Ek wens ek kan alles
deel van die kosbare tyd waarmee die Here besig is met my en
Mosambiek, selfs by die huis. As mens soveel ure stil moet sit agter
'n stuurwiel praat mens dinge met die Here waaroor mens nie gewoonlik
praat nie. Hy praat dan met jou ook.
Die eerste ding is
dat Hy my baie bewus gemaak het daarvan om nie my eie program te volg
nie, maar sensitief te luister en met Sy oë
na alle situasies te kyk.
In gesprekke met die
kerk hier, beleef ek ook baie dinge. Die belangrikste is dat hier 'n
geweldige behoefte is aan werk met studente. Hier is nou 5
universiteite in Quelimane (kan julle dit glo). Die mense kom dikwels
van die platteland af vanuit baie traditionele gebiede en kom nou in
die stad. Baie van hulle beweeg dan weg van hulle tradisionele
maniere van dink, na “stads” denke. Daar is nie kerke wat hulle
kan dissipel in 'n ekonomie, opvoeding, ens lewenswyse gebou op
geloof nie. Die basis wat hier geleef word is 'n stadslewe sonder
fondasie. Wanneer krisisse kom dan dwing dit mense na fondasies en as
daar nie is nie, dan word daar terug gegryp na tradisies wat in die
platteland was. Toordokters speel dus nog steeds 'n baie groot rol,
een van die groot beïnvloeders
van die gemeenskap is 'n toordokter wat net so twee huise van hier af
bly en baie gesag dra. Baie van die valsheid daarvan weet die jong
mense van, maar daar is nie alternatiewe nie, want die kerke hou
hulle net met geestelike dinge op Sondae besig. Almal stem saam dat
die waardesisteme van die stad nog steeds aan die verbrokkel is. Die
behoefte is mense wat nie denominasie gedryf word nie, maar as Kerk
Koninkryks gerig is en saamwerk om 'n kultuur van Christelike waardes
te stel. Die studente is meer as oop daarvoor. Die geleentheid is
nou! (Wat wil die Here vir die IRM en vir ons as ondersteuners sê)?
Praat saam met my met ons Vader dat ons nie iets sal mis wat ons moes
raaksien nie.
Die
kerk hier werk baie met kleingroepe en het ook 'n skool waar saam met
die regering kirikulum ook dinge gedoen word soos tuinbou. Kinders
maak tuine by hulle huise en die tuin is dan hulle eksamen. Hulle kry
dan punte oor hoe goed hulle dit kan doen. Op die manier word
groentes en vrugte ens gekweek waar mense nog baie in wanvoeding leef
alhoewel daar soveel potensiaal is.
Die
huis is 'n ander belewenis. Die Pastoor is Eswaldo (uitgespreek
Oswaldo) getroud met 'n baie knap Australiese vrou wat verstaan van
'n bediening aan die hele mens en mense lief te hê
soos hulle is. Daar word gedeel hoe sy moes aanpas by die kultuur, sy
wou haar privaatheid in die huis behou en die pastoor het die huis se
deure oop gegooi. Die huis is gedurig vol mense, op die stoep oefen
die koor met besonderse talente met dromme, kitare en stemme, binne
by elke ete is daar stuk of tien mense en omgee groepe kom soms selfs
tot twee op 'n slag hier bymekaar. Dit is gesels en kuier, ek slaap
in hulle dogtertjie se kamer op haar bed en hulle gooi 'n matras op
die grond in die sitkamer. Almal help skoonmaak, ek maak vir my
koffie soos ek wil. Dit is nooit stil nie. As jy stil wil wees is dit
net die kamer, (waarheen sy vrou soms onttrek). Groot vriendelikheid
en min grense in 'n warm 90% humiditeit atmosfeer.
Dit
is 'n ervaring om te sien hoe leiers in die gemeenskap, baie
jongmense, nuwe huwelikspaartjies ens, entoesiasties deelneem aan
klein groepe. Dti het soveel potensiaal.
Hier in Quelimane
het die Here ook met my en ander 'n afspraak gehad. Ek ontmoet hier
twee broers wat ek in Milange laas geken het as kinders. Die oudste
het eerste hier deel van 'n kerk geword (die kerk wat ek besig is om
te besoek) en het sterk as leier gefunksioneer. Later het hy sy broer
wat 'n drinker was begin intrek. Toe verdwaal hy weer in die wêreld
en sy broer het toe weer in die Here se werk gegroei in so 'n mate
dat hy in 'n plekkie buite die dorp 'n gemeenskap begelei as pastoor
en met 'n skooltjie werk om met kinders te werk. Twee broers met baie
potensiaal. Omdat ek hier is het die een wat in die kerk is dadelik
kom groet en die ander een hoor toe dat ek hier is en toe kom kuier
hy ook. Ons stap toe dorp toe en gaan drink saam 'n koeldrank en
gesels oor Milange en later al meer oor Quelimane en die Here se wil
vir die stad. Ek sal kyk of ek later meer daarvan kan vertel, want
die Here het die gesprek op wonderlike maniere gelei. Ek
gaan hulel ook skakel met besonderse werk wat deur Shiloh in
Klipheuwel gedoen word. Dalk gebeur daar ook iets.
Ek weet nie of die Here al klaar sy doel met Quelimane bereik het
nie, en of daar nog wonderlike dinge gaan gebeur voor ek later
vanmiddag die pad Mocuba toe gaan aandurf.
Verder
is daar klaar 'n GROOT opgewondenheid oor die wêreldbeeld
goed waarmee ek hulle in kontak kan bring asook party van die “fresh
Expressions” se modules. Veral dinge soos hoe om te luister na jou
gemeenskap. Ons bou te veel in kerkwees goed in voordat daar
geluister is (omgegee is), of net eenvoudig uit God se oë
na die gemeenskap gekyk is. Ons kyk te veel uit ons eie oë,
kerk wees, kultuur ens.
Nog
'n besonderse gesprek was met die familie waar ek oorgeslaap het in
Gorongosa. Mosambiek is nie 'n maklike land nie en uitdagings is
geweldig groot. Ons kon egter regtig diep deel oor geloof en die leef
uit geloof wat vir ander hoop gee wanneer moedeloos. Hulle is reeds
'n lig, maar ons kon saam bid en sterker van mekaar weg gaan as toe
ons mekaar ontmoet het. Hulle het dit reg gekry dat toe almal teen
hulle draai die plaaslike mense vir hulle opgestaan het. Toe hulle
nie kos gehad het om te eet nie het die mense in die nag ingesluip en
vir hulle kos gebring! Besonderse stories. Hy werk ook nou vir 'n
betroubare groot kunsmis maatskappy en is opgewonde daaroor om met
die landbou projek in Milange te skakel en vir hulle van die oorskiet
afval kunsmis te voorsien teen 'n baie spesiale prys.
Dankie
vir almal wat in gebed deel van elke gesprek en kontak is.
Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.
AntwoordVee uitWees verseker van my gebede vir jou en die wat jou pad kruis. Mag jy God se leiding in alle omstandighede ervaar en mag sy krag jou ondersteun. Vrede
AntwoordVee uit