Hoekom het die Here Mosambiek gemaak?



DIE MENSE
Hierdie is 'n poging om na Mosambiek te kyk deur God se oë. My ervaring is meestal van die Noord-oostelike gebied en meestal die platteland. Hier woon ongeveer 20 miljoen mense. Mosambiek is 'n land van baie kontraste. Daar is seker meer as 30 verskillende tale en groeperinge, wat baie geïsoleerd gebly het vir baie jare. Moderne tegnologie en verbetering in infrastuktuur, maak dat daar groot aanpassings gemaak moet word en diep oortuigings en gewoontes word bedreig.


Een van die belangrikste eienskappe van Mosambiek mense is dat hulle mens-mense is, wat verhoudings met mekaar baie ernstig opneem. Alles draai om verhoudinge. Dit is mense wat baie lag en grappies maak en dit is baie belangrik vir hulle om ander mense te respekteer.
Mosambiekers is ongelooflike "gee" mense. Hulle huil saam met jou, hulle bid vir jou, hulle gee hulle laaste kos vir jou. Hierdie vrou bid vir my familie in RSA wat deur 'n moeilike tyd gaan.
Die eenvoudige lewensstyl - Markie in Lugela
Kos word op vure gemaak, water van riviere of putte aangedra vir alles by die huis. Soms so ver dat dit met fietse gedoen moet word. Die enigste manier om jou landery te bewerk is jou eie fisiese krag.
UITDAGINGS
As mens met Mosambiekers praat dan is jaloesie en magspel soms van die dinge wat maak dat hulle sukkel met eenheid. Mans hanteer vrouens sleg. Infrastruktuur sukkel en daar is baie korrupsie. Wat geloof betref, is Mosambiekers diep gelowige mense, die belangrikste geloof, alhoewel nie altyd so gesê nie, is die tradisionele gelowe. Veral op die platteland is dit baie sterk en die teenwoordigheid van die geeste, is 'n groter realiteit as die fisiese dinge.

Nie lank terug moes ons nog op miershope 'n sein vir jou foon soek.

Oorloë het groot agterstande aangehelp
Die vrou het haar voet verbrand en weens geloof in die geesteswêreld het sy vir 3 weke sonder pyn behanderling nie mediese behanderling gekry nie. Toe na ingrype die familie instem vir behandeling, moes ons help om mense op die mark te gaan omkoop om vir haar bloed te skenk vir operasies. Die hospitaal 80km verder het die operasie suksesvol uitgevoer. Haar kind is drie dae na die verbrand van haar voet, gebore. Die twee is nou gesond en gelukkig terug in die gemeenskap. Christus kon haar deur mense help.
Infrastruktuur is soms 'n groot beperking in die ekonomie
Hierdie kinders is deel van 'n skool wat begin is deur 'n Suid-Afrikaner wat lewenskwaliteit verhoog van kinders wie se ouers dood is en tipies by 'n oumagrootjie bly. Hulle ontvang mediese toesig, voedsel en groot ouers word bygestaan om na hulle te kyk. Seker minder as 1% van kinders in die situasie het 'n geleentheid om God se liefde op so 'n manier te beleef. Kinders se potensiaal word baie swak ontwikkel en uitdagings is groot. Hierdie kinders gaan help om die toekoms te verbeter.
Ouer mense kry dikwels baie swaar wanneer hulle nie meer in landerye kan werk nie. Honger is nie 'n vreemde ding nie. Sommige jare as dit nie reën nie, dan is daar nie kos nie, want daar is min reserwes. Dit gebeur dat mense soms net een keer in drie dae eet. Ander kere oor Januarie is Mango's die enigste voedsel vir twee maande.

DIE KERK
Die kerk wat die Christene in Mosambiek is, is die mense wat baie effektiewer as ons hoop kan leef en bring. Hulle kry swaar, lewens word dikwels letterlik bedreig, families verwerk hulle veral in Moslem areas, maar ook in sterk tradisionele families. Pastore werk met R500 per maand waarmee sy familie moet lewe. Opleiding is te min en sommige werk in ander taal gebiede in vreemde kulture vir hulle. Dit is 'n lewe wat ons in Suid-Afrika stom slaan. Dit is die mense wat lig en sout moet wees en hulle kry dit nie altyd reg nie. Hulle smeek letterlik vir hulp en voorbidding.

Hier gesels ons met pastore van verskillende kerke oor die korrupsie van die stad en land. Dit is regtig 'n groot uitdaging. In baie skole, kom min kinders op meriete deur na die volgende klas. As die ouers arm is, bly hulle jare in die skool of kom glad nie daar nie. So baie goed gebeur net op grond van omkopery. Die pastore vra voorbidding om met die polise hande te vat om 'n verskil te maak in hulle stad, want hulle mense kry swaar as gevolg van korrupsie.
Die gereformeerde kerk wat werk in die vier provinsies, Zambezia, Nampula, Cabo Delgado en Niassa, bestaan uit ongeveer 300 klein kerkies. Mens kan dit familie kerkies noem, wat soms net 'n paar mense het en ander kere tot so 50. So ongeveer sewe kerkies of direk vertaal, gebedshuise, vorm saam een gemeente. Die senter van die gemeente is dan gewoonlik bietjie groter.
Een van die 300 gebedshuise van die gereformeerde kerk.

Mense dink baie min van hulleself. Daar is baie seerkry vrees en dit is geweldig moeilik vir jong christene om vrede en bevryding te beleef en daaruit te leef. Daar is baie opofferinge om te maak vir nuwe christene in Mosambiek. 

In die kerk in die stad Quelimane is daar voorbidders opgelei. In elke erediens gaan staan hulle voor in die kerk en dan word almal wat voorbidding nodig het, vorentoe geroep. Die mans gaan na die mans en die vroue na die vroue en dan word daar intens geluister, saam gebid en saam gehuil. Mens kan sommer op die foto, die opregte belewing van mense se nood sien.


Sonder om verder te probeer om die wêreld van die Mosambieker bekend te stel, dit is die mense vir wie ons lief geword het. Ons ken baie van hulle persoonlik.

Dit is ver, dit is duur om daar te kom en die nood plaaslik in RSA is geweldig groot, die ekonomie het geweldige druk op ondersteuners begin plaas en fondse raak minder. 

Ons twyfel soms en wonder of alles die moeite werd is. Dit vra regtig fisies baie van mens. Mens kry dikwels Malaria, en om op 'n bus te sit vir drie dae, taxis ry, snaakse kos eet, sukkel met tale en kommunikasie, soms internasionale druk op bv grense te beleef tydens zenofobia, was ook al in 'n Mosambiekse tronk, jou familie moet dikwels weke lank geskei wees van jou.

Dit alles gesê wil die Here mens nie los oor die mense van Mosambiek nie. Die geleenthede vir goeie christelike voorbeeld en lering en dissipelskap is so min. Vir my is daar nog te 'n duidelike rol vir die kerk in RSA om betrokke te wees. 

Daar is heelwat mense wat vir my 'n salaris, pensioen en pensioen betaal, die onkostes probeer dek, saam bid, hande vat en aanmoedig. Baie van die ondersteuners is mense uit minder gegoede areas. Die plaaswerkers van die VGK kerk in die Sandveld, het nie lank terug 'n R1000 per maand. Alexanderbaai gemeente van die NGK, wat volgens begroting nie 'n predikant kan bekostig nie, stuur ook R1000 per maand. Dit gryp mens aan die hart en dit bevestig dat dit is wat ons moet doen vir so lank ons kan!
____________________________________

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Liggaam Stryd in korona tyd

Geloof die beste geskenk ooit

Mosambiek besoek Junie Julie 2019