Volgers

16/03/2023

Matt 14 Vrees en versorging

 Johannes die doper se wrede dood.

Die koningshuis het Johannes gehaat want hy het hulle aangespreek. Hulle was versigtig want die volk het Johannes as 'n profeet gesien. Tog gebeur die ontstellende ding, Johannes se kop word vir Herodias se ma gebring. 

Ons word nie gevrywaar van sulke aardse wreedhede ter wille van ons standpunte as gelowiges nie. In party lande meer as ander. Laat my dink aan die seuntjie wat sy verminkte en mishandelde pa in die tronk kom besoek. Hy het dit oorgekom agv sy geloof. Toe die seuntjie sy pa sien, toe sê hy: Pappa ek is so trots op jou. 

Baie goed maak ons bang, maar as jy jou lewe gegee het, maak dit jou vry, want jy kan nie verloor wat jy reeds weg gegee het nie. Maklik gesê, want mens is nie daar nie. Maar dit is tog die rigting om te gaan.

Die stuk het my die meeste aangespreek van die hele hoofstuk. 

Vermeerdering van die brood

Hier hoor Jesus die boodskap van Johannes se dood en gaan na 'n verlate plek. Ek aanvaar om die trauma te verwerk. Die skare volg Hom en ten spyte van eie trauma, doen Jesus 'n paar dinge.

1. Hy klim uit of kan seker sê, hy gaan na die mense. 

2. Hy het hulle gesien. Hierdie sien is volgens my meer as fisies sien. Hy het hulle nood en verdwaaldheid gesien en al hulle behoeftes. 

3. Hy het medelye en en het hulle jammer gekry ten spyte van sy eie trauma.

4. Hy het genees.  Hy sou nie genees as Hy nie medelye gehad het bo sy eie trauma nie. Hy kon op die skare fokus ten spyte van homself. Hy kon ook nie medelye gehad het as Hy nie gesien het nie. Die Gees van God leer ons om dieper en meer te kan sien as wat die menslike oog kan sien. Verder kon Hy nie sien as hy nie uitgeklim of na hulle gegaan het nie. Ons mis dikwels die hele proses van lig bring vir mense net omdat ons nie met hulle te doen het nie. 

Ek raak hopeloos te gou bang en ontsteld as dinge verkeerd gaan en sien dan nie die mense wat in daardie tyd op jou pad kom nie. In eie ontsteltenis sien mens soms makliker nood en lyding raak. Dit is nou as jy nie terug trek nie. Sommige boodskappe kom so sterk en duidelik deur juis daar waar ek swak en ontsteld is. Dit is dus 'n tyd om te kan gebruik. In jou eie stryd om vastigheid en intimiteit te soek as jy dit die nodigste het, help jy ander dikwels die maklikste en sien jy hulle nood ook die duidelikste. 

Nog 'n ding wat vanmore vir my uitstaan is weer die feit dat die dissipels die nood sien van mense wat honger is en Jesus kies om vir hulle die onmoontlike opdrag te gee. "Gee julle vir hulle iets te ete." Wat 'n onmoontlike opdrag. Die dissipels gee toe maar vir Jesus wat hulle het.  5 Brode + 2 vissies + Jesus = genoeg kos vir meer as 5000 mense en 12 mandjies vol kos te veel.

Ek steek nog steeds bietjie vas vir die onmoontlike opdrag. Dit maak my onseker veral tussen 'n provinsie vol mense wat lyding en dood ervaar na 'n sikloon. Toe Jesus hulle jammer gekry het, het Hy hulle genees. Here gee dat ek nooit die menslik onmoontlike maak tot Goddelik onmoontlike nie, want dit is nie. Lei my want ek weet nie. Ek besluit om na mense te gaan met 'n Goddelike verwagting van genesing vir die nood wat U wil genees. Fisiese nood, maar ook dit wat meer oorsaaklik is as dit. 

Hierna het Jesus sy afsonderingstyd gekry. Hy moes die dissipels dwing om weg te vaar sodat Hy Homself kan afsonder. Ek wonder in hoe 'n mate die afsondering met trauma oor Johannes se dood was en dat Hy in medelye met God moes praat oor nie net Sy eie trauma nie, maar die van mense saam met wie Hy lewe. In medelye met dissipels wat ook hieroor trauma sou moes beleef en selfs minder gerat was om dit te verwerk.

Jesus loop op die see.

Die dissipels se vrees was regtig rof. Hulle het geskreeu van angs toe hulle binne die storm die spook op die water gesien het. Wat vir my uitstaan is die omswaai in Petrus. Vanaf vrees na vertroue en waagmoed. Wow! watter transformasie. Gewoonlik laat vrees jou lam en soek jy al wat 'n sekuriteit op om dit te verwerk, maar nee, onmiddelik na die skreeu van vrees, klim hy uit die enigste menslike sekerheid wat hy gehad het naamlik die boot. Besef mens wat die teenwoordigheid van Jesus in ons maak! Ek moet baie hieroor dink, want aan die een kant dink ek dit is wat ek nodig het. Tog aan die ander kant het die Here my swak vrese gebruik om ander te kan verstaan. Die feit bly egter dat vertroue op Jesus so geweldige transformasie moontlik maak waar dit nodig is. 

Vir Petrus was dit ook nodig om herinner te word aan sy kleingelowigheid en twyfel. Veral die woord twyfel praat met my, want ek moet erken dat dit soms deel is van my geloofs lewe. Soms kan ek nie verstaan dat ek getwyfel het nie en ander kere twyfel ek. Soms moet ek misluk en twyfel want dit bring my soms juis nader aan ander twyfelaars. Here dankie dat ek in twyfel en geloof in geloof kan groei en dat U my nie veroordeel nie. 

Hierna, na Sy afsondering het Jesus soveel wonderwerke in Gennesaret gedoen! In al my gesukkel kan ek weer kyk na Hom wat vlees geword het en op 'n fisiese manier kom wys wie Hy vir die wêreld is en ek is deel van daardie wêreld. Tog is ek ook deel van Sy wêreld. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...