Volgers

17/03/2023

Stiltetyd Matt 15 Tradisie genade en potensiaal

 Matt 15

Vers 1-9 gaan oor die tradisie teenoor ‘n verhouding of hart. Vereer die Here met lippe terwyl die hart ver van Hom is. Dan is hulle verering tevergeefs.

Dit is dus baie gevaarlik om die Here te vereer sonder dat jou hart naby Hom is. 

Hier kan jy dus die tradisie oortree en steeds ‘n hart vir God hê. 

Jesus wys daarop dat verering twv tradisie wel op die ou end afdwaal van die verhoudings soos God dit bepaal. 

So kan mens dus goeie goed soos die 10 gebooie onderhou met steeds ‘n hart wat ver van God is en dit is dan baie gevaarlik. 

Baie vinnig word ‘n godsdiens met ‘n hart wat ver van God is omgedraai in menslike leerstellinge want die regte basis is nie daar nie. Beskuldigings kom dus nou baie vinnig na vore soos die fariseers wat Jesus en die dissipels aanpraat. Jou manier van doen word jou fondasie vir jou hart, as jou hart nie naby God is nie. 

Die goeie gewoonte om hande te was, word nou die handvatsel vir godsdienstige lewe en dus handvatsel vir Godsdiens en dus Godsdiens self. Al kan mens siek word daarvan, maak dit nie jou onrein voor God as jy reeds rein is in Christus. 

Wat is die fondasie van my hart? Is dit dit wat ek doen of is dit die nabyheid van God deur Christus. Die genade wat ek ontvang het om naby Hom te wees ten spyte van vuil hande. 

Noudat ek naby God is en dit my fondasie is, kan ek wel my hande was voor ek gaan eet en ander ook so leer. Dit is eers genade en dan doen. 

My hart (vir die nuwe testament was jou hart die simbool van jou denke) is sonder God se nabyheid in Christus vol bose eie belang. 

Jy kan nie self jou gedagtes verander nie. “Gee vir my ‘n rein hart o God” ook dat God die hart van klip moet uithaal en ‘n hart van vlees gee. Of as Romeine sê: Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

Dit gebeur as jou hart naby God is en dit gebeur deur Jesus wat na ons gekom het en die Gees wat later in die Handelinge uitgestort is en in ons kom woon het. Dit verander ons gedagtes. Genade gaan na gedagtes en gedagtes gaan na doen. 

Doen sonder gedagtes en genade bring ons by mooi menslike tradisies wat mooi lyk maar baie vinnig oorgaan in oordeel en dit is misleiding en so mis jy God self. 

Here ek aanvaar weer opnuut die verhouding wat U deur genade in Christus gee. Vergewe my waar ek op dade bou sonder die diep wete in die hart dat U teenwoordigheid deur Christus en die Gees die enigste basis is. Vergewe my oordele oor ander se dade. Vergewe dat ek vashou aan die mooi dinge wat ek doen in my eie lewe.

Die deel wat my aangespreek het was nou juis die volgende stuk oor die kananietiese vrou. Die nie Jood vrou wat om genade smeek. Jesus ignoreer haar en die dissipels wil dat Jesus haar weg stuur. Sy is nie ‘n Jood nie. Jesus verduidelik self dat Hy net gestuur is vir die huis van Israel. 

Sy het aanhou smeek: “Here help my!”

Jesus vergelyk haar met ‘n hondjie en dat die huismense se kos nie vir hondjies gegooi word nie. (onthou dat ‘n hond ‘n onrein dier is). 

Teen ALLE moontlikhede in pleit sy net vir die krummels wat van die tafel afval. 

Nou prys Jesus haar geloof en verhoor haar smeking. 

Die vrou het aanvaar sy is die hondjie en dat sy nie verdien om die kos te kry nie. Sy pleit vir die krummels ter wille van haar dogter. Dit is die realiteit vir haar. Sy is nie ‘n Jood nie en verdien niks.

Dit was die realiteit in die tyd van Jesus voor die kruis! Ek dink nie ons kan dit ontken nie. Onthou Jesus het toe hy die dissipels uitgestuur het hulle ook net gestuur na die Israeliete of Jode. 

Vanuit die oogpunt dink ek ons as nie Jode vandag moet weet dat die genade op ons nog groter was as oor die Jode. Ons verdien nog minder, nie dat enige iemand iets kan verdien nie. Maar ons verdien nog minder as die Jode. Mense… verstaan ons genade?! Dat die kruis ons kinders van Abraham maak! Dat die Heilige Gees op heidene gekom het, waarvan ek een was! Dat iemand soos Paulus deur Jesus self aangestel is na die kruis na die heidene! Na my en jou as nie Jode!



Ek gaan nou nie in op hoe die verkiesing van die Jode deel is van God se plan nie. Ek verstaan dit ook nie alles nie, maar hierdie boodskap het my geraak. Sluit aan by bg. gebed.

Nou word vertel van genesing van baie siekes. Ons verstaan nou dat dit gedoen was aan Jode en baie min aan ander. Die koninkryk kom hierdeur. Verlamdes loop ens. 

Toe ook die tweede vermeerdering van die voedsel na drie dae se honger. Ook hier het Jesus die mense “innig jammer gekry”. 

Die boodskap is ook: Wat het julle? God se wiskunde werk so: Die bietjie wat ek het en deel plus Jesus = Genoeg + 7 mandjies vol wat oorbly. Ons moet dus nie net sit met ‘n gevoel van onvermoë en onkundigheid nie. Die grootste bydraes is dikwels nie materieël nie.

 


16/03/2023

Matt 14 Vrees en versorging

 Johannes die doper se wrede dood.

Die koningshuis het Johannes gehaat want hy het hulle aangespreek. Hulle was versigtig want die volk het Johannes as 'n profeet gesien. Tog gebeur die ontstellende ding, Johannes se kop word vir Herodias se ma gebring. 

Ons word nie gevrywaar van sulke aardse wreedhede ter wille van ons standpunte as gelowiges nie. In party lande meer as ander. Laat my dink aan die seuntjie wat sy verminkte en mishandelde pa in die tronk kom besoek. Hy het dit oorgekom agv sy geloof. Toe die seuntjie sy pa sien, toe sê hy: Pappa ek is so trots op jou. 

Baie goed maak ons bang, maar as jy jou lewe gegee het, maak dit jou vry, want jy kan nie verloor wat jy reeds weg gegee het nie. Maklik gesê, want mens is nie daar nie. Maar dit is tog die rigting om te gaan.

Die stuk het my die meeste aangespreek van die hele hoofstuk. 

Vermeerdering van die brood

Hier hoor Jesus die boodskap van Johannes se dood en gaan na 'n verlate plek. Ek aanvaar om die trauma te verwerk. Die skare volg Hom en ten spyte van eie trauma, doen Jesus 'n paar dinge.

1. Hy klim uit of kan seker sê, hy gaan na die mense. 

2. Hy het hulle gesien. Hierdie sien is volgens my meer as fisies sien. Hy het hulle nood en verdwaaldheid gesien en al hulle behoeftes. 

3. Hy het medelye en en het hulle jammer gekry ten spyte van sy eie trauma.

4. Hy het genees.  Hy sou nie genees as Hy nie medelye gehad het bo sy eie trauma nie. Hy kon op die skare fokus ten spyte van homself. Hy kon ook nie medelye gehad het as Hy nie gesien het nie. Die Gees van God leer ons om dieper en meer te kan sien as wat die menslike oog kan sien. Verder kon Hy nie sien as hy nie uitgeklim of na hulle gegaan het nie. Ons mis dikwels die hele proses van lig bring vir mense net omdat ons nie met hulle te doen het nie. 

Ek raak hopeloos te gou bang en ontsteld as dinge verkeerd gaan en sien dan nie die mense wat in daardie tyd op jou pad kom nie. In eie ontsteltenis sien mens soms makliker nood en lyding raak. Dit is nou as jy nie terug trek nie. Sommige boodskappe kom so sterk en duidelik deur juis daar waar ek swak en ontsteld is. Dit is dus 'n tyd om te kan gebruik. In jou eie stryd om vastigheid en intimiteit te soek as jy dit die nodigste het, help jy ander dikwels die maklikste en sien jy hulle nood ook die duidelikste. 

Nog 'n ding wat vanmore vir my uitstaan is weer die feit dat die dissipels die nood sien van mense wat honger is en Jesus kies om vir hulle die onmoontlike opdrag te gee. "Gee julle vir hulle iets te ete." Wat 'n onmoontlike opdrag. Die dissipels gee toe maar vir Jesus wat hulle het.  5 Brode + 2 vissies + Jesus = genoeg kos vir meer as 5000 mense en 12 mandjies vol kos te veel.

Ek steek nog steeds bietjie vas vir die onmoontlike opdrag. Dit maak my onseker veral tussen 'n provinsie vol mense wat lyding en dood ervaar na 'n sikloon. Toe Jesus hulle jammer gekry het, het Hy hulle genees. Here gee dat ek nooit die menslik onmoontlike maak tot Goddelik onmoontlike nie, want dit is nie. Lei my want ek weet nie. Ek besluit om na mense te gaan met 'n Goddelike verwagting van genesing vir die nood wat U wil genees. Fisiese nood, maar ook dit wat meer oorsaaklik is as dit. 

Hierna het Jesus sy afsonderingstyd gekry. Hy moes die dissipels dwing om weg te vaar sodat Hy Homself kan afsonder. Ek wonder in hoe 'n mate die afsondering met trauma oor Johannes se dood was en dat Hy in medelye met God moes praat oor nie net Sy eie trauma nie, maar die van mense saam met wie Hy lewe. In medelye met dissipels wat ook hieroor trauma sou moes beleef en selfs minder gerat was om dit te verwerk.

Jesus loop op die see.

Die dissipels se vrees was regtig rof. Hulle het geskreeu van angs toe hulle binne die storm die spook op die water gesien het. Wat vir my uitstaan is die omswaai in Petrus. Vanaf vrees na vertroue en waagmoed. Wow! watter transformasie. Gewoonlik laat vrees jou lam en soek jy al wat 'n sekuriteit op om dit te verwerk, maar nee, onmiddelik na die skreeu van vrees, klim hy uit die enigste menslike sekerheid wat hy gehad het naamlik die boot. Besef mens wat die teenwoordigheid van Jesus in ons maak! Ek moet baie hieroor dink, want aan die een kant dink ek dit is wat ek nodig het. Tog aan die ander kant het die Here my swak vrese gebruik om ander te kan verstaan. Die feit bly egter dat vertroue op Jesus so geweldige transformasie moontlik maak waar dit nodig is. 

Vir Petrus was dit ook nodig om herinner te word aan sy kleingelowigheid en twyfel. Veral die woord twyfel praat met my, want ek moet erken dat dit soms deel is van my geloofs lewe. Soms kan ek nie verstaan dat ek getwyfel het nie en ander kere twyfel ek. Soms moet ek misluk en twyfel want dit bring my soms juis nader aan ander twyfelaars. Here dankie dat ek in twyfel en geloof in geloof kan groei en dat U my nie veroordeel nie. 

Hierna, na Sy afsondering het Jesus soveel wonderwerke in Gennesaret gedoen! In al my gesukkel kan ek weer kyk na Hom wat vlees geword het en op 'n fisiese manier kom wys wie Hy vir die wêreld is en ek is deel van daardie wêreld. Tog is ek ook deel van Sy wêreld. 

15/03/2023

stiltetyd Matt 13:44-58 koninkryk gedagtes

Vers 44 spring die gedagte na vore oor 1. Blydskap as jy die koninkryk ontdek. Seker omdat dit die antwoord op alles is. Bevredigend en vervullend soos niks anders kan doen.
2. Verkoop van alles. Soos ek wat Mosambiek toe ry met soveel onsekerhede van ons land en die uitreik self. As ek alles in my hart kon prys gee en alle sekuriteit vind in God, dan sal verliese mos nie my gespanne maak nie. Weg gee van alles kan soveel vryheid bring. Dit is nie dat mens verantwoordelikheid en motivering om te groei prys gee nie, maar dit verander so dat alles Syne is en ek net 'n rentmeester of bestuurder is. Dit verander benaderings tot die lewe heeltemal. 
Here ek klou nog te veel vas en dit maak my nog gespanne. Ek gee weer alles vir U en leer my vertrou. Saam met U is dood gaan sê angel getrek en kom lewe deur die dood. 
Vers 45-46. Hier spring die woord soek na vore. Sonder die Here gaan almal soekende bly, want ware vervulling kom deur die Here. Ongelowiges kom soms weerstandig voor, maar hulle is almal soekend. Die wat die hardste baklei is die naaste aan die koninkryk.
Weer eens verkoop die handelaar ALLES. 
Vers 47-50
Hier staan uit die realiteit van bose en regverdige mense. Die onderskeid wat gemaak gaan word aan voleinding van wêreld.
Die hele wêreld is verlore en op pad na oordeel. Niemand verdien die Hemel en 'n ewige lewe nie. Sommige aanvaar versoening en word amper onregverdiglik gered. (ons weet dit is nie, maar julle weet wat ek bedoel).
Vers 51-53
Die woord wat uitstaan is leerling. Dit klink asof woord kennis nie genoeg is nie. Die kenners wat 'n leerling geword het. Dissipels was nie kenners van geskrifte nie want die meeste was heeltemal ongeletterd. Hulle het egter leerlinge van Jesus (wat ook die Woord is) geword. Dissipel pad en dus leer deur lewe. As mens hierby skrif kennis voeg dan is daar 'n skatkamer wat nie die ou dinge verloor nie en saam met dit nuwe dinge leer. Bly dus vir altyd 'n leerling. 
54-58
Mense van Jesus se dorp kon nie die uitsonderlike in die allerdaagse raaksien nie. Dalk het trots ook 'n rol gespeel. Hoekom hy en nie ons nie? Verder was hulle verwagtinge anders as Jesus se realiteit.
Here gee dat ek u nie in my huis sal mis omdat ek verkeerde goed soek nie. 

14/03/2023

Stiltetyd Matt 13:24-43 Koring en onkruid of Drabok

 Geplant deur God


Matt13:24-43

VALS KORING

Die plant wat genoem word in die Bybel is Drabok en dit is ‘n gras plant wat baie soos koring lyk. Ek glo ek het al die gras gesien en dit maak ook ‘n aar soos koring.

Dit lyk asof Jesus verwys na die hele wêreld vers 38. Sy koninkryk is die hele wêreld met koring en Drabok.  Drabok word nie deur die Here gesaai nie.

Hier is dus twee soorte, Drabok en Koring. Ek dink nie daar bestaan ‘n tussenin nie. Dit lê in die identiteit van elke plant. Die feit dat dit soos koring lyk en maklik verwar kan word, laat my dink aan kerkmense of goeie mense.

Die wonder is dat ek kan sien ek is as gelowige deur God gesaai. My pa is die een wat my gesaai het. Ander wat dikwels lyk soos Christene se pa is (vers 38) die bose. Die verskil is wesenlik, maar menslik is dit nie onderskeibaar nie. Nie eers vir engele nie. Ek dink sommer mense met slegte gewoontes, maar wat kinders van God is. Of goeie mense met baie goeie lewe, wat Hom glad nie ken nie.

Wat wil God sê? Moet ek suspisieus wees oor mense? Ek dink nie so nie, dalk wil Hy net sê dat ons nie ongeduldig moet raak oor die bose se werk nie en moenie mense net oordeel nie. Daar kom ‘n tyd dat Hy self dit sal doen. Ons taak is steeds om almal lief te hê en te dien.

Vers 41 wys daarop dat daar twee groepe mense is by die Duiwel se werk. Die wat struikelblokke is en die wat wetteloosheid bedryf. Ek dink die struikelblokke is die gevaarlikste, want dit is hulle wat ek dink lyk soos christene maar hulle onopregtheid sit soekers na die koninkryk af om verder te soek. Hulle dra die boodskap uit dat daar nie baie steek in Christenskap nie. Hier is die struikelblokke die groeiende saad van die Duiwel, maar is ek as gelowige nie ook soms ‘n struikelblok nie.

Skielik wil ek skreeu, dat kindskap van God werklik die antwoord vir alles is. Jesus is die antwoord en dit werk, maar skree en praat dra nie altyd die boodskap oor nie.

Ek moet in my gebrokenheid altyd streef na opregtheid eerlikheid en integriteit sodat ek nie ‘n struikelblok sal wees nie. Dit vat baie intensionaliteit om daardie soort eerlikheid te behou. Met so ‘n eerlikheid deur genade,  is jou getuie nie jou pogings nie maar dit wat in jou is wat mense aanspreek.

In die koninkryk is dit dus nie ons werk om onderskeid te maak nie, maar net om ‘n getuie te wees.

Die gelykenis praat nie van Drabok wat Koring word nie. Dit is wat mens graag sal wil sien. Die gelykenis is seker nie bedoel om so ver te interpreteer nie.

