Volgers

03/12/2016

Wes-Kaap regering praat met religieuse leiers

Wes-Kaap regering praat oor samewerking met Religieuse instellings

As Handevat bediening het ek gereageer op die regering se uitnodiging om die byeenkoms by te woon en deel ek dit graag met julle.
Gelukkig ry ek met die motorfiets en hoef ek nie parkering te soek in die besige stad nie. Met navraag word ek verwys na die 6de vloer van die Burger sentrum in die raadsaal. Die saal word gevul met ‘n paar honderd leiers van religieuse instansies. Sommige is tradisionele leiers wat openlik in gesprekke hulle vertroue op die voorvaders plaas. Dan is daar Moslem leiers, leiers van tradisionele inheemse kerke en dan ook die hoofstroom christelike kerke se verteenwoordigers. Vir die NGK kon ek buiten myself, net vir Ds Leon van Badisa daar opspoor.
Ons sit in sulke stoele wat kan draai met ‘n mikrofoon en luidspreker voor jou met ‘n paar knoppies. As jy wil praat druk jy net die mikrofoon knoppie en die rooi liggie gaan aan op jou mikrofoon en dan hoor almal jou.
Die byeenkoms se doel is om die nuwe “desk” (weet nie hoe om dit te vertaal nie) naamlik religieuse “desk” bekend te stel. Die “desk” is nog in ‘n begin stadium, maar hulle het reeds ‘n lys van doelwitte, alhoewel dit nog verfyn en aangepas moet word.
Ons raadslid Susan Little, word die eerste geleentheid gegee om met die leiers te gesels. Daar word vir 2 ure lank vrae uit die gehoor beantwoord en die fasiliteerder, Brian Ford, verteenwoordig 'n baie hulpvaardige regering wat samewerking soek. Alle vrae word geantwoord of verwys. Daar word gesukkel om weg te kom van die saak ook grond. Baie kerke en organisasies soek grond vir hulle byeenkomste en daar is te min beskikbaar. Daar is te veel aansoeke en Brian verduidelik mooi die uitdagings van die proses. Ek wil graag die opmerking maak dat, ek bekommerd is oor die gehalte van leierskap wat tydens die vergadering na vore gekom het. Die NGK is volgens my nodig vir die gesprekke, want ons het waardes wat hier baie nodig is om in die Wes-Kaap 'n verskil te maak. Mense, die uitdagings is geweldig groot!
Behalwe vir die bekendstelling van die religieuse “desk” is daar twee vrae op die tafel gesit: Hoe kan die regering die religieuse instellinge beter ondersteun en tweedens hoe kan die religieuse instellinge die regering kan bystaan.
Ek wil graag Raadslid Little se toespraak met julle deel. Ek gaan dit nie te veel struktureer nie, want sy het meer haar hart gedeel as om dit goed te organiseer en ek gee dit deur soos ek dit neergeskryf het.
Haar definisie van kerk, is mense wat in die eerste plek die mees kwesbare mense in die samelewing dien. Dit resoneer met my, want dit is ook my hart. Sy het al die organisasies uitgedaag om minder op hulle eie sake en groei geld en besittings te konsentreer en meer op die behoeftes van die samelewing. Sy reken dat sy dit kan sê, want feitlik alle navrae wat hulle as regering kry van religieuse organisasies, is in die eerste plek oor grond en klagtes. Sy het nog feitlik geen organisasies gekry wat bekommernisse oor die gemeenskap kom deel het. Sy daag hulle uit om nie grond te soek vir hulle eie belang nie, maar om die gemeenskap te dien en sy wil dit graag in die praktyk sien. Hulle wil nie meer grond gee aan organisasies wat geen verskil in hulle gemeenskappe maak nie.
Sy soek tekens van liefde vir die gemeenskap, want die probleem is nie dwelms, tiener swangerskappe en bendes nie. Hierdie is maar net die simptome, want die groot probleem is gebroke families. Sy daag ons uit om betrokke te raak by mense. Alcohol word gesien as 'n groter probleem as dwelms, maar mense praat dikwels meer oor dwelms. RSA het die hoogste uitval van kinders in die primêre skole in die wêreld en die probleem is mammas wat drink.
Sy daag ook leierskap uit, want mans vervul nie meer die leierskap rol nie, families kan nie voort gaan soos dit nou is nie. Ons vaar BAIE sleg wat huishoudelike geweld betref. Dit is die hoof rede van mense wat op die straat beland. Daar is 7000 straat bewoners in die Wes-Kaap. Negentig present van vroue op die straat is verkrag voor die ouderdom van 5 jaar.
Een van die uitdagings is om nie net te praat, optogte te reel en te preek nie, maar om betrokke te raak by mense. Die regering het in die gebroke gemeenskap hopeloos te min sosiale werkers. Kan daar nie meer mense wees wat mens kan aanneem en versorg nie. As daar maar 'n sosiale werker kon wees vir elke gesin.
Sy daag ons uit om in ons gemeenskappe die mees kwesbaarste mense op te spoor en met hulle as regering daaroor te kom praat. As elke gelowige maar net vir een persoon kan omgee en betrokke kan raak by een persoon, dan gaan ons gemeenskap verander.
Sy sê dankie vir baie voedings skemas, maar wys daarop dat dit op sigself meer skade doen as goed. Op die manier word mense afhanklik op die wat die kos voorsien en dit is 'n bose kringloop en daarom verkeerd. Leer eerder verstaan hoe lyk lewe op die straat. Daar is organisasies wat persoonlike verhoudings met mense aanknoop en hulle leer ken en dan oor tyd met hulle werk. Mense word aangeneem en 'n pad met hulle geloop. Ons moet mense begelei om effektiewe aanneem ouers te word.
Alhoewel sy dit meer diplomaties gesê het, het sy religieuse organisasies gekritiseer wat uit eie belang te so groot waarde aan geld en posisie heg, dat hulle dit nie reg kry om dit af te gee nie en so raak hulle heeltemal oneffektief in hulle roeping. Ons moet dit teenwerk. Hierdie is dan juis een van die redes hoekom ek dink ons ook by ander kerke betrokke moet raak. Ons het regtig waardes en leierskap eienskappe wat ander kan help groei!
Sy het gevra dat die religieuse instellinge hulle distriks kantore sal kontak om in gesprek met mekaar te tree en praatjies te lewer oor uitdagings, veral met betrekking tot die mees kwesbare mense. Ons weet dat daar mense van so jonk as 17 jaar oud is wat soveel keer verkrag is dat dit nie meer getel word nie, maar ons is nie sonder hoop nie. Sy doen 'n ernstige beroep aan almal om te bid. Bid vir die shebeens en ander afbrekende plekke en sisteme in die gemeenskap.
Ons word almal uitgenooi om meer hande te vat met die regering. Die fasiliteerder Brian Ford het ons uitgenooi om hom self te kontak indien ons verder wil gesels en hy sal self betrokke raak of verwys. Sy epos is brian.ford@capetown.gov.za


Groete

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...