Volgers

12/03/2023

Stiltetyd Matt 13:10-18 Siende blind horende doof

Siende blind en horende doof
Hier is onderskeid tussen 2 groepe, hulle wat gegee is om te verstaan en hulle wat nie gegee is.
Hier staan Jesus voor mense. Hy is God redder versoener almagtige wat hulle lief het en gekom het om te verlos. Hy het nie gekom om te oordeel nie. Skare sien en hoor dit nie.
Dit is net vir sommige gegee om te sien en hoor. 
Harte is afgestomp en hart verwys na denke in die Bybel. 
Sondeval maak dat almal blind en dood en afgestomp is. Niemand het enige vermoë wil of hart om te hoor en te sien, terug te draai en genees te word van oordeel. Dus totaal verlore sonder enige manier van verlossing. Slegs as God jou trek, jou kies kan jy hoor of sien. Deur genade trek en kies Hy sommiges.
Vers 15. Die proses is om deur God getrek, te sien en te hoor dan in die hart verstaan dan omdraai(bekeer in 33 vertaling) en dan genees te word.
Sien en hoor, hier is Jesus, Hy staan voor julle.
Verstaan in hart (verstand word met hart geassosieer) 
Omdraai 
Genees word, is seker verlossing en bevryding saam met soms fisiese genesing. 
Wat vir my lastig is, van uitverkiesing, is dat my Vader nie almal gee om te hoor of om te sien nie. Ek weet dat Hy vir almal lief het en almal wil red. Tog kies Hy nie almal om te hoor en sien sodat hulle self kan besluit om om te draai nie. Vir my moet my Pa so 'n hart hê dat Hy almal sal gee om te sien en te hoor. Nou Hy doen dit nie en ek kan nie begryp wat Sy redes is nie. Ek moet my net onderwerp aan Hom.
Die vreugde is om te ontdek dat ons wat Hom ken, deur Hom gekies is om te kan sien en hoor, daarop te reageer deur bekering en genees is. Dit is nie iets om op te roem nie, want dit is nie ons werk nie. Selfs dat ons gekies het om om te draai was ook genade. Ons het die HG ontvang as deposito vir die Ewige Lewe waar daar nie meer twyfel pyn en seer sal wees nie. Dit is vasgemaak deur God en nie deur my. Ek kan vermetel genoeg wees om te weet dat ek Sy kind is. Alhoewel ek in,  'n spieël en raaisel sien, is dit een ding wat ek weet waar is. Ek kyk terug en kan sê: ek is gered, ek is God se kind, vir ewig in Sy hand. Ek weet wie ek is. Ek is uitverkies en my doop bevestig dit voor ek nog kon verstaan.
Omdat my geloof swak is, moet ek dit gedurig weer gaan bevestig. Die sekerheid hiervan lê nie in my nie, maar in Hom. Daarom moet ek dit elke keer by Hom gaan bevestig ten spyte van myself. In vrees en bewing amper kan ek sê: Ek sien en hoor. 
Dan skuif die fokus van my na ander en nou wil ek so graag sien dat ander moet sien en hoor en dan reg draai. Ek sien Jesus dan so duidelik, en almal moet Hom kan sien.
Jesus sê vir die fariseërs dat omdat hulle sê hulle sien, hulle juis blind is. Hulle dink hulle sien, want hulle vertrou op die onderhouding van die wet. Ons sien omdat ons op Jesus vetrou en nie op die onderhouding van die Wet.
As gelowige word ek soos Jesus gestuur om Hom sigbaar te maak by almal. Baie gaan nooit sien nie, maar sommiges gaan wel. Die wêreld is soekende en begeer God se vrede. Hulle moet dit egter deur ons kan sien. 
Ons is dikwels soos die regverdiges in vers 17. Hulle is wel regverdiges, maar hulle begeer om te kan sien soos die dissipels gesien het en hoor soos die dissipels gehoor het, maar kan dit nie hoor nie. Hoe groot is die vooreg om aan Hom te vat en sy stem fisies te kon hoor!!! Ons is regverdiges en profete deur Jesus wat ons verlos en genees het, maar die vooreg wat die dissipels gehad het, het kry ons nie. 
Vers 18 begin Jesus die gelykenis van die saaier vir hulle uitlê. Nou skuif die fokus weer na God wat saai en deur mense saai en sommige van hulle gaan ontvangklik wees, maar baie nie. Dit is waar ons nou is as gelowiges. 
Die genesing wat hulle kry wat omgedraai het, was omdat hulle na Jesus gedraai het. Dit is in kontras met die kerk van daardie tyd wat bly staan het op die onderhouding van die Wet en dus ook mense veroordeel het wat Jesus gevolg het. 
Vader, ek wil eerstens weer my verootmoedig en onderwerp aan U, want alhoewel ek nie alles verstaan nie, weet ek U is goed en wat U doen is regverdig en wys. Ek vertrou U. Wat ek nie verstaan nie, is dat U nie almal na U trek nie en laat sien en hoor nie. Dit pla my vanuit my menslike manier van dink. Ek wil so vreeslik graag verstaan, maar U weet beter... Ek luister!
 Aan die ander kant verjeug ek my daarin dat ek wel deur U gekies en gered is. Woorde raak hier op. Dat ek deel kan wees van U familie en dus onverdiend een is met U. Dat dus in geloof ek wel U kan hoor en voel en beleef. Dat U selfs my U broer noem.
Ek wil nou as U kind en gestuurde deel bly en meer deel word van U proses van saai vanuit U groot liefde vir verlore mense.
AMEN

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...