Liewe betrokkene
So teen die einde van die jaar, deel ek graag die gedagtes met julle:
BESOEKE AAN SENDING GEBIEDE
Ds Joao Herbarth, skryf 'n brief om my te herinner aan ons gesprekke oor die toekoms. Ons sien die waarde daarvan indien die sinode sendinggebiede van die Tumbine sinode meer gereeld besoek. Die voorstel is dat Handevat 'n voertuig moet aanskaf in Mosambiek om jeug en ander leiers meer saam te kan vat na die plekke. Die sinode moet steeds hulle eie voertuig ook gebruik en onderhou vir die nader gebiede, want dit is makliker vir hulle om gemeentes toe te rus sodat hulle deur bydraes self die kostes van so 'n voertuig kan dra. Vir die sinode om die verder gebiede te besoek, is nog te groot stap vorentoe op die stadium. Daar moet nog vir seker nog ten minste nog 6 jaar gebou word aan die rentmeesterskap van die sinode voordat die sinode daardie verantwoordelikheid kan oorneem. Vir hierdie oorgangstyd is dit nodig om hande te vat en saam te werk. Ek begin dus dink daaraan om 'n fonds te bou vir die aankoop van 'n Japanese voertuig in Mosambiek. Ons is aan die gesels daaroor.
'n Ander manier is om 'n dubbelkajuit bakkie in Johannesburg te hou by van die vriende wat ek daar het. Daarvandaan is dit net twee dae se ry na Milange ipv vier. Met die opsie, sal ek egter ook moet werk aan groter inkomstes. Joao, lag vir my as ek so praat, want sy redenasie is dat as die Here dit wil hê, dan sal Hy voorsien. Ek moet my nie daardeur laat beperk nie. 'n Ander voordeel van die opsie is dat ek graag meer moeite wil doen om mense saam te vat na Mosambiek en op die manier kan dit makliker plaasvind. Dit is regtig 'n baie sinvolle manier om in te bou in mense se lewens. Mense word vir altyd verander deur sulke besoeke. Verder kan mens ook meer gereeld vir sendelinge help om voorraad op te vat of af te bring. (Nou oortuig ek myself al amper).
Ek self hoop om nog tot op 70 jarige ouderdom voort te gaan met die werk as die Here so wil en die kragte hou. Dit is baie veeleisend, so mens moet maar kyk. As die Here iemand anders wil stuur vir opvolg, dan is dit ook sy wil, dit bly egter altyd belangrik dat bemagtiging van Mosambiekers, soveel moontlik nagestreef moet word.
NUWE DAGBESTUUR VAN DIE SINODE
Die nuwe leiers van Tumbine vir die volgende twee jaar, het meer aandag nodig as die vorige leiers. Ek moet defnitief my werk aanpas daarby om baie tyd by hulle te spandeer.
FINANSIES EN MOONTLIKE POS IN 'N GEMEENTE
As daar oor finansies gepraat word, is daar 'n groot dankbaarheid vir hoe die Here sorg. Vir soveel jaar het Hy self die deure vir die werk oopgemaak en baie mense maak groot opofferings daarvoor. Die inkomstes maak die werk moontlik en kry ek sonder onderbreking 'n salaris met medies en Pensioen. Ons het die pensioen bydraes verminder tot 'n baie laer kerf om dit volhoubaar te maak. Ek is een van die sendelinge wat die beste versorg word op finansiele gebied. Dit dek egter ook nie meer die bedieningskostes nie en daar is ook nie jaarlikse inflasie groei nie. Die drie of vier keer wat ek Mosambiek toe gaan word dikwels twee daarvan op eie kostes gedra. Ons strewe dus vorentoe om eerstens die bedieningskostes te dek en daarna te dink aan inflasie aanpassings. Een van die gedagtes is om te kyk na 'n gemeente wat graag wil groei in sending, en weens die afskaling in gemeentes nie meer 'n tweede of derde leraar kan bekostig nie, maar dalk 'n kwart pos kan dra. Om dan met hulle te gaan gesels en dalk kan ons mekaar so help. Ek sal dan graag wil fokus op die gemeente se betrokkenheid in hulle gemeenskap en praktiese opleiding in uitreik, veral as die gemeente reeds 'n betrokkenheid het in Mosambiek. Ek is lief vir Mosambiek, maar werk graag met enige mense wat op enige manier in hulle praktiese roeping vir die wêreld wil groei. Ek gaan baie hard aan myself moet werk om in te pas in gewone artikel 9 take in 'n gemeente en sal nie my potensiaal so kan uitleef nie.
AMERIKAANSE GROEP
'n Interesante verwikkeling is dat in 2017 ek gevra is om 'n groep Amerikaanse jongmense vir 'n maand Mosambiek toe te vat.
RADIOWERK
Nog 'n verwikkeling wat die werk kan beinvloed, is dat radio FEBA hulleself bereid verklaar het om in vennootskap met die Tumbine sinode te gaan vir die radiostasie op Chiconono. Dit klink baie goed, maar dan sal ek defnitief redelik tyd moet spandeer in die fasilitering van die verhouding. Dit is ook vir radio Feba 'n nuwe ondervinding om op die vlak met 'n plaaslike kerk in 'n vennootskap te gaan. Dit is 'n jong kerk en die leiers het baie min ondervinding van sulke vennootskappe.
CHRISTENSKAP OP DIE GROND
Daar is ook die fokus van Handevat om daar waar die status en mag op sy minimum is, saam in 'n verhouding God se wil en hart te leer ken en in gehoorsaamheid daarop te reageer. Dit gebeur dikwels minder in offisiele vergaderinge as in huise en op die grond in gemeentes. Hierdie fokus wil Handevat nie verwaarloos nie.
KOM GESELS SAAM
Ek gaan binnekort weer 'n paar mense bymekaar roep om oor die sake te gesels. Indien enige iemand voel hy of sy wil deel daarvan wees, kontak my asb en ek sit jou dan ook op die uitnodigingslys. Hoop om 'n paar meer mense te sien.
Ek wil verder almal wat die stukkie lees vra om jou gedagtes, maak nie saak wat dit is nie, in kommentaar (comments) by te voeg.
Dit is goed om die Here te dien.
Volgers
04/12/2016
03/12/2016
Wes-Kaap regering praat met religieuse leiers
Wes-Kaap
regering praat oor samewerking met Religieuse instellings
As
Handevat bediening het ek gereageer op die regering se uitnodiging om
die byeenkoms by te woon en deel ek dit graag met julle.
Gelukkig
ry ek met die motorfiets en hoef ek nie parkering te soek in die
besige stad nie. Met navraag word ek verwys na die 6de vloer van die
Burger sentrum in die raadsaal. Die saal word gevul met ‘n paar
honderd leiers van religieuse instansies. Sommige is tradisionele
leiers wat openlik in gesprekke hulle vertroue op die voorvaders
plaas. Dan is daar Moslem leiers, leiers van tradisionele inheemse
kerke en dan ook die hoofstroom christelike kerke se
verteenwoordigers. Vir die NGK kon ek buiten myself, net vir Ds Leon
van Badisa daar opspoor.
Ons sit
in sulke stoele wat kan draai met ‘n mikrofoon en luidspreker voor
jou met ‘n paar knoppies. As jy wil praat druk jy net die mikrofoon
knoppie en die rooi liggie gaan aan op jou mikrofoon en dan hoor
almal jou.
Die
byeenkoms se doel is om die nuwe “desk” (weet nie hoe om dit te
vertaal nie) naamlik religieuse “desk” bekend te stel. Die “desk”
is nog in ‘n begin stadium, maar hulle het reeds ‘n lys van
doelwitte, alhoewel dit nog verfyn en aangepas moet word.
Ons
raadslid Susan Little, word die eerste geleentheid gegee om met die
leiers te gesels. Daar word vir 2 ure lank vrae uit die gehoor
beantwoord en die fasiliteerder, Brian Ford, verteenwoordig 'n baie
hulpvaardige regering wat samewerking soek. Alle vrae word geantwoord
of verwys. Daar word gesukkel om weg te kom van die saak ook grond.
Baie kerke en organisasies soek grond vir hulle byeenkomste en daar
is te min beskikbaar. Daar is te veel aansoeke en Brian verduidelik
mooi die uitdagings van die proses. Ek wil graag die opmerking maak
dat, ek bekommerd is oor die gehalte van leierskap wat tydens die
vergadering na vore gekom het. Die NGK is volgens my nodig vir die
gesprekke, want ons het waardes wat hier baie nodig is om in die
Wes-Kaap 'n verskil te maak. Mense, die uitdagings is geweldig groot!
Behalwe
vir die bekendstelling van die religieuse “desk” is daar twee
vrae op die tafel gesit: Hoe kan die regering die religieuse
instellinge beter ondersteun en tweedens hoe kan die religieuse
instellinge die regering kan bystaan.
Ek wil
graag Raadslid Little se toespraak met julle deel. Ek gaan dit nie te
veel struktureer nie, want sy het meer haar hart gedeel as om dit
goed te organiseer en ek gee dit deur soos ek dit neergeskryf het.
Haar
definisie van kerk, is mense wat in die eerste plek die mees kwesbare
mense in die samelewing dien. Dit resoneer met my, want dit is ook my
hart. Sy het al die organisasies uitgedaag om minder op hulle eie
sake en groei geld en besittings te konsentreer en meer op die
behoeftes van die samelewing. Sy reken dat sy dit kan sê, want
feitlik alle navrae wat hulle as regering kry van religieuse
organisasies, is in die eerste plek oor grond en klagtes. Sy het nog
feitlik geen organisasies gekry wat bekommernisse oor die gemeenskap
kom deel het. Sy daag hulle uit om nie grond te soek vir hulle eie
belang nie, maar om die gemeenskap te dien en sy wil dit graag in die
praktyk sien. Hulle wil nie meer grond gee aan organisasies wat geen
verskil in hulle gemeenskappe maak nie.
Sy soek
tekens van liefde vir die gemeenskap, want die probleem is nie
dwelms, tiener swangerskappe en bendes nie. Hierdie is maar net die
simptome, want die groot probleem is gebroke families. Sy daag ons
uit om betrokke te raak by mense. Alcohol word gesien as 'n groter
probleem as dwelms, maar mense praat dikwels meer oor dwelms. RSA het
die hoogste uitval van kinders in die primêre skole in die wêreld
en die probleem is mammas wat drink.
Sy daag
ook leierskap uit, want mans vervul nie meer die leierskap rol nie,
families kan nie voort gaan soos dit nou is nie. Ons vaar BAIE sleg
wat huishoudelike geweld betref. Dit is die hoof rede van mense wat
op die straat beland. Daar is 7000 straat bewoners in die Wes-Kaap.
Negentig present van vroue op die straat is verkrag voor die ouderdom
van 5 jaar.
Een van
die uitdagings is om nie net te praat, optogte te reel en te preek
nie, maar om betrokke te raak by mense. Die regering het in die
gebroke gemeenskap hopeloos te min sosiale werkers. Kan daar nie meer
mense wees wat mens kan aanneem en versorg nie. As daar maar 'n
sosiale werker kon wees vir elke gesin.
Sy daag
ons uit om in ons gemeenskappe die mees kwesbaarste mense op te spoor
en met hulle as regering daaroor te kom praat. As elke gelowige maar
net vir een persoon kan omgee en betrokke kan raak by een persoon,
dan gaan ons gemeenskap verander.
Sy sê
dankie vir baie voedings skemas, maar wys daarop dat dit op sigself
meer skade doen as goed. Op die manier word mense afhanklik op die
wat die kos voorsien en dit is 'n bose kringloop en daarom verkeerd.
Leer eerder verstaan hoe lyk lewe op die straat. Daar is organisasies
wat persoonlike verhoudings met mense aanknoop en hulle leer ken en
dan oor tyd met hulle werk. Mense word aangeneem en 'n pad met hulle
geloop. Ons moet mense begelei om effektiewe aanneem ouers te word.
Alhoewel
sy dit meer diplomaties gesê het, het sy religieuse organisasies
gekritiseer wat uit eie belang te so groot waarde aan geld en posisie
heg, dat hulle dit nie reg kry om dit af te gee nie en so raak hulle
heeltemal oneffektief in hulle roeping. Ons moet dit teenwerk.
Hierdie is dan juis een van die redes hoekom ek dink ons ook by ander
kerke betrokke moet raak. Ons het regtig waardes en leierskap
eienskappe wat ander kan help groei!
Sy het
gevra dat die religieuse instellinge hulle distriks kantore sal
kontak om in gesprek met mekaar te tree en praatjies te lewer oor
uitdagings, veral met betrekking tot die mees kwesbare mense. Ons
weet dat daar mense van so jonk as 17 jaar oud is wat soveel keer
verkrag is dat dit nie meer getel word nie, maar ons is nie sonder
hoop nie. Sy doen 'n ernstige beroep aan almal om te bid. Bid vir die
shebeens en ander afbrekende plekke en sisteme in die gemeenskap.
Ons
word almal uitgenooi om meer hande te vat met die regering. Die
fasiliteerder Brian Ford het ons uitgenooi om hom self te kontak
indien ons verder wil gesels en hy sal self betrokke raak of verwys.
Sy epos is brian.ford@capetown.gov.za
Groete
04/07/2016
Deel van uitreik Julie 2016
Oog uitreik
Met ons terugkom uit
Niassa provinsie, kry ons die oog uitreik se span aan die werk in
Milange. Dit is regtig 'n besonderse groep mense. Oom Chris is op sy
ouderdom nog 'n ware staatmaker en ons leer baie deur sy
toegewydheid. Johan Eloff is baie kundig en ek dink sy grootste
boodskap vir die gemeenskap is sy omgee.
Daar daag mense op wat nie
gehelp kan word nie en hulle is so teleurgesteld dat die ma se trane
loop. Johan en oom Chris kom sit by hulle en deel hulle
teleurstelling en bid saam. Dit is daardie omgee, wat die hoof
boodskap van die uitreik kommunikeer. Dit is onmoontlik om die rimpel
effek daarvan oor jare te kan bepaal, maar dit moet groot wees.
Liefde is die hart van ons boodskap.
Ons gesels daaroor
dat die kerk kan help om mense op te lei wat pasiente in die tyd kan
help met verblyf, kos vrienskap gebede en geestelike begeleiding.
Hier is 'n groot geleentheid om Christenskap aan mense te
verduidelik.
Die span kon nog nie
met die eerste uitreik regkry om te opereer op katerakke nie, maar in
die klinieke word reeds groot werk gedoen. Ons hoor van 'n kind wat
nie kan sien nie, aanvangklike toetse kon nie die probleem
identifiseer nie. Op die ou end word ontdek dat die kind se oë 'n
-12 lesing het wat met sterk lense opgelos kan word. Toe die regte
sterkte lense voor die kind se oë gehou word, kom daar skielik 'n
glimlag oor sy gesig. Die vreugde ken geen perke.
Met sulke ervaringe
kan mense baie gehelp word om te verstaan dat die dit die goedheid
van God is wat deurbreek en kan dit 'n lewensveranderende geleentheid
word. Om die rede is dit belangrik dat die kerk en plaaslike mede
gelowiges mense help. Ons gesels dus om vorentoe vanuit die kerk 'n
goeie beplanning en samewerking as vennoot te bou.
Ongeluk in Malawi
Anna, die dokter
Freek se vrou, kom vra hulp nadat Freek in Malawi iemand raak gery
het en langs die pad in 'n sloot beland het. Ons gryp vinnig
paspoorte en navigeer so vinnig moontlik oor die grens. Kommunikasis
is sleg maar ons hoor dat hy ok is, maar die man wat raak gery is dit
nie gemaak het nie. Ons kry vir Freek langs die pad. Ek pas die
voertuig op en hulle is weg na die polisie om te begin met
verklarings. Die polisie is baie behulpsaam en help baie. Die grens
sluit en op die ou end laat die polisie vir Freek toe om iewers te
gaan oorslaap. Ons slaap oor in 'n Lodge en die volgende more gaan
ons voort met die proses. Kry later 'n persoon uit Blantyre om die
voertuig te kom laai. Die spanning loop maar hoog, want ons weet nie
wat kan gebeur nie en die prosesse in Afrika is so anders as waaraan
ons in die weste gewoond is. Freek hulle maak ook 'n bydrae aan die
familie van die oorledene en dit help toe baie in die
onderhandelinge. Die gesindheid is egter goed en baie help ons raad
gee. Die polisie laat toe dat Freek saam teruggaan om by die huis in
Milange oor te slaap. Ons word net aangesê om die volgende oggend te
kom vir die hofsaak. (Op die ou end sou dit nie so vinnig kan
plaasvind nie).
Die oggend ry ek
Freek en Anna weer na die polisie in Mulanje, ons bid saam vir
uitkoms en rigting. Ons gaan saam met die polisie na die toneel waar
opmetings gedoen word en toe ons weer stilhou in Mulanje
polisiestasie, sien ons daar is 'n Mosambiekse voertuig. By die deur
loop ons ons vas teen die hoof van polisie van Zambezia provinsie in
Mosambiek. Hy en Freek is goeie vriende. Dink net wat die kanse is
dat hulle presies op die regte tyd mekaar daar kan raakloop!! Hy vra
wat aangaan en Freek vertel hom. Hy gaan toe na die polisiehoof van
Mulanje en vra hom hoe ons sy viend die dokter kan help. Dit sit 'n
proses aan die gang waar die hoof van polisie in Mulanje ingryp en
direk vir die beamptes betrokke vra hoe gehelp kan word. Twintig
minute later ry ons daar weg terug Milange toe en kan Freek wag tot
Vrydag en dan hoef hy net in te bel om te bevestig waar die proses
is. Ons glo regtig dat die proses nou met 'n verskyning in die hof en
'n boete afgehandel sal word.
Strand Gereformeerde
kerk uitreik
Ek kom betyds by die
huis om saam met Kim (Hollandse vrou wat betrokke is by mediese werk
saam met die kerk), grens toe te ry en die span van Strand Geref kerk
te ontvang. Hulle vlieg op tot by Blantyre en daarvandaan druk hulle
styf in taxi sedan voertuig tot by die grens waar ons vir hulle wag.
Ons slaap oor en die volgende oggend ry ons met 'n ouderling se kar
na Mocuba met myself op Bileam tot in Mocuba. Hier doen ons inkopies
en bly oor by Bernadette. Elbe se een tas, bly egter agter in
Johannesburg en sy moes die ongemak daarvan hanteer. Die planne is
gemaak en die uitreik gaan aan soos beplan.
Die volgende oggend
is die konvooi van motorfiets en voertuig en Benjamin op 'n taxi weg
na Magodane. Ons word deur 'n groot klomp mense ontvang, ongeveer 70
mense. Ds Walize help om baie diep te gesels oor tradisies en kultuur
en Christenskap met die leiers. Die vroue doen die storie van Moses
se ma en die planne en moed wat sy aan die dag gelê het om Moses in
die mandjie weg te steek. Die jeugleiers doen ook baie goed deur meer
fasiliteerders vir Sondagskool op te lei. Die aand se Jesusfilm werk
ook baie goed, want ek dink dit was die eerste keer dat dit in die
plaaslike taal vertoon is. Die reaksie was baie goed, en mens wonder
oor hoeveel harte geraak word. Handevat se projektortjie werk goed op omsetter van voertuig se battery!
Die hele proses word
die volgende dag in Malega wyksgemeente herhaal. Die storie vir die
vroue is oor die ma van Samuel se hartseer en smeking vir 'n kind en
hoe die Here voorsien het. Dit maak baie geleenthede oop en ons
gesels oor baie seerkry en vertroue op die Here. Om te weet dat hy
teenwoordig is en hoe die vroue mekaar kan aanmoedig en God so
verteenwoordig vir mekaar. Daar is ook 'n opgewondenheid by die ander
gesprekke.
Ons herhaal die
program die derde dag in 'n ander wyksgemeente en hier is mense baie
oop en opgewonde. Ons verlaat hulle die middag en ry terug na Mocuba.
Ds Dinant preek in
Mocuba tydens die erediens en ons verdeel in groepe om die opleiding
ook hier te doen. Hier wys ons nie die film nie, want dit moeilik om
dit in die dorp te doen en dit is verder wel bekend in die dorp.
Vandag (Maandag) vat
ons vir Felixardo na die hospitaal met 'n tand wat erg pyn. Verder
beplan ons om huisbesoek te doen in die dorp voor ons more vertrek na
Lugela. In Lugela gaan ons by Lugela self werk asook Tacuane. Bid
saam met ons dat ons entoesiasme nie sal kwyn nie en dat mense deur
die Here geraak sal word.
Teken in op:
Plasings (Atom)
Verhouding tussen gelowige en die wêreld.
In die ou Testament was die verhouding tussen God se volk en die heiden nasies. Die Heiden nasies was uit geroei in wrede oorloë. Daar was g...

-
Die besoek aan Nacala word Saterdag oggend omver gewerp toe ons 20 km buite Nampula moes omdraai weens 'n probleem met die bakkie. Ons s...
-
Ek word wakker na 'n paar uur se slaap met 'n bietjie koors tydens wat lyk soos 'n korona infeksie. Gaan eers warm rooibos tee m...
-
As sommige mense bid “Bewaar my, o God,” bedoel hulle eintlik “preserveer my.” Om kos te preserveer is om dit vars te hou tot die vervalda...