Introspeksie van Tumbine
sinode
Agtergrond
Ek het nie geweet die
Here wil vandag doen wat Hy gedoen het nie. Ek was verras deur eintlik ‘n baie
diep grondige gesprek wat hier plaasgevind het.
Die eerste voorbereiding
was vir myself. Ek het verskeie gemeentes besoek deur die afgelope 2 weke en
het gehoor van baie uitdagings vir die werk asook gedagte patrone van afhanklikheid
van buite ook vir geloof. ‘n Ander punt wat baie na vore gekom het is
verhoudings met mekaar. Daar is nie ‘n gedissiplineerde manier om te vergewe en
hoe om skuld te erken nie. Duidelik het ook na vore gekom dat die struktuur van
die kerk grotendeels sy funksie verloor het, want dit dien nie meer die
gemeenskap nie. Dikwels agv die gesindheid waarmee dit toegepas word en status
aan ampte gegee word. In plaas daarvan dat die verhoudings die struktuur moet
vorm, begin die vorm verhoudings verrinneweer.
Die ander voorbereiding
van die gesprek was dat die sinode besef het dat hulle nie die mas opkom nie.
Hulle moes ‘n Sinodale vergadering kanselleer wat daar was nie fondse om die
wat van ver af kom te help met vervoer nie. Die leierskap was dus in die nood,
hulle het ook getwyfel of hulle ondersteuners nog verbind is aan die werk hier,
want die fondse het baie laat gekom weens misverstande. In kort hulle is in
nood.
Gisteraand toe vra die
dagbestuur dat ek moet deel hoe ek dink ons moet maak. Ons stem toe saam dat
die struktuur van die Sinode te duur geword het vir die lidmate om dit te dra.
Ek verduidelik toe hoe die gelowiges gefunksioneer het voordat daar
denominasies was. Niemand is betaal nie, maar mense was gedryf deur die Heilige
Gees met ‘n liefde vir mense. So het hulle mekaar begin help. Mense was nie
deur ‘n struktuur bestuur nie, maar was direk in kommunikasie met ons Pa en Hy
het die gewone gelowiges gelei. Eers later het denominasies ontstaan. Die doel
was om mense verder te help om met God kontak te maak en deur Hom te lewe, maar
agv reglemente het die struktuur al groter rol begin speel en ‘n bestuur
stelsel geword van God se werk. Ek verduidelik ook hoe ek lidmate vra wie met
God praat, en baie se antwoord is niemand nie. As ek vra wie bid (chichewa se
woord vir gebed is “Versoek”. Gebed is dus dikwels gekoppel aan versoeke, wat
om sy beurt weer ‘n afhanklikheid kultuur bevorder.) en die antwoord was almal.
Hulle het nie gebed as gesprek met God gesien nie. As ons lidmate daar is, kan hulle
nie voor loop in ‘n geestelike lewe nie, want niemand kan op sy eie so ‘n lewe
lewe nie.
Ons sal moet die
struktuur afwentel sodat lidmate in verhouding met die Here staan en dat hulle
ons help hoor wat God wil hê ons moet doen. Ons kan nie meer groot vergaderings
bekostig nie. Ons kan ook nie meer die hele denominasie beheer vanuit die
sinode nie. Ons sal moet oorgee en God vertrou om lidmate te lei. Dit sluit in
dat mens ‘n klein groepie van geestelike leiers sal hou wat nie almal altyd sal
bymekaar roep nie, maar hulle gaan besoek en almal aanmoedig om met God te
praat en deur Hom gelei te word.
Na die gesprek vra die
leiers toe vir my om die volgende oggend die sinodale vergadering te open en
dan spesifiek hierdie boodskap oor te dra. Die Here het dus mense gelei om in
te koop op van die gedagtes.
Opening van vergadering
Ek lees toe die groot
opdrag in Mateus 28 en wys op die belang van leer om te onderhou, met ander
woorde gehoorsaam. Die fokus is op gehoorsaamheid, lering is nie die hoof
gedagte nie, maar die gehoorsaamheid is die doel. Dit gaan oor ‘n nuwe
lewensoriëntasie. Ek wys toe op ons lidmate wat eintlik besig moet wees om die
gemeenskap rondom hulle te leer om te onderhou en wys op talle voorbeelde waar
die gemeentes besig is om dood te gaan en nie te groei nie. Vertel van
spesifieke plekke waar verhoudings die werk heeltemal stop, want mense het nog
nie geleer om verhoudings te hanteer nie. Ouderlinge wat baie kwaad is vir
dominees wat net oordeel preek om hulle te manipuleer om geld te gee is een
voorbeeld. Daar is ook baie suspisies en verdelinge onder ouderlinge weens
dikwels kleinighede wat groot geword het.
