Volgers

14/03/2023

Stiltetyd Matt 13:24-43 Koring en onkruid of Drabok

 Geplant deur God


Matt13:24-43

VALS KORING

Die plant wat genoem word in die Bybel is Drabok en dit is ‘n gras plant wat baie soos koring lyk. Ek glo ek het al die gras gesien en dit maak ook ‘n aar soos koring.

Dit lyk asof Jesus verwys na die hele wêreld vers 38. Sy koninkryk is die hele wêreld met koring en Drabok.  Drabok word nie deur die Here gesaai nie.

Hier is dus twee soorte, Drabok en Koring. Ek dink nie daar bestaan ‘n tussenin nie. Dit lê in die identiteit van elke plant. Die feit dat dit soos koring lyk en maklik verwar kan word, laat my dink aan kerkmense of goeie mense.

Die wonder is dat ek kan sien ek is as gelowige deur God gesaai. My pa is die een wat my gesaai het. Ander wat dikwels lyk soos Christene se pa is (vers 38) die bose. Die verskil is wesenlik, maar menslik is dit nie onderskeibaar nie. Nie eers vir engele nie. Ek dink sommer mense met slegte gewoontes, maar wat kinders van God is. Of goeie mense met baie goeie lewe, wat Hom glad nie ken nie.

Wat wil God sê? Moet ek suspisieus wees oor mense? Ek dink nie so nie, dalk wil Hy net sê dat ons nie ongeduldig moet raak oor die bose se werk nie en moenie mense net oordeel nie. Daar kom ‘n tyd dat Hy self dit sal doen. Ons taak is steeds om almal lief te hê en te dien.

Vers 41 wys daarop dat daar twee groepe mense is by die Duiwel se werk. Die wat struikelblokke is en die wat wetteloosheid bedryf. Ek dink die struikelblokke is die gevaarlikste, want dit is hulle wat ek dink lyk soos christene maar hulle onopregtheid sit soekers na die koninkryk af om verder te soek. Hulle dra die boodskap uit dat daar nie baie steek in Christenskap nie. Hier is die struikelblokke die groeiende saad van die Duiwel, maar is ek as gelowige nie ook soms ‘n struikelblok nie.

Skielik wil ek skreeu, dat kindskap van God werklik die antwoord vir alles is. Jesus is die antwoord en dit werk, maar skree en praat dra nie altyd die boodskap oor nie.

Ek moet in my gebrokenheid altyd streef na opregtheid eerlikheid en integriteit sodat ek nie ‘n struikelblok sal wees nie. Dit vat baie intensionaliteit om daardie soort eerlikheid te behou. Met so ‘n eerlikheid deur genade,  is jou getuie nie jou pogings nie maar dit wat in jou is wat mense aanspreek.

In die koninkryk is dit dus nie ons werk om onderskeid te maak nie, maar net om ‘n getuie te wees.

Die gelykenis praat nie van Drabok wat Koring word nie. Dit is wat mens graag sal wil sien. Die gelykenis is seker nie bedoel om so ver te interpreteer nie.

Die kern van die gelykenis is wat? Dat die wêreld God se koninkryk is en dat dit vol van die bose is en kinders van die Duiwel. My afleiding is dat ons dus nie deur die wêreld beïnvloed moet word nie ons moet dit wat in ons sigbaar maak sodat deur ons die wêreld beïnvloed sal word. Vir mede gelowiges vir groei en aanmoediging en vir die kinders van die bose ‘n aantrekkingskrag tot vrede, verlossing en ‘n nuwe lewe.

Verder om nie te oordeel nie. Dit is nie ons taak nie. Vir die wat wetteloos lewe help mens soos jy kan en dit werk gewoonlik nie deur op hulle foute te wys nie. Deur ‘n aangename geur te wees. Deur die waarheid van ‘n nuwe lewe sigbaar te maak. Deur die Woord van God te wees, die blye boodskap ens. Soms is uitwys van foute nodig, maar dit moet baie nederig, in liefde gedoen word met ‘n diep luister na mense. Verder ‘n wete van eie gebrokenheid en afhanklikheid. Die luister is ook na die mense, maar veral na God.

Die gelykenis is duidelik oor die Duiwel en die bose. Dit is hy wat die sy kinders saai en soos sy aard is, maak Hy God se kinders na. Hy het nie eie inisiatief.

Sommige wat soos koring lyk is nie koring nie.

Die regverdiges sal skyn soos die son. Ons versprei die lig. Ons leef uit die bron van Jesus wat ons regverdigheid is. Ons is veronderstel om lig te bring en dus verandering. Selfs hulle wat dink hulle is akoring en dit nie is nie, sal deur die lewe van die regverdiges begin agterkom dat daar fout is en dan getrek word na die waarheid.

Die stuk oor die boom en die suurdeeg, wys vir my die krag van die koninkryk. Verder ook dat dit groei en versprei.


