Hoe
om te evangeliseer
Gebaseer
op Doug Paul
As ons kyk na Handelinge en ook die uitstuur van die
dissiples dan is daar ‘n voorbeeld van hoe getuienis plaasgevind het. Ons kan
dit vir ons omstandighede aanpas.
Soek ‘n persoon van vrede.
In sending kringe word so ‘n persoon dikwels genoem ‘n
persoon van vrede. Dit is die een wat jou ontvang. Paulus praat van die persoon
wat deur God voorberei is. Toe die dissipels uitgestuur is was die opdrag om te
klop en as die deur oopgemaak word, ‘n seën uit te spreek. As die seën ontvang
word, dan het jy heel moontlik ‘n persoon van vrede.
Vir ons omstandighede kan dit dalk wees dat iemand vra hoe
dit gaan, en jy dan antwoord met iets soos: Ek is nuuskierig oor wat die Here
vandag gaan doen. As dit ingang vind, dan is dit heel moontlik ‘n persoon van
vrede. ‘n Manier wat ek ook van hou is om te vertel wie jy is en hoekom jy hier
is. Iets soos: Ek is ‘n kind van die Here van hierdie en hierdie kerk of organisasie”
of dalk net “ek en my vriende is kinders van die Here en wil graag die mense
van die straat ontmoet.”
Verwelkoming
Die opdrag was dat indien mense jou ontvang, gaan in en bly
daar en moet nie rond trek tussen huise nie. Eet saam met hulle en aanvaar wat
hulle aanbied.
Dit is nie noodwendig in mense se huise nie, maar indien
mense jou ontvang. Onthou dat indien mense jou ontvang, dan ontvang hulle ons
Vader. Evangelisasie is nie net om te gee nie, maar om te ontvang.
Diens
Dit is ‘n manier om in mense se lewens in te kom. Luister na
hulle, verstaan en beleef hulle omstandighede. Laat hulle jou dien. Eet wat jou
voorgesit word. Mense moet hulle identiteit en menswees kan uitleef teenoor
jou. Dit is respek en belangstelling en veral aanvaarding wat beleef word. Wat
hulle jou bied is vir jou goed.
Belê
Dan kom daar ‘n tyd van gee vir mense. Soos Petrus gesê het,
“wat ek het gee ek jou”. Nou kom die tyd van investering. Die dissipels is
gestuur om te bid vir die siekes, duiwels uit te dryf en mense te seën. Wat ek vrylik
gekry het gee ek vrylik uit.
Hier is dit wat jy gee, enige iets wat die Here vir jou
gegee het. Dit kan jou persoonlike storie van genade wees wat jy deel. Dit begin
gewoonlik met ‘n vraag soos: “Is daar iets waarvoor ek vir jou kan bid?” of “kan
ek my storie vir jou vertel” of “Hoe kan ek vir jou dien?”
Die persoon het die potensiaal om met al sy verhoudings ‘n boodskap
verder te vat en in te beweeg in ‘n nuwe gemeenskap. Dit gaan dus van die begin
af oor meer as die persoon self. Hy gaan leer om ook van God te ontvang en onmiddellik
weer te gee.
Jesus self het so ‘n proses gevolg met die vrou by die put.
Soms is die nood so groot dat mens soos by die Baremhartige
Samaritaan, gedwing word om met diens te begin.
Lang termyn verhouding
Veral in Handelinge word daar geweldig baie gemaak van
toerusting en herbesoeke en aanmoediging. Hier kom ook die hele ding in van “leer
hulle om alles te onderhou”. Dit kan ook vertaal word “om gehoorsaam te wees”. Hierdie
gehoorsaamheid of onderhou van alles, beteken in alles. Dit is op alle gebiede
in die lewe. Huwelik, opvoeding van kinders, jou werk as bediening, jou eie
getuienis, ens. Die woord dissipelskap kom nou op.
Daar is baie hulpmiddels wat gebruik kan word soos aksie
Timoteus wat sterk aan te beveel is. Tog mag dit nie in die plek van spesifieke
omstandighede en persoonlike verhouding kom staan nie. So ‘n verhouding het ook
‘n struktuur nodig, want gevoelens kan dit nie bly dra nie. Mens voel nie altyd
vir die taak nie. Daar is dus ‘n soort van ‘n ooreenkoms wat albei partye oor
besluit. So kan mens dan een keer per week die persoon besoek en dalk ook ‘n
paar ander mense in ‘n groepie bymekaar kry. Daar kan dan bv. tye wees van ‘n
braai of saam eet en ander kere Aksie Timoteus of Bybelstudie ens. Ek weet van
effektiewe dissipelskap verhoudinge wat oor 16 jaar deur die Here gebruik is om
‘n persoon se lewe totaal omgekeer het. Daardie persoon het dan honderde ander
mense se lewens positief beïnvloed.
Die lang termyn verhouding is nou al meer as evangelisasie,
maar iewers moet dit gebeur na evangelisasie al word dit deur ander mense
gedoen.
Die Gees lei mens in die prosesse en gee vir mens die gawes
wat nodig is.
Op die manier gehoorsaam ons die groot opdrag in die Bybel
wat ek glo in enige geloofs gemeenskap of kerk organisasie moet gebeur. As dit
nie gebeur nie, is ons nie kerk nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking