Volgers

18/11/2014

Besonderse teenwoordigheid van die Here in Pebane en Derre

Dit is lekker warm en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete. Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie. Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel, alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE
Leslie was 'n groot uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na 'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het “toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek. Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek het dieselfde goed as hulle dominee gesêen nou weet hy dit is waar. Ek lêook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief te hê en te help anders is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses. Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting gekry het.

Dit bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first of many to come!

13/11/2014

Huisbesoek in Ile (Errego)

Die eerste huis was uur se ry aan 10 km en daarna 'n halfuur se loop deur riviere en oor klippe, In die gesprek daar onder die boom praat ons oor elke persoon se roeping en hoe die Here vir elkeen 'n werkie het om te doen. Ek vra to die ouderling uit oor sy lewe en in die proses hoor ek dat hy voel die Here roep hom om mense te help wat gepla word deur drome en slegte geeste. Hy bevestig toe teen die einde dat dit die rede is waarom hy in daardie area is.
By 'n ander huis vind ons 'n vrou wie se man haar gelos het en sy het 'n besigheidjie op die mark om vir vier kinders te sorg. Sy vind toe uit dat sy die gawe gekry het om met kinders te werk. Op die vraag of sy nie vir meer as haar eie kinders kan help nie is sy toe baie positief. Sy het onmiddelik oopgemaak en gevoel dit is haar deel van kerkwees. Sy sal kinders kan begelei in talle geestelike waardes en wanneer hulle deur puberteit gaan ens. Sy sal vir hulle mama wees, want baie het nie 'n regte voorbeeld van waaroor die lewe gaan nie.
By 'n ander huis was ek reeds voorheen saam met ds Ualize. Dit was die man wat nie kon bid nie en hoe hy vertel het van die droom oor die man wat onregverdig dood gemaak is en toe weer opgestaan het. Eers 10 jaar later het hy by 'n sendeling gehoor dat die man Jesus is. Vandag het hy vir ons van baie meer baie interesante drome vertel. Ons probeer hom toe help om te bid deur hom reeltjie vir reeltjie voor te se. Skielik trek hy toe los en praat met die Here soos hy nog nooit in sy lewe kon doen nie. Toe hy amen se is ons al drie op die been en word daar gedans dat die stof so staan.
By 'n ander kerkie praat ons met 'n ouderling wat kla dat die mans nie meer kerk toe kom nie. Hulle is besigheidsmense wat Sondae ook funksioneer. Ons kon toe lank gesels daaroor dat God dalk wil he ons moet na die besigheidsmense toe gaan en nie probeer om hulle in die kerk te kry op Sondag nie. Ineresant genoeg het dit baie byval gevind. Daar is ernstig gesels oor die nodigheid om uit te beweeg na die besigheidsmense en hulle te leer ken. Ons moet hulle behoeftes bepaal dat ons vir hulle kan help.
In 'n ander besoek kon ons toe juis dit doen.
Julle moet maar eendag saamkom, want ek kan nie die ervarings heeltemal reg aandoen deur dit so te vertel nie.
Vannaand kom daardie ouderling wat ons eerste besoek het na ons toe en vertel hoe sy vrou al vir hom begin kwalik neem, want hy word orals in die kerk rondgeplaas. Hy het net altyd vir haar belowe dat daar iewers in die toekoms 'n geheim is wat die Here vir hom wil gee. Gister toe hy ontdek dat hy geroep is om mense met slegte geeste te help, het hy en sy vrou geweet dat die Here nou die geheim aan hulle geopenbaar het. Dit is wat hulle moet doen en skielik is sy vrou ook saam met hom in die bediening. Hy het blykbaar die hele nag kort kort wakker geword en daaroor gele en dink. Dit is duidelik vir hom dat hy nou sy doel ontdek het.

