Vergadering in Milange evangelisasie huis |
Die laaste paar dae hier in Mosambiek het ek
die voorreg gehad om die sinodale kommissie vergadering van die Tumbine sinode
by te woon en het ek gehelp om drie dominees te skuif na hulle nuwe gemeentes. Dit
is intense kulturele ervarings waar ek as ‘n materialistiese Westerling
gekonfronteer word met ‘n lewe so anders as my eie. Alhoewel ek reeds 28 jaar betrokke
is in Mosambiek, bly daar altyd gedeeltes wat ongemaklik bly vir mens se ou
natuur of vir dit waaraan jy gewoond geraak het. Mens wil mos altyd neig na wat
gemaklik is. Dit is egter net die een kant van die storie, soms is daar dit wat
mens diep raak wanneer jy iets raaksien wat baie mooi en Bybels is. Ek dink
soms dat ek al baie geleer het, maar dan gebeur daar dinge wat jou laat besef
hoe min jy weet.
In die vergadering van 2 volle dae, oggend tot
11nm, het ons net vir etes gebreek. Tydens die vergadering was daar ‘n man wat ‘n
dominee was, maar uit sy eie besluit het dat dit nie vir hom is nie. Hy is ‘n
moeilike man en het moeilik oor die weg gekom met die besluite van ander. Dit
was reeds 10 jaar gelede. Nou wil hy graag ‘n brief hê van die kerk vir sy
weggaan. Hulle gee hom toe die geleentheid om sy saak voor die vergadering te
stel en hy vertel sy storie vir maklik 45 minute. Die manier klink vir my baie
vreemd, want aan die een kant noem hy dat hulle sy vriende is, maar aan die
ander kant verontskuldig hy homself die heel tyd en dit klink soos beskuldiging
van die kerk. Daarna word hy uitgestuur en word die vergadering die geleentheid
gegee om hulle menings te gee. Elkeen wat wil kry ‘n kans. Hiertydens probeer
die vergadering bepaal wat is die agenda agter dit wat gesê is. Een ouderling
staan op en volgens sy mening wil die man vreeslik graag terug kom na die kerk toe.
Hy besef dat hy foute gemaak het deur die kerk te verlaat en sy eie kerk te begin
en voel nou baie skaam daaroor. Tog kry hy dit nie reg om te erken dat hy ‘n
fout gemaak het nie. Hy is net te trotse mens daarvoor. So die ouderling reken
dat ons sy gesprek as ‘n erkenning van fout moet interpreteer en hom weer ‘n
kans gee. Hy is nie ongemaklik oor die beskuldigings nie, want hy luister na
die man se hart. Alhoewel die voorstel nie aanvaar is nie, was dit vir my ‘n
voorbeeld van hoe vergaderings funksioneer. Ek kan nie met my denkwyse hierdie
vergaderings benader nie, dit gaan net nie werk nie en bring net weer die
onaanpasbaarheid van kulture na vore en bring skeiding en oneffektiewe funksionering.
As ek egter ongemak omhels en deel word van hierdie benadering bring dit op die
ou end ‘n baie unieke verhouding, want hulle beleef mens wees soos hulle dit
ken. Na die verhouding gevestig is, kan daar eers begin word met ‘n
konfrontering met die Bybelse boodskap.
Die Bybelse
boodskap bly ‘n boodskap wat na alle kante toe Westers en Animisties, bevestig,
maar ook seer maak en transformeer. Die Bybelse boodskap ken ons as ‘n
ongemaklike boodskap met wonderlike resultate. Dit is nie God wat moet verander
nie, maar ons.
Ek deel graag nog ‘n ervaring van dieselfde
beginsel om te word soos die mense wat jy lief het, met die doel om ‘n nuwe lewe
van Christus met hulle te deel.
Ek word gevra om ‘n dominee en sy familie in Chimuavi gemeente te gaan haal en na Marongane gemeente te neem. Dit is ‘n slegte paadjie deur die bos en deur riviere waarvan die brûe weg gespoel het met die laaste sikloon. Ons kry toe stort reën, maar dit eers daar gelaat. Daarna vat ons weer daardie dominee na Calane wat ook ‘n klein bospaadjie oor riviere en berge is. Daardie dominee moes ek weer vat na Pebane. Nou laai ‘n dubbel kajuit bakkie met ‘n dominee se hele huisraad, veral as hy klomp sakke mielies het. Die mielies is baie belangrik, want dit is sy gesin se kos vir die jaar. Verder moet die gesin saam inklim. Ag daar is net soveel uitdagings.
