Volgers

09/11/2022

Opleiding in Mosambiek vertrekpunt


 

Opleiding in Mosambiek

Inleiding

Die inligting in hierdie dokument is nie wetenskaplik nagevors nie, dit is gebou op persoonlike ervarings sowel as menings ingewin deur na kerk leiers te luister. Die geografiese fokus van die skrywe is ook gerig op die gebied wat ek die beste ken, nl die Tumbine sinode van die IRM (Gereformeerde Kerk in Mosambiek) Dit behoort in die eerste plek vir ‘n evangeliese gereformeerde hart, ‘n aanduiding te gee oor die belangrikste fokusse wat nodig is om die Gereformeerde Kerk in Mosambiek te help in hulle poging.

Die Tumbine sinode bestaan uit ongeveer 20 gemeentes wat weens verskeie redes nie baie sterk staan in wat ek noem: lidmate met ‘n persoonlike verhouding met die Here, nie. Mense is baie lief vir kerk wees, en daar is verskeie redes vir kerk wees. My beskrywing van ‘n Bybelse rede vir gemeente wees is wanneer die liefde van Christus verstaan word en daar dus ‘n begeerte ontstaan dat alle lidmate so ‘n persoonlike verhouding met die Here het dat dit hulle vul soos wat die wingerdstok die lote vul in Joh 15. Dan begin die Here onselfsugtig in mense werk sodat hulle vrugte na binne en buite sal dra wat dan by die bekering pas. Die motivering kom dan deur die inwonende Heilige Gees in mense en sal seker altyd ons verras in die manier waarop daar gefunksioneer word om effektief ligdraers te wees. Die tekens daarvan is mense wat omgee in woord en daad en dan op verrassende maniere kreatief ander dien sonder om terug te wil ontvang. Dit is ook ‘n holistiese beweging waarin alle aspekte van die lewe geraak word.

Tydens toerusting, is daar dus sekere denkwyses wat afgebreek moet word en ‘n aanleer van ‘n ware verhouding en vertroue.

Paar tradisionele gedagtes

Die afgelope paar nuwe areas wat ons besoek het, het ons gevind dat daar, soos die plaaslike dominee gesê het, by zero begin word. In so ‘n geval kan mens dan ook nie begin by die kruis nie. Die skeppingsverhaal word dan ‘n goeie beginpunt om God se geskiedenis te kan kontrasteer met die kulturele verstaan van geskiedenis. Kultureel herhaal die geskiedenis homself gereeld. Daar is selfs ‘n soort van ‘n inkarnasie model in mense se verstaan. Verder leef mense ook nie met ‘n toekomsverwagting nie. Daar is hoogstens ‘n geskiedenis, maar nie ‘n vooruit beplanning nie. Verder is daar ‘n baie sterk strewe daarna om niks te mag verander nie. Soos jy gebore is, so sal jy sterf. Moet daaraan nie toring nie, want verandering bring konflik. Die hoogste strewe is om deel te wees van die gemeenskap en om nie mens of gees kwaad te maak nie. Enige siektes of droogte en swaarkry is tekens van die balanse wat versteur is en herstel moet word. Daar moet dus uitgevind word wie die balanse gesteur het en daardie persone moet dan betaal daarvoor totdat die geeste weer tevrede is.

Meeste gebeure het geestelike oorsake. Indien jou oes swak is, beteken dit dat iemand anders jou krag gesteel het deur bv ‘n tradisionele geneser te kry en medisyne in jou land begrawe het om jou krag te steel vir hom. Alhoewel dit soms weg gesteek word, het dit duidelik geword uit ‘n doktors tesis wat ek gelees het dat dit selfs in gesofistikeerde plekke in Malawi steeds ‘n baie groot realiteit is.

‘n Verdere gedagte wat dit nog kompliseer is dat Christenskap volgens mense net bygevoeg kan word by ‘n reeds bestaande verstaan van verhoudings met geeste en balanse wat behou moet word. Dit is baie makliker so, want indien jy die sisteem wil verander ontwrig jy net.

Die vaste hiërargieë wat in die gemeenskappe bestaan mag ook nie verander word nie. Dikwels word leiers baie manipulerend om hulle posisies te bevestig en die wat onder hulle is onder te hou. Daar is dikwels groot sensitiwiteit oor hulle status en posisie en dit sal met baie moeite beskerm word. Grootheid word dus meestal nie gesien in nederigheid nie, maar in posisie en mag. Die mense en kinders aan die onderkant van die hiërargie word dikwels geen opsie gegun nie en word slagoffers van omstandighede. Fatalistiese denke is dus ook baie sterk. Daar is geen vermoë om te verander of te groei nie. Hulle wat wel opstaan en ontwikkel moet deur geweldige kritiek en vyandskap werk, want daar word gereken dat hulle ander se krag steel.

Verlossingsleer se basis

Geskiedenis

Soos verstaan kan word, kan daar dus nie net by die kruis begin word om verlossing te verstaan nie. Om hierdie rede probeer ek dan altyd by die skepping begin met ‘n verhaal van God voor die Skepping, dan die volgorde van ‘n mens wat na die beeld van God geskape is man en vrou en wat die opdrag kry om te heers. Om die aarde te vul en te ontwikkel in alle aspekte. ‘n Werkende mens in God se beeld as Sy verteenwoordiger in ‘n noue intieme verhouding met God. Dan loop die geskiedenis verder na ‘n boom en ‘n sondeval en skeiding tussen God en mens. Die mens word dus God se vyand en het al sy vermoë om die verhouding te herstel verloor het. Ek hou daarvan om dit sommer uit te beeld met mense wat dit illustreer. Die geskiedenis kan dan gevolg word deur die Ou Testament, maar in meeste gevalle is die stories van die ou Testament heeltemal onbekend. Hier is dus ‘n lang termyn proses nodig waar veral kinders saam met volwassenes aan Bybel verhale bloot gestel word, maar met ‘n verstaan van waar dit inpas in God se storie. God se storie gaan nooit terug nie, dit loop net vorentoe deur offerandes na wet profete na ‘n kruis. Die kruis verander alles en word die middelpunt van die geskiedenis. Nou loop dit in deur Jesus dissipels en volgelinge (die naam Christen kom net 3 maal in Bybel voor) gelei deur die Gees van God. Mense wat met liefde en verantwoordbaarheid met mekaar omgaan met ‘n taak om soos Jesus gestuur te wees na die verlore wêreld.  Hierdie proses waarin ons nou is, is nie die einde nie, want Jesus kom weer en God se storie loop uit op ‘n heerlike einde vir Sy kinders en ewige straf vir die res.

Hierdie kontras van God se storie teenoor die storie van die mens in die tradisionele denk sisteem moet iewers oorbrug word. Die Bybel wat die storie bekend maak, moet iewers sentraal staan in die proses.

God se hart

Om die liefde van God oor te dra is ‘n groot uitdaging. Wat dit moeilik maak is omdat verhoudings verstaan word as balanse. Ek doen dit vir jou en jy doen dat vir my. Die gedagte van opoffer vir ander maak nie sin nie, want in die tradisionele denke gee jy dan jou posisie prys en verloor jy wat jy jou hele lewe aan gewerk het as jy prys gee en opoffer. Mens tree eenvoudig op volgens jou posisie en status in die gemeenskap. Kinders is dikwels minder belangrik as die volwassene en so ook hulle behoeftes en so ook vroue teenoor mans. Een van die gevolge is dat mans nie ‘n liefdevolle verhouding met hulle kinders het nie. Daar sal nie aandag gegee word aan kinders se behoeftes nie, almal moet eenvoudig inpas en doen wat hulle rol is om te doen. Die gevolg is dat mans dikwels kinders gebruik vir hulle eie belange, sonder om ‘n goeie verhouding met hulle te hê.

Hierdie wederkerigheid is dan ook die basis van omkopery en dit is werklik in alle aspekte van die lewe ingeweef. Polisie maak hulle geld so en die onderwys stelsel, regstelsel, politiek, is deurspek daarvan, omtrent oral steek dit kop uit. Dikwels op grense moet mens jou dood sukkel om iets op die regte manier te doen. Die wetlike manier het dikwels feitlik onmoontlik geword.

As ek dus vir jong mense in ‘n dorp vra of daar ‘n Christen is wie hulle respek het en soos wie hulle wil wees, het ek nog nêrens ‘n positiewe antwoord gekry nie.

Een van die groot uitdagings is om mentors te kry om ‘n liefdevolle Vader beeld te kan vestig. God se storie maak nie sin as dit nie verstaan word nie.

Motivering van Christenskap word dikwels verdraai. In toerustings geleenthede, word daar erken dat baie mense kerk toe kom, maar nie in God belang stel nie, sommige soek eerder geleenthede om die kerk te kritiseer. Kritiek van ander is natuurlik nodig om eie posisie te versterk. Oral waar ek gevra het, word gesê dat daar baie sulke mense is. Die tweede rede is dikwels ‘n baie groot probleem vir enige sendingwerk. Daar word kerk toe gekom om iets te ontvang. Net deur ‘n Bybel te gee of ‘n paar skoene in die begin, word dit die norm en jare se sukkel draai nie sommer daardie idee om nie. Vandag oral in die kerk erken lidmate dat baie kerk toe kom net om iets te ontvang. Nog ‘n rede is dikwels posisie en leierskap en dan veral ook om ‘n begrafnis van aansien te kan hê. Nog ‘n rede is eenvoudig die posisie wat kerk wees en kore vir mense inhou. Hulle doen al die regte goed om daar aanvaarbaar te wees, maar stel nie in God belang nie. (dink elk geval God is te ver en sal hulle nooit raak sien nie). Lidmate erken dat daar ook baie sulke mense is. Dikwels as mens dan vra oor hoeveel mense daar is wat die Here regtig ken, dan kry ek dikwels die antwoord dat hulle wonder of daar sulkes in die gemeente is.

Verder word werk geregtigheid baie sterk beleef in die Kerk juis omdat wederkerigheid ‘n kenmerk van verhoudinge is.

Bybelkennis

Die meeste mense hier is nie lesers nie. Daar is in die eerste plek ‘n groot klomp wat nie geletterd is nie en die wat is, lees nie sommer die Bybel nie. Ons begin nou maar om op verskeie plekke te eksperimenteer met oudio Bybels in plaaslike tale.

As mens die gemeentes, veral in die platteland indeel in groepe waar daar ten minste een Bybel is met iemand wat glad genoeg lees om verstaan te kan word, dan is die groepe baie groot. Na so ‘n indeling gee ek dan ‘n vers om in die groepe te lees. Na die lees daarvan vra ek wat daar staan. Meestal kan niemand my antwoord. Dan lees ons weer. Dikwels sonder enige verstaan van wat gelees is. Dan na ‘n derde keer kom daar soms antwoorde wat heeltemal uit die konteks van die vers is, waar dinge sê soos: Jesus het aan die kruis gesterf vir ons sonde. Dan na ‘n paar ekstra kere van lees begin mense dan die vers self weergee. Die tweede stap is om te vra wat die Here vir ons deur daardie vers wil sê. Dit is ‘n nuwe proses. Dikwels kan mens hier mense help om self met die Here te praat en indien die boodskap op die ou end verstaan word, dan is die bevestiging dat hulle God gehoor het natuurlik van groot waarde. Die Here het jou gesien en het met jou gepraat! Die uitdaging is egter om die Bybel ‘n plek te gee in huise en gesinne, want dit speel geen rol in gemeenskappe behalwe in die 2 ure in die kerk gebou nie.

Dualisme

Dikwels is Bybel lees en ander religieuse gebeure in ervaringe van lidmate beperk tot Sondag in die erediens. Die idee is sterk dat God Sondae verheerlik word en Bybel gelees word en gebid word in die erediens. Dat die soort van geloofsuitlewinge in die huis plaasvind is baie vreemd. So ook hier is dit nodig om baie aandag daaraan te gee om gemeentelede te help verstaan dat ‘n sterk gemeente gebou is op gelowige families wat die Here met hulle hele lewe dien. Nie net op Sondae nie. As hulle die Here dien in 2 ure van die 168 ure van die week, wat dan van die ander ure?

Moenie die gevolge van die soort van denke onderskat nie. Politiek, sekuriteit, opvoeding, mediese werk ens. Word dikwels in ‘n ander klas geplaas as dinge soos bid bybel lees en evangelisasie. Die Here het niks te doen met die res nie. So word Godsdiens iets vir Sondag en die res is jyself en jou omstandighede wat bepaal. Dit is selfs vreemd as die Here iets te doen het met jou huwelik en gesin.

Verlossing

Die Teologie van verlossing pas in in die storie van God. Nou kom idees soos Jesus se sondeloosheid en dat Hy God en mens is handig te pas. Ek sal bv vra wie die ma van Jesus was en of sy mens was. Dan ook wie die pa van Jesus was aangesien Josef nie by Maria geslaap het nie. Saam met dit is daar paar maniere om die sondeskuld probleem te verduidelik. Dit is volgens my ook belangrik om die korrupsie van die mense en sy totale verdorwenheid ook te beklemtoon in ‘n wêreld wat dikwels die mens as goed beskryf. Die totale onvermoë van die mens en die Vader wat die redding bewerkstellig van Sy kant af. Al die sola’s van die reformasie word belangrik.

Hieruit kom daar dan ‘n verhouding wat soos reeds genoem is, soms ‘n groot uitdaging is om te verstaan en te beleef. Dit is juis die verlossing wat help om iets daarvan te kan beleef. Baie stories soos die verlore seun ens help met die uitdaging.

Vertroue

Hierdie uitdaging het baie te doen met die geeste en tradisies. Mense wat nie net in idees nie, maar in verhoudings met familie ‘n groep gevorm het waarin hulle oorleef. Om nou op ‘n punt te kom waar vertroue beteken die opgee van vertroue in die tradisies, is ‘n menslik onmoontlike skuif. Daar is net soveel vyandskap en ontwrigting wat daarmee saamgaan, dat dit net die Here is wat dit kan bewerkstellig.

Dit vat dikwels ‘n langtermyn verhouding om eerlik oor die goed te kan gesels. Ek hou daarvan om situasies te skep soos ‘n kind wat siek is en wat die gemeenskap doen om die probleem op te los vs. Wat die mense in die Kerk doen om die probleem op te los. Wat doen die Kerk as hulle gebede nie altyd werk nie. Ens.

So ook as iemand se oeste swakker is as ander, wat doen die gemeenskap en wat doen mense van die Kerk daaroor.

Dit loop dikwels uit op ‘n beskrywing van die 2 paaie waar daar drastiese besluite gemaak moet word. Dit help as mense dan reeds iets van ‘n intieme verhouding met die Here verstaan. Dit bring jou by die punt om te erken. Of ek nou doodgaan of ek nou lewe, ek gaan die Here dien!

Ek het dominees in die kerk gekry wat sal erken dat jy maar na die geeste kan gaan vir hulp indien daar vir ‘n sieke gebid is en hy nie gesond geword het nie.

Die vraag is hoe mens so ‘n diep vertrouensverhouding met die Here kan beleef, dat jy bereid is om die ander vertrouensverhoudings prys te gee. Dit is tog ons realiteit as gelowiges. Dit is veral moeilik in ‘n omgewing waar die pa kind ervaring nie die effektiewe metafoor is om die verhouding oor te dra nie. Die uitdaging is dat juis omdat dit so is, is daar geen verhouding wat gebruik kan word as metafoor nie.

 

Trek dominees en sinode vergadering

 

Vergadering in Milange evangelisasie huis

Die laaste paar dae hier in Mosambiek het ek die voorreg gehad om die sinodale kommissie vergadering van die Tumbine sinode by te woon en het ek gehelp om drie dominees te skuif na hulle nuwe gemeentes. Dit is intense kulturele ervarings waar ek as ‘n materialistiese Westerling gekonfronteer word met ‘n lewe so anders as my eie. Alhoewel ek reeds 28 jaar betrokke is in Mosambiek, bly daar altyd gedeeltes wat ongemaklik bly vir mens se ou natuur of vir dit waaraan jy gewoond geraak het. Mens wil mos altyd neig na wat gemaklik is. Dit is egter net die een kant van die storie, soms is daar dit wat mens diep raak wanneer jy iets raaksien wat baie mooi en Bybels is. Ek dink soms dat ek al baie geleer het, maar dan gebeur daar dinge wat jou laat besef hoe min jy weet.

Geïnspireerd deur John Maxwell se preek oor evangelisasie uit 1 Kor 9, raak Paulus se benadering en begeerte om te dien en alles te wees my net weer. Hy doen tot op die uiterste alles sodat sommige gered kan word. Vir die Jood word hy soos ‘n Jood en vir die swakke soos ‘n swakke. Die woord diens kry net soveel meer konteks in so ‘n benadering. So tussen hakies, beteken dit dat mens nie mense kan uitnooi na jou wêreld nie, maar dat jy na hulle wêreld beweeg in verstaan, beleef, ruimte maak op so ‘n manier dat hulle jou gemaklik kan ontmoet en respekteer. Daar word hulle lief vir jou (binne ‘n wêreld wat soms vir jou ongemaklik is) en as hulle vir jou lief het, dan kan hulle ook jou God aanvaar. As hulle nie vir jou lief kan word nie, dan is dit baie moeilik om jou God te aanvaar.

In die vergadering van 2 volle dae, oggend tot 11nm, het ons net vir etes gebreek. Tydens die vergadering was daar ‘n man wat ‘n dominee was, maar uit sy eie besluit het dat dit nie vir hom is nie. Hy is ‘n moeilike man en het moeilik oor die weg gekom met die besluite van ander. Dit was reeds 10 jaar gelede. Nou wil hy graag ‘n brief hê van die kerk vir sy weggaan. Hulle gee hom toe die geleentheid om sy saak voor die vergadering te stel en hy vertel sy storie vir maklik 45 minute. Die manier klink vir my baie vreemd, want aan die een kant noem hy dat hulle sy vriende is, maar aan die ander kant verontskuldig hy homself die heel tyd en dit klink soos beskuldiging van die kerk. Daarna word hy uitgestuur en word die vergadering die geleentheid gegee om hulle menings te gee. Elkeen wat wil kry ‘n kans. Hiertydens probeer die vergadering bepaal wat is die agenda agter dit wat gesê is. Een ouderling staan op en volgens sy mening wil die man vreeslik graag terug kom na die kerk toe. Hy besef dat hy foute gemaak het deur die kerk te verlaat en sy eie kerk te begin en voel nou baie skaam daaroor. Tog kry hy dit nie reg om te erken dat hy ‘n fout gemaak het nie. Hy is net te trotse mens daarvoor. So die ouderling reken dat ons sy gesprek as ‘n erkenning van fout moet interpreteer en hom weer ‘n kans gee. Hy is nie ongemaklik oor die beskuldigings nie, want hy luister na die man se hart. Alhoewel die voorstel nie aanvaar is nie, was dit vir my ‘n voorbeeld van hoe vergaderings funksioneer. Ek kan nie met my denkwyse hierdie vergaderings benader nie, dit gaan net nie werk nie en bring net weer die onaanpasbaarheid van kulture na vore en bring skeiding en oneffektiewe funksionering. As ek egter ongemak omhels en deel word van hierdie benadering bring dit op die ou end ‘n baie unieke verhouding, want hulle beleef mens wees soos hulle dit ken. Na die verhouding gevestig is, kan daar eers begin word met ‘n konfrontering met die Bybelse boodskap.

 Die Bybelse boodskap bly ‘n boodskap wat na alle kante toe Westers en Animisties, bevestig, maar ook seer maak en transformeer. Die Bybelse boodskap ken ons as ‘n ongemaklike boodskap met wonderlike resultate. Dit is nie God wat moet verander nie, maar ons.

Ek deel graag nog ‘n ervaring van dieselfde beginsel om te word soos die mense wat jy lief het, met die doel om ‘n nuwe lewe van Christus met hulle te deel.

Ek word gevra om ‘n dominee en sy familie in Chimuavi gemeente te gaan haal en na Marongane gemeente te neem. Dit is ‘n slegte paadjie deur die bos en deur riviere waarvan die brûe weg gespoel het met die laaste sikloon. Ons kry toe stort reën, maar dit eers daar gelaat. Daarna vat ons weer daardie dominee na Calane wat ook ‘n klein bospaadjie oor riviere en berge is. Daardie dominee moes ek weer vat na Pebane.  Nou laai ‘n dubbel kajuit bakkie met ‘n dominee se hele huisraad, veral as hy klomp sakke mielies het. Die mielies is baie belangrik, want dit is sy gesin se kos vir die jaar. Verder moet die gesin saam inklim. Ag daar is net soveel uitdagings.

Foto sê genoeg

Een van die riviere waar mens moet deur

Nog 'n riviertjie waar ek die pad verloor het en 200m in die rivier af gery het.

In die proses word mens gekonfronteer met jou Westerse idee om jou voertuig te beskerm en die nood van mense. Die balanse is nooit maklik. Aan die een kant is die hart van die saak om mense te bereik en aan die ander kant kan mens nie jou bakkie breek nie. Die besluite en aanvoeling vir die voertuig is nie by die mense nie, maar is by jou. Voeg daarby dat bv die een dominee goed doen en 13 sakke mielies het en baie meer huisraad. Na beraadslaging met sinodale leiers ens is besluit dat die hele program, ook die opleiding wat hierna kom aangepas moet word. Ek moet ‘n ekstra dag spandeer en die dominee help van sy bagasie na sy familie aan te ry, dan terug te gaan en dit te laai wat saam na die ver gemeente in Pebane gaan. Die dominee vertel my dat sy familie in Ile is en so vertrek ons. Hy sê nie dat dit 40km anderkant die dorp Ile is nie. Belangrike inligting word net nie gegee nie, en ek dink toe nie dat ek moet vra nie. Ek behoort eintlik te vra, want ek weet mos. By sy familie is daar ‘n taal misverstand en dink hulle ek wil met sy ma trou en sy verduidelik dat sy klaar getroud is, maar vir my iemand sal kry wat nie getroud is nie. Nou lag ons eers lekker oor die misverstand.

Met misverstande en besluite wat heeltemal dwars teen jou Westerse denkwyse ingaan, is die proses definitief nie gemaklik nie. In die proses waar die woorde van Paulus as antwoord na jou kom as jy met die Here praat, druk jy aan en daar gebeur ‘n mooi ding. Die wêreld van die mense gaan vir jou oop en saam met dit jou gesindheid en saam met dit word mense lief vir jou. Ek staan verstom oor hoe dankbaar mense raak. Hier is so paar voorbeelde daarvan.

By die een gemeente huil die dominee se vrou buite beheer weens die familie en mense van 6 jaar wat sy moet verlaat. Emosies ontmoet mekaar en ek huil amper saam en kan selfs met ‘n dreigende storm wat kom op ‘n sleg paadjie tyd maak vir haar om dit te verwerk.

In ‘n ander geval moes ons in 40 grade omstandighede die hele dag met ‘n oorlaaide vrag ry, oggend tot aand. Dit is so warm dat 6 van hulle hoenders agter in die bakkie vrek. Dit raak toe die dominee se vrou so, dat sy in al haar eie emosies van weg gaan en in ‘n vreemde plek nuwe mense moet leer ken, uit haar pad gaan om vir my te sorg. Die moeite wat sy gedoen het om vir my kos te gee en ‘n sakkie eiers om saam te vat raak mens.

Die laaste dag van die trekkery, ry ‘n man saam terug na Mocuba. Ons gesels op ‘n vlak wat lyk asof hy geen onderskeid tussen ons sien nie. Dit was vir my vreemd maar goed. Later in die gesprek kom ek agter hy praat met my oor wit mense, want hy dink toe nie ek is ‘n wit mens nie. Ek praat natuurlik saam, want dit is vir my ‘n groot kompliment. In al die uitdagings, myne baie minder as hulle sin, het ons op so ‘n vlak geëindig. Ons is nie hier betrokke net om mense te help om Jesus te ontmoet nie, maar oor ‘n hele lewe saam met Jesus vir mekaar te leer. Dit is lang termyn en daarom kan mens nie net kort termyn betrokke wees nie.

Die ander ervaring wat ek graag deel is met die oorhandiging van die een predikants paar. Omdat daar nie plek was vir die sinodale verteenwoordiger om saam te ry nie, moes ek die sinode ook verteenwoordig. Ons gesels toe oor die werk van die gemeente en hoe die ds en sy gesin met die gemeenskap moet hande vat. Diens wat veroorsaak dat daar geen mag of trots op die spel is nie, maar die behoeftes van die gemeenskap. Dit maak dat deure van huise oop gaan en dan later ook harte van mense. Dan begin mense te vra oor geloof en dan is mense gereed om nie net te hoor nie, maar te luister. Teen die einde kniel die dominee en sy vrou en die vrouens kom lê hande op die vrou en die mans op die dominee en dan bid ons almal saam. Ek weet nie hoekom dit vir my so besonders was nie, dalk omdat dit so ‘n oud Bybelse gebruik was.

Lekker om dit goed met mense te deel wat graag deel wil wees.

 

Liefde en lekker dag vir julle

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...