12/03/2023

Stiltetyd Matt 13:10-18 Siende blind horende doof

Siende blind en horende doof
Hier is onderskeid tussen 2 groepe, hulle wat gegee is om te verstaan en hulle wat nie gegee is.
Hier staan Jesus voor mense. Hy is God redder versoener almagtige wat hulle lief het en gekom het om te verlos. Hy het nie gekom om te oordeel nie. Skare sien en hoor dit nie.
Dit is net vir sommige gegee om te sien en hoor. 
Harte is afgestomp en hart verwys na denke in die Bybel. 
Sondeval maak dat almal blind en dood en afgestomp is. Niemand het enige vermoë wil of hart om te hoor en te sien, terug te draai en genees te word van oordeel. Dus totaal verlore sonder enige manier van verlossing. Slegs as God jou trek, jou kies kan jy hoor of sien. Deur genade trek en kies Hy sommiges.
Vers 15. Die proses is om deur God getrek, te sien en te hoor dan in die hart verstaan dan omdraai(bekeer in 33 vertaling) en dan genees te word.
Sien en hoor, hier is Jesus, Hy staan voor julle.
Verstaan in hart (verstand word met hart geassosieer) 
Omdraai 
Genees word, is seker verlossing en bevryding saam met soms fisiese genesing. 
Wat vir my lastig is, van uitverkiesing, is dat my Vader nie almal gee om te hoor of om te sien nie. Ek weet dat Hy vir almal lief het en almal wil red. Tog kies Hy nie almal om te hoor en sien sodat hulle self kan besluit om om te draai nie. Vir my moet my Pa so 'n hart hê dat Hy almal sal gee om te sien en te hoor. Nou Hy doen dit nie en ek kan nie begryp wat Sy redes is nie. Ek moet my net onderwerp aan Hom.
Die vreugde is om te ontdek dat ons wat Hom ken, deur Hom gekies is om te kan sien en hoor, daarop te reageer deur bekering en genees is. Dit is nie iets om op te roem nie, want dit is nie ons werk nie. Selfs dat ons gekies het om om te draai was ook genade. Ons het die HG ontvang as deposito vir die Ewige Lewe waar daar nie meer twyfel pyn en seer sal wees nie. Dit is vasgemaak deur God en nie deur my. Ek kan vermetel genoeg wees om te weet dat ek Sy kind is. Alhoewel ek in,  'n spieël en raaisel sien, is dit een ding wat ek weet waar is. Ek kyk terug en kan sê: ek is gered, ek is God se kind, vir ewig in Sy hand. Ek weet wie ek is. Ek is uitverkies en my doop bevestig dit voor ek nog kon verstaan.
Omdat my geloof swak is, moet ek dit gedurig weer gaan bevestig. Die sekerheid hiervan lê nie in my nie, maar in Hom. Daarom moet ek dit elke keer by Hom gaan bevestig ten spyte van myself. In vrees en bewing amper kan ek sê: Ek sien en hoor. 
Dan skuif die fokus van my na ander en nou wil ek so graag sien dat ander moet sien en hoor en dan reg draai. Ek sien Jesus dan so duidelik, en almal moet Hom kan sien.
Jesus sê vir die fariseërs dat omdat hulle sê hulle sien, hulle juis blind is. Hulle dink hulle sien, want hulle vertrou op die onderhouding van die wet. Ons sien omdat ons op Jesus vetrou en nie op die onderhouding van die Wet.
As gelowige word ek soos Jesus gestuur om Hom sigbaar te maak by almal. Baie gaan nooit sien nie, maar sommiges gaan wel. Die wêreld is soekende en begeer God se vrede. Hulle moet dit egter deur ons kan sien. 
Ons is dikwels soos die regverdiges in vers 17. Hulle is wel regverdiges, maar hulle begeer om te kan sien soos die dissipels gesien het en hoor soos die dissipels gehoor het, maar kan dit nie hoor nie. Hoe groot is die vooreg om aan Hom te vat en sy stem fisies te kon hoor!!! Ons is regverdiges en profete deur Jesus wat ons verlos en genees het, maar die vooreg wat die dissipels gehad het, het kry ons nie. 
Vers 18 begin Jesus die gelykenis van die saaier vir hulle uitlê. Nou skuif die fokus weer na God wat saai en deur mense saai en sommige van hulle gaan ontvangklik wees, maar baie nie. Dit is waar ons nou is as gelowiges. 
Die genesing wat hulle kry wat omgedraai het, was omdat hulle na Jesus gedraai het. Dit is in kontras met die kerk van daardie tyd wat bly staan het op die onderhouding van die Wet en dus ook mense veroordeel het wat Jesus gevolg het. 
Vader, ek wil eerstens weer my verootmoedig en onderwerp aan U, want alhoewel ek nie alles verstaan nie, weet ek U is goed en wat U doen is regverdig en wys. Ek vertrou U. Wat ek nie verstaan nie, is dat U nie almal na U trek nie en laat sien en hoor nie. Dit pla my vanuit my menslike manier van dink. Ek wil so vreeslik graag verstaan, maar U weet beter... Ek luister!
 Aan die ander kant verjeug ek my daarin dat ek wel deur U gekies en gered is. Woorde raak hier op. Dat ek deel kan wees van U familie en dus onverdiend een is met U. Dat dus in geloof ek wel U kan hoor en voel en beleef. Dat U selfs my U broer noem.
Ek wil nou as U kind en gestuurde deel bly en meer deel word van U proses van saai vanuit U groot liefde vir verlore mense.
AMEN

11/03/2023

Stiltetyd Matt 13 GELYKENIS VAN DIE SAAIER

 Matt 13:1-9; 19-23


Jesus het langs die see gaan sit. Hy gaan na waar die mense beweeg. (bly nie in kerk geboue en strukture). Mense het daar na Hom gekom. Groot skare. Jesus was iemand wat mense getrek het. As Jesus in ons is, dan kom daar 'n magnetisme vir soekende mense. Soek mense wat Hom soek (dikwels sonder om te weet). Hoe is 'n mens wat die magnetisme het? Wat vertroue bou. (onveroordelend; luister intens; stel belang; het vrede en sekerheid; is lief vir wat reg is; het 'n antwoord op die hoop wat in hom is; erkentlik vir foute; hanteer kritiek en beledigings; vol liefde en medelye; eerlik) Om saaier te wees.

Ek hou my dikwels te eenkant en is nie daar waar mense (soekende) kan kom nie. Moet dalk vandag hier in die mark gaan sit en kyk wat gebeur. Het mos nou die tyd met die sikloon wat die program deurmekaar krap.

Jesus vertel stories en die leer oor saad. 

SAAD: Dit is die woord oor die Koninkryk. Amper enige manier om effektief die kosbare koninkryk te kan kommunikeer. Gebasseer op God se waarhede in die Woord en geinspireer deur die Gees van God. Juis daarop gaan die woord seker altyd saam met gebed.

KONINKRYK: Kosbaar, Skat, Iets waarvoor ek alles prys gee, Het in Jesus by ons gekom, Waardevolste ooit. Nie net individueel. 

WOORD: Bybel is natuurlik basis, maar in die oordra daarvan glo ek is dit nie noodwendig Bybelse woorde nie. Daar is vertalings interpretasies. Hier interpreteer Jesus weer die boodskap met 'n storie wat almal van daardie tyd verstaan. Dit is ook Lewe en identiteit. 

Woord kan dood wees sonder inspirasie van die Gees. 

Laat ek weer onthou hoe waardevol en alles oortreffend die koninkryk is! Ook hoe belangrik die saad is wat in my geplant is. Ook hoe kragtig dit is deur Sy Gees. Sigbaar making van God self.

LANGS DIE PAD

 Weg pik. Seker alles wat die kosbaarheid van waarheid en dit waaroor die lewe gaan wegvat uit ons fokus en dus vinnig vergete laat. Nooit kans gee om wortel te skiet nie. Mens WOW maklik en dan dink mens weer oor ander goed. Wonder oor in die eredienste waar die boodskap en Jesus bewonder word, in die uitstap die prediker prys en sê dit was goed. Maar buite in 'n mileu instap, waar dit nie grond vat nie? 

Dit vra fokus om die boodskap te ontvang, te laat groei en te vermenigvuldig in ander rondom my. Die doel is nie net jy nie, maar veral hulle rondom jou daar buite. 

In wêreld met geweldig baie opervlakkige inligting en struwelinge om waar en vals te onderskei, is daar min diepte kommunikasie en word min tyd afgestaan aan refleksie en toepassing in 'n nuwe Lewe.

Ek gee baie aandag aan die programme en strukture wat veronderstel is om die Woord uit te dra, maar doen nie altyd regtig ontwikkeling van mense nie. 

Ook te min aandag in ontwikkeling van die Woord in my. Refleksie en gebed vat intensie. Verder is ek nie altyd daar waar die saad nodig is nie. (langs die see). 

TUSSEN ROTSE 

Saad word teengestaan. Dus word saaier teengestaan. Verdrukking Vervolging agv die Woord. Verdrukking en vervolging help jou om dood te gaan, maar ek wil nie dood gaan nie, Ek ervaar die vreugde van die boodskap en die bevryding wat dit bring. Moet tog net nie vra dat ek moet dood gaan daarvoor nie. In Joodse tyd was dit juis die kerk wat volgelinge van Jesus vervolg en verdruk het. (Soos Saulus voor hy Paulus geword het). Kritiek van kerk is moeilik om te verwerk. Kerk struktuur wat mooi bedoel word, is soms beperkend juis om beheerbaarheid te behou en chaos te vermy. Nuwe inisiatiewe wat grense uitdaag word dus nie aangemoedig en ondersteun en word dus as weerstand ervaar vir nuwe inisiatiewe. In vervolgde lande is vervolging natuurlik op 'n heel ander vlak. Keuses is dikwels om die dood in die gesig te staar ter wille van die koninkryk.

Besluite wat jy met mede gelowiges deel(verantwoordbaarheid), is 'n goeie instrument in die proses.

Ek self wat hou daarvan om mense se goedkeuring weg te dra. Sukkel baie as mense my verwerp. Ek moet groei daarin dat die belewenis van wat belangrik is groter sal wees as die belewenis van verwerping. 

DORINGS

Bekommernisse, verleiding en Rykdom. Soms word kerk gebou en nie koninkryk. My regte en begeertes soos in Fil 2:3 Jy begin die gemeente om die koninkryk te dien, maar sukkel so om die gemeente te bou dat die koninkryk nie na regte gedien word nie. Die uitdagings word die vyande en dan sien mens nie dat dit juis die uitdagings is wat die pad oopmaak vir die evangelie nie. 

Dikwels word verkeers polisie wat omkoop geld vra en grensposte wat spanninge bring of selfs weer wat programme deurmekaar krap, die vyand. Here help my altyd deur U oë te kan sien.

GOEIE GROND

Woord hoor en begryp. Dit gebeur deur die inspirasie van die Heilige Gees. Lewe deur die Gees. Ons is maar net die grond. (Dink jouself in as eers 'n saaier, dan as saadkorrel wat moet sterf, en dan as die grond. (Dit gaan dikwels nie oor die vermyding van voëls, rotse en dorings nie, maar oor die fokus op die saad en die koninkryk). Hoe sterk is my koninkryks motivering. Die leemtes in die motivering se antwoord dink ek lê in die "Soek" van Sy koninkryk. Dink daaroor, oorweeg wat waar is en wat nie. Waarvoor wil ek my lewe aflê? As die motivering deur Sy Gees geskep word, dan is die voëls, rotse en dorings nie meer faktore nie. 

Almal produseer ook nie dieselfde nie. 100, 60 of 30 voudig. Die Here bepaal dit seker. Dalk is dit so dat hoe meer dit is, hoe meer sal die weerstand ook wees. 

Voëls, rotse en dorings het te groot invloed op my lewe. Ek bid vir 'n herbevesting van die waarde van die koninkryk sodat die dood kan volg en daaruit die nuwe lewe wat mense aantrek na U toe. 

10/03/2023

2023-03-10 In Milange

 In die tyd wat ek hier moet wag het Hefsiba die Teologiese skool van die IRM 'n toerustings byeenkoms vir hulle leiers. Dit is nou meer administratief, maar in die proses kry ek kans om 'n paar gesprekke met hulle te deel.

In die een gesprek word ek "nie offisieël gevra om te help fasiliteer aan 'n geestelike groei gesprek. Die nood kom uit die besef dat die kerk dikwels nie regkry om 'n verhouding met die Here aan die lidmate oor te dra nie. Dit is dus baie belangrik dat daar 'n soort van proses iewers aan die gang gesit moet word waar leiers hulle geloof met mekaar kan deel sodat dit deel van lewens sal word. Hulle het my kontak besonderhede gevat om later weer verder hieroor te gesels met my besoeke vorentoe. Ek word onofisieel gevra om solank navorsing hieroor te doen. Min weet hulle dat ek al lankal soort van navorsing doen en oplees oor so 'n proses. Dalk is dit deel van God se plan vorentoe.

Die tweede gesprek is met 'n dominee wat ook besef dat leiers net groei indien hulle met mekaar deel. Hy het dit persoonlik so beleef. Dit was vir my goed om lekker hieroor my hart te kan oopmaak en bereidheid om as dit moontik is om deel van so 'n proses te wees. Op die ou end weet ons prakties dat groot byeenkomste net baie moeilik is. Verder ook dat plaaslike byeenkomste ander denominasies ook moet insluit want dit is waar gelowiges met mekaar kan deel ook as die byeenkoms verby is. 

Ek kon ook die tyd gebruik om die audio bybels op die spelertjies te laai. Ek het nie gedink dat ek daarby gaan uitkom nie, maar kon toe ongeveer 20 spelertjies gereed kry vir gebruik asook om die Heidelbergse kategismes in die taal Lomue ook op 'n spelertjie te laai. Nou vra ek leiers om daarna te luister en saam te dink hoe mens so 'n instrument kan gebruik om 'n verhouding met die Here te bevorder. Tussen leiers maar ook op die ou end met lidmate. 

Sikloon Freddie is nou besig om ons program te verander en nou moet mens weer mooi luister by mekaar en by die Here oor hoe om dit te verander. Ipv net oor beweeg more en vandag, kom die sikloon nou stadiger nader en dan bly dit vir 'n paar dae hang oor die hele gebied waar ons besoeke wou reel en bouwerk wou doen. Dit beteken baie reen tot Woensdag, behalwe as vriend Freddy weer van plan verander. Dit is nou retig 'n hardnekkige storm.


Dit is soos die reënval kaart teen Woensdag lyk. Die blou is aanvaarbare reën soos dalk ook nog die groen, maar die geel rooi en veral wit is baie swaar reën. 

Verder kon ek die verrassings partytjie van Silas (die duitser wat saam met Espanhor werk) bywoon. Hulle het dit op die plaaslike tradisie gebasseer. Die vriende het die koek en samoesas ens gebring en Silas moes dit sny in stukkies en met 'n vurk eers vir elkeen 'n stukkie voer. Daarna is kerse opgesteek uitgeblaas en toesprake gehou. Aangesien ek 'n dominee is moes ek twee keer praat en moes ek die gebed doen.



09/03/2023

Matt 12:15-37 en opry tot in Milange


Matt 12:15-37

Die rit na Mosambiek het altyd onsekerhede. Die oorsteek van die grens. Die nuwe bakkie wat dalk foute kan hê. Iets wat vergeet kan word voel mos dan sommer ‘n groot ding. Gesondheid  ens. Dit maak mens gespanne en nou is dit tyd om die Here se vrede en vreugde doelbewus te soek.

Toe lees ek van Jesus wat kom gesond maak wie siek is. Jesus die bron van alles bring die Lewe na die gebroke aardse bestaan. Hy kom genees waar mense siek is, dryf duiwels uit wat mense vernietig ens. As mens na Mosambiek toe gaan, dan word mens ‘n skadubeeld van dieselfde proses. Al verskil is dat Hy my ook maar gereeld moet gesond maak en dit is nie net van fisiese siektes nie.

Dit bring my by my proses van bevestiging van ‘n lewe waarin ek reeds sy reg beleef het en dit aan my gegee is. Daar is niks op die aarde wat ek meer kan verloor wat nie reeds syne is nie. Ek kan weer terug gaan en my rus in Hom vind.

Wat my die meeste aanspreek is dat Jesus nie twis en skreeu nie, Sy stem is nie hard en word in die strate gehoor nie. Hy sien geknakte riete en breek hulle nie. In Sy spore kan ek net ‘n diep omgee deur sy omgee verteenwoordig en soos ‘n lig inbeweeg die onbekendes in. Oral waar ek kom, kom die lig ook. Ek kan staan daarop en werk aan my eie vreugde en net anders na die wêreld van Mosambiek om my kyk. Sy genesing het my bereik. As Hy dit vir my sê dan aanvaar ek dit.

Die sagte manier van Jesus het my rus geword. Nou sien ek ook dat wanneer hy “reg” bring (2020 vertaling) dan is die reg juis ‘n diepe omgee vir mense en uitreik na gebrokenheid. Om genesing te bring in liggaam en siel sonder dat mense dit verdien. Dit is God se reg, want dit kom deur Jesus die weg waarheid en Lewe. Sluit mooi aan by die absolute kleinste opsomming van die Bybel naamlik “wees lief vir jou naaste”

In die debakel rondom die uitdryf van demone word Jesus beledig dat hy Satan se werk doen. Die betekenis van Jesus se verduideliking aan my was juis dat die sterk man reeds vasgebind is en daarom deur die gebaar het die koninkryk nie naby gekom nie, maar “julle bereik”. Dit is nou hier.

Die lastering teen die Gees, bly steeds vir my onseker. Die Boodskap vertaal dit so dat dit verwys na die Fariseërs wat God se werk koppel aan Satan en mens kan dit nog doen teenoor die Seun, maar jy moet nie dit doen teenoor die Gees nie.

Daar is ‘n element in wat in seker almal van ons is, en dit is om God se werk dikwels nie raak te sien en te erken as Sy werk nie. As dit nie vergewe kan word nie, dan is baie van ons in skuld vir ewig. Ek kan darem nie dink dat dit is wat Jesus bedoel nie.

Op ‘n ander plek het ek gehoor dat dit gaan oor die weerstaan van God se werk tot met jou dood. Dws dan aanvaar jy nie God se werk in jou lewe nie en is jy dus verlore sonder om die Kruisdood en betaling van skuld te aanvaar.

Ek weet nie regtig nie, maar aanvaar dat ek volkome vergewe is vir alles wat ek gedoen het.

Die stukkie oor die boom en die vrugte laat my weer dink aan die bron binne my as gelowige wat maak dat die goed wat uit my vloei in ooreenstemming is met wat God in my gedoen het. Dalk verwys Jesus na die uitdryf van die duiwels en dat dit bewys is van wie Hy is. Ek weet nie.

In myself weet ek Jesus woon in my, en dat ek ‘n vergewe sondaar is. Baie van die vrugte uit my lewe wys nog nie die goeie in my nie en ander kere kom daar van die goeie na vore. By Jesus is dit net goed wat uitkom, maar by my is ek nog in ‘n proses. Dit is egter ‘n motivering om al meer ooreenstemming te kry met die goedheid van God en Sy Gees wat in my is en die lewe na buite. Dit is nodig dat daar baie kommunikasie sal wees en eenheid met Hom al meer in my dade sal begin wys.



RES VAN PAD TOT IN MILANGE

Dit was baie goed om by die Bantims te kuier en bande op te tel. Hulle het my bederf met ‘n heerlike ete. Dit was goed om meer van hulle bediening en uitdagings te hoor en ook te deel.

Die besoek aan Peet en Erma was ook goed. Ons het bietjie tyd gehad om geestelik ook te deel met mekaar.

By Piet en Ria was dit ook goed om weer op datum te kom van hulle en hulle kinders se lewens en te kon deel en saam te bid. Ook daar is ek bederf deur ‘n heerlike ete wat ek nodig gehad het. Dit is altyd betekenisvol as gelowiges deel en saam bid.

Die pad is baie sleg en die nuwe bakkie doen goed met brandstof gebruik en het selfs op ‘n stadium meer as 12km per liter gegee. Verder trek dit vreeslik lekker, mens moet jouself inhou. Dit het ‘n skeet dat dit soms krag verloor en dan moet ek dit afskakel en weer start voordat dit weer normaal is. Die een lig voor skyn te laag. Dit is moeilik om dit te stel en daar is ‘n plaatjie wat reg gebuig moet word om dit reg te kry. Ek het dit terug gevat na Nissan en hulle het belowe dat dit nou reg is. Ek moes ontdek dat dit nie so is nie. Self probeer ek dit stel, maar dit wil nie beweeg nie. Die plaatjie moet gebuig word. Ek druk hard daarteen en is bang om dit nie te breek nie, maar dit wil nie. Nou sit ek met ‘n lig wat nie reg is nie, maar darem goed genoeg is vir die pad. So moet die mooi bakkie seker skete hê om mens nederig te hou.

Ek kon vir Bernadette ook heelwat goed bring en dit is lekker om te sien hoe hulle dit geniet. Sy bederf my ook met ‘n ete wat ek nodig gehad het.

Sikloon Freddy is op pad en dit maak dat ons die naweek eers rustig moet wees en kyk wat gebeur voordat ons met die werk begin. Die program lyk dus as volg:

12 Erediens Milange en ry na Mocuba

13 Bouwerk in Mocuba. Sit werkers aan die werk

14-17 Besoek Pebane waar nuwe dominee nou werk

17 Ry na Mocuba en kyk na die bouwerk

18 Bouwerk en namiddag vertrek na Magodane waar ook ‘n nuwe dominee is

19 Magodane toerusting

20 Toerusting en namiddag terug na Mocuba vir bouwerk (indien nodig)

21-23 Bouwerk en terug ry na Milange vir sinodale gesprekke saam met Daniel de Wet.

24 Namiddag vertrek na Natanje

25 Toerusting in natanje

26 Vertrek na Calane

27 Toerusting in Calane en vertrek namiddag na Mocuba vanwaar terugtog gaan begin. Wil graag in Caia gaan slaap omdat die pad nou so stadig is.

Die hele bestuur van Hefsiba is hier in Milange in dieselfde huis waar ek slaap en ek kon reeds met twee van hulle ‘n goeie gesprek voer. Dit is duidelik dat hulle verstaan dan die kerk in ‘n geestelike nood verkeer. Tog is daar nog nie ‘n prioriteit om iets daaraan te doen nie. (gewonder of ek nie een van my besoeke per jaar daar moet spandeer en net ‘n geestelike bou proses aan die gang kry nie. Persoonlike gesprekke met leiers en dissipelskap prosesse aan die gang sit tussen hulle en die studente). 


 

09/11/2022

Opleiding in Mosambiek vertrekpunt


 

Opleiding in Mosambiek

Inleiding

Die inligting in hierdie dokument is nie wetenskaplik nagevors nie, dit is gebou op persoonlike ervarings sowel as menings ingewin deur na kerk leiers te luister. Die geografiese fokus van die skrywe is ook gerig op die gebied wat ek die beste ken, nl die Tumbine sinode van die IRM (Gereformeerde Kerk in Mosambiek) Dit behoort in die eerste plek vir ‘n evangeliese gereformeerde hart, ‘n aanduiding te gee oor die belangrikste fokusse wat nodig is om die Gereformeerde Kerk in Mosambiek te help in hulle poging.

Die Tumbine sinode bestaan uit ongeveer 20 gemeentes wat weens verskeie redes nie baie sterk staan in wat ek noem: lidmate met ‘n persoonlike verhouding met die Here, nie. Mense is baie lief vir kerk wees, en daar is verskeie redes vir kerk wees. My beskrywing van ‘n Bybelse rede vir gemeente wees is wanneer die liefde van Christus verstaan word en daar dus ‘n begeerte ontstaan dat alle lidmate so ‘n persoonlike verhouding met die Here het dat dit hulle vul soos wat die wingerdstok die lote vul in Joh 15. Dan begin die Here onselfsugtig in mense werk sodat hulle vrugte na binne en buite sal dra wat dan by die bekering pas. Die motivering kom dan deur die inwonende Heilige Gees in mense en sal seker altyd ons verras in die manier waarop daar gefunksioneer word om effektief ligdraers te wees. Die tekens daarvan is mense wat omgee in woord en daad en dan op verrassende maniere kreatief ander dien sonder om terug te wil ontvang. Dit is ook ‘n holistiese beweging waarin alle aspekte van die lewe geraak word.

Tydens toerusting, is daar dus sekere denkwyses wat afgebreek moet word en ‘n aanleer van ‘n ware verhouding en vertroue.

Paar tradisionele gedagtes

Die afgelope paar nuwe areas wat ons besoek het, het ons gevind dat daar, soos die plaaslike dominee gesê het, by zero begin word. In so ‘n geval kan mens dan ook nie begin by die kruis nie. Die skeppingsverhaal word dan ‘n goeie beginpunt om God se geskiedenis te kan kontrasteer met die kulturele verstaan van geskiedenis. Kultureel herhaal die geskiedenis homself gereeld. Daar is selfs ‘n soort van ‘n inkarnasie model in mense se verstaan. Verder leef mense ook nie met ‘n toekomsverwagting nie. Daar is hoogstens ‘n geskiedenis, maar nie ‘n vooruit beplanning nie. Verder is daar ‘n baie sterk strewe daarna om niks te mag verander nie. Soos jy gebore is, so sal jy sterf. Moet daaraan nie toring nie, want verandering bring konflik. Die hoogste strewe is om deel te wees van die gemeenskap en om nie mens of gees kwaad te maak nie. Enige siektes of droogte en swaarkry is tekens van die balanse wat versteur is en herstel moet word. Daar moet dus uitgevind word wie die balanse gesteur het en daardie persone moet dan betaal daarvoor totdat die geeste weer tevrede is.

Meeste gebeure het geestelike oorsake. Indien jou oes swak is, beteken dit dat iemand anders jou krag gesteel het deur bv ‘n tradisionele geneser te kry en medisyne in jou land begrawe het om jou krag te steel vir hom. Alhoewel dit soms weg gesteek word, het dit duidelik geword uit ‘n doktors tesis wat ek gelees het dat dit selfs in gesofistikeerde plekke in Malawi steeds ‘n baie groot realiteit is.

‘n Verdere gedagte wat dit nog kompliseer is dat Christenskap volgens mense net bygevoeg kan word by ‘n reeds bestaande verstaan van verhoudings met geeste en balanse wat behou moet word. Dit is baie makliker so, want indien jy die sisteem wil verander ontwrig jy net.

Die vaste hiërargieë wat in die gemeenskappe bestaan mag ook nie verander word nie. Dikwels word leiers baie manipulerend om hulle posisies te bevestig en die wat onder hulle is onder te hou. Daar is dikwels groot sensitiwiteit oor hulle status en posisie en dit sal met baie moeite beskerm word. Grootheid word dus meestal nie gesien in nederigheid nie, maar in posisie en mag. Die mense en kinders aan die onderkant van die hiërargie word dikwels geen opsie gegun nie en word slagoffers van omstandighede. Fatalistiese denke is dus ook baie sterk. Daar is geen vermoë om te verander of te groei nie. Hulle wat wel opstaan en ontwikkel moet deur geweldige kritiek en vyandskap werk, want daar word gereken dat hulle ander se krag steel.

Verlossingsleer se basis

Geskiedenis

Soos verstaan kan word, kan daar dus nie net by die kruis begin word om verlossing te verstaan nie. Om hierdie rede probeer ek dan altyd by die skepping begin met ‘n verhaal van God voor die Skepping, dan die volgorde van ‘n mens wat na die beeld van God geskape is man en vrou en wat die opdrag kry om te heers. Om die aarde te vul en te ontwikkel in alle aspekte. ‘n Werkende mens in God se beeld as Sy verteenwoordiger in ‘n noue intieme verhouding met God. Dan loop die geskiedenis verder na ‘n boom en ‘n sondeval en skeiding tussen God en mens. Die mens word dus God se vyand en het al sy vermoë om die verhouding te herstel verloor het. Ek hou daarvan om dit sommer uit te beeld met mense wat dit illustreer. Die geskiedenis kan dan gevolg word deur die Ou Testament, maar in meeste gevalle is die stories van die ou Testament heeltemal onbekend. Hier is dus ‘n lang termyn proses nodig waar veral kinders saam met volwassenes aan Bybel verhale bloot gestel word, maar met ‘n verstaan van waar dit inpas in God se storie. God se storie gaan nooit terug nie, dit loop net vorentoe deur offerandes na wet profete na ‘n kruis. Die kruis verander alles en word die middelpunt van die geskiedenis. Nou loop dit in deur Jesus dissipels en volgelinge (die naam Christen kom net 3 maal in Bybel voor) gelei deur die Gees van God. Mense wat met liefde en verantwoordbaarheid met mekaar omgaan met ‘n taak om soos Jesus gestuur te wees na die verlore wêreld.  Hierdie proses waarin ons nou is, is nie die einde nie, want Jesus kom weer en God se storie loop uit op ‘n heerlike einde vir Sy kinders en ewige straf vir die res.

Hierdie kontras van God se storie teenoor die storie van die mens in die tradisionele denk sisteem moet iewers oorbrug word. Die Bybel wat die storie bekend maak, moet iewers sentraal staan in die proses.

God se hart

Om die liefde van God oor te dra is ‘n groot uitdaging. Wat dit moeilik maak is omdat verhoudings verstaan word as balanse. Ek doen dit vir jou en jy doen dat vir my. Die gedagte van opoffer vir ander maak nie sin nie, want in die tradisionele denke gee jy dan jou posisie prys en verloor jy wat jy jou hele lewe aan gewerk het as jy prys gee en opoffer. Mens tree eenvoudig op volgens jou posisie en status in die gemeenskap. Kinders is dikwels minder belangrik as die volwassene en so ook hulle behoeftes en so ook vroue teenoor mans. Een van die gevolge is dat mans nie ‘n liefdevolle verhouding met hulle kinders het nie. Daar sal nie aandag gegee word aan kinders se behoeftes nie, almal moet eenvoudig inpas en doen wat hulle rol is om te doen. Die gevolg is dat mans dikwels kinders gebruik vir hulle eie belange, sonder om ‘n goeie verhouding met hulle te hê.

Hierdie wederkerigheid is dan ook die basis van omkopery en dit is werklik in alle aspekte van die lewe ingeweef. Polisie maak hulle geld so en die onderwys stelsel, regstelsel, politiek, is deurspek daarvan, omtrent oral steek dit kop uit. Dikwels op grense moet mens jou dood sukkel om iets op die regte manier te doen. Die wetlike manier het dikwels feitlik onmoontlik geword.

As ek dus vir jong mense in ‘n dorp vra of daar ‘n Christen is wie hulle respek het en soos wie hulle wil wees, het ek nog nêrens ‘n positiewe antwoord gekry nie.

Een van die groot uitdagings is om mentors te kry om ‘n liefdevolle Vader beeld te kan vestig. God se storie maak nie sin as dit nie verstaan word nie.

Motivering van Christenskap word dikwels verdraai. In toerustings geleenthede, word daar erken dat baie mense kerk toe kom, maar nie in God belang stel nie, sommige soek eerder geleenthede om die kerk te kritiseer. Kritiek van ander is natuurlik nodig om eie posisie te versterk. Oral waar ek gevra het, word gesê dat daar baie sulke mense is. Die tweede rede is dikwels ‘n baie groot probleem vir enige sendingwerk. Daar word kerk toe gekom om iets te ontvang. Net deur ‘n Bybel te gee of ‘n paar skoene in die begin, word dit die norm en jare se sukkel draai nie sommer daardie idee om nie. Vandag oral in die kerk erken lidmate dat baie kerk toe kom net om iets te ontvang. Nog ‘n rede is dikwels posisie en leierskap en dan veral ook om ‘n begrafnis van aansien te kan hê. Nog ‘n rede is eenvoudig die posisie wat kerk wees en kore vir mense inhou. Hulle doen al die regte goed om daar aanvaarbaar te wees, maar stel nie in God belang nie. (dink elk geval God is te ver en sal hulle nooit raak sien nie). Lidmate erken dat daar ook baie sulke mense is. Dikwels as mens dan vra oor hoeveel mense daar is wat die Here regtig ken, dan kry ek dikwels die antwoord dat hulle wonder of daar sulkes in die gemeente is.

Verder word werk geregtigheid baie sterk beleef in die Kerk juis omdat wederkerigheid ‘n kenmerk van verhoudinge is.

Bybelkennis

Die meeste mense hier is nie lesers nie. Daar is in die eerste plek ‘n groot klomp wat nie geletterd is nie en die wat is, lees nie sommer die Bybel nie. Ons begin nou maar om op verskeie plekke te eksperimenteer met oudio Bybels in plaaslike tale.

As mens die gemeentes, veral in die platteland indeel in groepe waar daar ten minste een Bybel is met iemand wat glad genoeg lees om verstaan te kan word, dan is die groepe baie groot. Na so ‘n indeling gee ek dan ‘n vers om in die groepe te lees. Na die lees daarvan vra ek wat daar staan. Meestal kan niemand my antwoord. Dan lees ons weer. Dikwels sonder enige verstaan van wat gelees is. Dan na ‘n derde keer kom daar soms antwoorde wat heeltemal uit die konteks van die vers is, waar dinge sê soos: Jesus het aan die kruis gesterf vir ons sonde. Dan na ‘n paar ekstra kere van lees begin mense dan die vers self weergee. Die tweede stap is om te vra wat die Here vir ons deur daardie vers wil sê. Dit is ‘n nuwe proses. Dikwels kan mens hier mense help om self met die Here te praat en indien die boodskap op die ou end verstaan word, dan is die bevestiging dat hulle God gehoor het natuurlik van groot waarde. Die Here het jou gesien en het met jou gepraat! Die uitdaging is egter om die Bybel ‘n plek te gee in huise en gesinne, want dit speel geen rol in gemeenskappe behalwe in die 2 ure in die kerk gebou nie.

Dualisme

Dikwels is Bybel lees en ander religieuse gebeure in ervaringe van lidmate beperk tot Sondag in die erediens. Die idee is sterk dat God Sondae verheerlik word en Bybel gelees word en gebid word in die erediens. Dat die soort van geloofsuitlewinge in die huis plaasvind is baie vreemd. So ook hier is dit nodig om baie aandag daaraan te gee om gemeentelede te help verstaan dat ‘n sterk gemeente gebou is op gelowige families wat die Here met hulle hele lewe dien. Nie net op Sondae nie. As hulle die Here dien in 2 ure van die 168 ure van die week, wat dan van die ander ure?

Moenie die gevolge van die soort van denke onderskat nie. Politiek, sekuriteit, opvoeding, mediese werk ens. Word dikwels in ‘n ander klas geplaas as dinge soos bid bybel lees en evangelisasie. Die Here het niks te doen met die res nie. So word Godsdiens iets vir Sondag en die res is jyself en jou omstandighede wat bepaal. Dit is selfs vreemd as die Here iets te doen het met jou huwelik en gesin.

Verlossing

Die Teologie van verlossing pas in in die storie van God. Nou kom idees soos Jesus se sondeloosheid en dat Hy God en mens is handig te pas. Ek sal bv vra wie die ma van Jesus was en of sy mens was. Dan ook wie die pa van Jesus was aangesien Josef nie by Maria geslaap het nie. Saam met dit is daar paar maniere om die sondeskuld probleem te verduidelik. Dit is volgens my ook belangrik om die korrupsie van die mense en sy totale verdorwenheid ook te beklemtoon in ‘n wêreld wat dikwels die mens as goed beskryf. Die totale onvermoë van die mens en die Vader wat die redding bewerkstellig van Sy kant af. Al die sola’s van die reformasie word belangrik.

Hieruit kom daar dan ‘n verhouding wat soos reeds genoem is, soms ‘n groot uitdaging is om te verstaan en te beleef. Dit is juis die verlossing wat help om iets daarvan te kan beleef. Baie stories soos die verlore seun ens help met die uitdaging.

Vertroue

Hierdie uitdaging het baie te doen met die geeste en tradisies. Mense wat nie net in idees nie, maar in verhoudings met familie ‘n groep gevorm het waarin hulle oorleef. Om nou op ‘n punt te kom waar vertroue beteken die opgee van vertroue in die tradisies, is ‘n menslik onmoontlike skuif. Daar is net soveel vyandskap en ontwrigting wat daarmee saamgaan, dat dit net die Here is wat dit kan bewerkstellig.

Dit vat dikwels ‘n langtermyn verhouding om eerlik oor die goed te kan gesels. Ek hou daarvan om situasies te skep soos ‘n kind wat siek is en wat die gemeenskap doen om die probleem op te los vs. Wat die mense in die Kerk doen om die probleem op te los. Wat doen die Kerk as hulle gebede nie altyd werk nie. Ens.

So ook as iemand se oeste swakker is as ander, wat doen die gemeenskap en wat doen mense van die Kerk daaroor.

Dit loop dikwels uit op ‘n beskrywing van die 2 paaie waar daar drastiese besluite gemaak moet word. Dit help as mense dan reeds iets van ‘n intieme verhouding met die Here verstaan. Dit bring jou by die punt om te erken. Of ek nou doodgaan of ek nou lewe, ek gaan die Here dien!

Ek het dominees in die kerk gekry wat sal erken dat jy maar na die geeste kan gaan vir hulp indien daar vir ‘n sieke gebid is en hy nie gesond geword het nie.

Die vraag is hoe mens so ‘n diep vertrouensverhouding met die Here kan beleef, dat jy bereid is om die ander vertrouensverhoudings prys te gee. Dit is tog ons realiteit as gelowiges. Dit is veral moeilik in ‘n omgewing waar die pa kind ervaring nie die effektiewe metafoor is om die verhouding oor te dra nie. Die uitdaging is dat juis omdat dit so is, is daar geen verhouding wat gebruik kan word as metafoor nie.

 

Trek dominees en sinode vergadering

 

Vergadering in Milange evangelisasie huis

Die laaste paar dae hier in Mosambiek het ek die voorreg gehad om die sinodale kommissie vergadering van die Tumbine sinode by te woon en het ek gehelp om drie dominees te skuif na hulle nuwe gemeentes. Dit is intense kulturele ervarings waar ek as ‘n materialistiese Westerling gekonfronteer word met ‘n lewe so anders as my eie. Alhoewel ek reeds 28 jaar betrokke is in Mosambiek, bly daar altyd gedeeltes wat ongemaklik bly vir mens se ou natuur of vir dit waaraan jy gewoond geraak het. Mens wil mos altyd neig na wat gemaklik is. Dit is egter net die een kant van die storie, soms is daar dit wat mens diep raak wanneer jy iets raaksien wat baie mooi en Bybels is. Ek dink soms dat ek al baie geleer het, maar dan gebeur daar dinge wat jou laat besef hoe min jy weet.

Geïnspireerd deur John Maxwell se preek oor evangelisasie uit 1 Kor 9, raak Paulus se benadering en begeerte om te dien en alles te wees my net weer. Hy doen tot op die uiterste alles sodat sommige gered kan word. Vir die Jood word hy soos ‘n Jood en vir die swakke soos ‘n swakke. Die woord diens kry net soveel meer konteks in so ‘n benadering. So tussen hakies, beteken dit dat mens nie mense kan uitnooi na jou wêreld nie, maar dat jy na hulle wêreld beweeg in verstaan, beleef, ruimte maak op so ‘n manier dat hulle jou gemaklik kan ontmoet en respekteer. Daar word hulle lief vir jou (binne ‘n wêreld wat soms vir jou ongemaklik is) en as hulle vir jou lief het, dan kan hulle ook jou God aanvaar. As hulle nie vir jou lief kan word nie, dan is dit baie moeilik om jou God te aanvaar.

In die vergadering van 2 volle dae, oggend tot 11nm, het ons net vir etes gebreek. Tydens die vergadering was daar ‘n man wat ‘n dominee was, maar uit sy eie besluit het dat dit nie vir hom is nie. Hy is ‘n moeilike man en het moeilik oor die weg gekom met die besluite van ander. Dit was reeds 10 jaar gelede. Nou wil hy graag ‘n brief hê van die kerk vir sy weggaan. Hulle gee hom toe die geleentheid om sy saak voor die vergadering te stel en hy vertel sy storie vir maklik 45 minute. Die manier klink vir my baie vreemd, want aan die een kant noem hy dat hulle sy vriende is, maar aan die ander kant verontskuldig hy homself die heel tyd en dit klink soos beskuldiging van die kerk. Daarna word hy uitgestuur en word die vergadering die geleentheid gegee om hulle menings te gee. Elkeen wat wil kry ‘n kans. Hiertydens probeer die vergadering bepaal wat is die agenda agter dit wat gesê is. Een ouderling staan op en volgens sy mening wil die man vreeslik graag terug kom na die kerk toe. Hy besef dat hy foute gemaak het deur die kerk te verlaat en sy eie kerk te begin en voel nou baie skaam daaroor. Tog kry hy dit nie reg om te erken dat hy ‘n fout gemaak het nie. Hy is net te trotse mens daarvoor. So die ouderling reken dat ons sy gesprek as ‘n erkenning van fout moet interpreteer en hom weer ‘n kans gee. Hy is nie ongemaklik oor die beskuldigings nie, want hy luister na die man se hart. Alhoewel die voorstel nie aanvaar is nie, was dit vir my ‘n voorbeeld van hoe vergaderings funksioneer. Ek kan nie met my denkwyse hierdie vergaderings benader nie, dit gaan net nie werk nie en bring net weer die onaanpasbaarheid van kulture na vore en bring skeiding en oneffektiewe funksionering. As ek egter ongemak omhels en deel word van hierdie benadering bring dit op die ou end ‘n baie unieke verhouding, want hulle beleef mens wees soos hulle dit ken. Na die verhouding gevestig is, kan daar eers begin word met ‘n konfrontering met die Bybelse boodskap.

 Die Bybelse boodskap bly ‘n boodskap wat na alle kante toe Westers en Animisties, bevestig, maar ook seer maak en transformeer. Die Bybelse boodskap ken ons as ‘n ongemaklike boodskap met wonderlike resultate. Dit is nie God wat moet verander nie, maar ons.

Ek deel graag nog ‘n ervaring van dieselfde beginsel om te word soos die mense wat jy lief het, met die doel om ‘n nuwe lewe van Christus met hulle te deel.

Ek word gevra om ‘n dominee en sy familie in Chimuavi gemeente te gaan haal en na Marongane gemeente te neem. Dit is ‘n slegte paadjie deur die bos en deur riviere waarvan die brûe weg gespoel het met die laaste sikloon. Ons kry toe stort reën, maar dit eers daar gelaat. Daarna vat ons weer daardie dominee na Calane wat ook ‘n klein bospaadjie oor riviere en berge is. Daardie dominee moes ek weer vat na Pebane.  Nou laai ‘n dubbel kajuit bakkie met ‘n dominee se hele huisraad, veral as hy klomp sakke mielies het. Die mielies is baie belangrik, want dit is sy gesin se kos vir die jaar. Verder moet die gesin saam inklim. Ag daar is net soveel uitdagings.

Foto sê genoeg

Een van die riviere waar mens moet deur

Nog 'n riviertjie waar ek die pad verloor het en 200m in die rivier af gery het.

In die proses word mens gekonfronteer met jou Westerse idee om jou voertuig te beskerm en die nood van mense. Die balanse is nooit maklik. Aan die een kant is die hart van die saak om mense te bereik en aan die ander kant kan mens nie jou bakkie breek nie. Die besluite en aanvoeling vir die voertuig is nie by die mense nie, maar is by jou. Voeg daarby dat bv die een dominee goed doen en 13 sakke mielies het en baie meer huisraad. Na beraadslaging met sinodale leiers ens is besluit dat die hele program, ook die opleiding wat hierna kom aangepas moet word. Ek moet ‘n ekstra dag spandeer en die dominee help van sy bagasie na sy familie aan te ry, dan terug te gaan en dit te laai wat saam na die ver gemeente in Pebane gaan. Die dominee vertel my dat sy familie in Ile is en so vertrek ons. Hy sê nie dat dit 40km anderkant die dorp Ile is nie. Belangrike inligting word net nie gegee nie, en ek dink toe nie dat ek moet vra nie. Ek behoort eintlik te vra, want ek weet mos. By sy familie is daar ‘n taal misverstand en dink hulle ek wil met sy ma trou en sy verduidelik dat sy klaar getroud is, maar vir my iemand sal kry wat nie getroud is nie. Nou lag ons eers lekker oor die misverstand.

Met misverstande en besluite wat heeltemal dwars teen jou Westerse denkwyse ingaan, is die proses definitief nie gemaklik nie. In die proses waar die woorde van Paulus as antwoord na jou kom as jy met die Here praat, druk jy aan en daar gebeur ‘n mooi ding. Die wêreld van die mense gaan vir jou oop en saam met dit jou gesindheid en saam met dit word mense lief vir jou. Ek staan verstom oor hoe dankbaar mense raak. Hier is so paar voorbeelde daarvan.

By die een gemeente huil die dominee se vrou buite beheer weens die familie en mense van 6 jaar wat sy moet verlaat. Emosies ontmoet mekaar en ek huil amper saam en kan selfs met ‘n dreigende storm wat kom op ‘n sleg paadjie tyd maak vir haar om dit te verwerk.

In ‘n ander geval moes ons in 40 grade omstandighede die hele dag met ‘n oorlaaide vrag ry, oggend tot aand. Dit is so warm dat 6 van hulle hoenders agter in die bakkie vrek. Dit raak toe die dominee se vrou so, dat sy in al haar eie emosies van weg gaan en in ‘n vreemde plek nuwe mense moet leer ken, uit haar pad gaan om vir my te sorg. Die moeite wat sy gedoen het om vir my kos te gee en ‘n sakkie eiers om saam te vat raak mens.

Die laaste dag van die trekkery, ry ‘n man saam terug na Mocuba. Ons gesels op ‘n vlak wat lyk asof hy geen onderskeid tussen ons sien nie. Dit was vir my vreemd maar goed. Later in die gesprek kom ek agter hy praat met my oor wit mense, want hy dink toe nie ek is ‘n wit mens nie. Ek praat natuurlik saam, want dit is vir my ‘n groot kompliment. In al die uitdagings, myne baie minder as hulle sin, het ons op so ‘n vlak geëindig. Ons is nie hier betrokke net om mense te help om Jesus te ontmoet nie, maar oor ‘n hele lewe saam met Jesus vir mekaar te leer. Dit is lang termyn en daarom kan mens nie net kort termyn betrokke wees nie.

Die ander ervaring wat ek graag deel is met die oorhandiging van die een predikants paar. Omdat daar nie plek was vir die sinodale verteenwoordiger om saam te ry nie, moes ek die sinode ook verteenwoordig. Ons gesels toe oor die werk van die gemeente en hoe die ds en sy gesin met die gemeenskap moet hande vat. Diens wat veroorsaak dat daar geen mag of trots op die spel is nie, maar die behoeftes van die gemeenskap. Dit maak dat deure van huise oop gaan en dan later ook harte van mense. Dan begin mense te vra oor geloof en dan is mense gereed om nie net te hoor nie, maar te luister. Teen die einde kniel die dominee en sy vrou en die vrouens kom lê hande op die vrou en die mans op die dominee en dan bid ons almal saam. Ek weet nie hoekom dit vir my so besonders was nie, dalk omdat dit so ‘n oud Bybelse gebruik was.

Lekker om dit goed met mense te deel wat graag deel wil wees.

 

Liefde en lekker dag vir julle

Naasteliefde in waarheid

Wat is die kenmerk van 'n gelowige?  In Matt 25 word dit duidelik dat optrede teenoor jou naaste, die vrugte is wat 'n gelowige op...