Foto sê genoeg |
Een van die riviere waar mens moet deur |
Nog 'n riviertjie waar ek die pad verloor het en 200m in die rivier af gery het. |
In die proses word mens gekonfronteer met jou Westerse
idee om jou voertuig te beskerm en die nood van mense. Die balanse is nooit
maklik. Aan die een kant is die hart van die saak om mense te bereik en aan die
ander kant kan mens nie jou bakkie breek nie. Die besluite en aanvoeling vir
die voertuig is nie by die mense nie, maar is by jou. Voeg daarby dat bv die
een dominee goed doen en 13 sakke mielies het en baie meer huisraad. Na
beraadslaging met sinodale leiers ens is besluit dat die hele program, ook die opleiding
wat hierna kom aangepas moet word. Ek moet ‘n ekstra dag spandeer en die
dominee help van sy bagasie na sy familie aan te ry, dan terug te gaan en dit
te laai wat saam na die ver gemeente in Pebane gaan. Die dominee vertel my dat
sy familie in Ile is en so vertrek ons. Hy sê nie dat dit 40km anderkant die
dorp Ile is nie. Belangrike inligting word net nie gegee nie, en ek dink toe
nie dat ek moet vra nie. Ek behoort eintlik te vra, want ek weet mos. By sy
familie is daar ‘n taal misverstand en dink hulle ek wil met sy ma trou en sy
verduidelik dat sy klaar getroud is, maar vir my iemand sal kry wat nie getroud
is nie. Nou lag ons eers lekker oor die misverstand.
Met misverstande en besluite wat heeltemal
dwars teen jou Westerse denkwyse ingaan, is die proses definitief nie gemaklik
nie. In die proses waar die woorde van Paulus as antwoord na jou kom as jy met
die Here praat, druk jy aan en daar gebeur ‘n mooi ding. Die wêreld van die
mense gaan vir jou oop en saam met dit jou gesindheid en saam met dit word
mense lief vir jou. Ek staan verstom oor hoe dankbaar mense raak. Hier is so
paar voorbeelde daarvan.
By die een gemeente huil die dominee se vrou buite
beheer weens die familie en mense van 6 jaar wat sy moet verlaat. Emosies
ontmoet mekaar en ek huil amper saam en kan selfs met ‘n dreigende storm wat
kom op ‘n sleg paadjie tyd maak vir haar om dit te verwerk.
In ‘n ander geval moes ons in 40 grade omstandighede
die hele dag met ‘n oorlaaide vrag ry, oggend tot aand. Dit is so warm dat 6
van hulle hoenders agter in die bakkie vrek. Dit raak toe die dominee se vrou
so, dat sy in al haar eie emosies van weg gaan en in ‘n vreemde plek nuwe mense
moet leer ken, uit haar pad gaan om vir my te sorg. Die moeite wat sy gedoen
het om vir my kos te gee en ‘n sakkie eiers om saam te vat raak mens.
Die laaste dag van die trekkery, ry ‘n man
saam terug na Mocuba. Ons gesels op ‘n vlak wat lyk asof hy geen onderskeid
tussen ons sien nie. Dit was vir my vreemd maar goed. Later in die gesprek kom
ek agter hy praat met my oor wit mense, want hy dink toe nie ek is ‘n wit mens
nie. Ek praat natuurlik saam, want dit is vir my ‘n groot kompliment. In al die
uitdagings, myne baie minder as hulle sin, het ons op so ‘n vlak geëindig. Ons
is nie hier betrokke net om mense te help om Jesus te ontmoet nie, maar oor ‘n
hele lewe saam met Jesus vir mekaar te leer. Dit is lang termyn en daarom kan mens
nie net kort termyn betrokke wees nie.
Die ander ervaring wat ek graag deel is met
die oorhandiging van die een predikants paar. Omdat daar nie plek was vir die
sinodale verteenwoordiger om saam te ry nie, moes ek die sinode ook
verteenwoordig. Ons gesels toe oor die werk van die gemeente en hoe die ds en
sy gesin met die gemeenskap moet hande vat. Diens wat veroorsaak dat daar geen
mag of trots op die spel is nie, maar die behoeftes van die gemeenskap. Dit
maak dat deure van huise oop gaan en dan later ook harte van mense. Dan begin
mense te vra oor geloof en dan is mense gereed om nie net te hoor nie, maar te
luister. Teen die einde kniel die dominee en sy vrou en die vrouens kom lê
hande op die vrou en die mans op die dominee en dan bid ons almal saam. Ek weet
nie hoekom dit vir my so besonders was nie, dalk omdat dit so ‘n oud Bybelse
gebruik was.
Lekker om dit goed met mense te deel wat graag
deel wil wees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking