Opleiding in Mosambiek
Inleiding
Die inligting in hierdie dokument is nie
wetenskaplik nagevors nie, dit is gebou op persoonlike ervarings sowel as
menings ingewin deur na kerk leiers te luister. Die geografiese fokus van die
skrywe is ook gerig op die gebied wat ek die beste ken, nl die Tumbine sinode
van die IRM (Gereformeerde Kerk in Mosambiek) Dit behoort in die eerste plek
vir ‘n evangeliese gereformeerde hart, ‘n aanduiding te gee oor die
belangrikste fokusse wat nodig is om die Gereformeerde Kerk in Mosambiek te
help in hulle poging.
Die Tumbine sinode bestaan uit ongeveer 20
gemeentes wat weens verskeie redes nie baie sterk staan in wat ek noem: lidmate
met ‘n persoonlike verhouding met die Here, nie. Mense is baie lief vir kerk
wees, en daar is verskeie redes vir kerk wees. My beskrywing van ‘n Bybelse
rede vir gemeente wees is wanneer die liefde van Christus verstaan word en daar
dus ‘n begeerte ontstaan dat alle lidmate so ‘n persoonlike verhouding met die
Here het dat dit hulle vul soos wat die wingerdstok die lote vul in Joh 15. Dan
begin die Here onselfsugtig in mense werk sodat hulle vrugte na binne en buite
sal dra wat dan by die bekering pas. Die motivering kom dan deur die inwonende
Heilige Gees in mense en sal seker altyd ons verras in die manier waarop daar
gefunksioneer word om effektief ligdraers te wees. Die tekens daarvan is mense
wat omgee in woord en daad en dan op verrassende maniere kreatief ander dien
sonder om terug te wil ontvang. Dit is ook ‘n holistiese beweging waarin alle
aspekte van die lewe geraak word.
Tydens toerusting, is daar dus sekere denkwyses
wat afgebreek moet word en ‘n aanleer van ‘n ware verhouding en vertroue.
Paar tradisionele gedagtes
Die afgelope paar nuwe areas wat ons besoek
het, het ons gevind dat daar, soos die plaaslike dominee gesê het, by zero
begin word. In so ‘n geval kan mens dan ook nie begin by die kruis nie. Die
skeppingsverhaal word dan ‘n goeie beginpunt om God se geskiedenis te kan
kontrasteer met die kulturele verstaan van geskiedenis. Kultureel herhaal die
geskiedenis homself gereeld. Daar is selfs ‘n soort van ‘n inkarnasie model in
mense se verstaan. Verder leef mense ook nie met ‘n toekomsverwagting nie. Daar
is hoogstens ‘n geskiedenis, maar nie ‘n vooruit beplanning nie. Verder is daar
‘n baie sterk strewe daarna om niks te mag verander nie. Soos jy gebore is, so
sal jy sterf. Moet daaraan nie toring nie, want verandering bring konflik. Die
hoogste strewe is om deel te wees van die gemeenskap en om nie mens of gees
kwaad te maak nie. Enige siektes of droogte en swaarkry is tekens van die
balanse wat versteur is en herstel moet word. Daar moet dus uitgevind word wie
die balanse gesteur het en daardie persone moet dan betaal daarvoor totdat die
geeste weer tevrede is.
Meeste gebeure het geestelike oorsake. Indien
jou oes swak is, beteken dit dat iemand anders jou krag gesteel het deur bv ‘n
tradisionele geneser te kry en medisyne in jou land begrawe het om jou krag te
steel vir hom. Alhoewel dit soms weg gesteek word, het dit duidelik geword uit
‘n doktors tesis wat ek gelees het dat dit selfs in gesofistikeerde plekke in
Malawi steeds ‘n baie groot realiteit is.
‘n Verdere gedagte wat dit nog kompliseer is
dat Christenskap volgens mense net bygevoeg kan word by ‘n reeds bestaande
verstaan van verhoudings met geeste en balanse wat behou moet word. Dit is baie
makliker so, want indien jy die sisteem wil verander ontwrig jy net.
Die vaste hiërargieë wat in die gemeenskappe
bestaan mag ook nie verander word nie. Dikwels word leiers baie manipulerend om
hulle posisies te bevestig en die wat onder hulle is onder te hou. Daar is
dikwels groot sensitiwiteit oor hulle status en posisie en dit sal met baie
moeite beskerm word. Grootheid word dus meestal nie gesien in nederigheid nie,
maar in posisie en mag. Die mense en kinders aan die onderkant van die
hiërargie word dikwels geen opsie gegun nie en word slagoffers van
omstandighede. Fatalistiese denke is dus ook baie sterk. Daar is geen vermoë om
te verander of te groei nie. Hulle wat wel opstaan en ontwikkel moet deur
geweldige kritiek en vyandskap werk, want daar word gereken dat hulle ander se
krag steel.
Verlossingsleer se basis
Geskiedenis
Soos verstaan kan word, kan daar dus nie net
by die kruis begin word om verlossing te verstaan nie. Om hierdie rede probeer
ek dan altyd by die skepping begin met ‘n verhaal van God voor die Skepping,
dan die volgorde van ‘n mens wat na die beeld van God geskape is man en vrou en
wat die opdrag kry om te heers. Om die aarde te vul en te ontwikkel in alle
aspekte. ‘n Werkende mens in God se beeld as Sy verteenwoordiger in ‘n noue
intieme verhouding met God. Dan loop die geskiedenis verder na ‘n boom en ‘n
sondeval en skeiding tussen God en mens. Die mens word dus God se vyand en het
al sy vermoë om die verhouding te herstel verloor het. Ek hou daarvan om dit
sommer uit te beeld met mense wat dit illustreer. Die geskiedenis kan dan
gevolg word deur die Ou Testament, maar in meeste gevalle is die stories van
die ou Testament heeltemal onbekend. Hier is dus ‘n lang termyn proses nodig
waar veral kinders saam met volwassenes aan Bybel verhale bloot gestel word,
maar met ‘n verstaan van waar dit inpas in God se storie. God se storie gaan
nooit terug nie, dit loop net vorentoe deur offerandes na wet profete na ‘n
kruis. Die kruis verander alles en word die middelpunt van die geskiedenis. Nou
loop dit in deur Jesus dissipels en volgelinge (die naam Christen kom net 3
maal in Bybel voor) gelei deur die Gees van God. Mense wat met liefde en verantwoordbaarheid
met mekaar omgaan met ‘n taak om soos Jesus gestuur te wees na die verlore
wêreld. Hierdie proses waarin ons nou
is, is nie die einde nie, want Jesus kom weer en God se storie loop uit op ‘n
heerlike einde vir Sy kinders en ewige straf vir die res.
Hierdie kontras van God se storie teenoor die
storie van die mens in die tradisionele denk sisteem moet iewers oorbrug word.
Die Bybel wat die storie bekend maak, moet iewers sentraal staan in die proses.
God se hart
Om die liefde van God oor te dra is ‘n groot
uitdaging. Wat dit moeilik maak is omdat verhoudings verstaan word as balanse.
Ek doen dit vir jou en jy doen dat vir my. Die gedagte van opoffer vir ander
maak nie sin nie, want in die tradisionele denke gee jy dan jou posisie prys en
verloor jy wat jy jou hele lewe aan gewerk het as jy prys gee en opoffer. Mens
tree eenvoudig op volgens jou posisie en status in die gemeenskap. Kinders is
dikwels minder belangrik as die volwassene en so ook hulle behoeftes en so ook
vroue teenoor mans. Een van die gevolge is dat mans nie ‘n liefdevolle
verhouding met hulle kinders het nie. Daar sal nie aandag gegee word aan
kinders se behoeftes nie, almal moet eenvoudig inpas en doen wat hulle rol is
om te doen. Die gevolg is dat mans dikwels kinders gebruik vir hulle eie
belange, sonder om ‘n goeie verhouding met hulle te hê.
