Volgers

31/03/2020

Liggaam Stryd in korona tyd

Ek sit hier met moeë liggaam met bietjie koors en kopseer. Eergister het die stryd intenser geword met diep moegheid, koors en benoudheid op die bors. Na 12 het bietjie beter begin gaan en gister oggend was heel goed. Net na 12 het die koors en moegheid weer begin. As ek my suurlemoen wil uit druk, so met my fingers in mekaar gevleg druk ek die halwe suurlemoen met my handpalms. Net dit het my go op gemaak. Ek doen alles wat ek kan, lig agterkant van bed, stoom met bloekom blare, en baie meer. Die aand vat ek toe een panado en dit laat my toe om 5 ure te slaap. Daar wakker geword lê ek in die verskillende posisies om my longe skoon te kry. Dit werk goed en my longe is nie meer so benoud nie. Die koors is toe weer daar maar nooit hoog nie. Dit is nou besig om met suurlemoen sap en koffie self terug te keer na normaal en begin mens weer beter voel.
Oor die algemeen gaan dit dus weer beter. 
Die hospitaal mense daag gister hier op en kom stel ondersoek in. Hulle sê dat sodra hulle toetse kry, hulle my sal kom toets. Hulle volg ook op met almal wat voor my afsondering, met my kontak gehad het. Hulle wil hê ek moet nog 2 weke in afsondering bly. Hulle belowe om vir my 'n brief te gee van die opdrag sodat ek langer hier kan bly. 
My gees is nog steeds bo natuurlik rustig en as ek gesond is, kan ek dit selfs geniet. 

29/03/2020

Geloof die beste geskenk ooit

Ek word wakker na 'n paar uur se slaap met 'n bietjie koors tydens wat lyk soos 'n korona infeksie. Gaan eers warm rooibos tee maak ter wille van die warm drankies. Ek voel die longe kry nog alles uit gestoor en wil dit so hou.
Die ander gewaarwording is 'n diep rustigheid wat nou letterlik alle verstand te bowe gaan. 
Voor ek Mosambiek toe gekom het vertel ek die dokter dat ek soms as alles hier soms so verkeerd loop, ek soms angstig raak. Dan baklei ek baie met myself, want as ek glo behoort ek te weet dat maak nie saak wat gebeur nie, ek is veilig by die Here. Hoe meer ek baklei hoe minder kry ek dan die rustigheid wat ek soek. Sy skryf toe vir my 'n natuurlike middel voor vir daardie tye om die angstigheid te onderdruk. 
Die ander ding wat ek moet vertel: Tussen my en die Here het ek die ooreenkoms dat ek nie meer so baie vra vir uitkomste nie. Uit ervaring het ek geleer dat die Here soms die teenoorgestelde doen. Hier in Mosambiek loop alles tien maal meer verkeerd as reg in elk geval. So in my gesprekke met Hom voel ek soos ongelowige Thomas. Hy wou ook sien en glo, en glo my, ek verstaan daardie begeerte. Gewoonlik as ek egter so voor Jesus staan, dan kan ek hom nie sien en voel nie en sê hy gewoonlik vir my: Gelukkig is jy wat nie sien nie en tog glo. Die woorde moet ek baie dikwels hoor en het deel van my verhouding met Hom geword. 
Vanaand beleef ek iets van die ongelooflike geloof wat werklik wonderlik is. Daardie botteltjie pille lê nog net so in my sak. 
Nou dalk is ek soms verkeerd, seker baie keer verkeerd, maar 'n manier wat ek dink, kan jy die ware wonderwerk van geloof mis deur te dink dat geloof beteken dat soos vanaand, hy my gaan genees. So 'n wonderwerk is nie 'n stofdeeltjies teen die geloof wat Hy wil gee nie. Daar is iets baie groot aan 'n geloof wat nie gebind is aan die uitkoms wat ek wil hê nie.
Die Here het die verstaan van my en Sy verhouding op sy kop kom draai. Daar is die geloof in my, iets waartoe ek nie in staat is nie. Dit is asof my lyf net weet dit is veilig waar dit hoort. Geloof is regtig teen die menslike natuur in. Ek kan nie beskryf hoe kosbaar dit is nie. Die herinnering hieraan dink ek gaan my lewe en bediening vorentoe baie sterk beïnvloed. Ek glo dit het baie te doen met soveel mense wat vir my bid.
Geloof is soveel groter as afgepleite reën na 'n droogte, dit is so groot dat dit jou in die droogte en selfs dood transformeer, want dit is nie 'n menslike handeling.
Hier is nog 'n bonus ook. Ek gaan nog nie die blog post nie, want dit kan my vrou ontstel. Tog is daar boonop nou 'n rustigheid dat ek ook gaan herstel van die korona die vyand wat ek verdien. Geloof en genade loop saam. Tog selfs as dit nie gebeur nie, is dit reg soos nooit tevore. 
Habakuk 1, daar is die profeet baie moedeloos. In hoofstuk 3 is die gedeelte van "al sou die wingerdstok nie bod en ander rampe soos geen beeste in die krale. Nogtans sal ek jubel in die Here. 
In hoofstuk 2 sê Habakuk. Dinge gaan nog nie verander nie" Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe."
HÁBAKUK 2:4 AFR53
https://bible.com/bible/5/hab.2.4.AFR53
Die geskenk van geloof is nie daar om jou te dien nie maar die wêreld. Ek is oortuig daarvan dat hierdie boodskap vir Mosambiek bedoel is. Geloof het soms baie selfsugtig geword. Die selfsug het deur 'n paar goed duidelik na vore gekom en nou moet dit net aanmekaar gelas word met 'n bedreiging wat heel moontlik Mosambiek BAIE seer kan maak. Geestelike leiers het nou iets groter nodig en nie iets oppervlakkig nie. Ek weet julle gebedslyste is lank, maar moet nie die land vergeet nie. Dit lyk nie goed nie. 

13/02/2020

Getuienis


Hoe om te evangeliseer
Gebaseer op Doug Paul

As ons kyk na Handelinge en ook die uitstuur van die dissiples dan is daar ‘n voorbeeld van hoe getuienis plaasgevind het. Ons kan dit vir ons omstandighede aanpas.

Soek ‘n persoon van vrede.

In sending kringe word so ‘n persoon dikwels genoem ‘n persoon van vrede. Dit is die een wat jou ontvang. Paulus praat van die persoon wat deur God voorberei is. Toe die dissipels uitgestuur is was die opdrag om te klop en as die deur oopgemaak word, ‘n seën uit te spreek. As die seën ontvang word, dan het jy heel moontlik ‘n persoon van vrede.
Vir ons omstandighede kan dit dalk wees dat iemand vra hoe dit gaan, en jy dan antwoord met iets soos: Ek is nuuskierig oor wat die Here vandag gaan doen. As dit ingang vind, dan is dit heel moontlik ‘n persoon van vrede. ‘n Manier wat ek ook van hou is om te vertel wie jy is en hoekom jy hier is. Iets soos: Ek is ‘n kind van die Here van hierdie en hierdie kerk of organisasie” of dalk net “ek en my vriende is kinders van die Here en wil graag die mense van die straat ontmoet.”

Verwelkoming

Die opdrag was dat indien mense jou ontvang, gaan in en bly daar en moet nie rond trek tussen huise nie. Eet saam met hulle en aanvaar wat hulle aanbied.
Dit is nie noodwendig in mense se huise nie, maar indien mense jou ontvang. Onthou dat indien mense jou ontvang, dan ontvang hulle ons Vader. Evangelisasie is nie net om te gee nie, maar om te ontvang.

Diens

Dit is ‘n manier om in mense se lewens in te kom. Luister na hulle, verstaan en beleef hulle omstandighede. Laat hulle jou dien. Eet wat jou voorgesit word. Mense moet hulle identiteit en menswees kan uitleef teenoor jou. Dit is respek en belangstelling en veral aanvaarding wat beleef word. Wat hulle jou bied is vir jou goed.

Belê

Dan kom daar ‘n tyd van gee vir mense. Soos Petrus gesê het, “wat ek het gee ek jou”. Nou kom die tyd van investering. Die dissipels is gestuur om te bid vir die siekes, duiwels uit te dryf en mense te seën. Wat ek vrylik gekry het gee ek vrylik uit.
Hier is dit wat jy gee, enige iets wat die Here vir jou gegee het. Dit kan jou persoonlike storie van genade wees wat jy deel. Dit begin gewoonlik met ‘n vraag soos: “Is daar iets waarvoor ek vir jou kan bid?” of “kan ek my storie vir jou vertel” of “Hoe kan ek vir jou dien?”
Die persoon het die potensiaal om met al sy verhoudings ‘n boodskap verder te vat en in te beweeg in ‘n nuwe gemeenskap. Dit gaan dus van die begin af oor meer as die persoon self. Hy gaan leer om ook van God te ontvang en onmiddellik weer te gee.
Jesus self het so ‘n proses gevolg met die vrou by die put.
Soms is die nood so groot dat mens soos by die Baremhartige Samaritaan, gedwing word om met diens te begin.

Lang termyn verhouding

Veral in Handelinge word daar geweldig baie gemaak van toerusting en herbesoeke en aanmoediging. Hier kom ook die hele ding in van “leer hulle om alles te onderhou”. Dit kan ook vertaal word “om gehoorsaam te wees”. Hierdie gehoorsaamheid of onderhou van alles, beteken in alles. Dit is op alle gebiede in die lewe. Huwelik, opvoeding van kinders, jou werk as bediening, jou eie getuienis, ens. Die woord dissipelskap kom nou op.
Daar is baie hulpmiddels wat gebruik kan word soos aksie Timoteus wat sterk aan te beveel is. Tog mag dit nie in die plek van spesifieke omstandighede en persoonlike verhouding kom staan nie. So ‘n verhouding het ook ‘n struktuur nodig, want gevoelens kan dit nie bly dra nie. Mens voel nie altyd vir die taak nie. Daar is dus ‘n soort van ‘n ooreenkoms wat albei partye oor besluit. So kan mens dan een keer per week die persoon besoek en dalk ook ‘n paar ander mense in ‘n groepie bymekaar kry. Daar kan dan bv. tye wees van ‘n braai of saam eet en ander kere Aksie Timoteus of Bybelstudie ens. Ek weet van effektiewe dissipelskap verhoudinge wat oor 16 jaar deur die Here gebruik is om ‘n persoon se lewe totaal omgekeer het. Daardie persoon het dan honderde ander mense se lewens positief beïnvloed.
Die lang termyn verhouding is nou al meer as evangelisasie, maar iewers moet dit gebeur na evangelisasie al word dit deur ander mense gedoen.
Die Gees lei mens in die prosesse en gee vir mens die gawes wat nodig is.
Op die manier gehoorsaam ons die groot opdrag in die Bybel wat ek glo in enige geloofs gemeenskap of kerk organisasie moet gebeur. As dit nie gebeur nie, is ons nie kerk nie.

04/08/2019

God se Gees en jaloesie

Vanmore se gesprek in die erediens het gepaard gegaan met Bet en Bonny se drama oor basiese sondes wat nie koördineer met 'n lewe deur die Gees.
Ons gesels oor getrouheid in die Huwelik ens. Daar is sterk deelname oor dinge soos skottelgoed was. Dit is nie 'n manse werk. Ons gesels dus oor gevolge van omgee. Die gesprekke gaan goed. Wil egter net een uitlig.
Ons praat oor jaloesie en ek gee die voorbeeld van vyf landerye langs mekaar en een wat beter as die ander produseer. Die een man sê dat dit onmoontlik is om nie jaloers te wees nie. Hy noem dat wie sal nie kwaad wees as daar 'n slang daar verby seil. In die tradisie is dit duidelik dat iemand die slang gestuur het en dat die persoon hulle seën gesteel het vir hom. Dit word 'n lang gesprek waarin gepoog word om te bewys dat mens deur God se Gees al hoe meer word soos 'n eend waarvan die water net afloop. Moet mens dan die skuldenaar net laat wegkom?
Op 'n stadium gee ds Samuel 'n voorbeeld van 'n towenaar wat rondom sy land geloop het en sand van elke hoek af opgetel het. Hy het dit gelos en toe word die towenaar siek. 'n man vra toe of hy na die tyd vir die siek man gaan bid het. Hy het toe nie, maar kon sê dat hy niks negatief teenoor die persoon voel nie.
Hulle erken dat jaloesie een van die groot probleme van hulle gemeenskap is. Hulle gaan die Gees toets om te sien of Hy sulke sterk gevoelens kan oorwin.

Afhanklikheid denke Mosambiek

In die luister tyd in Magodane gemeente, begin ons met die belang van eerlikheid met onsself en dan teenoor mekaar. Die noodsaak van die waarde vir groei. 

Daarna die vraag: Watter doel het jy vir jou lewe? Die antwoorde is toe dat hulle die ewige Lewe en redding soek. Almal se antwoorde draai daarom. Toe is die vraag of hulle nog gered wil word of is hulle gered en sukkel net met twyfel. 

Party verduidelik dat hulle gedink het dat hulle gered is toe hulle by die gemeente aangesluit het. Die gesprek draai toe rondom die fondasie van ons lewens huis. Alles wat nie Christus is is sand. Net Hy is die rots. Ons praat oor wat gebeur as jy tot bekering kom en dat jou lewe van daar af verander en anders sal word. Geen ander vertroue kan jou help as die storms kom nie. Dit is vreemde gedagte dat mens nie op mense kan vertrou nie. Een ouderling vra die vraag: Sê nou maar ek het 'n goeie vriend in RSA en hy help my met baie goed. Hy gee selfs vir my 'n voertuig. Kan ek nou rerig nie op hom vertrou nie? Ek teken toe 'n huisie op die grond en in die plek van die fondasie 'n persoon en 'n voertuig sonder om iets te sê, want langsaan staan 'n huisie met Jesus as fondasie. Verder vertel ons die verhale van mense wat keuses moes maak ten spyte van vrese swaarkry en selfs dood. Die goeie dinge wat ons doen is ook nie Christus nie. 

Die hele stuk sand grond was later vol prentjies. Die pen (stuk stok) het paar keer hande verwissel.

Die ander deel van die wêreld beeld wat hier uitkom is ook dat Christenskap net met jou redding te doen het, maar nie jou totale lewe nie, maar dit sal ek dalk vandag mee kan werk. 

02/08/2019

Reën en Jesus stories

Ek Bonny Elisabeth en 2 jeugleiers van die sinode besoek Mamunyapa wyks gemeente van Magodane gemeente. Ons bid dat die Here ons sal lei om Sy Koninkryk te bou. 

Die eerste gedeelte in die oggend hanteer ons die basiese beginsels van Christenskap. Van die ah-ha momente was dat ons met God kan praat en 'n verhouding met Hom kan hê hier in Mosambiek. 

Die middag werk dit so dat ek met die leiers gesels. Ons ontdek weer dat slegte gebeure altyd geleenthede bied. Ek vertel stories oor gebeure in geskiedenis van kerk waar mense baie gely het vir die Here. Skielik begin dit te reën. Ons vlug in die kombuis skuiling wat die reën so halfpad uit hou. 

Daar verskyn skielik drie sambrele. Onder elkeen skuil 2 of 3 persone. Die een op sy hurke onder die tafel. Ons gaan voort met die stories asof niks abnormaal aan die gebeur is nie. 

Die terugvoer en vrae wys dat daar werklik besef word dat daar altyd groot besluite geneem moet word om die Here in die omstandighede te dien. Die gevolge kan baie moeilik wees. Daar is egter nie 'n ander pad om te loop nie en die ongelooflike teenwoordigheid van God se Gees met ons, maak dit moontlik. Verder is so 'n radikale lewe ook 'n getuienis wat mense na Hom sal roep en die gemeente sal laat groei. 

Nou vertrou ons dat die Here die saadjies gesaai het. Hulle deel van hulle eie stories van opoffering. 

08/06/2019

Mosambiek besoek Junie Julie 2019

Die twee hoogtepunte van die besoek.
Die Emersion Amerikaanse span:
Hulle deel lewe in die gemeenskap by 'n gasheer familie vir 5 dae en dan vir 7 dae. Hulle lewe intensioneel sekere waardes uit en dit word goed deur die gemeenskap ontvang
1. Dat almal dieselfde dieselfde is voor die Here
2. Dat kinders belangrik is
3. Dat Geloof belangrik is.
Hulle kry swaar om die pap te eet, gat toilette te gebruik, water van putte op die kop aan te dra, op landerye te werk ens. Kry nie alles reg, maar in die swaarkry deel ons baie en leer ons om op die Here te vertrou.

Die tweede hoogtepunt is die prosesse wat tussen die kerkleiers aan die gebeur is.
In die foto, is daar bewys dat daar vrygewigheid is van lidmate. Ds Goliate is in Natanje gemeente bevestig en daar was regtig baie geskenke uit groot vreugde aan sy gesin oorhandig.
Daar is met hulle laaste Sinodale vergadering baie gesels oor die nodigheid om vanuit die Here met die gawes wat die Here gegee het te groei. Sonder dit het die kerk nie 'n goeie toekoms nie. Daar word gepraat oor dinge soos persoonlike verhouding met die Here, dat daar geveg moet word teen 'n ongesonde afhanklikheid, dat die gawes van die Here ontwikkel moet word. Dat elke lidmaat 'n persoonlike verhouding met die Here moet hê en vanuit hulle gawes, hulle roeping moet leef.
Daar word nou ernstig gepraat oor hoe hulle saam met ondersteuners hierdie doelwitte kan najaag. Die struktuur van die IRM is nie volhoubaar nie. Tog is daar 'n groot potensiaal, wat ontwikkel kan word.
Ons gesels ook lekker oor die gesagstrukture wat nie altyd bybels hanteer word nie, en dit is ook nie volgens die gereformeerde belydenisse nie.
Bid gerus saam vir die ontwikkeling wat die Here besig is om in harte van mense te vestig.

Naasteliefde in waarheid

Wat is die kenmerk van 'n gelowige?  In Matt 25 word dit duidelik dat optrede teenoor jou naaste, die vrugte is wat 'n gelowige op...