Volgers

04/12/2016

Handevat, Gedagtes oor die toekoms

Liewe betrokkene

So teen die einde van die jaar, deel ek graag die gedagtes met julle:

BESOEKE AAN SENDING GEBIEDE
Ds Joao Herbarth, skryf 'n brief om my te herinner aan ons gesprekke oor die toekoms. Ons sien die waarde daarvan indien die sinode sendinggebiede van die Tumbine sinode meer gereeld besoek. Die voorstel is dat Handevat 'n voertuig moet aanskaf in Mosambiek om jeug en ander leiers meer saam te kan vat na die plekke. Die sinode moet steeds hulle eie voertuig ook gebruik en onderhou vir die nader gebiede, want dit is makliker vir hulle om gemeentes toe te rus sodat hulle deur bydraes self die kostes van so 'n voertuig kan dra. Vir die sinode om die verder gebiede te besoek, is nog te groot stap vorentoe op die stadium. Daar moet nog vir seker nog ten minste nog 6 jaar gebou word aan die rentmeesterskap van die sinode voordat die sinode daardie verantwoordelikheid kan oorneem. Vir hierdie oorgangstyd is dit nodig om hande te vat en saam te werk. Ek begin dus dink daaraan om 'n fonds te bou vir die aankoop van 'n Japanese voertuig in Mosambiek. Ons is aan die gesels daaroor.
'n Ander manier is om 'n dubbelkajuit bakkie in Johannesburg te hou by van die vriende wat ek daar het. Daarvandaan is dit net twee dae se ry na Milange ipv vier. Met die opsie, sal ek egter ook moet werk aan groter inkomstes. Joao, lag vir my as ek so praat, want sy redenasie is dat as die Here dit wil hê, dan sal Hy voorsien. Ek moet my nie daardeur laat beperk nie. 'n Ander voordeel van die opsie is dat ek graag meer moeite wil doen om mense saam te vat na Mosambiek en op die manier kan dit makliker plaasvind. Dit is regtig 'n baie sinvolle manier om in te bou in mense se lewens. Mense word vir altyd verander deur sulke besoeke. Verder kan mens ook meer gereeld vir sendelinge help om voorraad op te vat of af te bring. (Nou oortuig ek myself al amper).
Ek self hoop om nog tot op 70 jarige ouderdom voort te gaan met die werk as die Here so wil en die kragte hou. Dit is baie veeleisend, so mens moet maar kyk. As die Here iemand anders wil stuur vir opvolg, dan is dit ook sy wil, dit bly egter altyd belangrik dat bemagtiging van Mosambiekers, soveel moontlik nagestreef moet word.

NUWE DAGBESTUUR VAN DIE SINODE
Die nuwe leiers van Tumbine vir die volgende twee jaar, het meer aandag nodig as die vorige leiers. Ek moet defnitief my werk aanpas daarby om baie tyd by hulle te spandeer.

FINANSIES EN MOONTLIKE POS IN 'N GEMEENTE
As daar oor finansies gepraat word, is daar 'n groot dankbaarheid vir hoe die Here sorg. Vir soveel jaar het Hy self die deure vir die werk oopgemaak en baie mense maak groot opofferings daarvoor. Die inkomstes maak die werk moontlik en kry ek sonder onderbreking 'n salaris met medies en Pensioen. Ons het die pensioen bydraes verminder tot 'n baie laer kerf om dit volhoubaar te maak. Ek is een van die sendelinge wat die beste versorg word op finansiele gebied. Dit dek egter ook nie meer die bedieningskostes nie en daar is ook nie jaarlikse inflasie groei nie. Die drie of vier keer wat ek Mosambiek toe gaan word dikwels twee daarvan op eie kostes gedra. Ons strewe dus vorentoe om eerstens die bedieningskostes te dek en daarna te dink aan inflasie aanpassings. Een van die gedagtes is om te kyk na 'n gemeente wat graag wil groei in sending, en weens die afskaling in gemeentes nie meer 'n tweede of derde leraar kan bekostig nie, maar dalk 'n kwart pos kan dra. Om dan met hulle te gaan gesels en dalk kan ons mekaar so help. Ek sal dan graag wil fokus op die gemeente se betrokkenheid in hulle gemeenskap en praktiese opleiding in uitreik, veral as die gemeente reeds 'n betrokkenheid het in Mosambiek. Ek is lief vir Mosambiek, maar werk graag met enige mense wat op enige manier in hulle praktiese roeping vir die wêreld wil groei. Ek gaan baie hard aan myself moet werk om in te pas in gewone artikel 9 take in 'n gemeente en sal nie my potensiaal so kan uitleef nie.

AMERIKAANSE GROEP
'n Interesante verwikkeling is dat in 2017 ek gevra is om 'n groep Amerikaanse jongmense vir 'n maand Mosambiek toe te vat.

RADIOWERK
Nog 'n verwikkeling wat die werk kan beinvloed, is dat radio FEBA hulleself bereid verklaar het om in vennootskap met die Tumbine sinode te gaan vir die radiostasie op Chiconono. Dit klink baie goed, maar dan sal ek defnitief redelik tyd moet spandeer in die fasilitering van die verhouding. Dit is ook vir radio Feba 'n nuwe ondervinding om op die vlak met 'n plaaslike kerk in 'n vennootskap te gaan. Dit is 'n jong kerk en die leiers het baie min ondervinding van sulke vennootskappe.

CHRISTENSKAP OP DIE GROND
Daar is ook die fokus van Handevat om daar waar die status en mag op sy minimum is, saam in 'n verhouding God se wil en hart te leer ken en in gehoorsaamheid daarop te reageer. Dit gebeur dikwels minder in offisiele vergaderinge as in huise en op die grond in gemeentes. Hierdie fokus wil Handevat nie verwaarloos nie.

KOM GESELS SAAM
Ek gaan binnekort weer 'n paar mense bymekaar roep om oor die sake te gesels. Indien enige iemand voel hy of sy wil deel daarvan wees, kontak my asb en ek sit jou dan ook op die uitnodigingslys. Hoop om 'n paar meer mense te sien.

Ek wil verder almal wat die stukkie lees vra om jou gedagtes, maak nie saak wat dit is nie, in kommentaar (comments) by te voeg.
Dit is goed  om die Here te dien.

03/12/2016

Wes-Kaap regering praat met religieuse leiers

Wes-Kaap regering praat oor samewerking met Religieuse instellings

As Handevat bediening het ek gereageer op die regering se uitnodiging om die byeenkoms by te woon en deel ek dit graag met julle.
Gelukkig ry ek met die motorfiets en hoef ek nie parkering te soek in die besige stad nie. Met navraag word ek verwys na die 6de vloer van die Burger sentrum in die raadsaal. Die saal word gevul met ‘n paar honderd leiers van religieuse instansies. Sommige is tradisionele leiers wat openlik in gesprekke hulle vertroue op die voorvaders plaas. Dan is daar Moslem leiers, leiers van tradisionele inheemse kerke en dan ook die hoofstroom christelike kerke se verteenwoordigers. Vir die NGK kon ek buiten myself, net vir Ds Leon van Badisa daar opspoor.
Ons sit in sulke stoele wat kan draai met ‘n mikrofoon en luidspreker voor jou met ‘n paar knoppies. As jy wil praat druk jy net die mikrofoon knoppie en die rooi liggie gaan aan op jou mikrofoon en dan hoor almal jou.
Die byeenkoms se doel is om die nuwe “desk” (weet nie hoe om dit te vertaal nie) naamlik religieuse “desk” bekend te stel. Die “desk” is nog in ‘n begin stadium, maar hulle het reeds ‘n lys van doelwitte, alhoewel dit nog verfyn en aangepas moet word.
Ons raadslid Susan Little, word die eerste geleentheid gegee om met die leiers te gesels. Daar word vir 2 ure lank vrae uit die gehoor beantwoord en die fasiliteerder, Brian Ford, verteenwoordig 'n baie hulpvaardige regering wat samewerking soek. Alle vrae word geantwoord of verwys. Daar word gesukkel om weg te kom van die saak ook grond. Baie kerke en organisasies soek grond vir hulle byeenkomste en daar is te min beskikbaar. Daar is te veel aansoeke en Brian verduidelik mooi die uitdagings van die proses. Ek wil graag die opmerking maak dat, ek bekommerd is oor die gehalte van leierskap wat tydens die vergadering na vore gekom het. Die NGK is volgens my nodig vir die gesprekke, want ons het waardes wat hier baie nodig is om in die Wes-Kaap 'n verskil te maak. Mense, die uitdagings is geweldig groot!
Behalwe vir die bekendstelling van die religieuse “desk” is daar twee vrae op die tafel gesit: Hoe kan die regering die religieuse instellinge beter ondersteun en tweedens hoe kan die religieuse instellinge die regering kan bystaan.
Ek wil graag Raadslid Little se toespraak met julle deel. Ek gaan dit nie te veel struktureer nie, want sy het meer haar hart gedeel as om dit goed te organiseer en ek gee dit deur soos ek dit neergeskryf het.
Haar definisie van kerk, is mense wat in die eerste plek die mees kwesbare mense in die samelewing dien. Dit resoneer met my, want dit is ook my hart. Sy het al die organisasies uitgedaag om minder op hulle eie sake en groei geld en besittings te konsentreer en meer op die behoeftes van die samelewing. Sy reken dat sy dit kan sê, want feitlik alle navrae wat hulle as regering kry van religieuse organisasies, is in die eerste plek oor grond en klagtes. Sy het nog feitlik geen organisasies gekry wat bekommernisse oor die gemeenskap kom deel het. Sy daag hulle uit om nie grond te soek vir hulle eie belang nie, maar om die gemeenskap te dien en sy wil dit graag in die praktyk sien. Hulle wil nie meer grond gee aan organisasies wat geen verskil in hulle gemeenskappe maak nie.
Sy soek tekens van liefde vir die gemeenskap, want die probleem is nie dwelms, tiener swangerskappe en bendes nie. Hierdie is maar net die simptome, want die groot probleem is gebroke families. Sy daag ons uit om betrokke te raak by mense. Alcohol word gesien as 'n groter probleem as dwelms, maar mense praat dikwels meer oor dwelms. RSA het die hoogste uitval van kinders in die primêre skole in die wêreld en die probleem is mammas wat drink.
Sy daag ook leierskap uit, want mans vervul nie meer die leierskap rol nie, families kan nie voort gaan soos dit nou is nie. Ons vaar BAIE sleg wat huishoudelike geweld betref. Dit is die hoof rede van mense wat op die straat beland. Daar is 7000 straat bewoners in die Wes-Kaap. Negentig present van vroue op die straat is verkrag voor die ouderdom van 5 jaar.
Een van die uitdagings is om nie net te praat, optogte te reel en te preek nie, maar om betrokke te raak by mense. Die regering het in die gebroke gemeenskap hopeloos te min sosiale werkers. Kan daar nie meer mense wees wat mens kan aanneem en versorg nie. As daar maar 'n sosiale werker kon wees vir elke gesin.
Sy daag ons uit om in ons gemeenskappe die mees kwesbaarste mense op te spoor en met hulle as regering daaroor te kom praat. As elke gelowige maar net vir een persoon kan omgee en betrokke kan raak by een persoon, dan gaan ons gemeenskap verander.
Sy sê dankie vir baie voedings skemas, maar wys daarop dat dit op sigself meer skade doen as goed. Op die manier word mense afhanklik op die wat die kos voorsien en dit is 'n bose kringloop en daarom verkeerd. Leer eerder verstaan hoe lyk lewe op die straat. Daar is organisasies wat persoonlike verhoudings met mense aanknoop en hulle leer ken en dan oor tyd met hulle werk. Mense word aangeneem en 'n pad met hulle geloop. Ons moet mense begelei om effektiewe aanneem ouers te word.
Alhoewel sy dit meer diplomaties gesê het, het sy religieuse organisasies gekritiseer wat uit eie belang te so groot waarde aan geld en posisie heg, dat hulle dit nie reg kry om dit af te gee nie en so raak hulle heeltemal oneffektief in hulle roeping. Ons moet dit teenwerk. Hierdie is dan juis een van die redes hoekom ek dink ons ook by ander kerke betrokke moet raak. Ons het regtig waardes en leierskap eienskappe wat ander kan help groei!
Sy het gevra dat die religieuse instellinge hulle distriks kantore sal kontak om in gesprek met mekaar te tree en praatjies te lewer oor uitdagings, veral met betrekking tot die mees kwesbare mense. Ons weet dat daar mense van so jonk as 17 jaar oud is wat soveel keer verkrag is dat dit nie meer getel word nie, maar ons is nie sonder hoop nie. Sy doen 'n ernstige beroep aan almal om te bid. Bid vir die shebeens en ander afbrekende plekke en sisteme in die gemeenskap.
Ons word almal uitgenooi om meer hande te vat met die regering. Die fasiliteerder Brian Ford het ons uitgenooi om hom self te kontak indien ons verder wil gesels en hy sal self betrokke raak of verwys. Sy epos is brian.ford@capetown.gov.za


Groete

04/07/2016

Deel van uitreik Julie 2016

Oog uitreik

Met ons terugkom uit Niassa provinsie, kry ons die oog uitreik se span aan die werk in Milange. Dit is regtig 'n besonderse groep mense. Oom Chris is op sy ouderdom nog 'n ware staatmaker en ons leer baie deur sy toegewydheid. Johan Eloff is baie kundig en ek dink sy grootste boodskap vir die gemeenskap is sy omgee. 

Daar daag mense op wat nie gehelp kan word nie en hulle is so teleurgesteld dat die ma se trane loop. Johan en oom Chris kom sit by hulle en deel hulle teleurstelling en bid saam. Dit is daardie omgee, wat die hoof boodskap van die uitreik kommunikeer. Dit is onmoontlik om die rimpel effek daarvan oor jare te kan bepaal, maar dit moet groot wees. Liefde is die hart van ons boodskap.
Ons gesels daaroor dat die kerk kan help om mense op te lei wat pasiente in die tyd kan help met verblyf, kos vrienskap gebede en geestelike begeleiding. Hier is 'n groot geleentheid om Christenskap aan mense te verduidelik.
Die span kon nog nie met die eerste uitreik regkry om te opereer op katerakke nie, maar in die klinieke word reeds groot werk gedoen. Ons hoor van 'n kind wat nie kan sien nie, aanvangklike toetse kon nie die probleem identifiseer nie. Op die ou end word ontdek dat die kind se oë 'n -12 lesing het wat met sterk lense opgelos kan word. Toe die regte sterkte lense voor die kind se oë gehou word, kom daar skielik 'n glimlag oor sy gesig. Die vreugde ken geen perke.



Met sulke ervaringe kan mense baie gehelp word om te verstaan dat die dit die goedheid van God is wat deurbreek en kan dit 'n lewensveranderende geleentheid word. Om die rede is dit belangrik dat die kerk en plaaslike mede gelowiges mense help. Ons gesels dus om vorentoe vanuit die kerk 'n goeie beplanning en samewerking as vennoot te bou.

Ongeluk in Malawi

Anna, die dokter Freek se vrou, kom vra hulp nadat Freek in Malawi iemand raak gery het en langs die pad in 'n sloot beland het. Ons gryp vinnig paspoorte en navigeer so vinnig moontlik oor die grens. Kommunikasis is sleg maar ons hoor dat hy ok is, maar die man wat raak gery is dit nie gemaak het nie. Ons kry vir Freek langs die pad. Ek pas die voertuig op en hulle is weg na die polisie om te begin met verklarings. Die polisie is baie behulpsaam en help baie. Die grens sluit en op die ou end laat die polisie vir Freek toe om iewers te gaan oorslaap. Ons slaap oor in 'n Lodge en die volgende more gaan ons voort met die proses. Kry later 'n persoon uit Blantyre om die voertuig te kom laai. Die spanning loop maar hoog, want ons weet nie wat kan gebeur nie en die prosesse in Afrika is so anders as waaraan ons in die weste gewoond is. Freek hulle maak ook 'n bydrae aan die familie van die oorledene en dit help toe baie in die onderhandelinge. Die gesindheid is egter goed en baie help ons raad gee. Die polisie laat toe dat Freek saam teruggaan om by die huis in Milange oor te slaap. Ons word net aangesê om die volgende oggend te kom vir die hofsaak. (Op die ou end sou dit nie so vinnig kan plaasvind nie).
Die oggend ry ek Freek en Anna weer na die polisie in Mulanje, ons bid saam vir uitkoms en rigting. Ons gaan saam met die polisie na die toneel waar opmetings gedoen word en toe ons weer stilhou in Mulanje polisiestasie, sien ons daar is 'n Mosambiekse voertuig. By die deur loop ons ons vas teen die hoof van polisie van Zambezia provinsie in Mosambiek. Hy en Freek is goeie vriende. Dink net wat die kanse is dat hulle presies op die regte tyd mekaar daar kan raakloop!! Hy vra wat aangaan en Freek vertel hom. Hy gaan toe na die polisiehoof van Mulanje en vra hom hoe ons sy viend die dokter kan help. Dit sit 'n proses aan die gang waar die hoof van polisie in Mulanje ingryp en direk vir die beamptes betrokke vra hoe gehelp kan word. Twintig minute later ry ons daar weg terug Milange toe en kan Freek wag tot Vrydag en dan hoef hy net in te bel om te bevestig waar die proses is. Ons glo regtig dat die proses nou met 'n verskyning in die hof en 'n boete afgehandel sal word.

Strand Gereformeerde kerk uitreik

Ek kom betyds by die huis om saam met Kim (Hollandse vrou wat betrokke is by mediese werk saam met die kerk), grens toe te ry en die span van Strand Geref kerk te ontvang. Hulle vlieg op tot by Blantyre en daarvandaan druk hulle styf in taxi sedan voertuig tot by die grens waar ons vir hulle wag. Ons slaap oor en die volgende oggend ry ons met 'n ouderling se kar na Mocuba met myself op Bileam tot in Mocuba. Hier doen ons inkopies en bly oor by Bernadette. Elbe se een tas, bly egter agter in Johannesburg en sy moes die ongemak daarvan hanteer. Die planne is gemaak en die uitreik gaan aan soos beplan.

Die volgende oggend is die konvooi van motorfiets en voertuig en Benjamin op 'n taxi weg na Magodane. Ons word deur 'n groot klomp mense ontvang, ongeveer 70 mense. Ds Walize help om baie diep te gesels oor tradisies en kultuur en Christenskap met die leiers. Die vroue doen die storie van Moses se ma en die planne en moed wat sy aan die dag gelê het om Moses in die mandjie weg te steek. Die jeugleiers doen ook baie goed deur meer fasiliteerders vir Sondagskool op te lei. Die aand se Jesusfilm werk ook baie goed, want ek dink dit was die eerste keer dat dit in die plaaslike taal vertoon is. Die reaksie was baie goed, en mens wonder oor hoeveel harte geraak word. Handevat se projektortjie werk goed op omsetter van voertuig se battery!

Die hele proses word die volgende dag in Malega wyksgemeente herhaal. Die storie vir die vroue is oor die ma van Samuel se hartseer en smeking vir 'n kind en hoe die Here voorsien het. Dit maak baie geleenthede oop en ons gesels oor baie seerkry en vertroue op die Here. Om te weet dat hy teenwoordig is en hoe die vroue mekaar kan aanmoedig en God so verteenwoordig vir mekaar. Daar is ook 'n opgewondenheid by die ander gesprekke.
Ons herhaal die program die derde dag in 'n ander wyksgemeente en hier is mense baie oop en opgewonde. Ons verlaat hulle die middag en ry terug na Mocuba.
Ds Dinant preek in Mocuba tydens die erediens en ons verdeel in groepe om die opleiding ook hier te doen. Hier wys ons nie die film nie, want dit moeilik om dit in die dorp te doen en dit is verder wel bekend in die dorp.

Vandag (Maandag) vat ons vir Felixardo na die hospitaal met 'n tand wat erg pyn. Verder beplan ons om huisbesoek te doen in die dorp voor ons more vertrek na Lugela. In Lugela gaan ons by Lugela self werk asook Tacuane. Bid saam met ons dat ons entoesiasme nie sal kwyn nie en dat mense deur die Here geraak sal word.

12/12/2015

Is daar 'n doel vir my en jou as christen?

Ek lees in die "TIME" tydskrif dat Angela Merkel die persoon van die jaar is. Op die kortlys is die nommer twee Abu Bakr alBaghdadi (die leier van ISIS) en die derde persoon is Donald Trump. 
Mens begin onwillekeurig wonder wat die motivering is om die mense so te vereer as persoon van 2015. Die antwoord wat ek vermoed is dat daar geen keuses vir waardes gemaak word nie. Die persoon se invloed kan dus positief of negatief wees. Daar word nie meer deur "TIME" vir enige waarde gestaan nie. Die enigste waarde lyk my, wat al sterker word, is dat daar nie waarhede of waardes is nie.
In Afrika, lyk dit vir my, is waardes weer 'n baie sterk beweging, maar dikwels is dit ook waardes wat negatiewe gevolge het. Ek het nie gehoor wie die navorsing gedoen het nie, maar ek verstaan vanuit radio gesprekke op RSG, dat navorsing sê dat 1 uit 10 Suid-Afrikaners glo dat omkopery 'n goeie waarde is.
Dit is ook nie 'n mooi prentjie as ek so objektief moontlik kyk na die afdanking van Nene deur Zuma nie. Daar is baie waardes, of gebrek aan, hier op die spel. Waardes oor geld, mag, patriotisme, ens. 
Waardes word natuurlik gevorm en gedra deur geloof en die God van die geloof. 
Die kerk het ook 'n uitdaging om waardes wat geleef word en waardes wat verkondig word bymekaar te bring. Ek praat nou nie van die paar geloofshelde wat daar is nie, want hulle bestaan en is 'n ongelooflike inspirasie. Ek praat in die algemeen van ons gemeenskappe. 
God self is besig om ons as Christene (Sy kerk) te gebruik om die wêreld se waardes te help vorm, sodat regerings beter regeer, besighede beter diens lewer, en God se koninkryk al meer sal kom. In die moderne wêreld moet ons as kerk werklik ons identiteit en werkswyses weer ondersoek, want ons invloed is nie wat dit kan wees nie. Soos ek verstaan, is die potensiaal ongelooflik groot indien elke christen begin om vanuit sy leefwêreld te leef vanuit wie God hom of haar gemaak het. 

Ek sien dit so:
Ons lewe as christene saam met God, is ons realiteit. Hy bestaan, Hy vergewe. Hy aanvaar my. Hy gee waarde ens. Persoonlike intieme verhouding met God deur geloof. ONGELOOFLIK. Dit verander my hopelose niemand wees lewe in 'n hoopvolle, waardevolle lewe al wil die wêreld my iets anders vertel. God het my lief.
Hierdie geloof gee aan my vaste waardes in kontras met die wêreld se weg beweeg van waardes. 
Die geloof en waardes bring my in aksie. Ons glo in harde eerlike werk, opoffering en soveel meer. Dit is 'n oorwinnende, hoopvolle en vervullende pad ten spyte van swaarkry pyn teleurstellings en fisiese dood. Ons kies om die moeiliker pad te loop. Dit is dus nie wetties nie, maar gedryf vanuit prysgewende liefde en omgee. 

Wat is die gevolg van gelowiges wat saamkom as kerk:(hierdie is volgens my ook 'n manier om ons geloofsgemeenskap weer te evalueer).
  • Ek sou sê die intieme saam wees waar ons mekaar aanmoedig om anders as die wêreld te wees. Baie kry swaar en dikwels as gevolg van hulle geloof.  Lewens word gedeel, elkeen het 'n plek en word gehoor en gesien.
In hoe 'n mate moet ons groei om dit waar te maak vir elke lidmaat?
  • Christene bring eenheid waar soveel invloede verdeeldheid bring. 
In hoe 'n mater bring ons diverse gemeenskappe bymekaar? Diversiteit in eenheid.
  • Christene bring waardes na die gemeenskap waar die gemeenskap dikwels die kerk se waardes beïnvloed. Waardes soos opofferende liefde vir naaste, harde werk, eerlikheid en ander. 
In hoe 'n mate is ons besig om die etiek van ons gemeenskap te beïnvloed?
  • Christene bedien die gemeenskap met 'n gewete, want die gewete van die wêreld.... 
In watter mate skep ons 'n gewete en dus 'n rigting vir ons gemeenskap?
  • Mense begin mekaar help en die wat het, begin om te gee vir die wat nie het nie. Christene gee nie net materieel nie, maar ook dinge soos menswaardigheid, want Christene stel so belang in ander dat hulle weet wat hulle nodig het. 
In hoe 'n mate bemagtig ons ons gemeenskap sodat elke persoon meer geleenthede kry om sy of haar gawes uit te leef?
In hoe 'n mate stel ons in ons gemeenskap belang sodat ons werklik weet wat hulle nodig het?
  • Christene word ook natuurlikerwys die sosiale koördineerders van ons gemeenskap. Ons regering het nog kort gelede erken dat die kerk die betroubaarste vennoot is in gemeenskapsdiens. Dit gebeur outomaties.
Gebruik ons genoeg ons geleenthede wat vertroue van die gemeenskap vir ons gee, om leiers te wees? (andersins verloor ons dit).
  • Die kerk se waardes maak dat gemeenskappe en individue in harde werklikhede weer hoop kry.
Kan ons sien hoe ons hoop gee vir ons gemeenskap?

24/11/2015

Laaste paar dae in Mosambiek

Kantore van Espanhor Milange
Daar is hantering van kommunikasie tussen sinode en vennote oor bouprojek in Mocuba en Magodane, dominees wat van gemeentes verander en besluite wat gemaak moet word, sinode se sending inisiatiewe, rentmeesterskap uitdagings, en nog. Ons besoek ook Espanhor soos op die foto hier bo.


Tydens sinodale kommissie vergadering
Die twee en halwe dag van gesprekke tydens die sinode, verteenwoordig ek ook die RSA vennote in heelwat van die bedieninge. 
Die sinode probeer baie hard om vanuit eie gemeentes bydraes te kry vir die werk van die sinode. Vervoer is 'n groot uitgawe, want dit is 'n prioriteit om die werk in die geisoleerde plekke te besoek. Sommige leiers wil met reels en posisie om gemeentes te dwing om by te dra. Ander verdedig die gemeentes wat sukkel met groot uitdagings. Besoekers sien baie mense, maar gemeentes het maar min werklike lidmate. Christenskap is vir baie lidmate en selfs leiers 'n baie nuwe aanpassing en mense worstel met transformasie. Dit was vir die leiers 'n groot selfinsig om te sien dat daar taakgerigte en mens gerigte mense in die vergadering is en dat ons moet aanpas by mekaar, want beide is belangrik.
Kobus Eksteen neem afskeid van sinode. Groot dankbaarheid vir sy bydrae.
Die terugrit:
Sondag betaal ek R30 om met die fietse grens toe te ry en daar kry ek die voorste sitplek in die taxi na Limbe. In Limbe klim ek oor in 'n ander taxi tot in Blantyre. Ek stap tot by Doogles backpackers waar ek bly tot die volgende oggend. Ek stap tot by bus en teen 10h00 vertrek ons na RSA.

Foto in bus teen 35 grade celsius met lugreling wat nie eintlik 'n verskil maak nie
Arriveer volgende dag teen 18h00 in Johannesburg na ure op Beitbrug. Slaap oor in Pretoria by vriende en die volgende middag 14h00 op tweede bus Kaap toe.

Hexrivier vallei uit busvenster
Ek arriveer die volgende dag 0m 8h00, beter bus as die een na Blantyre alhoewel dieselfde maatskappy.




03/11/2015

Handevat storie 12 Okt - 1 Nov Mosambiek


My nuwe profiel foto op "facebook"

Okotober 12
Hierdie is Danie en ds Nunes wat by Malema en Entrelagos saam gewerk het. Hier is motorfietse gelaai vir die pad.


Ek groet die boland en mense wat vir my baie kosbaar is. Ek bid dat die Here Sy wil sal bereik en ek goed sal luister, en met oortuiging kan doen en praat. Dat ek daar sal wees waar Hy my wil hê. Ek rus en vertrou op Hom.



Oktober 13
In die bus op pad na Zimbabwe en tweede nag van regop slaap.


Oktober 14
Is nou in Blantyre. Vertel later van goeie gesprekke op bus ook met Moslem leier. Hier ry ons oor die nuwe brug by Tete. Zambesie rivier. Die man het homself en die Moslem geloof verdedig en die Christelike kerk aangeval. Ek het die foute van die kerk gedurig erken en hom duidelik gewys dat Moslems ook soms foute maak. Hy het dit ontken, maar kon later nie meer nie. Hy het nie verwag dat ek ons gebrokenheid sou erken nie en dit het hom heel van sy storie af gehad.


Oktober 15
Vandag in Milange na taxi en fiets trip. Lekker warm. Vergaderings begin more. Bid vir fyn luister en wysheid.

Oktober 16
Die gesprekke vandag was goed (ek het vir 'n paar uur lank met moderator en algemene sekretaris van die sinode in Mosambiek gesels), en daar was mooi verstaan. Aan die ander kant ook amper verslaentheid as mens sien hoe diep gewortelde maniere van dink en doen soveel probleme veroorsaak. Aan die ander kant dat ons so lief is vir mense dat ons nie kan ophou om weer en weer die waarheid te praat en verder te soek na oplossings. Dit het ons nog nader gebring aan mekaar en so ook aan ons Goeie Vader.


Oktober 17
Niehan maak vir die manne burgers terwyl die vrouens ladies night het. Dankie Niehan, dit was lekker na die vergaderings.



'n Stuk van die Mocuba pad, is nog stadig. Het gou gestop vir 'n koffie. Nampula nog 4 ure weg.

Oktober 18

Vandag Nampula se strate deurkruis op soek na 'n motorfiets. Ek praat met Here dat ek wens dit was makliker as om self te soek en navorsing te doen. Na alles bid ek om more goed te doen.


Slaap by YWAM basis (was SIL), Goeie gesprek met administrateur. Ook genooi vir middagete by sendelinge saam met 'n nuwe paartjie van Balama. Ons eerlikheid oor swaarkry, maak dat die Here ons saamwees gebruik vir mekaar.


Dave die loots van MAF, leen my hulle voertuig. Wonderlike voorsiening anders het ek gesukkel. (die Here het die keuse met 'n glimlag gemaak! ). Verder is daar iemand wat die stad ken wat more vir my die beste motorfiets plekke gaan wys. Mens kan dankie sê vir so baie dinge.




Ons erediens op ywam basis. Ek voel so die swaarkry van baie van die mense, wil hulle 'n groot drukkie gee en saam huil. Sulke brawe geloofs mense.

Goeie gesprek met Mosambiekse Bybelskool dosent. Hy vertel van mense in Xai-Xai wat familie in hulle erf begrawe om nader te bly aan hulle. Ook hulle wat uit vrees nooit 'n dier se ribbes of hart eet nie want hulle voorvader clan naam is borskas.

Oktober 19

Bileam II, is toe gekoop. Hero 150 cc vir so R20000. Toe Grant laat weet hulle kom uit die Honda stal, toe besluit ek dit is die een wat ek dink die Here wou hê ek moet koop. Kan nie hele storie vertel, maar dinge gebeur nie soos in RSA!


Blikkie vleis, mash, blatjang en koffie vir middagete. Sias Murray sou dit geniet.

Oktober 21

Grant en twee werkers of dissipels besig om te bid. Baie vrae oor Bybel en praktiese Christenskap. Die een se vrou maak nie die pap wat hy van hou nie. Nou gaan hy eers sy eie foute erken en hoop hy kan dan met haar weer oor die pap praat.

So lekker vol dag gehad, het nie eers 'n foto nie. 5uur uit Nampula weg en kuier lekker by Grant en Riana. Goeie gesprekke met werkers, bure ens. Bietjie help boot bou en laat middag gaan duik.


Ons ry uit met motorfietse met elkeen een agterop to by dominee en sy kerkie. Ons gesels oor kerk wees en ware Christenskap. Grant help met laaste bladsy vertaling van hart van mens. Baie sinvol.



Wat 'n ongelooflike dag. Hard gewerk, baie stories vertel, beplan, Kotie en Rina eet saam, ons eet likkewaan in die bos! Ons duik weer die aand. Ek haal 18 m en Grant Franke skiet 'n vis. Kan baie vertel, maar nou is ek op 'n goeie manier goed moeg.

Oktober 22

Die werker vra vanmore oor uitverkore volk van God. Dit lok diep geprek uit hoekom ons blankes en mense in Afrika deel kan word van Koninkryk en oor waarde van mense. Die werker sê toe dat hy vanmore goed opgestaan het, maar dat die woord hom nou hard geslaan het.




Hier word Farming God's way tuin gemaak. Die pajero wrak is gekoop en Grant met sy werkers het die enjin oorgebou en dit word reeds gebruik. Riana doen skoolwerk met kinders. Gesondheid is nou goed.

Oktober 23



Eet gister by die familie, praat oor radio oor bybelverhale. Kuier tot 12uu by Frankes. Nou pap en koffie ek langs pad na Nampula.

Oktober 24




Ons is veilig by Mutarara, oor klein bruggie, eerste byeenkoms. Hier is baie seerkry, en ons beplan om alles more en oormôre deur te praat en baie meer. Die Here se wil vir die gemeenskap te soek.

Oktober 26

Dag van huisbesoek. Baie hartroerend. 36 grade en meer as 10km se stap. Sal later meer vertel. Moet nou foon battery spaar vir nog 6 dae.

Oktober 27
Is nou in Entre Lagos en met nog net uitry na die kerkie.

Mense hier in Nachanje wil weer begin om kerk te plant. Is egter nie so eenvoudig nie. Mense se verstaan van kerk moet eers uitgepraat word. Dit is ook 'n proses om die Here te leer ken en 'n gemeenskap te stig wat iets van sy Koninkryk uitleef vir die wereld.

Ek kan nie hier foto's stuur nie. Sein te swak ver in bos. Die gemeente met 6 gebedshuise het heeltemal plat geval. Ons het twee dae om saam met mense na die Here te luister. Bid saam vir goed luister.

Oktober 28

Die plek waar hulle 'n nuwe kerkie wil begin.


Vandag gepraat oor kerk as plek om mekaar lief te hê en waar ander jou kan help om op die pad te bly. Hoe om ander se belange raak te sien en lief te wees vir jou vrou. Ons besoek huise en leer om mekaar se seer te dra. Dit is nie maklik nie, maar ek geniet sulke goed baie. Lyk tog of hier 'n kerkie gaan begin.

Oktober 30

Ons is in Mecanhelas op pad na Nephipi die laaste plek waar ek 2 dae gaan werk. Is nog baie geseënd gesond en dit is baie ver vullend om te sien hoe die Here mense aanspreek. Sal vorentoe sien of daar sigbare gevolge gaan wees.


Mecanhelas se strate


Is in Nephipi die laaste besoek. Reeds 'n gesprek gehad met ouderlinge oor oppervlakkige of diep ware bekering van binne. Die stryd waarin ons is om in onsself te sterf. Dit gaan goed. Dankie vir gebede vir 'n tyd wat baie van mens vra. Word werklik gedra.

Oktober 31
Ek begin nou dink aan french toast met blatjang! Dit bly hier pap met of vissies of hoender of boontjies. Vandag was weer besonders, Hoe om 'n visie te hê van 'n gemeente bv sonder hoogmoed, en hoe leiers dan beplan om dit te realiseer. Of 'n gemeente met goeie liefdevolle huwelike ens.

Ek lê hier in tentjie binne kerk met ouderlinge wat rondom slaap. Luister na fluister gebed van ouderling voor hy gaan slaap.

November 01

Ek is terug in Milange Mozambique dinge sal nou weer spoed optel. Het twee dae vir aanpassing admin en dalk 'n gesprek of twee. Die krag is net baie af. Nou al 3 dae. Hoop op krag vir rekenaar en foon laai.

02/11/2015

Besoek aan Entre Lagos (naam beteken tussen die mere)

Ek en ds Nunes van Gurue vertrek op ons motorfietsies vanaf Murara, wat op die kaart as ‘n kerkie regs bo naby Malema aangedui is. Dit is alles sleg grondpad, baie stof en dan die laaste stukkie pad baie dik sand is. Ons worstel wydsbeen deur die sand sweet en lag vir mekaar se gesukkel tot by Entrelagos wat op die kaart noord van Mecanhelas is waar die pad langs die meer by die treinspoor aansluit.
Daar aangekom by die hoof ouderling, weet hy dat ons kom, maar weet van geen relings. Sien hy, wil nie dat ons die buiteposte besoek nie, hy wil ons vir homself hou. Ons moet omtrent rond bel voor ons uitvind waar die byeenkoms gereel is. En toe wag dat iemand vir ons kom haal. Met ‘n gesukkel kom ons daar weg en in die proses hoor ons dat die 6 gebedshuise eintlik nou almal dood is. Die plek waarheen ons gaan is ‘n nuwe plek wat die vorige dominee (wat hiervandaan moes vlug) begin het. Die jong man daag op en klim agter op ds Nunes se motorfiets en wys vir ons die plek wat op die kaart aangedui word as ‘n huisie langs die boonste meer. Mens kan die meer daarvandaan sien as jy op ‘n graniet bergie geklim het. Dit is amper 100km van Cuamba af.

Die area is baie geïsoleerd. Binne 20 km is daar bv nie skole nie, mense moet baie ver loop vir water. Dit is stowwerig en droog op die stadium. Daar is geen mediese geriewe nie, soms moet hulle mense agter op ‘n fiets laai in ‘n nood geval vir oor ‘n 20km en mense maak dit dan dikwels nie. Na verlede jaar se vloede, is daar nie genoeg kos nie. Mense eet reeds net een keer per dag. Hier is ‘n foto van die mense soos hulle werk in hulle tuine.

Mens word met 'n magteloosheid gekonfronteer as daar regtig niks is om fisies te doen nie. Ons word gedwing om ernstig met ons Hemelse pa te praat!

Een ou man vertel dat as die nood regtig druk, dan loer daar baie versoekings vir jou. Dan kyk hy maar net op en as hy afkyk het hy 'n skoffelpik in die hand en dan weet hy wat om te doen.


Ons word ontvang by ons gashere op baie oop respekvolle manier en hulle dra ons op die hande vir die drie dae wat ons daar bly. Ons eet pap en vissies, of pap en hoender en in die oggend ryspap.


Dieselfde dag begin ons met gesprekke. Eers behoeftebepaling. Die mense wil baie graag hê ons moet daar 'n kerk begin. Ons begin dus om die basis van kerkwees na die beste van ons vermoeë te beskryf.
  • Begin by God drie-enig. Verskillend en tog eenheid. 'n God van verhoudings.
  • God se koninkryk se kenmerke is dinge soos:
    • Sy glorie
    • Liefde
    • Vergifnis
    • Self opofferend, doodgaan in self
    • Ander se beslange bo jou eie stel. 
    • Almal vrouens inkluis is na Sy beeld geskape en almal wit of swart het gelyke waarde. (baie tyd word hieraan spandeer).
    • Diens
  • Die aardse koninkryk is baie verskillend en werk met magstelsels materialisme en sulke dinge.
  • Om hierdie nuwe koninkryk gestalte te gee moet ons
    • Afhanklik en erkentlik wees.
    • Ons gebrokenheid erken
    • 'n Gesindheid hê waar ons die ander vra om my reg te help as ek foute maak.
    • Erken dat ons mekaar brood nodig het.
    • Ons mag nie sleg praat van mekaar as ons mekaar nie help nie.
    • Ons moet mekaar bou en bevestig met goeie woorde en aanmoeding
    • Ons deel saam mekaar se lyding en deel die lyding dan met Christus van die kruis.
    • Ons maak saam planne onder God se leiding

Hier breek ons tydens die twee dae se gesprekke en sing en dans ons eers bietjie. Van die mans is bereid om buite die kultuur gewoontes sy vrou se hande te vat en vir haar te bid as inoefening. Die huwelik word bevestig as ons skool vir die verhoudinge waaruit die kerk bestaan.  Dit is regtig groot stappe wat met baie lag en gesels gepaard gaan.

Ons doen saam huisbesoek en deel ons medelye, omgee en aanmoediging op 'n praktiese vlak met mekaar.


Die seuntjie sit buite en speel terwyl ons gesels.


Ek maak my oggend koffie.

Met die afskeid gesels ons bietjie oor inisiatiewe. Die kinders moet skool kry, want niemand word dorp toe gestuur nie, daar is te veel mensehandel en nou leer niemand. In die reeds moeilike tyd, moedig ons mense aan om vir elke kind vas te byt en 'n stukkie ekstra landery te plant. Dan eenheid te kry sodat die fondse saam gegooi kan word. Dan kan hulle Milange kontak en 'n christen onderwyser vra, want hulle het kos en geld vir hom.

Ek en Ds Nunes sluit af deur die verantwoordelikheid aan die mense oor te gee. Ons sit simbolies die opleiding en planne voor hulle neer op die grond. Ons gaan weg en hulle kan nie staat maak daarop dat daar van buite af iets gaan gebeur nie. Dit is nou hulle besluit om die opleiding te gebruik en eenheid en vertroue tussen mekaar te bou en kerk en skool te begin. As hulle alles daar op die grond los, gaan niks gebeur. As hulle dit optel gaan dit baie werk kos, maar gaan more 'n beter dag wees as vandag. Dit is moontlik want God se Gees is by hulle. 

Op die manier gaan hulle ook mekaar kan help om gereed te wees as die Here weer kom.




Mosb besoek Mavago Cuamba en pad

Administrateur in middel  Vanaf Mavago het ons eers die Administrateur (vroulik) besoek. Sy is ‘n Mosl&m met mooi verhouding met die k...