Een van die belangrikste doelwitte vir die bouwerk in Mocuba
is om die gemeente te help om betrokke te raak by die kerkgebou en die werk
daaraan. Dit gaan op die ou end nie oor die gebou nie maar oor die mense.
Ek en my ondersteuners bid baie daarvoor dat die lidmate
betrokke sal wees in die Koninkryk en dat die gebou hulle daarmee sal bystaan.
Die gemeente is baie jonk en so ook die denominasie van die Gereformeerde kerk.
Die vier wat aan die gebou werk kom van Milange af en is gaste
van die gemeente. Tog werk hulle meestal alleen sonder ondersteuning van die
plaaslike lidmate. Hulle slaap ook in die kerkgebou op hulle eie. Ek slaap by “Osivela
wa Jesu” by Bernadette.
Vrydag nag kry een van die werkers ‘n nagmerrie en angs
aanval. Hy skree in paniek omdat dit voel of iemand hom om die keel beetgekry
het en wurg. In die verwarring in die donker om die misdadiger in die hande te
kry val hulle oor goed en val mekaar aan. Gelukkig was die besering min. Die
bure uit die omgewing kom kyk wat aangaan. Later in die nag kom mense en loer deur
die diefwering by die vensters en sê hulle weet hier is geld en iemand gaan nog
dood gemaak word.
Die hele situasie is vir die plaaslike gemeente ‘n groot
verleentheid, want gaste word beskerm en versorg en daar was nie eers een van
hulle daar nie. Die hele bou projek word dus nou ook ‘n geestelike stryd. Is
daar redes genoeg om nie die werk te los en terug te gaan huis toe nie. Die
vrese loop hoog, want die soort van gebeurtenisse word as aanvalle gesien deur
bose magte georkestreer deur mense wat slegte bedoelings het. Mense wil hulle
dus nie daar hê nie.
Ons bid saam en die werkers vind genoeg vrede om voort te
gaan met die werk. Die leiers en dominee voel skaam oor die hele ding en skielik
begin almal dink oor wat hier aangaan. Wie se gebou is hierdie en wie is
verantwoordelik. As die werkers nou loop, wie gaan skade ly ens. Vinnig word
erken dat die gebou aan die gemeente behoort en dat hulle, gefaal het om hulle
gaste te versorg.
In die erediens word daar deur die hele gemeente gebid vir die werkers.
Saterdag aand word ek gevra om Sondag te preek. Sondag
oggend kon ek bietjie voorberei. In die gemeente self, verander my preek egter.
Ons kry reg om ‘n gesprek aan die gang te sit oor getuie wees van Jesus. Ter
opsomming besef ons dat ongeletterde mense deur die Gees van God wonderwerke
kan doen en as dit gebeur dan het hulle niks om op trots te wees nie, want dit
is God aan die werk. Die bouwerk en wat gebeur het bring die gemeente nou voor
uitdagings. ‘n Noue verhouding met God deur Sy Gees wat in ons woon sal ons
begelei en wysheid gee in alle omstandighede. Verder bid ons saam en moedig
mekaar aan waar ons bang en onseker is. Dit help nie ons gaan net vir die Here
vra om die omstandighede te verander en dan eenkant gaan staan en niks doen
nie. Die Here werk deur ons om omstandighede te verander. Dit leer ons uit die verhale
in die Bybel. Nou wat gaan ons doen. Opsommend kom die antwoord dan ondersteuning
en voorbidding gedoen gaan word, besoeke en saam werk sement meng ens.
Aanmoediging en skenking van kos piesangs en help kos maak.
Teen die einde van die diens was daar ‘n groot hoop stene in
die kerkgebou wat geskuif moet word na buite. Die hele gemeente het onmiddellik
ingespring en drie rye gevorm en so die stene in die ry afgestuur tot buite en
daar gepak. Binne ‘n uur was al die stene buite met baie lag gesels en grappies
maak saam met die sweet (Was lekker warm en bedompig).
Ek is nogal nuuskierig om te sien hoe ver die toewyding gaan
strek en hoeveel gaan kom help. Bid daarvoor en ek sal laat weet hoe dit more
gaan. Die Here werk op wonderlike maniere.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking