Volgers

20/11/2018

IRM se uitdaging in Mosambiek oor Struktuur

Introspeksie van Tumbine sinode

Agtergrond

Ek het nie geweet die Here wil vandag doen wat Hy gedoen het nie. Ek was verras deur eintlik ‘n baie diep grondige gesprek wat hier plaasgevind het.
Die eerste voorbereiding was vir myself. Ek het verskeie gemeentes besoek deur die afgelope 2 weke en het gehoor van baie uitdagings vir die werk asook gedagte patrone van afhanklikheid van buite ook vir geloof. ‘n Ander punt wat baie na vore gekom het is verhoudings met mekaar. Daar is nie ‘n gedissiplineerde manier om te vergewe en hoe om skuld te erken nie. Duidelik het ook na vore gekom dat die struktuur van die kerk grotendeels sy funksie verloor het, want dit dien nie meer die gemeenskap nie. Dikwels agv die gesindheid waarmee dit toegepas word en status aan ampte gegee word. In plaas daarvan dat die verhoudings die struktuur moet vorm, begin die vorm verhoudings verrinneweer.
Die ander voorbereiding van die gesprek was dat die sinode besef het dat hulle nie die mas opkom nie. Hulle moes ‘n Sinodale vergadering kanselleer wat daar was nie fondse om die wat van ver af kom te help met vervoer nie. Die leierskap was dus in die nood, hulle het ook getwyfel of hulle ondersteuners nog verbind is aan die werk hier, want die fondse het baie laat gekom weens misverstande. In kort hulle is in nood.
Gisteraand toe vra die dagbestuur dat ek moet deel hoe ek dink ons moet maak. Ons stem toe saam dat die struktuur van die Sinode te duur geword het vir die lidmate om dit te dra. Ek verduidelik toe hoe die gelowiges gefunksioneer het voordat daar denominasies was. Niemand is betaal nie, maar mense was gedryf deur die Heilige Gees met ‘n liefde vir mense. So het hulle mekaar begin help. Mense was nie deur ‘n struktuur bestuur nie, maar was direk in kommunikasie met ons Pa en Hy het die gewone gelowiges gelei. Eers later het denominasies ontstaan. Die doel was om mense verder te help om met God kontak te maak en deur Hom te lewe, maar agv reglemente het die struktuur al groter rol begin speel en ‘n bestuur stelsel geword van God se werk. Ek verduidelik ook hoe ek lidmate vra wie met God praat, en baie se antwoord is niemand nie. As ek vra wie bid (chichewa se woord vir gebed is “Versoek”. Gebed is dus dikwels gekoppel aan versoeke, wat om sy beurt weer ‘n afhanklikheid kultuur bevorder.) en die antwoord was almal. Hulle het nie gebed as gesprek met God gesien nie. As ons lidmate daar is, kan hulle nie voor loop in ‘n geestelike lewe nie, want niemand kan op sy eie so ‘n lewe lewe nie.
Ons sal moet die struktuur afwentel sodat lidmate in verhouding met die Here staan en dat hulle ons help hoor wat God wil hê ons moet doen. Ons kan nie meer groot vergaderings bekostig nie. Ons kan ook nie meer die hele denominasie beheer vanuit die sinode nie. Ons sal moet oorgee en God vertrou om lidmate te lei. Dit sluit in dat mens ‘n klein groepie van geestelike leiers sal hou wat nie almal altyd sal bymekaar roep nie, maar hulle gaan besoek en almal aanmoedig om met God te praat en deur Hom gelei te word.
Na die gesprek vra die leiers toe vir my om die volgende oggend die sinodale vergadering te open en dan spesifiek hierdie boodskap oor te dra. Die Here het dus mense gelei om in te koop op van die gedagtes.

Opening van vergadering

Ek lees toe die groot opdrag in Mateus 28 en wys op die belang van leer om te onderhou, met ander woorde gehoorsaam. Die fokus is op gehoorsaamheid, lering is nie die hoof gedagte nie, maar die gehoorsaamheid is die doel. Dit gaan oor ‘n nuwe lewensoriëntasie. Ek wys toe op ons lidmate wat eintlik besig moet wees om die gemeenskap rondom hulle te leer om te onderhou en wys op talle voorbeelde waar die gemeentes besig is om dood te gaan en nie te groei nie. Vertel van spesifieke plekke waar verhoudings die werk heeltemal stop, want mense het nog nie geleer om verhoudings te hanteer nie. Ouderlinge wat baie kwaad is vir dominees wat net oordeel preek om hulle te manipuleer om geld te gee is een voorbeeld. Daar is ook baie suspisies en verdelinge onder ouderlinge weens dikwels kleinighede wat groot geword het.
Ek het ook die vraag op die tafel gesit: “Wat moet ons onderhou?” Om op te som: Die hart van God vir die wêreld wat deur ons gebeur deur die krag en oortuiging van ons Vader. 
Ek verduidelik hoe die kerkstruktuur ontstaan het en dat die grootste groei in gemeenskappe sonder kerkstrukture plaasgevind het die Bybel. Ons het soveel gesag aan kerkstrukture gegee dat baie van ons lidmate die strukture volg ipv self gelei te word deur ons Vader self.  Ons verwerp nie strukture nie, maar ons moet die gevare daarvan verstaan. Verder kan ons dit aanpas as dit nie vir ons werk nie. Gebruik strukture, maar volg die Here. As die Europese strukture vir ons te duur is om te onderhou, moet ons ander strukture kry, of dit aanpas.
Ek praat op ‘n stadium van die prys wat dit van ons sal vra en verduidelik van die waardes wat nodig is. Ons is nie in staat daartoe nie, maar deur die Gees sal ons ons foute moet erken en teenoor mekaar in ‘n gesindheid lewe dat ons almal foute maak. Ons sal skuld moet erken, eerlik wees oor wat gebeur jammer moet bly sê oor die seer wat ons vir mekaar veroorsaak. Ek noem toe, dat indien ons skuld daaraan het dat ons lidmate na 40 jaar nog nie ‘n verhouding met die Here verstaan nie, dan moet ons dit erken. Hierdie is God se pad wat ons nie in staat is om te loop nie, maar waartoe Hy self ons in staat stel deur, deur die Gees te lewe. Dan doen ons die goed wat bo ons vermoë is.
‘n Dominee staan toe op en maak kapsie dat ek sê dat hulle skuldig is. Ek antwoord toe, dat ek persoonlik skuldig is, want ek het die struktuur help vestig en dat ek ook mag skuld erken vir die kerk in RSA wat baie foute gemaak het deur die struktuur net so oor te plant. Dit is regtig ‘n pyn in die hart as ek soms sien wat ek help vestig het. Ek is jammer. Baie het geweet ons maak foute, maar het nie genoeg gedoen om dit te verander nie. Ook in RSA is die NGK besig om hulle kerkorde oor te skryf sodat dit meer fokus op God se hart vir die wêreld. Dit is soos dit op die stadium bestaan nie in lyn met God se hart vir die wêreld nie, en in teendeel maak dit moeilik om God se hart uit te leef.
Of hulle as IRM leiers skuldig is, kan ek nie vir hulle ja of nee sê nie. Ek moedig hulle maar net aan om uit ‘n Christus gesindheid te lewe. Indien hulle skuld het, dan is dit goed om dit te erken, maar indien nie, dan is dit beter. Praat met ons pa hieroor en Hy sal die IRM lei.

Afloop

Met die opstel van die agenda na die opening staan meer as een persoon op en bevestig dat ons moet praat oor hierdie saak van kerkstrukture en geestelike lewe. Hulle plaas dit toe op die agenda teen die einde, maar vir ‘n paar sake word die beginsels weer ingeroep.

Dit is nogal jammer dat, toe ons by die agendapunt kom, die groot klem vir die Sinode steeds daarop gerig was om die ou struktuur te maak werk. Baie gedagtes is gelig oor hoe om meer finansies in te win en hoe om meer bydraes te maak. Ek het lank net geluister, maar tog op ‘n stadium opgestaan en verduidelik dat indien die Gees van God nie die lidmate lei nie, ons later die struktuur dalk weer aan die gang kan kry, maar dit gaan nie baie werd wees nie. Ons moet die hele proses doen van effektiewer finansies inwin, maar saam met dit moet daar ‘n groei wees in ons lidmate se verhouding met die Here. Dit het ‘n goeie gesprek afgegee en ek glo saadjies is geplant. Daar is veral so 4 dominees en ‘n ouderling of twee wat die saak verder gedruk het sodat ek net kon luister!
Op die ou end het die gesprek weer terug gekom na die finansies en groei in inkomste. Dit is regtig ‘n baie diep verandering van die verstaan van kerk wees wat op die spel is. Dat ons nie ‘n denominasie volg nie, maar vir God, en daarom sal dit tyd vat. Ek is egter opgewonde oor ‘n proses wat begin is en sal graag die ondersteuners van die IRM bewus wil maak hiervan.
Groete

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...