Ek het ook die vraag op
die tafel gesit: “Wat moet ons onderhou?” Om op te som: Die hart van God vir
die wêreld wat deur ons gebeur deur die krag en oortuiging van ons Vader.
Ek verduidelik hoe die
kerkstruktuur ontstaan het en dat die grootste groei in gemeenskappe sonder
kerkstrukture plaasgevind het die Bybel. Ons het soveel gesag aan kerkstrukture
gegee dat baie van ons lidmate die strukture volg ipv self gelei te word deur
ons Vader self. Ons verwerp nie
strukture nie, maar ons moet die gevare daarvan verstaan. Verder kan ons dit
aanpas as dit nie vir ons werk nie. Gebruik strukture, maar volg die Here. As
die Europese strukture vir ons te duur is om te onderhou, moet ons ander
strukture kry, of dit aanpas.
Ek praat op ‘n stadium van
die prys wat dit van ons sal vra en verduidelik van die waardes wat nodig is.
Ons is nie in staat daartoe nie, maar deur die Gees sal ons ons foute moet
erken en teenoor mekaar in ‘n gesindheid lewe dat ons almal foute maak. Ons sal
skuld moet erken, eerlik wees oor wat gebeur jammer moet bly sê oor die seer wat ons vir mekaar veroorsaak. Ek noem toe, dat indien ons
skuld daaraan het dat ons lidmate na 40 jaar nog nie ‘n verhouding met die Here
verstaan nie, dan moet ons dit erken. Hierdie is God se pad wat ons nie in
staat is om te loop nie, maar waartoe Hy self ons in staat stel deur, deur die
Gees te lewe. Dan doen ons die goed wat bo ons vermoë is.
‘n Dominee staan toe op en maak kapsie dat ek sê
dat hulle skuldig is. Ek antwoord toe, dat ek persoonlik skuldig is, want ek
het die struktuur help vestig en dat ek ook mag skuld erken vir die kerk in RSA
wat baie foute gemaak het deur die struktuur net so oor te plant. Dit is regtig
‘n pyn in die hart as ek soms sien wat ek help vestig het. Ek is jammer. Baie
het geweet ons maak foute, maar het nie genoeg gedoen om dit te verander nie. Ook
in RSA is die NGK besig om hulle kerkorde oor te skryf sodat dit meer fokus op
God se hart vir die wêreld. Dit is soos dit op die stadium bestaan nie in lyn
met God se hart vir die wêreld nie, en in teendeel maak dit moeilik om God se
hart uit te leef.
Of hulle as IRM leiers skuldig is, kan ek nie vir
hulle ja of nee sê nie. Ek moedig hulle maar net aan om uit ‘n Christus
gesindheid te lewe. Indien hulle skuld het, dan is dit goed om dit te erken,
maar indien nie, dan is dit beter. Praat met ons pa hieroor en Hy sal die IRM
lei.
Afloop
Met die opstel van die
agenda na die opening staan meer as een persoon op en bevestig dat ons moet
praat oor hierdie saak van kerkstrukture en geestelike lewe. Hulle plaas dit
toe op die agenda teen die einde, maar vir ‘n paar sake word die beginsels weer
ingeroep.
Dit is nogal jammer dat,
toe ons by die agendapunt kom, die groot klem vir die Sinode steeds daarop
gerig was om die ou struktuur te maak werk. Baie gedagtes is gelig oor hoe om
meer finansies in te win en hoe om meer bydraes te maak. Ek het lank net
geluister, maar tog op ‘n stadium opgestaan en verduidelik dat indien die Gees
van God nie die lidmate lei nie, ons later die struktuur dalk weer aan die gang
kan kry, maar dit gaan nie baie werd wees nie. Ons moet die hele proses doen van
effektiewer finansies inwin, maar saam met dit moet daar ‘n groei wees in ons
lidmate se verhouding met die Here. Dit het ‘n goeie gesprek afgegee en ek glo saadjies
is geplant. Daar is veral so 4 dominees en ‘n ouderling of twee wat die saak
verder gedruk het sodat ek net kon luister!
Op die ou end het die
gesprek weer terug gekom na die finansies en groei in inkomste. Dit is regtig ‘n
baie diep verandering van die verstaan van kerk wees wat op die spel is. Dat
ons nie ‘n denominasie volg nie, maar vir God, en daarom sal dit tyd vat. Ek is
egter opgewonde oor ‘n proses wat begin is en sal graag die ondersteuners van
die IRM bewus wil maak hiervan.
Groete
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking