Volgers

14/05/2018

Waarvoor bid ek in RSA?

Sonder om nou in te gaan op die dinge wat moet verander in ons kerkverbande en samelewing, dink ek ons stem saam dat dinge nie dieselfde kan bly nie. Dit is ook nie so maklik om te bepaal wat die tendense is nie, maar dit mag dalk wees dat ons in 'n tyd lewe waar Bybels gefundeerde waardes dalk aan die afbreek is.
Bid is een van die reaksies op 'n baie dringende tyd waarin ons lewe. Dalk is alle tye nog altyd dringend, maar dit maak nie dat ons moet terugsit en aanvaar nie. Ons moet tog as geroeptes lewe met 'n lewensdoel om lig en sout te wees. Om te bid raak dikwels meer van 'n taak as 'n verhouding, en word dikwels meer gedoen uit ons eie begeertes as uit die liefde van God. As ons dan oor gebed praat, dan is dit belangrik om in verhouding met God te kom waar ons meer luister as praat.
Verder is dit egter ook belangrik om deur Sy Gees gedryf te word na dit wat vir God belangrik en dringend is. Ons begin in die verhouding Sy liefde vir die wêreld verstaan en kry seer vir dit wat verkeerd gaan en raak kwaad vir dit wat sleg en boos is, sonder om die mens wat  mislei is te haat.
In 'n gebedsessie saam met 'n baie toegewyde persoon wat gereeld vir alle leiers bid, begin my gedagtes hardloop.
Ek onthou 'n gebeurtenis in die sosiale media waar 'n buitelandse vrou op 'n SAL vlug gesukkel het om haar baba te troos terwyl die kos uitgedeel was. In haar frustrasie, het die SAL lugwaardin gevra of sy die baba kan vashou sodat die ma kan eet. Die ma was te dankbaar en die lugwaardin neem toe die kind, maak dit in 'n kombers op haar rug vas terwyl sy verder bedien. Die ma skryf toe op sosiale media van hoe dankbaar sy is. In die opmerkings van die storie, kom daar diep negatiewe opmerkinge soos: Sy verval weer in 'n slawerny mentaliteit, die swarte moet maar altyd die witte bedien ens. Tussen die negatiewe opmerkinge begin ander vrae vra soos, sou jy haar nie gehelp het nie. Wat is die menslike ding om te doen ens. Die mooi van die storie is dat die daad van liefde, selfs al probeer sommiges dit negatief maak, steeds 'n indruk gemaak het. Die bose kan dit nie dood maak nie.
Wat het dit nou met gebed te doen, wel vir my was dit duidelik dat die Here my help met die storie om die bose te haat, maar die mense wat die boosheid doen lief te hê. Die ding wat bo-menslike insette verg om te kan doen. So dit is dan waarvoor ek bid.
1. Ek praat met die Here oor die goed wat boos en negatief is in ons land en met Hom kan ek brutaal eerlik wees. Mag wonder oor wanneer dit wat ek voel gemotiveerd word deur my vrese en onsekerhede vir die lewe en wanneer dit werklik boos en verkeerd is.
2. Ek bid vir hulle wat in leiers posisies staan en hulle wat duidelik onbybelse optrede toon. Dat hulle genade so diep kan beleef dat dit hulle lewens verander.
3. Ek bid vir christene in die land wat met die negatiewe dinge te doen kry, dat hulle nie moed verloor nie, maar die ewige hoop oor en oor kan beleef, ten spyte van omstandighede.
4. Ek bid vir christene wat met klein dade van liefde die land kan verander, want hulle dade van liefde word deur God gebruik om ons land, Afrika en die wêreld te verlig en te verander.
5. Ek bid vir elkeen wat die Here ken om Sy hart te ken en die dringendheid van liefde te beleef. Dat elkeen sal weet wanneer ons  met valse verstaan en belenisse van liefde te doen het en wanneer dit werklik God se liefde is. Ons kan nie net opervlakkige sentimentele gevoelens met ware liefde verwar nie.
6. Ek bid vir christene sodat hulle kan besef dat hulle baie meer kan doen as waartoe hulle menslike kragte in staat is. Elke kind van God kan die liefde van God deur hulle toelaat om inisiatief te hê, en lief te hê op praktiese maniere. Maniere wat stories van lig veroorsaak en waarteen die duiwel en sy magte verslaan word. Stories wat ons land gaan verander.
7. Ek bid ook dat Christene nie bang sal wees om dit wat verkeerd is uit te wys nie. Dat ons nie die dinge wat boos is net sal vermy nie, maar dat ons dit aan die lig sal bring. Dat daar wysheid sal wees om te weet wanneer ons konflik nodig het. Dat elke Christen so 'n nou intieme verhouding met Jesus sal hê dat hy of sy deur God gelei sal wees in liefde en waarheid.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

2023-11 Lugela besoek

hierdie is berg by Cricane (morrua)  Hier is die byeenkoms by Cricane  Tydens Cricane gesprekke ...