Volgers

14/03/2023

Stiltetyd Matt 13:24-43 Koring en onkruid of Drabok

 Geplant deur God


Matt13:24-43

VALS KORING

Die plant wat genoem word in die Bybel is Drabok en dit is ‘n gras plant wat baie soos koring lyk. Ek glo ek het al die gras gesien en dit maak ook ‘n aar soos koring.

Dit lyk asof Jesus verwys na die hele wêreld vers 38. Sy koninkryk is die hele wêreld met koring en Drabok.  Drabok word nie deur die Here gesaai nie.

Hier is dus twee soorte, Drabok en Koring. Ek dink nie daar bestaan ‘n tussenin nie. Dit lê in die identiteit van elke plant. Die feit dat dit soos koring lyk en maklik verwar kan word, laat my dink aan kerkmense of goeie mense.

Die wonder is dat ek kan sien ek is as gelowige deur God gesaai. My pa is die een wat my gesaai het. Ander wat dikwels lyk soos Christene se pa is (vers 38) die bose. Die verskil is wesenlik, maar menslik is dit nie onderskeibaar nie. Nie eers vir engele nie. Ek dink sommer mense met slegte gewoontes, maar wat kinders van God is. Of goeie mense met baie goeie lewe, wat Hom glad nie ken nie.

Wat wil God sê? Moet ek suspisieus wees oor mense? Ek dink nie so nie, dalk wil Hy net sê dat ons nie ongeduldig moet raak oor die bose se werk nie en moenie mense net oordeel nie. Daar kom ‘n tyd dat Hy self dit sal doen. Ons taak is steeds om almal lief te hê en te dien.

Vers 41 wys daarop dat daar twee groepe mense is by die Duiwel se werk. Die wat struikelblokke is en die wat wetteloosheid bedryf. Ek dink die struikelblokke is die gevaarlikste, want dit is hulle wat ek dink lyk soos christene maar hulle onopregtheid sit soekers na die koninkryk af om verder te soek. Hulle dra die boodskap uit dat daar nie baie steek in Christenskap nie. Hier is die struikelblokke die groeiende saad van die Duiwel, maar is ek as gelowige nie ook soms ‘n struikelblok nie.

Skielik wil ek skreeu, dat kindskap van God werklik die antwoord vir alles is. Jesus is die antwoord en dit werk, maar skree en praat dra nie altyd die boodskap oor nie.

Ek moet in my gebrokenheid altyd streef na opregtheid eerlikheid en integriteit sodat ek nie ‘n struikelblok sal wees nie. Dit vat baie intensionaliteit om daardie soort eerlikheid te behou. Met so ‘n eerlikheid deur genade,  is jou getuie nie jou pogings nie maar dit wat in jou is wat mense aanspreek.

In die koninkryk is dit dus nie ons werk om onderskeid te maak nie, maar net om ‘n getuie te wees.

Die gelykenis praat nie van Drabok wat Koring word nie. Dit is wat mens graag sal wil sien. Die gelykenis is seker nie bedoel om so ver te interpreteer nie.

Die kern van die gelykenis is wat? Dat die wêreld God se koninkryk is en dat dit vol van die bose is en kinders van die Duiwel. My afleiding is dat ons dus nie deur die wêreld beïnvloed moet word nie ons moet dit wat in ons sigbaar maak sodat deur ons die wêreld beïnvloed sal word. Vir mede gelowiges vir groei en aanmoediging en vir die kinders van die bose ‘n aantrekkingskrag tot vrede, verlossing en ‘n nuwe lewe.

Verder om nie te oordeel nie. Dit is nie ons taak nie. Vir die wat wetteloos lewe help mens soos jy kan en dit werk gewoonlik nie deur op hulle foute te wys nie. Deur ‘n aangename geur te wees. Deur die waarheid van ‘n nuwe lewe sigbaar te maak. Deur die Woord van God te wees, die blye boodskap ens. Soms is uitwys van foute nodig, maar dit moet baie nederig, in liefde gedoen word met ‘n diep luister na mense. Verder ‘n wete van eie gebrokenheid en afhanklikheid. Die luister is ook na die mense, maar veral na God.

Die gelykenis is duidelik oor die Duiwel en die bose. Dit is hy wat die sy kinders saai en soos sy aard is, maak Hy God se kinders na. Hy het nie eie inisiatief.

Sommige wat soos koring lyk is nie koring nie.

Die regverdiges sal skyn soos die son. Ons versprei die lig. Ons leef uit die bron van Jesus wat ons regverdigheid is. Ons is veronderstel om lig te bring en dus verandering. Selfs hulle wat dink hulle is akoring en dit nie is nie, sal deur die lewe van die regverdiges begin agterkom dat daar fout is en dan getrek word na die waarheid.

Die stuk oor die boom en die suurdeeg, wys vir my die krag van die koninkryk. Verder ook dat dit groei en versprei.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...