Volgers

11/08/2014

Wanvoeding van kinders in Mosambiek

Dit is erg om te sien dat 43 present van kinders in Mosambiek onder wanvoeding ly. Sien die artikel van AllAfrica.
allAfrica.com: Mozambique: 43 Percent of Children Chronically Malnourished
Ek het nie baie kennis hieroor nie, maar glo dat wanvoeding 'n groot invloed op 'n persoon se ontwikkeling het, veral as dit in die groeitydperk van 'n persoon plaasvind. My logika se vir my dat ingryping hier 'n groot verskil kan maak.
Zambezia provinsie is die provinsie waar ons kontakte met die kerk het.
Wat reeds op die grond gebeur op die gebied is die mediese projek en dan die Anamed projek wat die gebruik van medisinale plante aanmoedig en mense oplei hoe om dit te gebruik. Myns insiens 'n projek met geweldige potensiaal indien dit gekombineer word met mense se medisinale wêreldbleed.
Anamed gebruik die Moringa boom as 'n voedingsbron vir vir wanvoeding. Die boom groei baie goed in Zambezia provinsie en kom selfs wild voor. Dit het al die amino sure en is ryk aan Kalsium, potasium, vitamin c en nog ander. Daar is reeds soveel getuienisse van amper bonatuurlike verbetering in kinders se gesondheid wanneer dit gebruik word vir wanvoede kinders en dit kan so maklik aangeplant word of net geoes word waar dit reeds bestaan.
Is daar nie dalk mense vir wie die Here dalk aanraak oor die uitdaging nie. Ek sal ook help waar ek kan met so 'n inisiatief.

08/08/2014

Die Here gebruik Annlin geref Kerk in Mosambiek

Annlin gemeente ry op uit Pretoria en besoek eerste die gebedshuis Niquide, waar hulle beplan om 'n kerkie te bou.
Die gemeente het reeds 'n verhouding met die gebedshuis gebou en besoek hulle om verhoudings te versterk en hulle aan te moedig. Hulle begin die kerkie bou en kom agter dat die mense baie min bou agtergrond het en dus gaan dit nie oor die bou van die kerkie nie, maar die ontwikkeling van mense en hulle leiers. Die Here gee ons geduld om nie net 'n taak te gaan klaarmaak nie, maar om die proses te gebruik in die ontwikkeling van mense. Klein oorwinningtjies raak baie belangrik en ons sien Hom werk.
Die dominee se seun kom saam en sy teenwoordigheid help baie om kinders te bereik.
Annlin bou verhoudinge met evangeliste en jeugwerkers in Mocuba en hier staan Elisa baie trots met haar opleidings sertifikaat in kinderwerk.
Die span word deel van mense se lewens, moet maar hulle opofferings ook maak!
Ek kom by en my bagasie word bo-op gepak!
Kos word gedeel en ons leer met hande allerhande lokale kosse te eet.
Ons beweeg saam met Gile se dominee rond en besoek plekke wat vir hom soms drie dae te voet vat om te besoek.
Die opleiding waarmee die span help is basiese evangelie en dan spesifieke versoeke soos familieverhoudings ens.

Die groot waarde gebeur met besoeke aan afgeleë gebiede en hoe dit die mense aanmoedig en so ook die dominee bemoedig. Hy werk onder geweldig groot druk, want dit is nie maklik om die Bybelse koninkryk te vestig in 'n tradisionele gemeenskap nie. Hy getuig ook daarvan dat die span hom in so 'n mate gemotiveer het dat hy weer nuwe planne begin maak het.
Die span kom by huise uit, bid vir siekes en leer baie van die lewe in Mosambiek. Daar word ook siekes gehelp om by hospitaal uit te kom.
Maganga die teologiese student beweeg saam met ons as tolk, maar ook as leermeester vir die kultuur. Hy is baie oop en leef Jesus se liefde.
Die dominee en sy familie speel 'n groot rol in die Here se werk en ons kuier lank by hom en hoor al sy ongelooflike uitdagings en ons bid en pleit saam met hom vir die mense van Gile. Bid saam vir hom sy vrou en 5 kinders. Estévao Philima

Ons sal nog lank waardering hê daarvoor om 'n kraan oop te kan maak en daar kom water uit wat jy kan drink!
Aan God die eer vir 'n betekenisvolle saamwees in Mosambiek

God se storie deur Lenie

Ek wens ek kon Lenie se storie meer volledig onthou! Aangesien ons saam werk sal ek wel meer hoor.

Op Mooiberg besoek ek die besonderse plaasbediening waar die Here die Familie kerk gebruik.


Twee weke voor die diens gesels ek met Lenie. Sy is 'n vrou wat jy kan sien 'n leier gaan word in die toekoms. Ek daag haar toe uit om dit wat sy geleer het met ander te deel. Haar reaksie was dat die Here al lankal besig is om met haar te praat daaroor.
Die Sondag staan Lenie (meisie soos die ander haar noem) op en begin haar storie te vertel.
Sy vertel van haar ouers wat gedrink het en hoe sy onder haar pa swaar gekry het. Haar ma het haar soms probeer beskerm, maar sy het ook gedrink. Sy moes van jongs af werk en het nooit skool toe gegaan nie. Sy trou toe ook met 'n man wat drink en haar lewe baie moeilik maak. Sy hanteer die situasie, maar as hy haar dogter seermaak, dan het dit haar gebreek. Sy kon haar nie bekerm nie. Haar dogter sit saam met ons in die diens. Lenie het tot bekering gekom en wou vreeslik graag weet wat in die Bybel staan, maar sy kon nie lees nie. Daardie boek was vir haar ontoeganklik. Haar begeerte om te leer was so groot dat sy in die oggende van die plaas af gesluip het en tussen die graad eentjies gaan sit het in die skool om te leer lees. Sy is nou 54 jaar oud en sy is vol vreugde. Haar man is besig om te verander en sy kan nou lees. Sy lees toe Psalm 23 vir almal voor en die trane in die vertrek kon nie terug gehou word nie. Sy getuig dat die Here haar gered het en sy gee alle eer aan Hom.

Aan die een kant van die vertrek sit Bok met 'n tamboeryn in die hand. Hy speel met groot vreugde saam as daar gesing word. Hy is nie heeltemal nugter nie, maar hy mis nie 'n Sondag om daar te wees nie. Niemand veroordeel hom nie, hy word aanvaar.
Voor die diens arriveer ek vroeg en stap na die huisies onder die kerk waar 'n gerookte afdak met vuurtjie die bymekaarkom plek is. Daar word gedrink en gekuier en gesels. Ek kuier daar vir 'n halfuur in die rook en Bok vertel my onder andere dat die ouens wat die kanne wyn verkoop dit teen R50 'n kan verkoop, maar as jy kontant betaal moet jy R60 betaal. Hy verkies dat jy skuld maak.

Iewers spreek hierdie kerk storie vir Bok aan!

As iemand die bedieninge wil beleef, kontak my en ry dan een Sondag saam soontoe. Dit is 5km buite Brackenfell.

Wêreld van Mosambiekse dominee

(Ter wille van vertroulikheid, is die persone in die foto's nie dieselfde as die persone waaroor ek skryf nie. Ek kombineer ook soms ervaringe.)

Verhoudings is geweldig belangrik om in Mosambiek te kan oorleef. Om sleg gesê te word of beledig te word, is om dood gemaak te word. Jou lewe hang af van jou verhoudings. Aan die ander kant bring God se koninkryk jou in konflik met jou gemeenskap.
"Ek is gestuur na die gemeenskap en ek weet God het my hierheen geroep" sê 'n dominee vir wie ek bewonder. "Die mense hier behoort al lank aan die kerk, maar weens afstand, was hier nog nooit 'n permanente dominee nie. Die dominees wat hier gekom het, was op kort besoeke en het nie werklike verhoudinge gebou met die gemeenskap nie. Nou begin ek verhoudinge bou en ontdek dat daar baie gebruike is wat uit 'n tradisionele geloofs tradisies voorkom. Mense hou bv groot seremonies drie dae na 'n begrafnis waar offers vir voorvaders gegee word. Ek kan nie net inspring en vir hulle vertel hulle is verkeerd nie, want die gebruike gaan saam met diep oortuiginge en emosies. Volgens die tradisies, mag die gebruike nie verander word nie. Indien jy dit verander dan versteur jy die verhoudinge met die geesteswêreld en veroorsaak dit konflik en dood. Mense is dus vreeslik bang om aan die gebruike te verander. Die een wat wel teen die gebruike optree, is dan ook die oorsaak van dood, pyn en alles wat negatief is. Hy staan dan teen die gemeenskap en is sleg. Om in die gemeenskap te kan werk, moet ek mense se vertroue wen en deel word van die gemeenskap. Aan die ander kant is mense mislei en moet gehelp en bevry word deur Christus. Om te vinnig die gebruike te probeer verander, gaan ek die mense en die verhoudinge verloor, wat sal maak dat ek nie hier sal kan werk nie. Die strategie wat die Here vir my gee is om verhoudinge as breekbaar te hanteer en die Bybelse lering te gee. Oor tyd glo ek die Heilige Gees sal verstande verlig om te sien wat is waar en dan kan mense begin om van hulle kant af besluite te neem."

 
Hy vertel verder: "Voor ek hier aangekom het, was 'n ouderling in beheer van die gemeenskap. Hy is familie van hulle en het 'n vertrouensverhouding van sy geboorte af en vanuit 'n geestelike tradisie met mense. Hy het wonderlike inisiatiewe geneem, maar het ook sekere tradisionele gebruike bly aanhang. Hy en sy familie het sterk leiers geword. As ek nou as leier by hom gaan oorvat, gaan hy seerkry en kan hy negatief optree. Dit is baie maklik vir hom om my uit te werk, want hy het die gemeenskap aan sy kant. Ek moet dus met baie wysheid optree sodat hy met tyd sy posisie in die gemeente kan vind nadat ek op die toneel verskyn het. Ek is die een wat sakramente kan bedien en hy kan nie. My koms gaan sy posisie ernstig raak veral as mense begin ontdek dat die tradisionele gebruike wat hy aanhang vervang moet word met 'n lewe uit die geloof in die ware God. Die Here help my met stategie"
'n Dominee vertel ook: "Die verhoudinge met ouderlinge is belangrik. Die werk van die Here geskied deur my verhouding met hulle. Die verhouding maak of breek die werk. Ek moet 'n area met amper tien kerkies bedien en die afstand wat ek met voet moet aflê is soms naby 'n 100km. Om dit te doen moet mens twee nagte langs die pad oorslaap. Soms by mense wat ek ken, maar andersins iewers langs die pad. Soms is daar vervoer moontlikhede, maar dikwels is dit maar te voet. Daar is twee uitdagings in die gemeente. Mense het uit die geskiedenis nog nooit geleer om met die buur kerkies van dieselfde gemeente saam te werk nie. Mense besoek net eenvoudig nie ander kerkies nie. Ek kan dus nie mense saam roep na een plek en verwag om 'n gesamentlike byeenkoms te hou nie. Verder kom mense nie vir opleiding nie. Verlede maand het ek 86km ver geloop vir opleiding, dit het my drie dae se stap geneem. Ek sukkel self met ongesteldhede en sukkel om die krag te hê vir die afstande, maar die Here kry my daar. Daar aangekom, is daar niemand nie. Ek wag maar drie dae, maak 'n ander afspraak en stap dan terug. Die ouderlinge belowe om my taxi geld te betaal as ek geld leen. Ek leen dus geld en ry met die taxi weer soontoe. Daar aangekom is daar weer niemand. Ek moes toe maar weer terug stap. Ek was baie moedeloos, maar besoekers uit RSA het my in so mate aangemoedig dat ek weer moed geskep het en weer strategieë kon beplan oor wat my volgende optredes sal wees. Ek gaan nou weer by al die kerkies om stap en die sake met hulle deurpraat."
In nog 'n gesprek vertel die dominee: "Ons as dominees moet gemeenskappe help om vir mekaar om te gee en mekaar te help. Baie word siek en verhoudings kry seer en dit is geleenthede vir ons om vir mense by Jesus as die eienaar van verhoudings te gaan aanklop en te help. Waar ek kan, ry ek mense met my motorfietsie aan hospitaal toe, bid vir mense en huil saam met mense wat met die dood en siektes gekonfronteer word. Hier gaan dit veral daaroor dat sommige uitgewerp word uit die samelewing. Ek moet dikwels die een wat uigewerp word gaan help, maar daar loop jy die risiko om saam uitgegooi te word. Dit is nie lekker nie. Ons is dikwels nog steeds kleingelowig en bang vir uitwerping. Ons word ook siek en het die gemeenskap nodig om ons te help anders gaan ons dood. Ons is afhanklik van ons gemeenskap en ons is dikwels buite bereik van ons eie familie af. Die lidmate moet ons help met kos, klere en huis, maar omdat ons verhoudinge het met mense in RSA dink mense ons is skat ryk en het geen behoeftes en materiële hulp nodig nie. Vriende help mos mekaar en ons het mos ryk vriende. Dit is baie moeilik om mense se respek te behou, maar ook vir hulle te laat verstaan dat ons soms geen hulp kry nie. Dit gaan nog lank vat. Soms sit ons met die mielies uit ons eie landery, maar het ons nie geld om dit te maal nie."
Die vrouens van dominees kry baie swaar. Die lewe is moeilik met water wat aangedra moet word, klere en skottelgoed wat met hand gewas word, baie swak mediese hulp, nie gebalanseerd kan eet nie, ver te wees van familie, in 'n ander kultuur en taal te leef, ens. Sielkundiges het bewys dat om in 'n ander taal en kultuur te funksioneer drie keer groter spanning veroorsaak as 'n maksimum hanteerbare spanning. Ek weet van 'n vrou van 'n dominee wat hulle nou al drie keer in die kasava landery gekry is met 'n mes omdat sy selfmoord wil pleeg.

Ten spyte van soveel uitdagings word ek elke keer aangemoedig deur deursettingsvermoeë wat die Here vir mense bonatuurlik gee.

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...