Dit is lekker warm en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete. Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie. Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel, alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE |
Leslie was 'n groot uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na 'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het “toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek. Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek het dieselfde goed as hulle dominee gesêen nou weet hy dit is waar. Ek lêook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief te hê en te help anders is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses. Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting gekry het.
Dit bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first of many to come!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking