Volgers

18/02/2018

Lidmate raak betrokke in Mocuba


Een van die belangrikste doelwitte vir die bouwerk in Mocuba is om die gemeente te help om betrokke te raak by die kerkgebou en die werk daaraan. Dit gaan op die ou end nie oor die gebou nie maar oor die mense.
Ek en my ondersteuners bid baie daarvoor dat die lidmate betrokke sal wees in die Koninkryk en dat die gebou hulle daarmee sal bystaan. Die gemeente is baie jonk en so ook die denominasie van die Gereformeerde kerk.
Die vier wat aan die gebou werk kom van Milange af en is gaste van die gemeente. Tog werk hulle meestal alleen sonder ondersteuning van die plaaslike lidmate. Hulle slaap ook in die kerkgebou op hulle eie. Ek slaap by “Osivela wa Jesu” by Bernadette.
Vrydag nag kry een van die werkers ‘n nagmerrie en angs aanval. Hy skree in paniek omdat dit voel of iemand hom om die keel beetgekry het en wurg. In die verwarring in die donker om die misdadiger in die hande te kry val hulle oor goed en val mekaar aan. Gelukkig was die besering min. Die bure uit die omgewing kom kyk wat aangaan. Later in die nag kom mense en loer deur die diefwering by die vensters en sê hulle weet hier is geld en iemand gaan nog dood gemaak word.
Die hele situasie is vir die plaaslike gemeente ‘n groot verleentheid, want gaste word beskerm en versorg en daar was nie eers een van hulle daar nie. Die hele bou projek word dus nou ook ‘n geestelike stryd. Is daar redes genoeg om nie die werk te los en terug te gaan huis toe nie. Die vrese loop hoog, want die soort van gebeurtenisse word as aanvalle gesien deur bose magte georkestreer deur mense wat slegte bedoelings het. Mense wil hulle dus nie daar hê nie.  
Ons bid saam en die werkers vind genoeg vrede om voort te gaan met die werk. Die leiers en dominee voel skaam oor die hele ding en skielik begin almal dink oor wat hier aangaan. Wie se gebou is hierdie en wie is verantwoordelik. As die werkers nou loop, wie gaan skade ly ens. Vinnig word erken dat die gebou aan die gemeente behoort en dat hulle, gefaal het om hulle gaste te versorg.
In die erediens word daar deur die hele gemeente gebid vir die werkers.

Saterdag aand word ek gevra om Sondag te preek. Sondag oggend kon ek bietjie voorberei. In die gemeente self, verander my preek egter. Ons kry reg om ‘n gesprek aan die gang te sit oor getuie wees van Jesus. Ter opsomming besef ons dat ongeletterde mense deur die Gees van God wonderwerke kan doen en as dit gebeur dan het hulle niks om op trots te wees nie, want dit is God aan die werk. Die bouwerk en wat gebeur het bring die gemeente nou voor uitdagings. ‘n Noue verhouding met God deur Sy Gees wat in ons woon sal ons begelei en wysheid gee in alle omstandighede. Verder bid ons saam en moedig mekaar aan waar ons bang en onseker is. Dit help nie ons gaan net vir die Here vra om die omstandighede te verander en dan eenkant gaan staan en niks doen nie. Die Here werk deur ons om omstandighede te verander. Dit leer ons uit die verhale in die Bybel. Nou wat gaan ons doen. Opsommend kom die antwoord dan ondersteuning en voorbidding gedoen gaan word, besoeke en saam werk sement meng ens. Aanmoediging en skenking van kos piesangs en help kos maak.
Teen die einde van die diens was daar ‘n groot hoop stene in die kerkgebou wat geskuif moet word na buite. Die hele gemeente het onmiddellik ingespring en drie rye gevorm en so die stene in die ry afgestuur tot buite en daar gepak. Binne ‘n uur was al die stene buite met baie lag gesels en grappies maak saam met die sweet (Was lekker warm en bedompig).
Ek is nogal nuuskierig om te sien hoe ver die toewyding gaan strek en hoeveel gaan kom help. Bid daarvoor en ek sal laat weet hoe dit more gaan. Die Here werk op wonderlike maniere.

14/02/2018

Opwinding van God se transformasie

Ek vertrek uit die Kaap met 'n kopseer en fisies sommer swak. Seker iets verkeerds geëet. 
Soos ek vorder noord, praat ek met die Here al is dit 'n ongemaklike praat. As jy so moeg is kos dit soms inspanning om op Hom te konsentreer. Tussendeur lees ek Allen Hirch se boek 5Q, wat my oor die laaste maand help met 'n duideliker visie van dit waarna ek, met diep oortuiging, streef. 
Op Blantyre is die lug sommer dik van die humiditeit en dit laat my goed voel, want ek beleef die wêreld waarvoor ek lief is.
Dit is ook groen en langs die pad lyk baie beter as wat die twee fotos kan weergee:



By die grens is ek bekommerd oor hoe ek die migrasie gaan oortuig dat ek nie 'n brief nodig het om die land in te kom nie. Gewoonlik word jou bagasie op drie plekke deursoek. Kan julle glo, niemand deursoek my goed nie en almal erken my en is vriendelik. 
Hoe lekker was dit om nie kerkleiers die hand te gee nie, maar vriende. Ek stel myself in om die goeie van elke oomblik te beleef en die kopseer verdwyn en ek voel sommer baie beter. Dit reën nou vir meer as 'n uur lekker. Dink net hoe dit 'n Kapenaar se hart kan laat voel.
Ek is agter op motorfietsies gebring tot by die sendingstasie, wat verlate hier lê. Dit lyk goed, maar dit is baie stil en vreemd dat hier niemand is nie. Muskiete is baie en ek smeer dik. Ek dink ek gaan lekker slaap.
Die opwinding in my hart is nie van my af nie, dit is nie van iets af nie, dit glo ek kom van iemand. Daar is die opwinding om in my verbeelding te sien hoe mense geïnspireer word deur die Gees van die Here om voluit te lewe, lief te hê en almal te verras met hulle goedheid. Daar waar almal die kerk is en mekaar help om 'n intieme verhouding met Jesus te hê. Niemand wag vir leiers nie, want leiers kom agterna en versterk die inisiatiewe van elke christen, rus toe ondersteun en help reg van agter af uit 'n dienende karakter. Elke gelowige word 'n koning met sy roeping en as die Here deur iemand iets doen, is daar niks om op trots te wees nie, want dit is die Gees in hom of haar wat dit doen. Op die manier word die onmoontlike moontlik!! 
So sien ek hoe die wêreld vir Christus leer ken in 'n magtige beweging van God.
Om dit te bereik moet daar ook baie idees en verstaan van kerk wees afgebreek word, daar moet openheid kom om die oneindig intieme diepe liefde van God vir elkeen te kan begryp, soos Paulus ook bid. Verstaan van wat 'n verhouding is. (Ek is besig om baie hiervan te leer). Hoe om onbeweeglike diep oortuigings van God te hê, so diep dat dit jou lewe bepaal en jou eie fisiese lewe niks is daarteen nie. Dan is daar niks meer oor om jou geloof dood te maak nie, want jy weet. Jou Vader is!! en Hy is goed. Ons word mee gesleur deur die stroom van Sy liefde na die gebroke wêreld en so ver ons saam gesleur word, word sout water vars en begin dit lewe bring. Pyn vernedering, foute en swakhede, is nie meer 'n vyand, want die wete van die oorwinnaar is groter. Ons deel maar net in Sy lyding soos ons ook in Sy opstanding deel.

12/01/2018

Grootste opdrag, wees lief vir jou naaste

In 1980 was 24% van die wêreld onbereik met die evangelie. Dit was meer as ‘n Biljoen mense. Vandag is 29% van die wêreld onbereik wat 2.1 biljoen mense is. Die tendens is dus dat daar al meer mense sonder die goeie nuus van Jesus moet groot word lewe en dood gaan sonder ‘n geleentheid om God se woord te hoor.



Behalwe vir die vraagstuk of sulke mense Hemel toe gaan is daar nog die wete dat daar nie ‘n lewe is sonder Jesus nie. Alles wat die wêreld laat ontwikkel en beter word, kom wanneer mense lewe binne die atmosfeer en vasgestelde grondwette soos deur God bepaal word lewe. Dit bring voorspoed en lewe en alles wat gebeur sonder Jesus bring die dood. Die resultate van mense wat lewe sonder God is dan ook die dood en verwoesting.
Vir ‘n beter wêreld moet ons ons Vader se grondwet  verstaan en vreugde vind daarin. Dit bring vervulling en verminder regerings wat lyding en onreg veroorsaak ens.
In kort: DIE WÊRELD MOET WEET! God self gee so om vir die wêreld dat Hy alles doen en die deur oopgemaak het deur Jesus dat almal gered kan word. Nou is Hy self besig om die wêreld te bereik. Hy roep Sy kinders op om die nuwe lewe doelbewus uit te leef sodat die wêreld sal weet.
Kom ons beleef God se hart vir die wêreld en laat ons geen steen onaangeroer laat om hierdie lewensroeping uit te leef.
Wat het ons bereik aan die einde van ons lewens as ons nie op ‘n manier hierdie roeping uitgeleef het nie?
Dit is holisties, so daar is soveel kreatiewe opwindende maniere om dit te doen in ons daaglikse lewens orals waar ons beweeg. Dit vra egter radikale aanpassings. Kom ons moedig mekaar aan!
God is in Sy wese gerig op die wêreld. Om ook so te wees in navolging van Hom, is menslik baie moeilik en selfs onmoontlik. Navorsing het bewys dat ‘n geloof gemeenskap wat nie met sending in die hart begin het en alles daar rondom georganiseer het nie, is dit feitlik onmoontlik om te verander en weer vanuit die roeping te begin leef. Dit gebeur net nie.
Om die rede is ‘n verhouding met die Here deur Sy Gees so krities. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in...” Dit wat vir my onmoontlik is, is by God moontlik. Ek kan nie eers baie basiese veranderinge in my eie lewe in baklei nie, ek het Hom nodig in my. Dan begin dinge wat menslik onmoontlik is gebeur.
Ek glo nog dat ons geloofsgemeenskappe getransformeer kan word. Ons het mekaar nodig en moet met mekaar praat en saam werk. Kom ons vat hande.


02/01/2018

Kerkwees sending en ander bedieninge

Ek skryf die gedagtes neer op grond van twee gedagtes uit Alean Hirsch se boek "The forgotten ways" en met Brackenfell NGK gemeentes in gedagte.
Die een gedagte is dat enige gemeente wat nie sending as hulle eerste uitgangspunt het nie, is besig om van binne af te disintegreer. Dikwels gaan gemeentes geestelik dood lank voordat daar 'n fisiese doodgaan.



Die tweede gedagte wat in baie sterk woorde in die boek voorkom is dat indien daar op bediening gefokus word en nie sending nie, soos reeds gesê, dan is die gemeente op die afdraand. Indien die gemeente nou besef dat hier fout is en wil omdraai, dit in die geskiedenis bewys is dat met die beste pogings, daar nie geslaag word om om te draai nie.
Dit is twee geweldig sterk stellings en ek wil byvoeg dat Communitas en die NGK opleiding in die algemeen, vir Alan Hirsch baie sterk aanbeveel en gebruik. Persoonlik vind ek in my verstaan van die Bybel ook baie sterk aansluiting by hom en het groot respek vir sy uitsprake. Ek neem dit baie ernstig op en juis daarom is daar 'n begeerte om dit met die kerk te bespreek en saam te dink en te ontdek wat die Here se wil vir die NGK in Brackenfell is. As Handevat bediening is dit ook gedagtes waarmee ons werk in Mosambiek.

Ek wil graag die twee terme "sending" en "Bediening" bietjie omskryf: Bediening word gewoonlik verstaan as al die aktiwiteite van die gemeente wat gerig is op lidmate en struktuur van gemeente. Dit sluit vir my in eredienste, want dit is meestal belydende lidmate wat eredienste bywoon. Selfs met doop en begrafnisse gaan dit meer oor die persone betrokke as oor die besoekers wat dalk nie die Here ken nie. Verder sluit dit in geld insameling bedieninge soos kersmarkte ens. Dit gaan oor die finansiële oorlewing van die struktuur van die gemeente. Verder sluit dit ook Sondagskool, jeug, klein groepe, sieke besoeke ens. in. Grotendeels is die bedieninge besig met lidmate of ander christene.
Sending aan die ander kant is dit wat gedoen word vanuit 'n Goddelike roeping en identiteit, aan mense wat God-loos is en lewe. Mense wat verlore is. Dit sluit dan in evangelisasie aan hulle sodat mense hulle tot God kan bekeer en gered word. Sending sluit egter baie meer as net evangelisasie in, dit gaan ook oor 'n dissipelskap proses om as christene te kan lewe, Politiek kan bedryf, besigheid kan doen, opvoedkunde kan beoefen kuns beoefen gesinne en verhoudinge hanteer ens. Net as voorbeeld: Mens is nie net tevrede as ons skole positief is oor 'n christelike karakter nie, maar dat die talle ander skole rondom ook daarin groei. Indien nie, is daar nie 'n toekoms vir ons land nie. Elke lidmaat met sy of haar gawes en omstandighede, besig om daar waar hulle is die lig te laat skyn.

In verhouding tussen kerk bediening en sending, is die enigste weg dat ALLES met sending moet begin. Dit is die sending wat bepaal hoe die bediening gaan lyk. Dit is wat Hirsch beskryf dat indien dit nie so is nie, dan is ons besig om te desintegreer.
In toepassing op Brackenfell moet ons vra, waar is ons fokus, wat is ons reg tot bestaan?
Gedryf deur 'n liefde vir ons land en poging om as christen my roeping in die land en kontinent uit te leef, sal ek graag die vraag wil vra, eers hoor hoe christene veral leiers soos ouderlinge, hieroor dink en indien nodig dan my gedagtes daaroor te deel.
Laat ek afsluit met die gedagte: As christen is ons NOOIT sonder hoop nie, ook nie vir ons land nie.

21/11/2017

Liefde en menslike natuur

Liefde is nie natuurlik deel van my nie. Dikwels is daar sterk gevoelens teenoor sekere mense diere en dinge, maar ek twyfel al meer of sulke gevoelens liefde is. Dit is soms weggesteekte eie belang en soms dood eenvoudig misleidend en maak ook dat mens onderskeid tref tussen mense.
Die toets van liefde kom, lyk my, waar, die teenoor wie jy negatiewe gevoelens of geen gevoel het nie, jou pad kruis.
Ek werk al lank saam met Mosambiekers en het al baie positiewe en negatiewe gevoelens ervaar. Teleurstellings is oor die lang termyn meer as vreugdes.
Dikwels moet ek myself herinner dat God die wêreld lief het sonder onderskeid. Soms is die mense wat die meeste negatiewe gevoelens ontlok dikwels juis hulle wat die grootste potensiaal het. Hierdie is 'n redelik konstante stryd. Die liefde wat ons vir mense het is dikwels juis die liefde waar jou gevoelens en natuurlike reaksies opgeoffer moet word.
Ek kom in die week in 'n baie plattelandse gemeente van die IRM. Ons is regtig moeg na dae se werk en het weer 8 ure in baie warm weer op 25km per uur paaie gery. Dit het al donker geword, skielik begin dit reën. Die bakkie is baie onbetroubaar en my program is so dat ek met die terug ry van daar nie vertragings kan bekostig nie, dan mis ek my vliegtuig na RSA. Ons ry die bos in waar selfoon sein verdwyn, die pad stompe in het en die bakkie se ligte is baie swak. Ons kry 'n lorrie wat vassit en ek vat 'n groot kans om deur 'n landery rondom te ry.

Daar aangekom, word ons gevra om dadelik met toerusting te begin tot 10uur die aand.
Here, watter sinvolle toerusting kan ek gee sonder tyd om na die mense te luister? Die mense se verwagtinge is heeltemal anders as dit wat nou sinvol aangebied kan word.
Soos baie keer is die Here se antwoord: wees lief vir hulle met My liefde, en ek sal die res doen. Já, Here ek weet, maar dit is nie wat ek nou voel nie en my natuur sien alles wat nou nie aanvaarbaar is nie en onmoontlik is vir my om te oorkom. My seun, jy weet mos dat dit my liefde is en dat dit doen wat jy nie eers kan begin doen nie.
Die Here werk daardie aand op wonderlike maniere en ek kan geen krediet daarvoor vat nie. Die gesprek is uniek vir die induvidue se omstandighede en die verduidelikings wat ek gee is vol van God se liefde. Dit is heel anders as wat ek nog ooit gedoen het, en ek weet, dat die Here weet wanneer om vir wie wat te sê. Om alles te kroon is daar 'n paar mense wie se dankbaarheid net uitborrel teenoor ons. Twee ou bekendes kan nie ophou om my te bedien nie. Skielik is God vir my lief deur hulle en Hy streel my moeë gees met nuwe vervulling. Alle eer aan Hom wat dien en werk soos geen mens in 'n menslike natuur kan nie.
Die volgende dag kon ek meer intensoneel oorgee en gaan Hy voort om dit weer eens te doen soos hoe Hy dit in al 5 die ander gemeentes gedoen het op hierdie besoek.
Mens sal seker altyd met hierdie misleidende en negatiewe gevoelens sukkel. Sommige goed wat jou natuur begin sê is so vals en sleg, dat ek dit nie eers hier wil noem nie. God deur die genade van Jesus en die werking van Sy wonderlike Gees, sal nie seker nie, maar definitief voort gaan om vir die wêreld lief te wees en dit deur ons korrupte wesens bly doen. Aan Hom die eer.

Soos die liedjie die Houtkruis ook uitwys. Dit was nie ‘n lekker sentimentele gevoel wat Jesus gevoel het aan die kruis nie. Die kruis is die plek waar ons leer wat liefde is.

13/11/2017

Entre Lagos besoek

Na 'n goeie gesprek kom ons agter dat daar nog nie verstaan word wat liefde is nie.
Op 'n stadium vra ek wat Jesus sou doen as hy hier gewoon het. Hy sou na Sy huis kyk in Sy tuin werk, maar wat sal Hy nog gedoen het?
Een antwoord was dat Hy dalk vir hulle geld sou gee. Hy weet nie.
Dit is 'n baie plattelandse gebied, maar hier is heelwat kerke. Dit wys waar die area se denke is oor Christenskap.
Verder tel ek op dat hier nie eenheid is nie. 
Hoe verduidelik mens eenheid as die woord liefde nie gaan help nie. Op die ou end praat ons eintlik baie diep oor vergifnis. Eers erkenning dat ons foute maak en sonde doen. Daarna die ses stappe van hoe om vergifnis te vra en dan hoe seer ons onsself maak deur met wrokke rond te loop. Die Jesus verhaal aan die kruis is die fondasie vir vergifnis. Dit kom uit genade van Hom af. Dan ook hoe die Gees en 'n intieme verhouding met Hom ons in staat stel om te vergewe, foute te erken en nederig te wees in die proses. Hy bewerk in ons wat ons self nie in staat is om te doen nie. Gesprekke gaan dieper as wat ek verwag het en terugvoer wys dat die Gees wel in harte gewerk het.
Nou kon ek terug kom na die woord liefde, want saam met die doodgaan en prys gee van jouself, is vergifnis deel van liefde.
Dit wat uit mense se oë straal en hoe mense interaksie met mekaar het, is regtig aanmoedigend. 

27/10/2017

Huisbesoek verrassings in Magodane

Dit was vandag 44 grade in Maganja da Costa tydens die uitreik na die Magodane gemeente  van die IRM.
Die program was eerstens 'n besinning oor 'n Bybelteks, dit het vinnig verander in 'n gesprek oor gister se uitreik na huise. Daar was net te veel opgewondenheid daaroor.
Een groep het 'n familie se huis besoek waar daar siekte was en die vrou kon nie vir haar familie sorg nie. Die kerk se vrouens het vinnig die mielies begin stamp sommer so tydens hulle huisbesoek. Die mans is toe in die veld in om brandhout te gaan haal om te help. Almal deel hulle opgewondenheid, want die gemeenskap praat almal oor die besoek.
By 'n ander huis het hulle 'n weduwee gekry wat al oud en siek was. Toe hulle haar uitvra oor hoe dit gaan wou sy eers nie praat nie, want verduidelik sy, hulle kan tog nie al die probleme oplos nie. Hulle moedig haar toe aan om te praat want hulle kan ten minste vir haar bid. Toe het sy vertel dat sy sukkel om te oorleef en nie veel in die huis het nie. Daar was wel water anders sou hulle gaan water haal. Hulle het toe weer brandhout vir haar ook gaan haal en met die terugkom by die kerk het hulle in 'n groep gesit en gepraat om Sondag almal 'n bydrae van kos te maak sodat hulle dit vir haar kan vat.
Die lekker is dat hulle almal getuig van hoeveel die gemeenskap hulle waardeer het.
'n Ander vrou staan toe op en vertel van 'n vrou wat ook swaarkry aan die ander kant en dat sy sterk daaroor voel om by haar huis om te gaan en vir haar kos te gaan haal. Die ander spring toe ook in om bydraes te maak. Skielik kon ons haar aanmoedig, want sy het die Gees in haar gehoor en daarop reageer en boonop die ander daarvan vertel. Ons wag nie meer vir leiers om die wil van die Here te soek nie, want die Here lei die gemeente deur almal.
Die ander goeie ding is dat die nuwe dominee 2 dae terug aangekom het en deel geneem het aan al die prosesse oor die drie dae. Hy is entoesiasties om die Here se leiding in die gemeente ernstig te neem en dus na almal te luister en mekaar reg te help waar nodig.
Die drie dae het begin deur ons wat vir mekaar gesê het dat die HERE my herder is, nie die kerk of vrees of enige iets anders nie. Ons volg Hom en Hy sorg vir ons. Hier teen die einde word dit aanmekaar deur leiers herhaal, Die Here is ons Herder en almal moet dit weet.
Soos baie dinge moet die leringe en nuwe gedrag deur tyd getoets word, maar hoe lekker is dit nie om deel te wees van mense wat kort kort Ah-Ha momente beleef het.

Mosb besoek Mavago Cuamba en pad

Administrateur in middel  Vanaf Mavago het ons eers die Administrateur (vroulik) besoek. Sy is ‘n Mosl&m met mooi verhouding met die k...