Hierdie wederkerigheid is dan ook die basis
van omkopery en dit is werklik in alle aspekte van die lewe ingeweef. Polisie
maak hulle geld so en die onderwys stelsel, regstelsel, politiek, is deurspek
daarvan, omtrent oral steek dit kop uit. Dikwels op grense moet mens jou dood
sukkel om iets op die regte manier te doen. Die wetlike manier het dikwels
feitlik onmoontlik geword.
As ek dus vir jong mense in ‘n dorp vra of
daar ‘n Christen is wie hulle respek het en soos wie hulle wil wees, het ek nog
nêrens ‘n positiewe antwoord gekry nie.
Een van die groot uitdagings is om mentors te
kry om ‘n liefdevolle Vader beeld te kan vestig. God se storie maak nie sin as
dit nie verstaan word nie.
Motivering van Christenskap word dikwels
verdraai. In toerustings geleenthede, word daar erken dat baie mense kerk toe
kom, maar nie in God belang stel nie, sommige soek eerder geleenthede om die
kerk te kritiseer. Kritiek van ander is natuurlik nodig om eie posisie te
versterk. Oral waar ek gevra het, word gesê dat daar baie sulke mense is. Die
tweede rede is dikwels ‘n baie groot probleem vir enige sendingwerk. Daar word
kerk toe gekom om iets te ontvang. Net deur ‘n Bybel te gee of ‘n paar skoene
in die begin, word dit die norm en jare se sukkel draai nie sommer daardie idee
om nie. Vandag oral in die kerk erken lidmate dat baie kerk toe kom net om iets
te ontvang. Nog ‘n rede is dikwels posisie en leierskap en dan veral ook om ‘n
begrafnis van aansien te kan hê. Nog ‘n rede is eenvoudig die posisie wat kerk
wees en kore vir mense inhou. Hulle doen al die regte goed om daar aanvaarbaar
te wees, maar stel nie in God belang nie. (dink elk geval God is te ver en sal
hulle nooit raak sien nie). Lidmate erken dat daar ook baie sulke mense is.
Dikwels as mens dan vra oor hoeveel mense daar is wat die Here regtig ken, dan
kry ek dikwels die antwoord dat hulle wonder of daar sulkes in die gemeente is.
Verder word werk geregtigheid baie sterk
beleef in die Kerk juis omdat wederkerigheid ‘n kenmerk van verhoudinge is.
Bybelkennis
Die meeste mense hier is nie lesers nie. Daar
is in die eerste plek ‘n groot klomp wat nie geletterd is nie en die wat is,
lees nie sommer die Bybel nie. Ons begin nou maar om op verskeie plekke te
eksperimenteer met oudio Bybels in plaaslike tale.
As mens die gemeentes, veral in die platteland
indeel in groepe waar daar ten minste een Bybel is met iemand wat glad genoeg
lees om verstaan te kan word, dan is die groepe baie groot. Na so ‘n indeling
gee ek dan ‘n vers om in die groepe te lees. Na die lees daarvan vra ek wat
daar staan. Meestal kan niemand my antwoord. Dan lees ons weer. Dikwels sonder
enige verstaan van wat gelees is. Dan na ‘n derde keer kom daar soms antwoorde
wat heeltemal uit die konteks van die vers is, waar dinge sê soos: Jesus het
aan die kruis gesterf vir ons sonde. Dan na ‘n paar ekstra kere van lees begin
mense dan die vers self weergee. Die tweede stap is om te vra wat die Here vir
ons deur daardie vers wil sê. Dit is ‘n nuwe proses. Dikwels kan mens hier
mense help om self met die Here te praat en indien die boodskap op die ou end
verstaan word, dan is die bevestiging dat hulle God gehoor het natuurlik van
groot waarde. Die Here het jou gesien en het met jou gepraat! Die uitdaging is
egter om die Bybel ‘n plek te gee in huise en gesinne, want dit speel geen rol
in gemeenskappe behalwe in die 2 ure in die kerk gebou nie.
Dualisme
Dikwels is Bybel lees en ander religieuse
gebeure in ervaringe van lidmate beperk tot Sondag in die erediens. Die idee is
sterk dat God Sondae verheerlik word en Bybel gelees word en gebid word in die
erediens. Dat die soort van geloofsuitlewinge in die huis plaasvind is baie
vreemd. So ook hier is dit nodig om baie aandag daaraan te gee om gemeentelede
te help verstaan dat ‘n sterk gemeente gebou is op gelowige families wat die
Here met hulle hele lewe dien. Nie net op Sondae nie. As hulle die Here dien in
2 ure van die 168 ure van die week, wat dan van die ander ure?
Moenie die gevolge van die soort van denke
onderskat nie. Politiek, sekuriteit, opvoeding, mediese werk ens. Word dikwels
in ‘n ander klas geplaas as dinge soos bid bybel lees en evangelisasie. Die
Here het niks te doen met die res nie. So word Godsdiens iets vir Sondag en die
res is jyself en jou omstandighede wat bepaal. Dit is selfs vreemd as die Here
iets te doen het met jou huwelik en gesin.
Verlossing
Die Teologie van verlossing pas in in die
storie van God. Nou kom idees soos Jesus se sondeloosheid en dat Hy God en mens
is handig te pas. Ek sal bv vra wie die ma van Jesus was en of sy mens was. Dan
ook wie die pa van Jesus was aangesien Josef nie by Maria geslaap het nie. Saam
met dit is daar paar maniere om die sondeskuld probleem te verduidelik. Dit is
volgens my ook belangrik om die korrupsie van die mense en sy totale verdorwenheid
ook te beklemtoon in ‘n wêreld wat dikwels die mens as goed beskryf. Die totale
onvermoë van die mens en die Vader wat die redding bewerkstellig van Sy kant
af. Al die sola’s van die reformasie word belangrik.
Hieruit kom daar dan ‘n verhouding wat soos
reeds genoem is, soms ‘n groot uitdaging is om te verstaan en te beleef. Dit is
juis die verlossing wat help om iets daarvan te kan beleef. Baie stories soos
die verlore seun ens help met die uitdaging.
Vertroue
Hierdie uitdaging het baie te doen met die
geeste en tradisies. Mense wat nie net in idees nie, maar in verhoudings met
familie ‘n groep gevorm het waarin hulle oorleef. Om nou op ‘n punt te kom waar
vertroue beteken die opgee van vertroue in die tradisies, is ‘n menslik
onmoontlike skuif. Daar is net soveel vyandskap en ontwrigting wat daarmee
saamgaan, dat dit net die Here is wat dit kan bewerkstellig.
Dit vat dikwels ‘n langtermyn verhouding om
eerlik oor die goed te kan gesels. Ek hou daarvan om situasies te skep soos ‘n
kind wat siek is en wat die gemeenskap doen om die probleem op te los vs. Wat
die mense in die Kerk doen om die probleem op te los. Wat doen die Kerk as
hulle gebede nie altyd werk nie. Ens.
So ook as iemand se oeste swakker is as ander,
wat doen die gemeenskap en wat doen mense van die Kerk daaroor.
Dit loop dikwels uit op ‘n beskrywing van die
2 paaie waar daar drastiese besluite gemaak moet word. Dit help as mense dan
reeds iets van ‘n intieme verhouding met die Here verstaan. Dit bring jou by
die punt om te erken. Of ek nou doodgaan of ek nou lewe, ek gaan die Here dien!
Ek het dominees in die kerk gekry wat sal
erken dat jy maar na die geeste kan gaan vir hulp indien daar vir ‘n sieke
gebid is en hy nie gesond geword het nie.
Die vraag is hoe mens so ‘n diep vertrouensverhouding
met die Here kan beleef, dat jy bereid is om die ander vertrouensverhoudings
prys te gee. Dit is tog ons realiteit as gelowiges. Dit is veral moeilik in ‘n
omgewing waar die pa kind ervaring nie die effektiewe metafoor is om die
verhouding oor te dra nie. Die uitdaging is dat juis omdat dit so is, is daar
geen verhouding wat gebruik kan word as metafoor nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking