Volgers

14/03/2015

Maart 2015 eerste dae van besoek aan Mosambiek

Ek wens ek kan alles deel van die kosbare tyd waarmee die Here besig is met my en Mosambiek, selfs by die huis. As mens soveel ure stil moet sit agter 'n stuurwiel praat mens dinge met die Here waaroor mens nie gewoonlik praat nie. Hy praat dan met jou ook.

Die eerste ding is dat Hy my baie bewus gemaak het daarvan om nie my eie program te volg nie, maar sensitief te luister en met Sy oë na alle situasies te kyk.

In gesprekke met die kerk hier, beleef ek ook baie dinge. Die belangrikste is dat hier 'n geweldige behoefte is aan werk met studente. Hier is nou 5 universiteite in Quelimane (kan julle dit glo). Die mense kom dikwels van die platteland af vanuit baie traditionele gebiede en kom nou in die stad. Baie van hulle beweeg dan weg van hulle tradisionele maniere van dink, na “stads” denke. Daar is nie kerke wat hulle kan dissipel in 'n ekonomie, opvoeding, ens lewenswyse gebou op geloof nie. Die basis wat hier geleef word is 'n stadslewe sonder fondasie. Wanneer krisisse kom dan dwing dit mense na fondasies en as daar nie is nie, dan word daar terug gegryp na tradisies wat in die platteland was. Toordokters speel dus nog steeds 'n baie groot rol, een van die groot beïnvloeders van die gemeenskap is 'n toordokter wat net so twee huise van hier af bly en baie gesag dra. Baie van die valsheid daarvan weet die jong mense van, maar daar is nie alternatiewe nie, want die kerke hou hulle net met geestelike dinge op Sondae besig. Almal stem saam dat die waardesisteme van die stad nog steeds aan die verbrokkel is. Die behoefte is mense wat nie denominasie gedryf word nie, maar as Kerk Koninkryks gerig is en saamwerk om 'n kultuur van Christelike waardes te stel. Die studente is meer as oop daarvoor. Die geleentheid is nou! (Wat wil die Here vir die IRM en vir ons as ondersteuners sê)? Praat saam met my met ons Vader dat ons nie iets sal mis wat ons moes raaksien nie.

Die kerk hier werk baie met kleingroepe en het ook 'n skool waar saam met die regering kirikulum ook dinge gedoen word soos tuinbou. Kinders maak tuine by hulle huise en die tuin is dan hulle eksamen. Hulle kry dan punte oor hoe goed hulle dit kan doen. Op die manier word groentes en vrugte ens gekweek waar mense nog baie in wanvoeding leef alhoewel daar soveel potensiaal is.

Die huis is 'n ander belewenis. Die Pastoor is Eswaldo (uitgespreek Oswaldo) getroud met 'n baie knap Australiese vrou wat verstaan van 'n bediening aan die hele mens en mense lief te hê soos hulle is. Daar word gedeel hoe sy moes aanpas by die kultuur, sy wou haar privaatheid in die huis behou en die pastoor het die huis se deure oop gegooi. Die huis is gedurig vol mense, op die stoep oefen die koor met besonderse talente met dromme, kitare en stemme, binne by elke ete is daar stuk of tien mense en omgee groepe kom soms selfs tot twee op 'n slag hier bymekaar. Dit is gesels en kuier, ek slaap in hulle dogtertjie se kamer op haar bed en hulle gooi 'n matras op die grond in die sitkamer. Almal help skoonmaak, ek maak vir my koffie soos ek wil. Dit is nooit stil nie. As jy stil wil wees is dit net die kamer, (waarheen sy vrou soms onttrek). Groot vriendelikheid en min grense in 'n warm 90% humiditeit atmosfeer.

Dit is 'n ervaring om te sien hoe leiers in die gemeenskap, baie jongmense, nuwe huwelikspaartjies ens, entoesiasties deelneem aan klein groepe. Dti het soveel potensiaal.

Hier in Quelimane het die Here ook met my en ander 'n afspraak gehad. Ek ontmoet hier twee broers wat ek in Milange laas geken het as kinders. Die oudste het eerste hier deel van 'n kerk geword (die kerk wat ek besig is om te besoek) en het sterk as leier gefunksioneer. Later het hy sy broer wat 'n drinker was begin intrek. Toe verdwaal hy weer in die wêreld en sy broer het toe weer in die Here se werk gegroei in so 'n mate dat hy in 'n plekkie buite die dorp 'n gemeenskap begelei as pastoor en met 'n skooltjie werk om met kinders te werk. Twee broers met baie potensiaal. Omdat ek hier is het die een wat in die kerk is dadelik kom groet en die ander een hoor toe dat ek hier is en toe kom kuier hy ook. Ons stap toe dorp toe en gaan drink saam 'n koeldrank en gesels oor Milange en later al meer oor Quelimane en die Here se wil vir die stad. Ek sal kyk of ek later meer daarvan kan vertel, want die Here het die gesprek op wonderlike maniere gelei. Ek gaan hulel ook skakel met besonderse werk wat deur Shiloh in Klipheuwel gedoen word. Dalk gebeur daar ook iets. Ek weet nie of die Here al klaar sy doel met Quelimane bereik het nie, en of daar nog wonderlike dinge gaan gebeur voor ek later vanmiddag die pad Mocuba toe gaan aandurf.

Verder is daar klaar 'n GROOT opgewondenheid oor die wêreldbeeld goed waarmee ek hulle in kontak kan bring asook party van die “fresh Expressions” se modules. Veral dinge soos hoe om te luister na jou gemeenskap. Ons bou te veel in kerkwees goed in voordat daar geluister is (omgegee is), of net eenvoudig uit God se oë na die gemeenskap gekyk is. Ons kyk te veel uit ons eie oë, kerk wees, kultuur ens.

Nog 'n besonderse gesprek was met die familie waar ek oorgeslaap het in Gorongosa. Mosambiek is nie 'n maklike land nie en uitdagings is geweldig groot. Ons kon egter regtig diep deel oor geloof en die leef uit geloof wat vir ander hoop gee wanneer moedeloos. Hulle is reeds 'n lig, maar ons kon saam bid en sterker van mekaar weg gaan as toe ons mekaar ontmoet het. Hulle het dit reg gekry dat toe almal teen hulle draai die plaaslike mense vir hulle opgestaan het. Toe hulle nie kos gehad het om te eet nie het die mense in die nag ingesluip en vir hulle kos gebring! Besonderse stories. Hy werk ook nou vir 'n betroubare groot kunsmis maatskappy en is opgewonde daaroor om met die landbou projek in Milange te skakel en vir hulle van die oorskiet afval kunsmis te voorsien teen 'n baie spesiale prys.

Dankie vir almal wat in gebed deel van elke gesprek en kontak is.

2 opmerkings:

  1. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit
  2. Wees verseker van my gebede vir jou en die wat jou pad kruis. Mag jy God se leiding in alle omstandighede ervaar en mag sy krag jou ondersteun. Vrede

    AntwoordVee uit

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...