om dit te beïnvloed deur jou lewe. 

Individualisme

Ons het ook die gevaar in 'n Westerse samelewing dat 'n verhouding rondom my as mens draai. Ons raak so verskriklik belangrik vir ons self en wat ek is en het. Die natuurlike gevolg is dat dit moeilik is om die ander se doel en lewe net soveel in ag te neem as my eie. 
Fillipense 2:1-11  Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing –  (2)  maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.  (3)  Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.  (4)  Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.  (5)  Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:  (6)  Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,  (7)  maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het,  (8)  het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.  (9)  Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,  (10)  sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,  (11)  en elke tong sou erken: "Jesus Christus is Here!" tot eer van God die Vader.
Hier word gepraat met die gelowiges. Tussen die gelowiges was ook armes weduwees ander rasse en ander wat swaar gekry het. 
In ons gesprek met God maak die Gees dat dit waaroor ek vir my eie menswees en my gesin op die tafel sit, nie meer is as die behoeftes van ander nie. Die verhouding wat ek met God het bring my in 'n opofferende verhouding met my gemeenskap. Ek begin die grense van myself uitskuif na my gesin en dan na my familie en dan na my denominasie en dan na my gemeenskap en sommige word gekies om selfs wyer grense te trek. Met wyer kan dit natuurlik nie net almal insluit nie, want ek ken nie almal nie, tog kan dit gemeenskappe insluit waarbinne ek persoonlike verhoudings bou. Ek is bv gekies om persoonlike verhoudinge te bou in die noordelike vier provinsies van Mosambiek en veral met die gereformeerde denominasie. As die gemeenskap van jou dorp jou fokus is, dan word mens betrokke, deur 'n dryf in jou hart. Daar is soveel dinge in die gemeenskap wat jou hart raak en jou 'n pyn gee van dinge wat nie is wat dit moet wees nie. God se pyn. Jy raak passievol, want "DIT KAN MOS NIE SO WEES NIE!!!" Jou deel met God daaroor, bring jou ook in 'n verhouding met die wat dit beleef en so raak God deur jou betrokke met dit wat op Sy hart is. Jy deel die pyn en proses met Hom, want jy loop saam met Hom op Sy pad en nie op jou pad nie. 
Ons individualistiese kultuur kan baie maklik die passie van God verflou en afwater tot iets wat iemand moet doen en wat jy nie regtig beleef nie.  Dit is natuurlik nie hoe God se hart is nie. Hy is passievol teenoor die wêreld en Hy IS liefde. Die sap van die wingerdstok transformeer my om ook so te wees. Die fokus gebied en roeping van elke persoon sorteer hy of sy self uit in gesprek met God, maar ons SAL getuies wees as die Gees oor ons kom. Dit bly 'n passie. Selfs al stuur sy passie jou in jou lewe net na een of twee mense. Dit is in Sy hande wie Hy jou oor passievol maak. Jy kyk oral waar jy gaan met Sy oë en hoor met Sy ore en loop met Sy voete werk met Sy hande en voel met Sy hart! Jou verhouding met Hom bepaal hoe dit gaan lyk, want Hy weet hoekom Hy jou vir die tyd omstandighede waar jy is geskep het en gebore laat word het. Hy gee jou die gawes en alles wat jy nodig het om dit te leef wat Hy jou voor bedoel het. 
Die ander aspek van gebed en gemeenskap is dat mens soms saam met ander bid. Daar gebeur ongelooflik baie as jy beleef hoe die Here met ander mense werk. Jy hoef nie soos ander te wees en doen wat hulle doen nie, maar hulle passie is 'n aanmoediging. Soms is hulle moedeloosheid deel van waar Hy jou wil gebruik. Daar is net soveel sinvolle dinge wat gebeur as ons saam bid en mekaar se gebede hoor. God gebruik ander en praat met ons dikwels deur mekaar, ook in die intieme verhoudings aksie van 'n gebed! Sover ek kan sien, bring die Gees mense bymekaar. Ons is versoeners en gewonde genesers vir mekaar en die wêreld. Vir God gaan dit om verhoudings en waar Hy werk kom mense bymekaar in intieme verhoudings. Die huwelik is die hoogtepunt daarvan, maar dit is ook in vriendekringe en in ander forums. 'n Gebedsgroep raak aan die hart van verhoudings. Dit werk en maak groot verskil in die wêreld, maar ook tussen die arbeiders. 

Potensiaal

Waar God werk, is daar natuurlik altyd opofferings en seer, maar daar is 'n geweldige diep genesingskrag aan die werk. Daar word bevry en mense staan verbeisterd voor Sy almag. Dit dikwels in klein dingetjies met groot betekenis. 
Om te bid is waar die lote in die wingerdstok gewortel word. Die resultaat is nie mensekrag en pogings nie, maar God aan die werk. Sy passie word aan die beweeg gebring. Daar is net te veel stories om te vertel. Daar is soveel kere wat ons die stories hoor en self beleef van wonderwerke waar die wat Hom nie ken nie baie duidelik sien dat dit nie mensewerk is nie. Dink maar as iemand homself verneder en opofferings maak, die wêreld ken dit nie. Hulle is soos die visse wat gaap buite die water vir die suurstof van God. 
Dit is net onmoonlik om 'n gemeente of groep te wees wat in die naam Hom werk, om nie op ons knieë te begin nie. Dit werk net nie as ons dit op ons eie probeer doen nie. Baie is verskriklik moedeloos oor resultate, maar probeer net weer en weer in eie krag. Kom ons doen dit volgens die bedoeling van ons Vader. Ons laat Hom die werk deur ons doen, en staan saam met die wêreld in verwondering oor wat Hy doen, selfs deur my. 'n Groot golf van herlewing in 'n korrupte samelewing politiek en alle ander tereine, is nie net 'n droom nie, dit kan 'n realiteit wees! Dit is nie ons wat dit doen nie, maar Hy.

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...