Geestelike konferensie tydens Tumbine sinode se sitting

Dr Chatha Msangaambe is gevra deur die KGA om te help met 'n geestelike konferensie tydens die Tumbine sinode se sinodale vergadering.
Kom ons kyk gou wie sit op die harde bankies van die kerk en luister na die man. Dit is mense van verskillende gemeentes wat oor 'n gebied van 'n 1000km in deursnee lê. Daar sit dominees wat te voet meer as tien kerkies moet bedien en dikwels tot 80km ver moet loop om by hulle kerkies te kom. Hulle werk in gemeenskappe waar dit krities is vir oorlewing om deel van die gemeenskap te wees. Die gemeenskappe funksioneer egter op grond van tradisionele denke en gebruike wat nie in ooreenstemming is met die boodskap wat hulle moet verkondig nie. Die boodskap word dikwels in konflik van mense oorgedra en maak dat die bedienaars van die woord, ouderlinge en lidmate in kluis, dikwels geweldige uitdagings het en dikwels moet stry met verhoudings. In kort is dit 'n kerk wat swaar kry en nie is waar hulle wil wees nie. Toe die vergaderings begin is daar baie eerlik gepraat oor die seer. Hulle is nie die kerk wat hulle moet wees nie en hulle wil die Here vertrou om meer so te word.

Dr Chatha gebruik die boek van Jona as basis.
Ek noem so 'n paar goed wat ek kan onthou.
God stuur vir Jona na 'n plek wat hy nie ken nie waar hy geen belange persoonlik het nie. As die Here jou stuur, dan is dit dikwels nie waar jy wou wees nie.
Die Here gee hom nie die finansies daarvoor nie, hy moes op sy eie kostes gaan.
Hy erken sy fout op die see en ons praat oor die erkenning van ons foute.
In die vis leer ons van gebed en God se teenwoordigheid. Oorgawe en verandering van ons wil.
Hy verwys ook na Dawid en Goliat en hoe almal bang was en onseker en kyk net na dit wat die mens se oog kan sien. 'n Reus met groot wapens en baie krag. Dawid het egter 'n visie op God want die leeu en die beer was sy verwysing. Daar het God hom gehelp. Dawid tree op uit die realiteit van God.

Met afsluiting hier het die moderator Antonio Ualize voor almal op sy kniee gegaan en gevra dat ons oor die belangrike visie vir die kerk sal bid. Die gebede is opreg en hy sluit af met 'n roerende gebed oor God wat die Kerk op 'n nuwe manier wil gebruik. Hy bid vir 'n gees van gebed en 'n hart vir mense wat God nodig het. Toe hy opstaan vee hy die trane uit sy oë. Dit het almal stil gemaak. Daar is regtig 'n begeerte vir nuwe groei.

11/08/2014

Wanvoeding van kinders in Mosambiek

Dit is erg om te sien dat 43 present van kinders in Mosambiek onder wanvoeding ly. Sien die artikel van AllAfrica.
allAfrica.com: Mozambique: 43 Percent of Children Chronically Malnourished
Ek het nie baie kennis hieroor nie, maar glo dat wanvoeding 'n groot invloed op 'n persoon se ontwikkeling het, veral as dit in die groeitydperk van 'n persoon plaasvind. My logika se vir my dat ingryping hier 'n groot verskil kan maak.
Zambezia provinsie is die provinsie waar ons kontakte met die kerk het.
Wat reeds op die grond gebeur op die gebied is die mediese projek en dan die Anamed projek wat die gebruik van medisinale plante aanmoedig en mense oplei hoe om dit te gebruik. Myns insiens 'n projek met geweldige potensiaal indien dit gekombineer word met mense se medisinale wêreldbleed.
Anamed gebruik die Moringa boom as 'n voedingsbron vir vir wanvoeding. Die boom groei baie goed in Zambezia provinsie en kom selfs wild voor. Dit het al die amino sure en is ryk aan Kalsium, potasium, vitamin c en nog ander. Daar is reeds soveel getuienisse van amper bonatuurlike verbetering in kinders se gesondheid wanneer dit gebruik word vir wanvoede kinders en dit kan so maklik aangeplant word of net geoes word waar dit reeds bestaan.
Is daar nie dalk mense vir wie die Here dalk aanraak oor die uitdaging nie. Ek sal ook help waar ek kan met so 'n inisiatief.

08/08/2014

Die Here gebruik Annlin geref Kerk in Mosambiek

Annlin gemeente ry op uit Pretoria en besoek eerste die gebedshuis Niquide, waar hulle beplan om 'n kerkie te bou.
Die gemeente het reeds 'n verhouding met die gebedshuis gebou en besoek hulle om verhoudings te versterk en hulle aan te moedig. Hulle begin die kerkie bou en kom agter dat die mense baie min bou agtergrond het en dus gaan dit nie oor die bou van die kerkie nie, maar die ontwikkeling van mense en hulle leiers. Die Here gee ons geduld om nie net 'n taak te gaan klaarmaak nie, maar om die proses te gebruik in die ontwikkeling van mense. Klein oorwinningtjies raak baie belangrik en ons sien Hom werk.
Die dominee se seun kom saam en sy teenwoordigheid help baie om kinders te bereik.
Annlin bou verhoudinge met evangeliste en jeugwerkers in Mocuba en hier staan Elisa baie trots met haar opleidings sertifikaat in kinderwerk.
Die span word deel van mense se lewens, moet maar hulle opofferings ook maak!
Ek kom by en my bagasie word bo-op gepak!
Kos word gedeel en ons leer met hande allerhande lokale kosse te eet.
Ons beweeg saam met Gile se dominee rond en besoek plekke wat vir hom soms drie dae te voet vat om te besoek.
Die opleiding waarmee die span help is basiese evangelie en dan spesifieke versoeke soos familieverhoudings ens.

Die groot waarde gebeur met besoeke aan afgeleë gebiede en hoe dit die mense aanmoedig en so ook die dominee bemoedig. Hy werk onder geweldig groot druk, want dit is nie maklik om die Bybelse koninkryk te vestig in 'n tradisionele gemeenskap nie. Hy getuig ook daarvan dat die span hom in so 'n mate gemotiveer het dat hy weer nuwe planne begin maak het.
Die span kom by huise uit, bid vir siekes en leer baie van die lewe in Mosambiek. Daar word ook siekes gehelp om by hospitaal uit te kom.
Maganga die teologiese student beweeg saam met ons as tolk, maar ook as leermeester vir die kultuur. Hy is baie oop en leef Jesus se liefde.
Die dominee en sy familie speel 'n groot rol in die Here se werk en ons kuier lank by hom en hoor al sy ongelooflike uitdagings en ons bid en pleit saam met hom vir die mense van Gile. Bid saam vir hom sy vrou en 5 kinders. Estévao Philima

Ons sal nog lank waardering hê daarvoor om 'n kraan oop te kan maak en daar kom water uit wat jy kan drink!
Aan God die eer vir 'n betekenisvolle saamwees in Mosambiek

God se storie deur Lenie

Ek wens ek kon Lenie se storie meer volledig onthou! Aangesien ons saam werk sal ek wel meer hoor.

Op Mooiberg besoek ek die besonderse plaasbediening waar die Here die Familie kerk gebruik.


Twee weke voor die diens gesels ek met Lenie. Sy is 'n vrou wat jy kan sien 'n leier gaan word in die toekoms. Ek daag haar toe uit om dit wat sy geleer het met ander te deel. Haar reaksie was dat die Here al lankal besig is om met haar te praat daaroor.
Die Sondag staan Lenie (meisie soos die ander haar noem) op en begin haar storie te vertel.
Sy vertel van haar ouers wat gedrink het en hoe sy onder haar pa swaar gekry het. Haar ma het haar soms probeer beskerm, maar sy het ook gedrink. Sy moes van jongs af werk en het nooit skool toe gegaan nie. Sy trou toe ook met 'n man wat drink en haar lewe baie moeilik maak. Sy hanteer die situasie, maar as hy haar dogter seermaak, dan het dit haar gebreek. Sy kon haar nie bekerm nie. Haar dogter sit saam met ons in die diens. Lenie het tot bekering gekom en wou vreeslik graag weet wat in die Bybel staan, maar sy kon nie lees nie. Daardie boek was vir haar ontoeganklik. Haar begeerte om te leer was so groot dat sy in die oggende van die plaas af gesluip het en tussen die graad eentjies gaan sit het in die skool om te leer lees. Sy is nou 54 jaar oud en sy is vol vreugde. Haar man is besig om te verander en sy kan nou lees. Sy lees toe Psalm 23 vir almal voor en die trane in die vertrek kon nie terug gehou word nie. Sy getuig dat die Here haar gered het en sy gee alle eer aan Hom.

Aan die een kant van die vertrek sit Bok met 'n tamboeryn in die hand. Hy speel met groot vreugde saam as daar gesing word. Hy is nie heeltemal nugter nie, maar hy mis nie 'n Sondag om daar te wees nie. Niemand veroordeel hom nie, hy word aanvaar.
Voor die diens arriveer ek vroeg en stap na die huisies onder die kerk waar 'n gerookte afdak met vuurtjie die bymekaarkom plek is. Daar word gedrink en gekuier en gesels. Ek kuier daar vir 'n halfuur in die rook en Bok vertel my onder andere dat die ouens wat die kanne wyn verkoop dit teen R50 'n kan verkoop, maar as jy kontant betaal moet jy R60 betaal. Hy verkies dat jy skuld maak.

Iewers spreek hierdie kerk storie vir Bok aan!

As iemand die bedieninge wil beleef, kontak my en ry dan een Sondag saam soontoe. Dit is 5km buite Brackenfell.

Wêreld van Mosambiekse dominee

(Ter wille van vertroulikheid, is die persone in die foto's nie dieselfde as die persone waaroor ek skryf nie. Ek kombineer ook soms ervaringe.)

Verhoudings is geweldig belangrik om in Mosambiek te kan oorleef. Om sleg gesê te word of beledig te word, is om dood gemaak te word. Jou lewe hang af van jou verhoudings. Aan die ander kant bring God se koninkryk jou in konflik met jou gemeenskap.
"Ek is gestuur na die gemeenskap en ek weet God het my hierheen geroep" sê 'n dominee vir wie ek bewonder. "Die mense hier behoort al lank aan die kerk, maar weens afstand, was hier nog nooit 'n permanente dominee nie. Die dominees wat hier gekom het, was op kort besoeke en het nie werklike verhoudinge gebou met die gemeenskap nie. Nou begin ek verhoudinge bou en ontdek dat daar baie gebruike is wat uit 'n tradisionele geloofs tradisies voorkom. Mense hou bv groot seremonies drie dae na 'n begrafnis waar offers vir voorvaders gegee word. Ek kan nie net inspring en vir hulle vertel hulle is verkeerd nie, want die gebruike gaan saam met diep oortuiginge en emosies. Volgens die tradisies, mag die gebruike nie verander word nie. Indien jy dit verander dan versteur jy die verhoudinge met die geesteswêreld en veroorsaak dit konflik en dood. Mense is dus vreeslik bang om aan die gebruike te verander. Die een wat wel teen die gebruike optree, is dan ook die oorsaak van dood, pyn en alles wat negatief is. Hy staan dan teen die gemeenskap en is sleg. Om in die gemeenskap te kan werk, moet ek mense se vertroue wen en deel word van die gemeenskap. Aan die ander kant is mense mislei en moet gehelp en bevry word deur Christus. Om te vinnig die gebruike te probeer verander, gaan ek die mense en die verhoudinge verloor, wat sal maak dat ek nie hier sal kan werk nie. Die strategie wat die Here vir my gee is om verhoudinge as breekbaar te hanteer en die Bybelse lering te gee. Oor tyd glo ek die Heilige Gees sal verstande verlig om te sien wat is waar en dan kan mense begin om van hulle kant af besluite te neem."

 
Hy vertel verder: "Voor ek hier aangekom het, was 'n ouderling in beheer van die gemeenskap. Hy is familie van hulle en het 'n vertrouensverhouding van sy geboorte af en vanuit 'n geestelike tradisie met mense. Hy het wonderlike inisiatiewe geneem, maar het ook sekere tradisionele gebruike bly aanhang. Hy en sy familie het sterk leiers geword. As ek nou as leier by hom gaan oorvat, gaan hy seerkry en kan hy negatief optree. Dit is baie maklik vir hom om my uit te werk, want hy het die gemeenskap aan sy kant. Ek moet dus met baie wysheid optree sodat hy met tyd sy posisie in die gemeente kan vind nadat ek op die toneel verskyn het. Ek is die een wat sakramente kan bedien en hy kan nie. My koms gaan sy posisie ernstig raak veral as mense begin ontdek dat die tradisionele gebruike wat hy aanhang vervang moet word met 'n lewe uit die geloof in die ware God. Die Here help my met stategie"
'n Dominee vertel ook: "Die verhoudinge met ouderlinge is belangrik. Die werk van die Here geskied deur my verhouding met hulle. Die verhouding maak of breek die werk. Ek moet 'n area met amper tien kerkies bedien en die afstand wat ek met voet moet aflê is soms naby 'n 100km. Om dit te doen moet mens twee nagte langs die pad oorslaap. Soms by mense wat ek ken, maar andersins iewers langs die pad. Soms is daar vervoer moontlikhede, maar dikwels is dit maar te voet. Daar is twee uitdagings in die gemeente. Mense het uit die geskiedenis nog nooit geleer om met die buur kerkies van dieselfde gemeente saam te werk nie. Mense besoek net eenvoudig nie ander kerkies nie. Ek kan dus nie mense saam roep na een plek en verwag om 'n gesamentlike byeenkoms te hou nie. Verder kom mense nie vir opleiding nie. Verlede maand het ek 86km ver geloop vir opleiding, dit het my drie dae se stap geneem. Ek sukkel self met ongesteldhede en sukkel om die krag te hê vir die afstande, maar die Here kry my daar. Daar aangekom, is daar niemand nie. Ek wag maar drie dae, maak 'n ander afspraak en stap dan terug. Die ouderlinge belowe om my taxi geld te betaal as ek geld leen. Ek leen dus geld en ry met die taxi weer soontoe. Daar aangekom is daar weer niemand. Ek moes toe maar weer terug stap. Ek was baie moedeloos, maar besoekers uit RSA het my in so mate aangemoedig dat ek weer moed geskep het en weer strategieë kon beplan oor wat my volgende optredes sal wees. Ek gaan nou weer by al die kerkies om stap en die sake met hulle deurpraat."
In nog 'n gesprek vertel die dominee: "Ons as dominees moet gemeenskappe help om vir mekaar om te gee en mekaar te help. Baie word siek en verhoudings kry seer en dit is geleenthede vir ons om vir mense by Jesus as die eienaar van verhoudings te gaan aanklop en te help. Waar ek kan, ry ek mense met my motorfietsie aan hospitaal toe, bid vir mense en huil saam met mense wat met die dood en siektes gekonfronteer word. Hier gaan dit veral daaroor dat sommige uitgewerp word uit die samelewing. Ek moet dikwels die een wat uigewerp word gaan help, maar daar loop jy die risiko om saam uitgegooi te word. Dit is nie lekker nie. Ons is dikwels nog steeds kleingelowig en bang vir uitwerping. Ons word ook siek en het die gemeenskap nodig om ons te help anders gaan ons dood. Ons is afhanklik van ons gemeenskap en ons is dikwels buite bereik van ons eie familie af. Die lidmate moet ons help met kos, klere en huis, maar omdat ons verhoudinge het met mense in RSA dink mense ons is skat ryk en het geen behoeftes en materiële hulp nodig nie. Vriende help mos mekaar en ons het mos ryk vriende. Dit is baie moeilik om mense se respek te behou, maar ook vir hulle te laat verstaan dat ons soms geen hulp kry nie. Dit gaan nog lank vat. Soms sit ons met die mielies uit ons eie landery, maar het ons nie geld om dit te maal nie."
Die vrouens van dominees kry baie swaar. Die lewe is moeilik met water wat aangedra moet word, klere en skottelgoed wat met hand gewas word, baie swak mediese hulp, nie gebalanseerd kan eet nie, ver te wees van familie, in 'n ander kultuur en taal te leef, ens. Sielkundiges het bewys dat om in 'n ander taal en kultuur te funksioneer drie keer groter spanning veroorsaak as 'n maksimum hanteerbare spanning. Ek weet van 'n vrou van 'n dominee wat hulle nou al drie keer in die kasava landery gekry is met 'n mes omdat sy selfmoord wil pleeg.

Ten spyte van soveel uitdagings word ek elke keer aangemoedig deur deursettingsvermoeë wat die Here vir mense bonatuurlik gee.

30/06/2014

Uitdagings van die Mosambiekse dominee in die platteland

In 'n gesprek met 'n dominee op die platteland kom die volgende na vore(Ek vul ook verder aan uit ander gesprekke):

Daar is plekke waar mense kerk hou sonder dat daar baie Bybelse opleiding bestaan. Die kerk bestaan dus en daar is baie entoesiastiese lidmate, maar hulle hang ook talle tradisies aan. Veral by plekke soos begrafnisse is daar rituele wat na drie dae gebeur en van die gerekende sterk christene in die gemeente neem daaraan deel en leer ook die ander lidmate om dit te doen. Dit gebeur ook telkens dat die kerk gekonfronteer word met mense wat vreesagtig raak wanneer daar siektes en ander uitdagings is. Dikwels word daar dus terug gegryp na traditionele medisyne. Hierdie tradisies kom oor baie geslagte en word nie sommer net verander nie. Dit maak dat jy as dominee inkom in 'n situasie waar jy nie inpas nie. Aan die een kant die mense hulle gebruike en dan aan die ander kant die koninkryk wat anders lyk.
Die tweede uitdaging is dat baie kerkies reeds bestaande leierskap het wat vir jare aangepas is om aanvaarbaar te wees vir die mense. Dikwels is dit hierdie leierskap wat sekere nie-bybelse gebruike voorstaan en leer. Nou kom die nuwe jong dominee in en is onmiddelik in 'n baie sensitiewe situasie. Hy wil nie die mense verloor nie, maar hy kan ook nie die gebruike goedkeur nie. Baie keer as die dominee min ondervinding het word die proses verkeerd begin en as die aanvaarding verloor is, dan kry die dominee regtig swaar. Hy is veronderstel om deur die mense onderhou te word en nou werk die verhouding nie. Sulke verhoudings word baie moeilik weer herstel. Ander dominees begin nou eers meer wysheid opbou en benader die proses met baie meer ervaring. Die proses van verandering gebeur dikwels nog stadig, maar die mense word nie verloor nie. (onsensitiewe besoekers kan dikwels die proses skade berokken). Die dominee word nou bo die ouderling aangestel wat daar was en kry soms hulp van buite wat die ouderling nie gekry het nie. Dit is goed wat hulle verhouding baie keer in die wiele ry. Dikwels kom mense vir opleiding, want hulle het die verwagting dat as hy bv as 'n sondagskool onderwyser 'n sertifikaat het, dan gaan hy betaal word vir die werk wat hy gaan doen. Hy is baie entoesiasties en doen vreeslik goed, maar as die betaling op die ou end nie kom nie, dan verdwyn die onderwyser ook.
Ek kom by 'n dominee in sy gemeente en nie lank nie en ontstelde gemeentelede vertel my van die dominee se vrou wat vreeslik kwaad is vir hom. In die spesifieke geval het die vrou al twee keer probeer om selfmoord te pleeg en kan mens agterkom sy is in 'n ernstige depressie waar sy nie sonder hulp sal kan uitkom nie. Ek is nie veronderstel om iets daarvan te weet nie en kan dus niks doen nie. Hoop om vorentoe die gaping te kan skep om te kan help. Kan jy jouself nou indink dat as jy in die druk situasie is en jou gesinslewe is ook onder druk. Jou vrou wil wegloop na haar ma toe en die kinders kry swaar. Meer as die helfde van die dominees sukkel met huweliksprobleme.
Dit maak dit vir my baie duidelik dat die jeugwerk in Mosambiek hierdie twee aspekte ook in ag moet neem. Een is traditionele gebruike, die verstaan daarvan en 'n Bybelse alternatief wat geloofwaardig en aanvaarbaar is. Tweedens verhoudingings waarvan die huwelik die basis menslike verhouding word.

Die derde aspek het ek nie nou oor gepraat nie, maar dit is dat daar 'n atmosfeer van dissipelskap sal wees wat verstaan en geleef word.  

Strand mosambiek besoek vir jeugwerk

Die span(Danie, Elbie, Bernadette en Dirkie) word uitgestuur vanuit die Gereformeerde Kerk Strand. Ons word gestuur om Magodane, Mocuba en Lugela IRM kerk by te staan in opleiding van jeuleiers.

Ons land in Blantyre en moet alles in Kobus Eksteen se bakkie inpas. Hy en Nana het ons kom haal.

Ek en Kobus moes agter inpas saam met die bagasie

15 Junie
Ons geniet middagete langs die pad op pad na Mocuba

Wat 'n voorreg om die hereniging van die familie saam te kon beleef na 'n jaar se skeiding. Hoe nader ons aan Mocuba gekom het, hoe haastiger het Bernadette geraak. Dit was diep belewenisse. Interessant, Ek het haar kom haal en ek het haar terug gebring. Feliz het spesiaal vir my kom dankie se!

14 Junie '14
Ons moes baie aankope doen en die gewone winkeltjies was toe oor die naweek. Ons moes alles op die mark doen. Hier word uie geweeg.

15 Junie '14
Ons ry na Magodane en laai daar die dominee en ander op. Maak bagasie op die dak vas en ry deur na die dorp Maganja da Costa. Hier is 'n proses van kerkplanting besig en gee ons 'n baie goeie belewenis van die plaaslike belewenis van geloof. Met baie uitdagings, is die saam wees die belangrikste. Saam eet, speel, werk, ens.

16 Junie '14
Alles van die geloof is hier nog baie nuut. Die fasiliteerders wys baie persoonlike groei in hulle aanbieding om vir mense te laat verstaan hoe belangrik kinders vir die Here is en ons verantwoordelikheid om hulle op die pad te begelei.
Vir die nuwe geloofsgemeenskap was die besoek geweldig belangrik. Al sou ons niks gedoen het nie, was ons besoek die moeite werd.

17 Junie '14
Die oggend word gebruik vir verdere opleiding in die beginstadium van hoe om Sondagskool aan te bied. Voete word gewas en ons doen ook huisbesoek. Die ou weduwee wat ons besoek bring sommer trane na die oe.
Felizardo sal later terug kom en die werk verder begelei.

Benjamin en nog 'n ouderling het nog nooit die see gesien nie en ons ry in see toe om vir hulle te wys. Die pad is maar stadig en hier moes ons deur diep waters om daar uit te kom.

Die see word werklik bewonder en die opgewondenheid loop hoog. Daar word ook vis gekoop vir 'n vale.

Die span koop 'n groot vis en die baas prons wat die volgende dag geeet is.

18 Junie '14
Hier word fasiliteerders wat verlede jaar opgelei is asook 'n hele paar nuwe fasiliteerders opgelei. Die waarde daarvan is onmeetbaar kosbaar.

18 Jun '14
Deel van die opleiding is om te kan dien en ook kinders te dien. Voete was deur die fasiliteerders is die praktiese ullistrasie. Alle lesse word al meer met sulke praktiese toepassings geillustreer.

19 Jun '14
Ons besoek die twee buite gebedshuise van Mocuba sending gebied. Hulle staan so bekend omdat Mocuba nog nie 'n gemeente is nie. Hulle funksioneer nou weens die afstand apart van Magodane gemeente. Hier is Erua se kerkie wat in Sept '13 gebou is. Verlede jaar het ons in die oopte daar besoek afgele.

Hier word die nuwe plakaat tydens die besoek aan die mense verduidelik in die nuwe kerkie. Kyk net die netjiese dak.

Die middag besoek ons Muraba en doen ons praktiese sondagskool werk en ander gesprekke word gevoer voor die Jesus film.

21 Junie '14
Die Saterdag was hier in Mocuba die seminaar aangebied, maar met 'n nuwe styl van deelname. Daar is 'n paar oulike jeuglede wat baie lekker saam dink en praat en ek help die fasiliteerders om dit vrugtevol te gebruik. Dit veroorsaak dat ons 'n paar persoonlike baie eerlike getuienisse hoor en saam dink oor 'n dorp wat vir Christus gewen moet word. Daar groei 'n verstaan om as fasiliteerder die tussen persone te wees tussen God en die jeug van die dorp.

Sondag 22 Jun '14
Ons hou erediens en daar word veral ingeoefen om na die Here te luister en met mekaar te deel oor wat ons hoor. Sy roeping word so al hoe duideliker vir die groepie gelowiges in die baie strategiese dorp met al sy uitdagings. Na die diens gesels ek en ds Teixeira ook lank oor die bouprojek en wat alles daar gebeur het en moet gebeur.

23 Jun '14
Ons arriveer die vorige dag in Lugela en word oorweldig deur die ontvangs en liefde van die mense. Hier is ons druk besig met die seminaar.

Kyk net die kos wat ons voorgesit is. Al wat ni ein die foto is nie, was die gebraaide kasava chips wat ek verslind het.

Die seminaar word hier oor twee dae op Lugela aangebied en die Jesus film word in 'n nabygelee gebeds huis gewys.
Hulle het vir ons gras huisies gebou waarbinne ons ons tente kon opslaan!

Ds Ualize leer ons ken as 'n baie wyse man en hier verduidelik hy 'n paar aspekte aan die fasiliteerders.

25 Jun '14
Ons ry 'n bospaadjie na Lipembe gebeds huis vir die dag.

In Lipembe word baie met kinders gespeel en die prakties en verdere gesprekke is baie waardevol. Daar word veral baie aandagtig na die Jesus film geluister nadat ek gehelp het om die klank baie duidelik te maak.

26 Jun '14
Die dag spandeer ons in Tacuane se lieflike omgewing en mense.

In Tacuane het die prakties baie goed verloop en was daar veral 'n groot vreugde. Dit ten spyte van 'n oortreding wat ons begaan het by die begrafplaas wat mense ontstel het. Die besoek was 'n hoogtepunt. Ons kom agter die geweldige diepte van tradisies en traditionele gebruike waarvolgens mense lewe. 
Ons bid vir siekes en help 'n vrou wat tydens die Jesus film onbeheersd aan die huil gegaan het. Ons voel aan dat iets in die geestelike realm gebeur het.

27 Jun '14
Tydens afskeid word gehoor van dood in die evangelis se familie. Ten spyte daarvan word ons met geskenke oorlaai soos die foto wys. Lappe, kos ens. 
Ds. Ualize vertel van ons van die gemeenskap se uitdagings en ek deel dit later op my blog.

28 Jun '14
Op pad terug dink ons oor die paar dae se paadjie wat ons vir 'n oomblik hand aan hand met ons broers en susters in Mosambiek geloop het. Mag ons weer kom en mag ons elke keer Sy stem hierin duideliker hoor. 
Hy het die uitreik weer mildelik in Sy koninkryk gebruik. Ons sien maar net tekens van die onsigbare werk in harte, maar die tekens oortuig ons dat die uitreik vir baie 'n Goddelike ontmoeting was. Sy naam ter eer.
























2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...