Volgers

09/03/2023

Matt 12:15-37 en opry tot in Milange


Matt 12:15-37

Die rit na Mosambiek het altyd onsekerhede. Die oorsteek van die grens. Die nuwe bakkie wat dalk foute kan hê. Iets wat vergeet kan word voel mos dan sommer ‘n groot ding. Gesondheid  ens. Dit maak mens gespanne en nou is dit tyd om die Here se vrede en vreugde doelbewus te soek.

Toe lees ek van Jesus wat kom gesond maak wie siek is. Jesus die bron van alles bring die Lewe na die gebroke aardse bestaan. Hy kom genees waar mense siek is, dryf duiwels uit wat mense vernietig ens. As mens na Mosambiek toe gaan, dan word mens ‘n skadubeeld van dieselfde proses. Al verskil is dat Hy my ook maar gereeld moet gesond maak en dit is nie net van fisiese siektes nie.

Dit bring my by my proses van bevestiging van ‘n lewe waarin ek reeds sy reg beleef het en dit aan my gegee is. Daar is niks op die aarde wat ek meer kan verloor wat nie reeds syne is nie. Ek kan weer terug gaan en my rus in Hom vind.

Wat my die meeste aanspreek is dat Jesus nie twis en skreeu nie, Sy stem is nie hard en word in die strate gehoor nie. Hy sien geknakte riete en breek hulle nie. In Sy spore kan ek net ‘n diep omgee deur sy omgee verteenwoordig en soos ‘n lig inbeweeg die onbekendes in. Oral waar ek kom, kom die lig ook. Ek kan staan daarop en werk aan my eie vreugde en net anders na die wêreld van Mosambiek om my kyk. Sy genesing het my bereik. As Hy dit vir my sê dan aanvaar ek dit.

Die sagte manier van Jesus het my rus geword. Nou sien ek ook dat wanneer hy “reg” bring (2020 vertaling) dan is die reg juis ‘n diepe omgee vir mense en uitreik na gebrokenheid. Om genesing te bring in liggaam en siel sonder dat mense dit verdien. Dit is God se reg, want dit kom deur Jesus die weg waarheid en Lewe. Sluit mooi aan by die absolute kleinste opsomming van die Bybel naamlik “wees lief vir jou naaste”

In die debakel rondom die uitdryf van demone word Jesus beledig dat hy Satan se werk doen. Die betekenis van Jesus se verduideliking aan my was juis dat die sterk man reeds vasgebind is en daarom deur die gebaar het die koninkryk nie naby gekom nie, maar “julle bereik”. Dit is nou hier.

Die lastering teen die Gees, bly steeds vir my onseker. Die Boodskap vertaal dit so dat dit verwys na die Fariseërs wat God se werk koppel aan Satan en mens kan dit nog doen teenoor die Seun, maar jy moet nie dit doen teenoor die Gees nie.

Daar is ‘n element in wat in seker almal van ons is, en dit is om God se werk dikwels nie raak te sien en te erken as Sy werk nie. As dit nie vergewe kan word nie, dan is baie van ons in skuld vir ewig. Ek kan darem nie dink dat dit is wat Jesus bedoel nie.

Op ‘n ander plek het ek gehoor dat dit gaan oor die weerstaan van God se werk tot met jou dood. Dws dan aanvaar jy nie God se werk in jou lewe nie en is jy dus verlore sonder om die Kruisdood en betaling van skuld te aanvaar.

Ek weet nie regtig nie, maar aanvaar dat ek volkome vergewe is vir alles wat ek gedoen het.

Die stukkie oor die boom en die vrugte laat my weer dink aan die bron binne my as gelowige wat maak dat die goed wat uit my vloei in ooreenstemming is met wat God in my gedoen het. Dalk verwys Jesus na die uitdryf van die duiwels en dat dit bewys is van wie Hy is. Ek weet nie.

In myself weet ek Jesus woon in my, en dat ek ‘n vergewe sondaar is. Baie van die vrugte uit my lewe wys nog nie die goeie in my nie en ander kere kom daar van die goeie na vore. By Jesus is dit net goed wat uitkom, maar by my is ek nog in ‘n proses. Dit is egter ‘n motivering om al meer ooreenstemming te kry met die goedheid van God en Sy Gees wat in my is en die lewe na buite. Dit is nodig dat daar baie kommunikasie sal wees en eenheid met Hom al meer in my dade sal begin wys.



RES VAN PAD TOT IN MILANGE

Dit was baie goed om by die Bantims te kuier en bande op te tel. Hulle het my bederf met ‘n heerlike ete. Dit was goed om meer van hulle bediening en uitdagings te hoor en ook te deel.

Die besoek aan Peet en Erma was ook goed. Ons het bietjie tyd gehad om geestelik ook te deel met mekaar.

By Piet en Ria was dit ook goed om weer op datum te kom van hulle en hulle kinders se lewens en te kon deel en saam te bid. Ook daar is ek bederf deur ‘n heerlike ete wat ek nodig gehad het. Dit is altyd betekenisvol as gelowiges deel en saam bid.

Die pad is baie sleg en die nuwe bakkie doen goed met brandstof gebruik en het selfs op ‘n stadium meer as 12km per liter gegee. Verder trek dit vreeslik lekker, mens moet jouself inhou. Dit het ‘n skeet dat dit soms krag verloor en dan moet ek dit afskakel en weer start voordat dit weer normaal is. Die een lig voor skyn te laag. Dit is moeilik om dit te stel en daar is ‘n plaatjie wat reg gebuig moet word om dit reg te kry. Ek het dit terug gevat na Nissan en hulle het belowe dat dit nou reg is. Ek moes ontdek dat dit nie so is nie. Self probeer ek dit stel, maar dit wil nie beweeg nie. Die plaatjie moet gebuig word. Ek druk hard daarteen en is bang om dit nie te breek nie, maar dit wil nie. Nou sit ek met ‘n lig wat nie reg is nie, maar darem goed genoeg is vir die pad. So moet die mooi bakkie seker skete hê om mens nederig te hou.

Ek kon vir Bernadette ook heelwat goed bring en dit is lekker om te sien hoe hulle dit geniet. Sy bederf my ook met ‘n ete wat ek nodig gehad het.

Sikloon Freddy is op pad en dit maak dat ons die naweek eers rustig moet wees en kyk wat gebeur voordat ons met die werk begin. Die program lyk dus as volg:

12 Erediens Milange en ry na Mocuba

13 Bouwerk in Mocuba. Sit werkers aan die werk

14-17 Besoek Pebane waar nuwe dominee nou werk

17 Ry na Mocuba en kyk na die bouwerk

18 Bouwerk en namiddag vertrek na Magodane waar ook ‘n nuwe dominee is

19 Magodane toerusting

20 Toerusting en namiddag terug na Mocuba vir bouwerk (indien nodig)

21-23 Bouwerk en terug ry na Milange vir sinodale gesprekke saam met Daniel de Wet.

24 Namiddag vertrek na Natanje

25 Toerusting in natanje

26 Vertrek na Calane

27 Toerusting in Calane en vertrek namiddag na Mocuba vanwaar terugtog gaan begin. Wil graag in Caia gaan slaap omdat die pad nou so stadig is.

Die hele bestuur van Hefsiba is hier in Milange in dieselfde huis waar ek slaap en ek kon reeds met twee van hulle ‘n goeie gesprek voer. Dit is duidelik dat hulle verstaan dan die kerk in ‘n geestelike nood verkeer. Tog is daar nog nie ‘n prioriteit om iets daaraan te doen nie. (gewonder of ek nie een van my besoeke per jaar daar moet spandeer en net ‘n geestelike bou proses aan die gang kry nie. Persoonlike gesprekke met leiers en dissipelskap prosesse aan die gang sit tussen hulle en die studente). 


 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...