Die kern van die gelykenis is wat? Dat die wêreld God se koninkryk is en dat dit vol van die bose is en kinders van die Duiwel. My afleiding is dat ons dus nie deur die wêreld beïnvloed moet word nie ons moet dit wat in ons sigbaar maak sodat deur ons die wêreld beïnvloed sal word. Vir mede gelowiges vir groei en aanmoediging en vir die kinders van die bose ‘n aantrekkingskrag tot vrede, verlossing en ‘n nuwe lewe.

Verder om nie te oordeel nie. Dit is nie ons taak nie. Vir die wat wetteloos lewe help mens soos jy kan en dit werk gewoonlik nie deur op hulle foute te wys nie. Deur ‘n aangename geur te wees. Deur die waarheid van ‘n nuwe lewe sigbaar te maak. Deur die Woord van God te wees, die blye boodskap ens. Soms is uitwys van foute nodig, maar dit moet baie nederig, in liefde gedoen word met ‘n diep luister na mense. Verder ‘n wete van eie gebrokenheid en afhanklikheid. Die luister is ook na die mense, maar veral na God.

Die gelykenis is duidelik oor die Duiwel en die bose. Dit is hy wat die sy kinders saai en soos sy aard is, maak Hy God se kinders na. Hy het nie eie inisiatief.

Sommige wat soos koring lyk is nie koring nie.

Die regverdiges sal skyn soos die son. Ons versprei die lig. Ons leef uit die bron van Jesus wat ons regverdigheid is. Ons is veronderstel om lig te bring en dus verandering. Selfs hulle wat dink hulle is akoring en dit nie is nie, sal deur die lewe van die regverdiges begin agterkom dat daar fout is en dan getrek word na die waarheid.

Die stuk oor die boom en die suurdeeg, wys vir my die krag van die koninkryk. Verder ook dat dit groei en versprei.


12/03/2023

Stiltetyd Matt 13:10-18 Siende blind horende doof

Siende blind en horende doof
Hier is onderskeid tussen 2 groepe, hulle wat gegee is om te verstaan en hulle wat nie gegee is.
Hier staan Jesus voor mense. Hy is God redder versoener almagtige wat hulle lief het en gekom het om te verlos. Hy het nie gekom om te oordeel nie. Skare sien en hoor dit nie.
Dit is net vir sommige gegee om te sien en hoor. 
Harte is afgestomp en hart verwys na denke in die Bybel. 
Sondeval maak dat almal blind en dood en afgestomp is. Niemand het enige vermoë wil of hart om te hoor en te sien, terug te draai en genees te word van oordeel. Dus totaal verlore sonder enige manier van verlossing. Slegs as God jou trek, jou kies kan jy hoor of sien. Deur genade trek en kies Hy sommiges.
Vers 15. Die proses is om deur God getrek, te sien en te hoor dan in die hart verstaan dan omdraai(bekeer in 33 vertaling) en dan genees te word.
Sien en hoor, hier is Jesus, Hy staan voor julle.
Verstaan in hart (verstand word met hart geassosieer) 
Omdraai 
Genees word, is seker verlossing en bevryding saam met soms fisiese genesing. 
Wat vir my lastig is, van uitverkiesing, is dat my Vader nie almal gee om te hoor of om te sien nie. Ek weet dat Hy vir almal lief het en almal wil red. Tog kies Hy nie almal om te hoor en sien sodat hulle self kan besluit om om te draai nie. Vir my moet my Pa so 'n hart hê dat Hy almal sal gee om te sien en te hoor. Nou Hy doen dit nie en ek kan nie begryp wat Sy redes is nie. Ek moet my net onderwerp aan Hom.
Die vreugde is om te ontdek dat ons wat Hom ken, deur Hom gekies is om te kan sien en hoor, daarop te reageer deur bekering en genees is. Dit is nie iets om op te roem nie, want dit is nie ons werk nie. Selfs dat ons gekies het om om te draai was ook genade. Ons het die HG ontvang as deposito vir die Ewige Lewe waar daar nie meer twyfel pyn en seer sal wees nie. Dit is vasgemaak deur God en nie deur my. Ek kan vermetel genoeg wees om te weet dat ek Sy kind is. Alhoewel ek in,  'n spieël en raaisel sien, is dit een ding wat ek weet waar is. Ek kyk terug en kan sê: ek is gered, ek is God se kind, vir ewig in Sy hand. Ek weet wie ek is. Ek is uitverkies en my doop bevestig dit voor ek nog kon verstaan.
Omdat my geloof swak is, moet ek dit gedurig weer gaan bevestig. Die sekerheid hiervan lê nie in my nie, maar in Hom. Daarom moet ek dit elke keer by Hom gaan bevestig ten spyte van myself. In vrees en bewing amper kan ek sê: Ek sien en hoor. 
Dan skuif die fokus van my na ander en nou wil ek so graag sien dat ander moet sien en hoor en dan reg draai. Ek sien Jesus dan so duidelik, en almal moet Hom kan sien.
Jesus sê vir die fariseërs dat omdat hulle sê hulle sien, hulle juis blind is. Hulle dink hulle sien, want hulle vertrou op die onderhouding van die wet. Ons sien omdat ons op Jesus vetrou en nie op die onderhouding van die Wet.
As gelowige word ek soos Jesus gestuur om Hom sigbaar te maak by almal. Baie gaan nooit sien nie, maar sommiges gaan wel. Die wêreld is soekende en begeer God se vrede. Hulle moet dit egter deur ons kan sien. 
Ons is dikwels soos die regverdiges in vers 17. Hulle is wel regverdiges, maar hulle begeer om te kan sien soos die dissipels gesien het en hoor soos die dissipels gehoor het, maar kan dit nie hoor nie. Hoe groot is die vooreg om aan Hom te vat en sy stem fisies te kon hoor!!! Ons is regverdiges en profete deur Jesus wat ons verlos en genees het, maar die vooreg wat die dissipels gehad het, het kry ons nie. 
Vers 18 begin Jesus die gelykenis van die saaier vir hulle uitlê. Nou skuif die fokus weer na God wat saai en deur mense saai en sommige van hulle gaan ontvangklik wees, maar baie nie. Dit is waar ons nou is as gelowiges. 
Die genesing wat hulle kry wat omgedraai het, was omdat hulle na Jesus gedraai het. Dit is in kontras met die kerk van daardie tyd wat bly staan het op die onderhouding van die Wet en dus ook mense veroordeel het wat Jesus gevolg het. 
Vader, ek wil eerstens weer my verootmoedig en onderwerp aan U, want alhoewel ek nie alles verstaan nie, weet ek U is goed en wat U doen is regverdig en wys. Ek vertrou U. Wat ek nie verstaan nie, is dat U nie almal na U trek nie en laat sien en hoor nie. Dit pla my vanuit my menslike manier van dink. Ek wil so vreeslik graag verstaan, maar U weet beter... Ek luister!
 Aan die ander kant verjeug ek my daarin dat ek wel deur U gekies en gered is. Woorde raak hier op. Dat ek deel kan wees van U familie en dus onverdiend een is met U. Dat dus in geloof ek wel U kan hoor en voel en beleef. Dat U selfs my U broer noem.
Ek wil nou as U kind en gestuurde deel bly en meer deel word van U proses van saai vanuit U groot liefde vir verlore mense.
AMEN

11/03/2023

Stiltetyd Matt 13 GELYKENIS VAN DIE SAAIER

 Matt 13:1-9; 19-23


Jesus het langs die see gaan sit. Hy gaan na waar die mense beweeg. (bly nie in kerk geboue en strukture). Mense het daar na Hom gekom. Groot skare. Jesus was iemand wat mense getrek het. As Jesus in ons is, dan kom daar 'n magnetisme vir soekende mense. Soek mense wat Hom soek (dikwels sonder om te weet). Hoe is 'n mens wat die magnetisme het? Wat vertroue bou. (onveroordelend; luister intens; stel belang; het vrede en sekerheid; is lief vir wat reg is; het 'n antwoord op die hoop wat in hom is; erkentlik vir foute; hanteer kritiek en beledigings; vol liefde en medelye; eerlik) Om saaier te wees.

Ek hou my dikwels te eenkant en is nie daar waar mense (soekende) kan kom nie. Moet dalk vandag hier in die mark gaan sit en kyk wat gebeur. Het mos nou die tyd met die sikloon wat die program deurmekaar krap.

Jesus vertel stories en die leer oor saad. 

SAAD: Dit is die woord oor die Koninkryk. Amper enige manier om effektief die kosbare koninkryk te kan kommunikeer. Gebasseer op God se waarhede in die Woord en geinspireer deur die Gees van God. Juis daarop gaan die woord seker altyd saam met gebed.

KONINKRYK: Kosbaar, Skat, Iets waarvoor ek alles prys gee, Het in Jesus by ons gekom, Waardevolste ooit. Nie net individueel. 

WOORD: Bybel is natuurlik basis, maar in die oordra daarvan glo ek is dit nie noodwendig Bybelse woorde nie. Daar is vertalings interpretasies. Hier interpreteer Jesus weer die boodskap met 'n storie wat almal van daardie tyd verstaan. Dit is ook Lewe en identiteit. 

Woord kan dood wees sonder inspirasie van die Gees. 

Laat ek weer onthou hoe waardevol en alles oortreffend die koninkryk is! Ook hoe belangrik die saad is wat in my geplant is. Ook hoe kragtig dit is deur Sy Gees. Sigbaar making van God self.

LANGS DIE PAD

 Weg pik. Seker alles wat die kosbaarheid van waarheid en dit waaroor die lewe gaan wegvat uit ons fokus en dus vinnig vergete laat. Nooit kans gee om wortel te skiet nie. Mens WOW maklik en dan dink mens weer oor ander goed. Wonder oor in die eredienste waar die boodskap en Jesus bewonder word, in die uitstap die prediker prys en sê dit was goed. Maar buite in 'n mileu instap, waar dit nie grond vat nie? 

Dit vra fokus om die boodskap te ontvang, te laat groei en te vermenigvuldig in ander rondom my. Die doel is nie net jy nie, maar veral hulle rondom jou daar buite. 

In wêreld met geweldig baie opervlakkige inligting en struwelinge om waar en vals te onderskei, is daar min diepte kommunikasie en word min tyd afgestaan aan refleksie en toepassing in 'n nuwe Lewe.

Ek gee baie aandag aan die programme en strukture wat veronderstel is om die Woord uit te dra, maar doen nie altyd regtig ontwikkeling van mense nie. 

Ook te min aandag in ontwikkeling van die Woord in my. Refleksie en gebed vat intensie. Verder is ek nie altyd daar waar die saad nodig is nie. (langs die see). 

TUSSEN ROTSE 

Saad word teengestaan. Dus word saaier teengestaan. Verdrukking Vervolging agv die Woord. Verdrukking en vervolging help jou om dood te gaan, maar ek wil nie dood gaan nie, Ek ervaar die vreugde van die boodskap en die bevryding wat dit bring. Moet tog net nie vra dat ek moet dood gaan daarvoor nie. In Joodse tyd was dit juis die kerk wat volgelinge van Jesus vervolg en verdruk het. (Soos Saulus voor hy Paulus geword het). Kritiek van kerk is moeilik om te verwerk. Kerk struktuur wat mooi bedoel word, is soms beperkend juis om beheerbaarheid te behou en chaos te vermy. Nuwe inisiatiewe wat grense uitdaag word dus nie aangemoedig en ondersteun en word dus as weerstand ervaar vir nuwe inisiatiewe. In vervolgde lande is vervolging natuurlik op 'n heel ander vlak. Keuses is dikwels om die dood in die gesig te staar ter wille van die koninkryk.

Besluite wat jy met mede gelowiges deel(verantwoordbaarheid), is 'n goeie instrument in die proses.

Ek self wat hou daarvan om mense se goedkeuring weg te dra. Sukkel baie as mense my verwerp. Ek moet groei daarin dat die belewenis van wat belangrik is groter sal wees as die belewenis van verwerping. 

DORINGS

Bekommernisse, verleiding en Rykdom. Soms word kerk gebou en nie koninkryk. My regte en begeertes soos in Fil 2:3 Jy begin die gemeente om die koninkryk te dien, maar sukkel so om die gemeente te bou dat die koninkryk nie na regte gedien word nie. Die uitdagings word die vyande en dan sien mens nie dat dit juis die uitdagings is wat die pad oopmaak vir die evangelie nie. 

Dikwels word verkeers polisie wat omkoop geld vra en grensposte wat spanninge bring of selfs weer wat programme deurmekaar krap, die vyand. Here help my altyd deur U oë te kan sien.

GOEIE GROND

Woord hoor en begryp. Dit gebeur deur die inspirasie van die Heilige Gees. Lewe deur die Gees. Ons is maar net die grond. (Dink jouself in as eers 'n saaier, dan as saadkorrel wat moet sterf, en dan as die grond. (Dit gaan dikwels nie oor die vermyding van voëls, rotse en dorings nie, maar oor die fokus op die saad en die koninkryk). Hoe sterk is my koninkryks motivering. Die leemtes in die motivering se antwoord dink ek lê in die "Soek" van Sy koninkryk. Dink daaroor, oorweeg wat waar is en wat nie. Waarvoor wil ek my lewe aflê? As die motivering deur Sy Gees geskep word, dan is die voëls, rotse en dorings nie meer faktore nie. 

Almal produseer ook nie dieselfde nie. 100, 60 of 30 voudig. Die Here bepaal dit seker. Dalk is dit so dat hoe meer dit is, hoe meer sal die weerstand ook wees. 

Voëls, rotse en dorings het te groot invloed op my lewe. Ek bid vir 'n herbevesting van die waarde van die koninkryk sodat die dood kan volg en daaruit die nuwe lewe wat mense aantrek na U toe. 

10/03/2023

2023-03-10 In Milange

 In die tyd wat ek hier moet wag het Hefsiba die Teologiese skool van die IRM 'n toerustings byeenkoms vir hulle leiers. Dit is nou meer administratief, maar in die proses kry ek kans om 'n paar gesprekke met hulle te deel.

In die een gesprek word ek "nie offisieël gevra om te help fasiliteer aan 'n geestelike groei gesprek. Die nood kom uit die besef dat die kerk dikwels nie regkry om 'n verhouding met die Here aan die lidmate oor te dra nie. Dit is dus baie belangrik dat daar 'n soort van proses iewers aan die gang gesit moet word waar leiers hulle geloof met mekaar kan deel sodat dit deel van lewens sal word. Hulle het my kontak besonderhede gevat om later weer verder hieroor te gesels met my besoeke vorentoe. Ek word onofisieel gevra om solank navorsing hieroor te doen. Min weet hulle dat ek al lankal soort van navorsing doen en oplees oor so 'n proses. Dalk is dit deel van God se plan vorentoe.

Die tweede gesprek is met 'n dominee wat ook besef dat leiers net groei indien hulle met mekaar deel. Hy het dit persoonlik so beleef. Dit was vir my goed om lekker hieroor my hart te kan oopmaak en bereidheid om as dit moontik is om deel van so 'n proses te wees. Op die ou end weet ons prakties dat groot byeenkomste net baie moeilik is. Verder ook dat plaaslike byeenkomste ander denominasies ook moet insluit want dit is waar gelowiges met mekaar kan deel ook as die byeenkoms verby is. 

Ek kon ook die tyd gebruik om die audio bybels op die spelertjies te laai. Ek het nie gedink dat ek daarby gaan uitkom nie, maar kon toe ongeveer 20 spelertjies gereed kry vir gebruik asook om die Heidelbergse kategismes in die taal Lomue ook op 'n spelertjie te laai. Nou vra ek leiers om daarna te luister en saam te dink hoe mens so 'n instrument kan gebruik om 'n verhouding met die Here te bevorder. Tussen leiers maar ook op die ou end met lidmate. 

Sikloon Freddie is nou besig om ons program te verander en nou moet mens weer mooi luister by mekaar en by die Here oor hoe om dit te verander. Ipv net oor beweeg more en vandag, kom die sikloon nou stadiger nader en dan bly dit vir 'n paar dae hang oor die hele gebied waar ons besoeke wou reel en bouwerk wou doen. Dit beteken baie reen tot Woensdag, behalwe as vriend Freddy weer van plan verander. Dit is nou retig 'n hardnekkige storm.


Dit is soos die reënval kaart teen Woensdag lyk. Die blou is aanvaarbare reën soos dalk ook nog die groen, maar die geel rooi en veral wit is baie swaar reën. 

Verder kon ek die verrassings partytjie van Silas (die duitser wat saam met Espanhor werk) bywoon. Hulle het dit op die plaaslike tradisie gebasseer. Die vriende het die koek en samoesas ens gebring en Silas moes dit sny in stukkies en met 'n vurk eers vir elkeen 'n stukkie voer. Daarna is kerse opgesteek uitgeblaas en toesprake gehou. Aangesien ek 'n dominee is moes ek twee keer praat en moes ek die gebed doen.



Mosb besoek Mavago Cuamba en pad

Administrateur in middel  Vanaf Mavago het ons eers die Administrateur (vroulik) besoek. Sy is ‘n Mosl&m met mooi verhouding met die k...