Volgers

26/08/2015

SARFAT Besoek

Ons voel skrikerig, want die omgewing en die mense wat ons gaan besoek is vir ons vreemd. Langs die pad tel ons 10 jongmense van Wallesdene en omgewing op wat deel is van 'n christen uitreik jeug groep. Hulle entoesiasme is aansteeklik.

Ons kry die Dare to Care groep van Proteahoogte by Sarfat en hulle bedien ons met koffie en pannekoek. Ons besoek die Xhosa en Afrikaanse bybelstudie groepe en word met sang en dans verwelkom.
Ons ontmoet mense wat elke week die bybelstudies aanbied met groot toewyding en ontmoet die kinders. Hulle het groot vrymoedigheid om te sing en ons te omhels in verwelkoming.

Ons verdeel in groepies en die kinders begelei ons na hulle huise. Ons stap deur die strate, in plakkers huisies in en beleef 'n ander wêreld wat vir ons baie arm voorkom. Binne die huise beleef ons warm vriendelike en ongelooflike mense. Ons kuier, drink iets saam en nooi almal saam vir 'n pannekoek by die Sarfat gebou.

Ons bewonder die vordering in die gebou en 'n man in 'n rystoel vertel ons van sy plek, BLOEKOMBOS.
Ons hoor van baie uitdagings en behoefte vir erkenning en omgee. Die kinders sing met ongelooflike talent en oorgawe vir ons. 'n Seuntjie kom sit op oom Tallie se skoot. Ons kom onder die indruk van hoe dankbaar ons kan wees vir dit wat ons het. Skielik is daar 'n begeerte om betrokke te wees en daar kom 'n paar idees na vore.
Die vraag waarmee ons gegaan het is egter: Wat sê die Here vir NGK Proteahoogte oor Bloekombos. Waarvoor roep Hy ons en waarvoor nie? Hieroor gaan ons nog verder bid en gesels,

17/07/2015

Johan Morkel vertel van Mosambiek saam met Handevat


Ek het in April 2015 ‘n week saam met Danie Murray in gemeentes in die Milange omgewing
deurgebring voordat ons met sy Uno via Mocuba en Quillemane die 4 000km teruggery het tot in
Kuilsrivier.  Op Danie se versoek, vertel ek graag iets van hierdie ervaring.  

Ek sal graag wil begin deur te sê dat so ‘n uitreik saam met Danie na Mosambiek ‘n ervaring is wat jou totaal buite jou gemaksone neem.  Dit is nie, soos sommige mense dink, iets soortgelyks aan die
program “Voetspore” op televisie waar ervarings van mense vertoon word wat as ‘n goed toegeruste
span met viertrek voertuie deur Afrika toer nie!  Op so ‘n uitreik saam met Danie ervaar jy eerstehands besoeke aan gemeentes in die bos(ons was by die gemeentes Thezeze en Candeni).  Tydens hierdie besoeke slaap jy in ‘n tentjie wat ook as muskietnet dien, jy eet die kos wat die mense jou aanbied
waar jy tuisgaan en jy ervaar vir ‘n kort tydjie iets van hul lewenswyse.  Jy is gestroop van alle
geriewe en gemak en luukshede waaraan jy by die huis gewoond is.  En dit doen jou baie goed!  Jy
leer meteens weer dat mens met baie minder kan klaarkom en dat ons nie so op die materiële ingestel moet wees soos ons dikwels is nie.  In die proses leer jy jouself ken en kry jy geleentheid om weer
besluite te neem omtrent jou waardes in die lewe.  

Maar jy leer nie net jouself ken nie.  Jy leer ook opnuut die betekenis van geloof.  Juis omdat jy so
uitgelewer is aan ander, gaan jy elke nuwe dag tegemoed in vertroue op die Here.  En as daar krisisse oor jou pad kom - wat dikwels gebeur – leer jy om ook in die krisis die Here te bly vertrou.  En Danie help jou om gedurigdeur om die wil van
die Here te soek agter wat elke dag ervaar word.  Miskien wil jy my antwoord dat bogenoemde
vanselfsprekend is en jy reeds jou lewe so leef!   Dan is ek baie bly, vir my was die uitreik egter ‘n
kosbare leerervaring wat ek, ten spyte van die ontberinge, vir niks in die wêreld sou verruil nie!  ‘n Laaste opmerking: uiteraard kom mens op so ‘n uitreik daagliks met gelowiges in aanraking wat op die
frontlinie die Koninkryk van God in Afrika dien.  Mense wat op ‘n daaglikse basis onder moeilike
omstandighede hul lewens wy aan die koms van die Koninkryk van God.  Nie alleen was dit vir my ‘n
inspirasie nie, maar dit het my ook motiveer om meer gereeld hierdie medegelowiges aan die Here op te dra in gebed.  As jy enigsins die geleentheid kry om, op watter manier ookal, iets van so ‘n uitreik te ervaar, sal ek graag vir jou wil sê: “go for it”!

Johan Morkel 

17/04/2015

Gesprekke met die Here in Mosambiek 1

Op pad na Mosambiek het ek 5 dae op pad om met die Here te praat. Ek wil graag weet dat ek nie met my eie planne besig is nie, maar met Sy planne. Om die vraag te vra, kom dit na my terug, want dan moet ek bereid wees om my planne prys te gee. Nou praat mens van gevaarlike goed, want mense gee vir my geld om my gesin te onderhou sodat ek die werk kan doen. Here ek is reg om weer skuiwe te maak as dit moet. My vraag is net, hoe weet ek wanneer ek besig is met my agenda en wanneer ek besig is om in te skakel by ons Vader se plan met die wêreld. So in die gesprek glo ek praat Hy met my om te besef dat Hy 'n ongelooflike liefde vir Mosambiek het, ek is in Sy wil as ek vir Mosambiek lief het. Daar is baie met wie dit baie maklik is, maar daar is ook diegene met wie dit regtig moeilik raak en opofferinge kos. 'n Ander riglyn wat ek glo Hy met my kommunikeer het was dat ek moet inoefen om deur Sy oë te kyk. Dat Hy my aanmoedig om meer en meer te leer van sy liefde, goedheid en doel met alle mense. As ek dan gefokus is op hierdie karakter van ons Vader en inoefen om deur Sy oë te kyk na almal rondom my, op die grensposte, die verkeersbeampte langs die pad (wat dikwels korrup is), verder ook na alles wat gebeur rondom my, sal ek baie meer sien van wat Hy doen en meer as dit, gaan Hy Sy wil ook deur my hande en hart laat gebeur. Dit is 'n baie onselfsugtige en opofferende gesindheid, want die hele atmosfeer word deur Hom en Sy karakter van omgee bepaal. So in baie gebeure het ek dit begin inoefen, maar ek het nog baie oefening nodig. Nou maak ek 'n plan om
Gesprekke met leiers in Tezeze
Tezeze gemeente te besoek, omdat die sinode ook daarvoor gevra het. Die pad is baie sleg soontoe en vinnig weet ek dat ek meer doen met die karretjie as wat dit voor gemaak is. Val in slote, en wiele lig soms van die grond af op en dreig om kort-kort om vas te sit. Moet ek dalk omdraai?! En wat gebeur!! Die besoek draai uit 'n ontmoeting van 'n gemeente se leierskap met God. Ongelooflike gevoel van hoe die Here die gesprekke lei en die verduidelikings in stories omsit en verstaan in harte bewerkstellig. In die eerste plek luister ons eers na die mense en hulle bepaal toe 'n heel ander agenda as wat ek voorberei het. Dit wat ek wel in my kop het oor die onderwerp waaroor ons praat, vat die Here net verder in my en in hulle harte. Daarna gaan die gesprek oor rentmeesterskap en hoe ALLES aan Hom behoort. Mense ontdek dat omdat ons dit nie reg verstaan nie, raak ons jaloers. Daar word belydenisse gemaak van jaloesie. Die middag begin dit te reën en elke keer as ek dink dit hou op, val dit net harder. Here, raak ek bang, wat van die pad en die planne en afsprake wat voorlê??? Dan die inoefening van ontspanning oor dinge wat ek nie kan verander nie en oë oop te maak om te sien soos Hy sien. Aan hom behoort alles, en is alle mag gegee, en as dit waar is, dan is vrees klein geloof. Vergewe my, maar ek raak kort kort bang. Dan vra ek, dit moet nou ophou en glo Hy gaan dit stop en dan reën dit harder. Ons doen die oggend huisbesoek en kry reg om nie aan die pad te dink nie. Daar word weer bewys dat Hy werk. Besonderse ervaringe van ou tannies by die klei hutte wat absoluut blom oor ons besoeke. Ander wat in nood is en mens se gebede gretig aangryp en daaraan vashou. Ons kan bid vir siekes wat nie mediese behandeling het nie en weduwees wat man en kinders aan die dood afgestaan het ens. Ja,
Huisbesoek in Tezeze met Johan Morkel
Here die pad en my bekommernisse is werklik niks hierteen en teen wat U doen nie!! Uiteindelik is ons op die pad en dit is natter as wat ek gedink het. Ons praat mens fietse wat van voor kom en almal sonder uitsondering vertel vir ons dat ons nie gaan deurkom nie. Die petrol is min, want daar was nie in die dorp nie. Ek kan dus nie terug ry en more weer probeer nie. By Vulalo word dit duidelik dat die lorries die pad versper en dat ons dit nie gaan maak nie. Here waar slaap mens hier? Die vriend wat ons ken se huis is nie meer beskikbaar nie. Daar daag toe 'n ouderling op wat BAIE lief is vir my en met wie ek jare terug mee saamgewerk het. Hy en die dominee is daar na die hoofman toe en 'n uur later word ons na die skooltjie gevat en plek gegee in die personeelkamer om te slaap.
'n Wag word vir ons gegee om na ons te kyk die nag en ons slaan ons tentjies in die kamer op en die skoolhoof en twee van die onderwysers kom kuier by ons. Weer eens was dit 'n afspraak van die Here en kon ons deel oor watter ongelooflike verskil onderwys kan maak op die toekoms van Mosambiek.
Skoolhoof en Onderwyser, oud ouderling en ds Estevao in Vulalo
Die pad is BAIE sleg die volgende dag en mense belowe ons dat ons dit nie gaan maak nie. Ons gly en spring deur al die modder gate en slote sonder dat die karretjie een keer vassit.

Die lorries wat vasgesit het kom net voor ons uit en ons vind 'n pad verby hulle. Ek begin net iets van my vrese oorbrug, toe sit 'n lorrie net voor die dorp so vas dat mens nie kan verby.
Ek kry reg om deur Sy oë te kyk en is baie rustig ten spyte van die moderator wat vir ons wag om na Candeni te gaan. Iemand praat van 'n ompad en ons vind 'n manier om om te draai, wat op sigself beskou kan word as 'n wonderwerk en ons kry reg om die baie sleg ompad suksesvol te navigeer tot by die huis. Ek skryf iets meer oor die storie van die Here met my in die volgende inskrywing.

14/03/2015

Maart 2015 eerste dae van besoek aan Mosambiek

Ek wens ek kan alles deel van die kosbare tyd waarmee die Here besig is met my en Mosambiek, selfs by die huis. As mens soveel ure stil moet sit agter 'n stuurwiel praat mens dinge met die Here waaroor mens nie gewoonlik praat nie. Hy praat dan met jou ook.

Die eerste ding is dat Hy my baie bewus gemaak het daarvan om nie my eie program te volg nie, maar sensitief te luister en met Sy oë na alle situasies te kyk.

In gesprekke met die kerk hier, beleef ek ook baie dinge. Die belangrikste is dat hier 'n geweldige behoefte is aan werk met studente. Hier is nou 5 universiteite in Quelimane (kan julle dit glo). Die mense kom dikwels van die platteland af vanuit baie traditionele gebiede en kom nou in die stad. Baie van hulle beweeg dan weg van hulle tradisionele maniere van dink, na “stads” denke. Daar is nie kerke wat hulle kan dissipel in 'n ekonomie, opvoeding, ens lewenswyse gebou op geloof nie. Die basis wat hier geleef word is 'n stadslewe sonder fondasie. Wanneer krisisse kom dan dwing dit mense na fondasies en as daar nie is nie, dan word daar terug gegryp na tradisies wat in die platteland was. Toordokters speel dus nog steeds 'n baie groot rol, een van die groot beïnvloeders van die gemeenskap is 'n toordokter wat net so twee huise van hier af bly en baie gesag dra. Baie van die valsheid daarvan weet die jong mense van, maar daar is nie alternatiewe nie, want die kerke hou hulle net met geestelike dinge op Sondae besig. Almal stem saam dat die waardesisteme van die stad nog steeds aan die verbrokkel is. Die behoefte is mense wat nie denominasie gedryf word nie, maar as Kerk Koninkryks gerig is en saamwerk om 'n kultuur van Christelike waardes te stel. Die studente is meer as oop daarvoor. Die geleentheid is nou! (Wat wil die Here vir die IRM en vir ons as ondersteuners sê)? Praat saam met my met ons Vader dat ons nie iets sal mis wat ons moes raaksien nie.

Die kerk hier werk baie met kleingroepe en het ook 'n skool waar saam met die regering kirikulum ook dinge gedoen word soos tuinbou. Kinders maak tuine by hulle huise en die tuin is dan hulle eksamen. Hulle kry dan punte oor hoe goed hulle dit kan doen. Op die manier word groentes en vrugte ens gekweek waar mense nog baie in wanvoeding leef alhoewel daar soveel potensiaal is.

Die huis is 'n ander belewenis. Die Pastoor is Eswaldo (uitgespreek Oswaldo) getroud met 'n baie knap Australiese vrou wat verstaan van 'n bediening aan die hele mens en mense lief te hê soos hulle is. Daar word gedeel hoe sy moes aanpas by die kultuur, sy wou haar privaatheid in die huis behou en die pastoor het die huis se deure oop gegooi. Die huis is gedurig vol mense, op die stoep oefen die koor met besonderse talente met dromme, kitare en stemme, binne by elke ete is daar stuk of tien mense en omgee groepe kom soms selfs tot twee op 'n slag hier bymekaar. Dit is gesels en kuier, ek slaap in hulle dogtertjie se kamer op haar bed en hulle gooi 'n matras op die grond in die sitkamer. Almal help skoonmaak, ek maak vir my koffie soos ek wil. Dit is nooit stil nie. As jy stil wil wees is dit net die kamer, (waarheen sy vrou soms onttrek). Groot vriendelikheid en min grense in 'n warm 90% humiditeit atmosfeer.

Dit is 'n ervaring om te sien hoe leiers in die gemeenskap, baie jongmense, nuwe huwelikspaartjies ens, entoesiasties deelneem aan klein groepe. Dti het soveel potensiaal.

Hier in Quelimane het die Here ook met my en ander 'n afspraak gehad. Ek ontmoet hier twee broers wat ek in Milange laas geken het as kinders. Die oudste het eerste hier deel van 'n kerk geword (die kerk wat ek besig is om te besoek) en het sterk as leier gefunksioneer. Later het hy sy broer wat 'n drinker was begin intrek. Toe verdwaal hy weer in die wêreld en sy broer het toe weer in die Here se werk gegroei in so 'n mate dat hy in 'n plekkie buite die dorp 'n gemeenskap begelei as pastoor en met 'n skooltjie werk om met kinders te werk. Twee broers met baie potensiaal. Omdat ek hier is het die een wat in die kerk is dadelik kom groet en die ander een hoor toe dat ek hier is en toe kom kuier hy ook. Ons stap toe dorp toe en gaan drink saam 'n koeldrank en gesels oor Milange en later al meer oor Quelimane en die Here se wil vir die stad. Ek sal kyk of ek later meer daarvan kan vertel, want die Here het die gesprek op wonderlike maniere gelei. Ek gaan hulel ook skakel met besonderse werk wat deur Shiloh in Klipheuwel gedoen word. Dalk gebeur daar ook iets. Ek weet nie of die Here al klaar sy doel met Quelimane bereik het nie, en of daar nog wonderlike dinge gaan gebeur voor ek later vanmiddag die pad Mocuba toe gaan aandurf.

Verder is daar klaar 'n GROOT opgewondenheid oor die wêreldbeeld goed waarmee ek hulle in kontak kan bring asook party van die “fresh Expressions” se modules. Veral dinge soos hoe om te luister na jou gemeenskap. Ons bou te veel in kerkwees goed in voordat daar geluister is (omgegee is), of net eenvoudig uit God se oë na die gemeenskap gekyk is. Ons kyk te veel uit ons eie oë, kerk wees, kultuur ens.

Nog 'n besonderse gesprek was met die familie waar ek oorgeslaap het in Gorongosa. Mosambiek is nie 'n maklike land nie en uitdagings is geweldig groot. Ons kon egter regtig diep deel oor geloof en die leef uit geloof wat vir ander hoop gee wanneer moedeloos. Hulle is reeds 'n lig, maar ons kon saam bid en sterker van mekaar weg gaan as toe ons mekaar ontmoet het. Hulle het dit reg gekry dat toe almal teen hulle draai die plaaslike mense vir hulle opgestaan het. Toe hulle nie kos gehad het om te eet nie het die mense in die nag ingesluip en vir hulle kos gebring! Besonderse stories. Hy werk ook nou vir 'n betroubare groot kunsmis maatskappy en is opgewonde daaroor om met die landbou projek in Milange te skakel en vir hulle van die oorskiet afval kunsmis te voorsien teen 'n baie spesiale prys.

Dankie vir almal wat in gebed deel van elke gesprek en kontak is.

03/02/2015

Verstaan van Liefde, beinvloed die verstaan van God en daarom van gestuurdheid

LIEFDE die GROOTSTE opdrag:
Ek wonder of ons nie ons verstaan van God se hart verwater deur ons gebruik van die woord liefde nie.
Grieks gebruik mos drie woorde, een is eros, die seksuele liefde wat eintlik iets heel anders is en meer selfgesentreerd is as die ander. Dan ook filo liefde vir familie, wat klink soos 'n verbintenis nodig om te behoort aan 'n familie of dalk groep. Die derde woord is die eitnlike woord vir liefde wat God beskryf en dus ook 'n christen se strewe is. Die woorde wat dit beskryf is dinge soos fyn aanvoeling, prysgee van jouself, wees en doen goed aan ander ten spyte van jouself. God se opleiding hieroor kom in Christus as voorbeeld na ons toe. Gee posisie status en eer prys en word mens, word deel van vyande en 'n lelike wêreld en gee Homself as 'n offer tot die dood toe vir die wil van God. Dit is ongemaklik, seer, en teen jou eie strewe en oorlewings.
In ons kultuur sê ons maklik "Ek is lief vir lekker kos!" of iets dergliks. Hier gaan dit dus oor eie lekker gevoel, want dit is tog dwaas om vir kos om te gee soos Jesus. Nee, dit lyk asof dit meestal maar vir jouself 'n vervulling en lekkerte is. Met die manier van dink oor liefde verwar baie jongmense verliefdheid met liefde. Verliefdheid is eintlik maar selfsugtig en vervulling en lekkerte vir myself. Dit is natuurlik 'n tyd wat jy baie leer en bereid is om op te offer vir jou wederhelf, maar verliefdheid in algemeen lyk my is baie na jou behoeftes gebuig. Die lekker om belangrik te wees vir iemand, deel te word van 'n ander lewe ens.
Daar word dikwels gesê dat ek lief is vir bergklim of bestuur of wat ookal en die woord begin al meer die karakter kry van ek wat daaruit iets ontvang. Dalk moet ons 'n woord skep wat sal werk vir hierdie gebruik van die woord? Baie eerder die woord "hou van" gebruik, sodat dit nie met liefde verwar word nie. So kom ons nader aan Grieks waarin die nuwe testament gekryf was, wat drie woorde het. Met twee woorde kom ons dalk nader aan die betekenis van die woord.
Liefde is die grootste opdrag in die Bybel en as ek dit reg verstaan, gaan dit 'n transformerende effek op my totale lewe en interaksie met God, mense en skepping tot gevolg hê.
Dink aan 'n jong mens wat vir sy lewensmaat sê: "Ek is lief vir jou!" en dit beteken (Volgens Jesus se voorbeeld) iets van: Ek beskou jou belangriker as ek, ek wil God se wil vir jou, dat jy as mens ontwikkel, groei, blom. Ek deel jou lewe ter wille van jou, om myself te sien as iets soos 'n katalisator vir jou om te kan groei tot 'n volheidslewe. As dit help, sal ek die seerkry vat om dit reg te kry. Ek sien my eie status en eer as niks, want jy is belangrik nie ek nie. Daar is ook'n verbintenis betrokke wat betroubaarheid getrouheid, eerlikheid en ander waardes tot gevolg het.
Dink nou aan Suid-Afrika en die wêreld. Om dieselfde soort opofferende gesindheid te kan hê deur God se Gees, dit is iets van die inhoud van die woord LIEFDE.
Ek wonder of ons nie besig is om die betekenis van die woord te verloor nie. My verstaan van liefde bepaal ook in ln groot mate my verstaan van God, want daar word gesê: God is liefde! Help ons vertaan met wie ons te doen het.
Moet ons nie ons taalgebruik verander nie, want ons ken God? Geen mens kan vir roomys lief wees nie, want roomys kry geen voordeel daaruit nie!?
Toe ek agape prente soek deur Google, het daar heelwat erotiese prentjies ook deurgekom!...

18/11/2014

Besonderse teenwoordigheid van die Here in Pebane en Derre

Dit is lekker warm en Wynand is daar in die rivier in die water tydens ons middagete. Ons het gehoor dat ds Velasco Acasio nie meer bly waar hy gebly het nie. In die omgewing waar ons gehoor het hy is, kry ons hom glad nie. Ons ry toe na die kerkie wat die naaste is aan Mulela self. Die roete vat ons op twee spoor paadjies wat later verdwyn en ons ry deur die bos tot daar. Die mense skrik hulle boeglam en hardloop weg. Na baie gelag oor die skrikmaak, hoor ons toe dat die kerkie nie meer bestaan nie, maar dat die ds in die dorpie self is. So is ons terug na die dorpie en na navraag kom ons by sy huis uit. Hy is nie daar nie en ons moes 2 ure vir hom wag. Dit gebruik ons deurdat die Moslem buurman ons rivier toe begelei en ons daar gaan swem om af te koel, alhoewel die water so warm is, mens koel net af as jy uitklim.
Ds Acasio daag op en daar is groot vreugde, hulle het net die oggend gewonder wanneer ek hulle weer gaan besoek. Gelukkig het ons 'n hoender in Ile present gekry. Ons kon nie ooreenstem of dit dit 'n haan of hen is nie, maar ons het dit agter in die bak gelaai in 'n sak en noem dit Leslie. By die rivier verdrink Leslie twee keer amper. Ons wou nie die arme hoender in die warm kar los nie, want dan sou dit in elk geval nie kon oorleef, so Leslie is saam rivier toe. In die skaduwee langs die rivier spring Leslie op 'n stadium op met sak en al en beland in die water. Gelukkig kon Wynand sy/haar lewe red. Terwyl ons vuur maak en weg kyk beland Leslie weer in die water en ek weet nie vir hoe lank nie, maar toe ek hom/haar uithaal en bietjie skud toe kom daar gelukkig nog geluide uit die sak. Normaalweg moet sy kop deur 'n gat in die sak buite uitsteek, maar in die proses het die sak gedraai.
LESLIE
Leslie was 'n groot uitkoms van die familie van Acasio, want hulle het geen bykos in die huis om vir ons te gee nie en daar word Leslie se lewe ook beeindig en eet ons vir Leslie op die aand. Vir die volgende dag het ons 'n blikkie ham en bietjie olie gegee vir bykos sodat hulle dit in skywe kan sny en bietjie braai oor die vuur om saam met die pap te eet.
Ons verwonder ons aan die deursettingsvermoee van daardie familie, want hulle moes 'n paar groot teleurstellings deurleef. Hulle het katoen gekweek, maar die man wat dit koordineer het vergeet om vir hulle te se toe dit opgekoop is. Hy moes dit weggooi. Die Moslem geloof maak dit nog moeiliker om aanvaarding in die gemeenskap te kry. Met dit alles, bly hulle blymoedig en kon ons baie deel oor swaarkry en God wat in Jesus swaarkry ken en dit met ons deel en ons daardeur sal dra. Ons deel met mekaar tye van twyfel en deurbrake.
Ons ry uit na een van die senters en daar kon ons vir 'n drie ure lekker met die paar mense wat daar was gesels oor geloof en hoe om vir Moslems lief te wees en hulle te dien. Dan ook Dawid en Goliat se storie en Wynand wat lekker groot gebou is, word toe Goliat. Ons praat oor soldate wat net die reus sien en 'n seun Dawid wat meer sien en deur God gebruik word om die vyand op die vlug te laat slaan. Sy visie deur geloof.
Sondag is ons na die ander senter en moes ek die boodskap bring. Ek wou kort preek, maar dit is meevoerend as die Gees van God met mense begin werk.
Ons vertek eers na 'n ete en moet toe deurdruk tot by Dere waar ons in die donker aankom. Ds Dionisio Cinco Reis (Vyf konings) is baie rustiger as die ander dominees. Ons kry 'n ete en dit gaan bietjie beter in die huis omdat hy 'n vennoot in RSA het wat hom help met R500 per maand. Die volgende dag word ek gevra om toerusting te gee en dit doen ons die hele dag. Weer neem die Gees oor en kort kort is ons vreugde groot om te sien hoe Hy werk. Die dominee het bv sekere stellings gemaak oor tradisies en die mense het geworstel om dit te aanvaar. Ek het “toevallig” dieselfde stellings gemaak vanuit 'n ander hoek. Later het die sterkste ouderling opgestaan en dankie gese, want ek het dieselfde goed as hulle dominee gesêen nou weet hy dit is waar. Ek lêook baie klem op die roeping van die gemeente om die gemeenskap lief te hê en te help anders is ons nie kerk nie. Wat vir my lekker was om te sien is dat die mense die agenda van die gesprek op die tafel sit. Ek vra hulle uit oor die gemeente en die omgewing en hulle lewens. Daaruit kom die onderwerpe op die agenda en so betrek die Here hulle in Sy proses. Dit is in elk geval hoe ek dit beleef het. Ds Dionisio het na die tyd sy hart oopgemaak en vertel van hoe die Here hom op talle maniere deur drome gehelp het en verdere persoonlike stories vertel. Die man het 'n baie goeie kennis van die Bybel en regtig 'n goeie teologiese verstaan daarvan. Dit kan wees dat die gemeente nou weer nuwe rigting gekry het.

Dit bly regtig 'n ongelooflike voorreg om die werk te kan doen en Wynand beleef dit ook as 'n baie verrykende ervaring! Hy sê ook: The first of many to come!

13/11/2014

Huisbesoek in Ile (Errego)

Die eerste huis was uur se ry aan 10 km en daarna 'n halfuur se loop deur riviere en oor klippe, In die gesprek daar onder die boom praat ons oor elke persoon se roeping en hoe die Here vir elkeen 'n werkie het om te doen. Ek vra to die ouderling uit oor sy lewe en in die proses hoor ek dat hy voel die Here roep hom om mense te help wat gepla word deur drome en slegte geeste. Hy bevestig toe teen die einde dat dit die rede is waarom hy in daardie area is.
By 'n ander huis vind ons 'n vrou wie se man haar gelos het en sy het 'n besigheidjie op die mark om vir vier kinders te sorg. Sy vind toe uit dat sy die gawe gekry het om met kinders te werk. Op die vraag of sy nie vir meer as haar eie kinders kan help nie is sy toe baie positief. Sy het onmiddelik oopgemaak en gevoel dit is haar deel van kerkwees. Sy sal kinders kan begelei in talle geestelike waardes en wanneer hulle deur puberteit gaan ens. Sy sal vir hulle mama wees, want baie het nie 'n regte voorbeeld van waaroor die lewe gaan nie.
By 'n ander huis was ek reeds voorheen saam met ds Ualize. Dit was die man wat nie kon bid nie en hoe hy vertel het van die droom oor die man wat onregverdig dood gemaak is en toe weer opgestaan het. Eers 10 jaar later het hy by 'n sendeling gehoor dat die man Jesus is. Vandag het hy vir ons van baie meer baie interesante drome vertel. Ons probeer hom toe help om te bid deur hom reeltjie vir reeltjie voor te se. Skielik trek hy toe los en praat met die Here soos hy nog nooit in sy lewe kon doen nie. Toe hy amen se is ons al drie op die been en word daar gedans dat die stof so staan.
By 'n ander kerkie praat ons met 'n ouderling wat kla dat die mans nie meer kerk toe kom nie. Hulle is besigheidsmense wat Sondae ook funksioneer. Ons kon toe lank gesels daaroor dat God dalk wil he ons moet na die besigheidsmense toe gaan en nie probeer om hulle in die kerk te kry op Sondag nie. Ineresant genoeg het dit baie byval gevind. Daar is ernstig gesels oor die nodigheid om uit te beweeg na die besigheidsmense en hulle te leer ken. Ons moet hulle behoeftes bepaal dat ons vir hulle kan help.
In 'n ander besoek kon ons toe juis dit doen.
Julle moet maar eendag saamkom, want ek kan nie die ervarings heeltemal reg aandoen deur dit so te vertel nie.
Vannaand kom daardie ouderling wat ons eerste besoek het na ons toe en vertel hoe sy vrou al vir hom begin kwalik neem, want hy word orals in die kerk rondgeplaas. Hy het net altyd vir haar belowe dat daar iewers in die toekoms 'n geheim is wat die Here vir hom wil gee. Gister toe hy ontdek dat hy geroep is om mense met slegte geeste te help, het hy en sy vrou geweet dat die Here nou die geheim aan hulle geopenbaar het. Dit is wat hulle moet doen en skielik is sy vrou ook saam met hom in die bediening. Hy het blykbaar die hele nag kort kort wakker geword en daaroor gele en dink. Dit is duidelik vir hom dat hy nou sy doel ontdek het.

Mosb besoek Mavago Cuamba en pad

Administrateur in middel  Vanaf Mavago het ons eers die Administrateur (vroulik) besoek. Sy is ‘n Mosl&m met mooi verhouding met die k...